“’n Knap stuk werk!”
DIT is hoe ’n opskrif in die St. Helena News gelui het. Jehovah se Getuies het dit weer gedoen. Hulle het ’n tweede Koninkryksaal op die eilandjie St. Helena, meer as 1600 kilometer wes van Afrika, opgerig. Die gebou is op ’n hoogliggende terrein in die omgewing van Half Tree Hollow geleë en het ’n pragtige uitsig oor die Atlantiese Oseaan.
Die bou-inspekteur en die brandweerhoof het die Getuies gekomplimenteer. “Julle het wonders verrig”, het ’n afgetrede goewerneur gesê. “Dis ’n pragstuk!” het die elektrisiteitsinspekteur bygevoeg.
Die Koninkryksaal se toewyding was Saterdag, 9 Januarie 1993. Die hele eiland van sowat 6000 bewoners is deur middel van radio-aankondings na die toewyding genooi. Maar sou die klein groepie van ongeveer 150 plaaslike Getuies die projek betyds kon voltooi? Sarel Hart, ’n reisende opsiener van Suid-Afrika, verduidelik: “Toe die middag van die agtste aanbreek, was ons baie bekommerd omdat ons nog baie vragte vulstof nodig gehad het om die rylaan gelyk te maak.” Waar kon hulle, so laat in die dag, vragmotors, toerusting en genoeg vulstof kry om die grond gelyk te maak? Sarel Hart sê voorts: “Jehovah het ons stille gebede verhoor. Die kontrakteur wat die vulstof voorsien het, het vir die broers gesê: ‘Julle het vyf vragte gevra. Ek weet julle het meer nodig. Ek het opgehou tel—laat die vragmotors maar laai tot julle genoeg het.’ Dit was 4:00 nm. toe ’n werker met ’n laaigraaf op pad huis toe verbygery het. Een van die Getuies het hom voorgekeer en hom van ons verknorsing vertel. ‘Betaal net my oortyd’, het hy gesê en sy laaigraaf in die rylaan ingetrek en die grond gelykgemaak so gou as wat die vragmotors dit afgelaai het. Binne drie uur is die ongelyke oprit na die Koninkryksaal in ’n netjiese rylaan verander.”
Die volgende dag het altesaam 328 mense—meer as 5 persent van die eilandbewoners—die toewydingstoespraak bygewoon. Die staatsekretaris en een van die raadslede was onder diegene in die gehoor, en die Anglikaanse biskop het ook ’n boodskap van goeie wense aan Jehovah se Getuies gestuur.
[Kaart op bladsy 31]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Afrika
St. Helena
[Prent op bladsy 31]
Nuwe Koninkryksaal