Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/22 bl. 24-27
  • “Die stad wat ware fondamente het”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Die stad wat ware fondamente het”
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ietwat skisofrenies
  • ’n Derde Rome?
  • Hoofstad van hoop?
  • Hoog in die berge
  • ’n Stad met ware fondamente
  • Moskou—Sy 850ste herdenking
    Ontwaak!—1997
  • Brasília—Jonk, anders en vinnig aan die groei
    Ontwaak!—1998
  • Hulle het in Katmandoe tot oortuiging gekom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Op ’n reis deur al die stede”
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/22 bl. 24-27

“Die stad wat ware fondamente het”

ELKE stad het fondamente; daarom moet ’n stad beslis van ’n baie permanente aard wees as dit beskryf word as een met ware fondamente. Dit sal beswaarlik ’n gepaste beskrywing van eertydse hoofstede soos Babilon, Petra, Assur en Teotihuacán wees. Hierdie stede, wat eenmaal vol lewe was en van die geroesemoes van mense weerklink het, is vandag dood en in stilte gehul. En so ook die nasies wat hulle verteenwoordig het.

Hedendaagse nasionale hoofstede is oor die algemeen ook taamlik seker van hulle fondamente. Hulle is dalk nie altyd die grootste stede in hulle onderskeie lande nie, maar die feit dat ’n stad as sy nasie se hoofstad dien, gee dit ’n verhewenheid ongeag sy grootte. Kom ons kyk na vier voorbeelde.

Ietwat skisofrenies

In 1790 het die Amerikaanse Kongres bepaal dat die nasie se permanente regeringsetel nie binne die grense van enige van die bestaande state moes wees nie. ’n Spesiale, ingeslote grondgebied wat die distrik Columbia genoem is, is dus vir daardie doel gestig. Die stad Washington, wat aan die ooskus van die Verenigde State in die distrik Columbia geleë is, moenie verwar word met die staat Washington nie, wat duisende kilometers noordwes van die nasionale hoofstad aan die kus van die Stille Oseaan geleë is.

Die oorspronklike ontwerp, wat in 1791 deur die Franse ingenieur Pierre L’Enfant voltooi is, het ’n uitgebreide stelsel van openbare parke en oop terreine ingesluit wat as ’n agtergrond sou dien waarteen die Kapitool en ander federale geboue ten beste vertoon kon word. Die presidentswoning self is uiteindelik deur die Ierse argitek James Hoban ontwerp. Sy gryswit sandsteen het só ’n kontras met die rooi baksteengeboue daar naby gevorm dat dit weldra die Wit Huis gedoop is, ’n naam wat in 1902 amptelik aanvaar is.

Washington is volgens enige maatstaf uniek. Federale geboue, asook meer as 300 gedenktekens en standbeelde, versier hierdie deeltydse tuiste van honderde politici. En volgens een bron is dit die tuiste van minstens 55 000 regsgeleerdes en 10 000 joernaliste!

Daar is al gesê dat Washington “die slegste en die beste van Amerika weerspieël”. Die slegste sluit die probleme in waarmee alle Amerikaanse stede geteister word: werkloosheid, besoedeling, misdaad, minderwaardige behuising en rassespanning, om maar ’n paar te noem. Washington is, soos ’n bekende naslaanwerk dit noem, “’n ietwat skisofreniese hoofstad wat net so berug vir sy lelikheid en misdaad is as wat hy beroemd is vir sy uiteenlopende en waarlik indrukwekkende prag”.

’n Derde Rome?

Washington en Moskou het tot nog onlangs toe weinig meer in gemeen gehad as ’n Wit Huis—die hoofkantoorgebou van die Russiese republiek het ook hierdie bynaam gekry vanweë sy marmer voorkant—asook ’n uitstekende moltreinstelsel wat die Metro genoem word.

Moskou se Metro is vinnig en goedkoop, met ’n skoonheid wat selde in moltreinstelsels gevind word. Tot en met Augustus 1993 was die reisgeld, ongeag die afstand wat gereis word, die ekwivalent van een Amerikaanse sent (drie Suid-Afrikaanse sent). Party stasies is van marmer gebou en het indrukwekkende kunswerke, standbeelde en kleurryke fresko’s op die plafonne. Buitengewoon vinnige roltrappe vervoer passasiers van die straatvlak af na die treine en terug.

