Mexiko se ekonomiese herstel—Hoe suksesvol is dit?
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MEXIKO
WÊRELDWYD worstel baie nasies met hoë inflasie, die devaluasie van hulle geldeenheid, onbestendigheid sowel as kommer onder die publiek. Met die veranderinge wat die afgelope twee jaar in Rusland plaasgevind het, lyk dit of die ekonomiese probleme in daardie land vererger. Die Verenigde State, hoewel dit as die rykste nasie ter wêreld beskou word, probeer van ’n resessie herstel. Japan se bloeitydperk het nou afgeneem en die Japannese werk versigtiger met hulle geld. Wat Latyns-Amerika betref, is ekonomiese probleme ’n lewenswyse.
Teen hierdie agtergrond is dit dalk verstommend om van verklarings oor Mexiko se ekonomiese herstel te lees. Mexiko se president Carlos Salinas de Gortari het gesê: “Ons het inflasie van bykans 200 persent in 1987 verminder na ’n vlak wat reeds 10 persent bereik het en steeds daal.” In sy toespraak aan die Buitelandse Beleidsvereniging in New York het hy voorts gesê: “Sedert 1989 het dertienmiljoen Mexikane toegang verkry tot elektrisiteit, elfmiljoen tot die drinkwatertoevoer en agt en ’n half miljoen tot die rioleringstelsel.”
Dit kan ’n paar vrae laat ontstaan. Wat behels hierdie herstel? Is die Mexikane besig om hulle lewenstandaard te verbeter?
Die krisisjare
Voor die sewentigerjare is Mexiko as ekonomies stabiel beskou. Met sy peso wat ’n gelykheid van 12,50 per dollar gehad het, was die ekonomie in wese stabiel en die buitelandse skuld min of meer onder beheer.a Maar gedurende die tagtigerjare, toe dit gelyk het asof daar ’n ekonomiese oplewing moes wees omdat meer olie in Mexiko gevind is, het daar vreemd genoeg ’n krisis ontstaan, en in 1987 het Mexiko sy hoogste inflasie-indeks bereik.
Op daardie tydstip was dit baie moeilik om met die vraag na geld tred te hou en die regering het aangehou om geld te druk wat daagliks waarde verloor het. Daar is begin om groot somme geld uit die land te neem sodat dit veiliger in buitelandse banke bewaar kon word. Die devaluasie van die peso was min of meer gelyk aan die inflasiekoers. In 1992, toe die wisselkoers 3 110 peso’s tot die dollar was, het die peso sedert die sewentigerjare, toe die koers 12,50 peso’s was, met 24 000 persent gedevalueer.
In die vorige twee tydperke van ses jaar elk, vóór 1988, het die meeste van die regering se stappe om die bogenoemde probleme op te los selfverydelend gelyk en het dit die Mexikaanse ekonomie ondermyn. Die wantroue het in dié land sowel as in die buiteland begin toeneem, en dit des te meer toe Mexiko in 1982 bekend gemaak het dat hy nie eens die rente op sy buitelandse skuld kon betaal nie.
Drastiese veranderinge in die Mexikaanse ekonomie
Veranderinge het plaasgevind gedurende die presidentskap van Carlos Salinas de Gortari, wat op 1 Desember 1988 sy amp aanvaar het. President Salinas, ’n ekonoom en gegradueerde van die Harvard-universiteit, het saam met ’n groep finansiële deskundiges voor die taak te staan gekom om die Mexikaanse ekonomie te herstruktureer. Hulle kon tussen twee opsies kies: ’n gemengde ekonomie of ’n markekonomie. Met ’n gemengde ekonomie beheer die staat ’n groter deel van die nywerhede en dienste, terwyl hulle privaatondernemings toelaat. Met ’n markekonomie kry die land algehele vryheid, en die nywerheid- en privaatsektor word toegelaat om met minimale inmenging van die staat te funksioneer. Die Salinas-regering het ’n gemengde ekonomie gekies en sodoende die proses omgekeer wat in vorige jare gevolg is. Die vorige regering het hom met baie ondernemings en diensagentskappe oorlaai wat, pleks van produktief te wees, staatsubsidies nodig gehad het om te kon voortbestaan. Privaatmaatskappye is nou meer geleenthede gegee, en daarom is daar begin om van die staatsondernemings te verkoop—ongeveer 400 tot dusver—wat ’n kontantvloei geskep het en die las op staatsfinansies verlig het.
Met die privatisering van ondernemings en die gepaardgaande strengheidsbeleid in staatsbesteding kon Mexiko sy buitelandse skuld, wat in 1993 op meer as $103 miljard te staan gekom het, herfinansier.b Vanweë hierdie situasie het sommige lande nou meer vertroue in Mexiko as ’n land vir moontlike belegging.
Die Noord-Amerikaanse Vryhandelsooreenkoms (NAFTA)
Sedert 1990 is ’n vryhandelsooreenkoms in die lewe geroep wat uit Kanada, die Verenigde State en Mexiko bestaan. Gedurende 1993 het die debat oor die finale goedkeuring van hierdie ooreenkoms voortgeduur, veral in die Verenigde State. Bekragtiging van die ooreenkoms moes aan die einde van 1993 afgehandel wees sodat dit op 1 Januarie 1994 in werking kon tree. Hoewel daar gedurende die bewind van die voormalige Amerikaanse president George Bush oor hierdie ooreenkoms onderhandel is, is daar met die huidige Clinton-presidentskap baie in die Verenigde State en in Kanada wat die ooreenkoms teëstaan. Waarom die geskil?
Daar is verskillende menings oor die moontlike gevolge van NAFTA. Dit is te begrype dat die Mexikaanse standpunt positief is. Jaime José Serra Puche, Minister van Handel en Nywerheidsbevordering vir Mexiko, het aan ’n groep Amerikaanse sakemanne in Detriot gesê: “NAFTA het baie sin. Dit wil sê, NAFTA sal ons help om meer werkgeleenthede te skep, dit sal ons help om mededingender te raak en NAFTA sal ons ook help om die omgewing te verbeter.” Dit is daardie laaste stelling wat talle Amerikaners in twyfel trek—hulle beweer dat die omgewing tot nou toe nie ’n hoofoorweging van Mexikaanse sakeondernemings op die Amerikaanse grens was nie. Daar word ook gesê dat die Amerikaanse vakbonde bevrees is dat NAFTA ’n aansienlike verlies vir die Amerikaanse werkkragte sal meebring. President Salinas se antwoord is: “Mexiko is die vinnigste groeiende mark vir Amerikaanse uitvoergoedere.” Hy het gesê Mexiko is “naas Kanada en Japan die derde grootste koper van Amerikaanse goedere”.
Buiten die Verenigde State en Kanada as handelsvennote maak Mexiko sy deure vir ander lande oop. Japan het belangstelling daarin getoon om in Mexiko te belê. Trouens, een van die ondernemings (Teléfonos de México) wat geprivatiseer is, is grotendeels met Japannese kapitaal verkry.
Die Mexikaanse Nuevo Peso (Nuwe Peso)
Een van die regering se strategieë om beter beheer oor sy finansies te verkry, is die wysiging van die Mexikaanse geldeenheid. Met die devaluasie van die peso teen die Amerikaanse dollar moes groot somme peso’s vir saketransaksies gebruik word. Tot 1992 was 3150 peso’s gelyk aan een dollar, wat beteken het dat 1000 dollar gelyk was aan 3150 000 peso’s. Kan jy jou groter somme geld, soos eenmiljoen of 100 miljoen dollar, voorstel? Dit sou te veel syfers vereis om vir saketransaksies prakties te wees. Daarom is daar in 1993 besluit om drie nulle van die peso af te trek. Nou is die koers 3,20 peso’s per dollar, en die gebruik van sente het weer in die binnelandse ekonomie moontlik geword.
Die nuwe ekonomie —die gevolge vir die land
Daar is nou al etlike jare lank ’n ooreenkoms in Mexiko tussen werkgewers, die nywerheid en die banksektor om pryse te probeer beheer. Vakbonde het ook ingestem om nie hoër lone te eis nie. Dit was ’n manier om inflasie te beheer. Maar hoe doeltreffend was hierdie beheer? Party mense meen dat hoewel die verhoging in lone beheer is, pryse gestyg het. Al is inflasie in 1993, volgens amptelike syfers, onder 10 persent gehou, meen die algemene publiek, waaronder huisvroue, dat hulle elke dag minder kon koop met dieselfde hoeveelheid geld. Die Economist van Londen het die situasie opgesom en gesê: “Die fiësta het plek gemaak vir die siësta.”
Dit laat die vraag ontstaan: Het die verbetering in die ekonomie werklike verbetering in die Mexikaanse gemeenskap aangewakker? Ongelukkig neem armoede steeds vinnig toe. Daar word beweer dat die minimum loon vir werkers, wat beswaarlik 150 dollar per maand oorskry, dit vir hulle op baie plekke onmoontlik maak om armoede te vermy. In party Mexikaanse state is die minimum loon selfs laer. ’n Gemiddelde werker of messelaar verdien moontlik die ekwivalent van $200 of $300 per maand, wat dit vir hom baie moeilik maak om ’n gesin te onderhou. Volgens ’n onlangse studie “is daar van die 91,9 persent van Mexiko se bevolking wat in armoede leef, waarvan ongeveer 30,1 persent in uiterste armoede verkeer”.—El Universal, 31 Maart 1993.
Dit is teen hierdie agtergrond dat meer as 380 000 van Jehovah se Getuies ’n positiewe boodskap aan die 85 miljoen Mexikane verkondig—dat daar binnekort met armoede en ongeregtigheid weggedoen sal word onder God se Koninkryksheerskappy in die hande van die verrese Christus Jesus. Die Bybel belowe: “Kyk, Ek skep nuwe hemele en ’n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet” (Jesaja 65:17, 21-24). Dan sal dit die einde van armoede beteken, waar dit ook al voorgekom het.
[Voetnoot]
a In 1993 was $1 gelyk aan ongeveer R3,32.
b In 1993 was $1 gelyk aan ongeveer R3,32.
[Lokteks op bladsy 20]
“Mexiko is die vinnigste groeiende mark vir Amerikaanse uitvoergoedere.”—President Salinas