Moskou, wat volgens oorlewering in 1147 gestig is, is een van Rusland se oudste stede. In die 15de eeu het hy die hoofstad van ’n pas gestigde, eenvormige Russiese staat geword, ’n posisie wat hy egter in 1712 aan St. Petersburg afgestaan het. Twee eeue later, in 1918, ná die Bolsjewiek-revolusie, het Moskou sy posisie as hoofstad van Rusland teruggekry en ook die hoofstad van die nuwe Sowjetunie geword.

Die Kremlin wat dekades lank ’n simbool van die Kommunisme was en die kern van Moskou is, grens in die oostekant aan die Rooi Plein.

Aan die suidekant van die Rooi Plein is die Basilius-katedraal wat in die middel van die 16de eeu deur tsaar Iwan IV, beter bekend as Iwan die Verskriklike, gebou is. Die ontwerp en helder kleure daarvan is uniek. Volgens oorlewering is die argitek wat dit gebou het ná die tyd verblind om te keer dat hy ooit weer iets soortgelyks sou skep.

Die politiek en godsdiens het eeue lank ’n noue verbintenis agter die Kremlin-mure gehad—waarvan die katedrale wat daar geleë is stille getuies is, veral nadat Moskou in 1326 die setel van die Russies-Ortodokse Kerk geword het. Moskou het later as die “Derde Rome” bekend gestaan en “die Russe was mettertyd daarvan oortuig dat hulle ’n spesiale plek beklee het—in God se guns as die laaste bewaarder van godsdienswaarheid”. Maar die praalgraf op die Rooi Plein waar die gebalsemde liggaam van Lenin lê sowel as die grafkelders van ander Kommunistiese ateïste in die Kremlin-muur weerspreek hierdie bewering.

Hoofstad van hoop?

Die idee om ’n hoofstad in die binneland van Brasilië op te rig, is reeds in 1789 uitgespreek en is selfs in 1891 in die grondwet ingesluit. Dit was nogtans nie voor 1956 dat ’n terrein gekies is nie. Vier jaar later het Brasilië se federale regering ’n 1000 kilometer lange trek van Rio de Janeiro begin om sy nuwe tuiste te bereik.

Dat ’n hele stad binne so ’n betreklik kort tydjie gebou kon word, was merkwaardig. Baie Brasiliane het dit met trots as ’n simbool van die toekomstige grootheid van hulle nasie beskou. Hulle het dit as die wêreld se modernste hoofstad beskou en het dit ’n “hoofstad van hoop” genoem. Brasilia het indrukwekkende moderne argitektuur, en sy ordelike ontwikkeling maak dit ’n voortreflike voorbeeld van grootskaalse stadsbeplanning.

“Die doel van Brasilia”, sê The New Encyclopædia Britannica, “was om die aandag op die binneland toe te spits en om die vestiging van die gebied en die ontwikkeling van sy onbenutte hulpbronne te bespoedig.” Hierdie doelwitte is tot ’n mate bereik. Maar soos Washington, met ’n hoofstedelike gebied wat nou 40 keer groter as die distrik Columbia is, het Brasilia ook gegroei. Pleks van die 600 000 waarvoor dit ontwerp is, woon meer as 1600 000 mense nou daar en in omliggende satellietstede. In party dele is die lewe alles behalwe ideaal.

In sekere opsigte het selfs die positiewe aspekte van die stad hulle nadele gehad. “Die karakter van Brasilia”, sê die tydskrif National Geographic, “kan beskryf word as enigiets tussen ’n tuin vol beeldhouwerke en ’n nedersetting op die maan.” Das Bild unserer Welt (’n Beeld van ons wêreld) het gesê: “Tot nou toe was dit onmoontlik om ’n stadslewe in Brasilia, die nuwe hoofstad, te blaas. Pleks daarvan het okkultisme, esoteriese groepe en sektes in hierdie proefbuisstad gefloreer soos nêrens anders nie—die inwoners se reaksie op die leegheid en eensaamheid.”

Dit is dus duidelik dat “die hoofstad van hoop” sekere swakhede het. Sy taamlik koue, lewelose atmosfeer en groot ruimtes—wat gewoonlik so welkom is in groot stede—is veral opmerklik wanneer politici en kantoorwerkers die stad tydens naweke en vakansies verlaat.

Hoog in die berge

Agt van die tien hoogste berge ter wêreld lê gedeeltelik of heeltemal binne die grense van Nepal. Daarom is dit geen wonder dat sy hoofstad meer as 1300 meter bo seespieël geleë is nie. In vergelyking met ander groot stede is Katmandu se bevolking van ongeveer 235 000 nie buitengewoon groot nie. Vir elkeen van sy inwoners is daar meer as 80 ander Nepalese burgers wat elders woon.a

Die hoofstad lê in die Katmanduvallei, wat in die ou tyd ’n meer was. Die grootte van die vallei, sowat 19 by 24 kilometer, is nie ’n aanduiding van sy belangrikheid nie. Dit was eeue lank ’n invloedryke handelsentrum op die hoofroetes wat Indië met China en Tibet verbind het. In bergagtige lande is landbougrond altyd skaars, en daarom word daar gevrees dat die stede in die vallei dalk te groot sal word en die land van waardevolle, vrugbare grond sal ontneem. Hierdie vrees is nie ongegrond nie. Katmandu se bevolking het sedert 1960 meer as verdubbel. Na raming sal ongeveer 60 persent van die vallei moontlik teen die jaar 2020 verlore wees weens stedelike groei.

Katmandu, Nepal se enigste groot stad, het lank ’n belangrike rol in die land se sosiale, ekonomiese en politieke sake gespeel, sowel as in godsdienssake. The Encyclopedia of Religion sê dat die Katmanduvallei “’n opeenvolging van gesofistikeerde ideologieë en kunsstyle met ’n sterk godsdienskonnotasie beleef het. . . . In geen ander deel van die Himalajastreek is Boeddhisme en Hindoeïsme so nou verweef nie.” Dit is interessant dat Lumbini, Nepal, wat minder as 240 kilometer suidwes van Katmandu geleë is, die waarskynlike geboorteplek is van Siddhārtha Gautama, wat later die Verligte, of die Boeddha, genoem is.

Dit was natuurlik ongeveer 2500 jaar gelede. Meer onlangs, in die sestigerjare, het ander, lede van die hippiegeslag, ook na Nepal en Katmandu toe gekom vir “verligting”.

’n Stad met ware fondamente

Mense bou al eeue lank stede waarvandaan hulle hulle medemens kan regeer. Maar die tragiese les wat die geskiedenis geleer het, is dat ‘dit nie aan ’n man toebehoort om te loop en sy voetstappe korrek te rig nie’.—Jeremia 10:23; Prediker 8:9.

Dit is duidelik dat stede in ernstige moeilikheid verkeer. Hulle sukkel om voort te bestaan, net soos die politieke stelsels wat deur hulle verteenwoordig word. Die wankelrige fondamente van menseheerskappy is besig om te verkrummel. Dit is egter nie die geval met “die stad wat ware fondamente het, van welke stad God die bouer en maker is” nie.—Hebreërs 11:10, NW.

Die Bybel noem hierdie stad die hemelse Jerusalem (Hebreërs 12:22). Dit is gepas, aangesien Jerusalem die aardse hoofstad van eertydse Israel, God se tipiese nasie, was. Maar hemelse Jerusalem, as hoofstad van God se universele organisasie, het ’n ware fondament, want die Bouer is die ewige God self. Psalm 46:5 (NW) sê profeties: “God is in die midde van die stad; dit sal nie wankel nie.”

Menseheerskappy is besig om al wankelende tot sy einde te kom. Ter erkenning van hierdie feit onderwerp miljoene individue “uit alle nasies en stamme en volke en tale” hulle wyslik en gretiglik aan Goddelike heerskappy.—Psalm 47:8, NW; Openbaring 7:9, 10.

Hou in gedagte dat die Nuwe Jerusalem hoër is as bergagtige Katmandu, want dit is in die hemel self geleë. En die “rivier van die water van die lewe, helder soos kristal”, wat deur die Nuwe Jerusalem vloei, is skoner en doeltreffender as die Potomacrivier in Washington of die Moskourivier langs die Kremlin (Openbaring 22:1, 2). Die Nuwe Jerusalem bring nie enige gevoel van leegheid en eensaamheid voort nie, inteendeel, dit is God se manier om ‘die begeerte van al wat leef te bevredig’.—Psalm 145:16, NW.

Hoe wonderlik is dit tog om te weet dat daar ten spyte van ernstige probleme in die wêreld se sukkelende stede tog hoop is—danksy “die stad wat ware fondamente het”!—Die laaste artikel van die reeks oor stede.

[Voetnoot]

a In teenstelling hiermee is Managua, Nicaragua, die tuiste van elke sesde Nicaraguaan en Dakar, Senegal, dié van elke vierde Senegalese burger.

[Prent op bladsy 24]

Die Wit Huis, Washington, DC

[Prent op bladsy 25]

Die Basilius- katedraal op die Rooi Plein, Moskou, Rusland

[Prent op bladsy 26]

’n Hindoe-tempel, Katmandu, Nepal

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel