Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 3/8 bl. 12-14
  • Hoe kan ek my by ons verhuising aanpas?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe kan ek my by ons verhuising aanpas?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Maak jou tuis
  • Skooldae
  • Maak nuwe vriende
  • Gesonde en ongesonde vriendskappe
  • Gee aandag aan ander mense
  • Waarom moet ons verhuis?
    Ontwaak!—1994
  • Goeie vriende—Slegte vriende
    Ontwaak!—2004
  • Waarom het my beste vriend weggetrek?
    Ontwaak!—1996
  • Jy kan blywende vriendskappe geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 3/8 bl. 12-14

Jong mense vra . . .

Hoe kan ek my by ons verhuising aanpas?

HET jou gesin onlangs verhuis? Dan stem jy waarskynlik saam dat daar min ondervindinge in die lewe is wat so uitputtend is—of jou onder soveel druk plaas. En nadat die laaste karton uitgepak en die laaste meubelstuk op sy plek is, voel jy dalk steeds terneergedruk, hartseer of angstig. Dit maak nie saak of julle nuwe huis of woonstel beter of teleurstellend slegter as julle vorige woonplek is nie. Jy mis steeds julle ou huis, jou ou skool en veral jou ou vriende.

Dit is natuurlik normaal om na jou ou tuiste te verlang. Maar die Bybel gee hierdie raad: “Moenie sê nie: Hoe kom dit dat die vorige dae beter was as die teenswoordige? want nie uit wysheid vra jy hierna nie” (Prediker 7:10). Wysheid help jou om sake uit ’n realistiese oogpunt te beskou. ‘Die ou dae’ in julle vorige woonplek was nie werklik volmaak nie—dit was waarskynlik alles behalwe volmaak. Jou lewe is hoegenaamd nie bederf as jy verhuis het nie, inteendeel, dit bied jou dalk eerder nuwe geleenthede en voordele. Om jou by ’n verhuising aan te pas, is nietemin alles behalwe maklik. Wat kan jou dan help om dit te doen?

Maak jou tuis

Daar steek baie in die woorde van ’n ou liedjie wat gesê het: “Waar ek my hoed kan ophang, daar sal my tuiste wees.” Ja, jy kan gerus eerder daarvan werk maak om van julle nuwe plek ’n tuiste te maak as om jou te verknies oor die plekke wat julle agtergelaat het. The Teenager’s Survival Guide to Moving maak hierdie voorstel: “Probeer sodra jy intrek jou nuwe kamer inrig sodat dit gerieflik is en soos jou eie voel.” Jy kan byvoorbeeld jou kamer met bekende voorwerpe en prente versier. As jy ’n kamer met ’n broer of suster deel, kan julle dit ’n gesamentlike projek probeer maak.

In Bybeltye het ’n psalmis God se volk aangespoor om hulle hoofstad te leer ken deur te sê: “Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; . . . wandel deur sy paleise” (Psalm 48:13, 14). Jy moet julle buurt op ’n soortgelyke wyse leer ken. Vind uit waar inkopiesentrums, jou nuwe skool, die plaaslike biblioteek en ander fasiliteite geleë is. Dit sal help dat jy meer tuis voel.

In julle ou tuiste het jy ongetwyfeld ’n vaste roetine of ’n manier gehad waarop jy dinge gedoen het. Hoe gouer jy weer in daardie ou roetine kom, hoe gouer sal jy tuis voel. Jy moet veral ‘voortgaan in dieselfde roetine’ waar dit by geestelike sake, soos Christelike vergaderinge en Bybelstudie, kom.—Filippense 3:16, NW.

Skooldae

Om by ’n nuwe skool aan te pas, is op sigself ’n uitdaging, en veral as julle in die middel van ’n skooljaar verhuis het. In sommige lande word die skool se leerplan plaaslik uitgewerk, en dit kan baie anders wees as die studiekursus wat jy in jou ou skool gevolg het. Jy vind dalk dat jy ’n aansienlike agterstand ten opsigte van die leerlinge in jou nuwe skool het; jy word dalk selfs na ’n laer standerd oorgeplaas.

Dit is moontlik vernederend wanneer dit gebeur, maar jy moenie ontmoedig voel nie; dit is nie vreemd om akademies agter te raak wanneer ’n mens verhuis nie. Buitendien, al het skole in jou omgewing dalk ’n vasgestelde leerplan, kan die druk van die verhuising en die aanpassing by ander mense, omstandighede en gebruike sowel as die druk om tientalle nuwe name te probeer onthou—al hierdie dinge saam—jou konsentrasievermoë uitput. Die oplossing? Probeer jouself ekstra tyd gee vir jou huiswerk, en kyk minder TV. Mettertyd sal jou akademiese prestasie waarskynlik verbeter.

Maak nuwe vriende

“Die feit dat ek nuwe vriende gemaak het, was werklik die sleutel [tot aanpassing]”, sê ’n jong man genaamd Brian, wie se gesin na die suidelike deel van die Verenigde State verhuis het. “Nadat ek ’n paar vriende van my ouderdom gevind het wat baie dieselfde belangstellings as ek gehad het, het die res makliker geword. Al wat ek werklik nog van ons ou huis mis, is om yshokkie te speel.” As een van Jehovah se Getuies het Brian wyslik vriende onder die godvresende jongmense gesoek wat vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal bywoon. As jy eweneens vriende met hoë sedelike standaarde wil hê wat werklik vir jou as mens omgee, is jou plaaslike Koninkryksaal die beste plek om te soek.—Spreuke 13:20.

Jy sal natuurlik nooit vriende maak as jy dikmond is of jou afskei nie. (Vergelyk Spreuke 18:1.) “Die manier waarop ek nuwe vriende gemaak het”, sê Anita, “was deur van my kant af iets te doen en myself voor te stel. Ek het ook gevind dat mense sal kom om jou te ontmoet as jy ’n positiewe gesindheid het—as jy net glimlag en gelukkig lyk.” Ja, mense sal tot jou aangetrokke voel as jy hulle iets aangenaams bied—’n vriendelike glimlag en ’n opgewekte gesindheid! En wees geduldig. Dit neem tyd om vriendskap op te bou.

Maar soms kan dit jou ’n voorsprong gee in jou poging om vriendskappe te bou as jy jou toekomstige, nuwe tuiste besoek voordat jy verhuis. Die dertienjarige Laura sê: “Ek was werklik ontsteld toe ek die eerste keer uitgevind het dat ons binnekort sou moes trek. Maar ek kon sommige van die kinders in ons nuwe omgewing leer ken en dit het my werklik gehelp om beter oor die trek te voel.”

Gesonde en ongesonde vriendskappe

Sê jy dat daar min gesonde omgang onder die jongmense in julle nuwe dorp te vinde is? Dan moet jy jou vriendskappe “verruim” (2 Korinthiërs 6:11-13). Sommige van die hegste vriendskappe wat in die Bybel opgeteken is, was per slot van rekening tussen mense wat ouderdomsgewys aansienlik van mekaar verskil het—soos Dawid en Jonatan sowel as Paulus en Timotheüs (1 Samuel 18:1; 1 Korinthiërs 4:17). Waarom dus jou vriendskappe tot jou portuurs beperk? Daar is ouer mense in die Christengemeente wie se geselskap jy dalk werklik sal geniet.

Hulle sal dalk weliswaar nie met sokker by jou kan kers vashou nie. Hulle sal dalk ook nie graag na jou gunstelingmusiek luister nie. Tog kan hulle baie hê om aan jou te bied wat opbouende kameraadskap betref. Die beste manier om ’n vriend te hê, is om ’n vriend te wees, en daarom kan jy begin deur aan te bied om takies vir een van hierdie ouer mense te verrig. Of vra gerus net of dit in orde sal wees as jy vir ’n kuiertjie kom. ’n Bevredigende vriendskap kan ontwikkel.

As jy daarenteen net in jou kamer bly en vir jouself jammer voel, kan jy maklik eensaam en terneergedruk word. Dit kan jou vatbaar maak vir die toenaderings van die verkeerde soort vriende. Tienerbendes is byvoorbeeld in baie gebiede ’n ernstige probleem. Hulle belowe eensame jongmense kameraadskap en ’n gevoel dat hulle iewers tuishoort. Maar net soos in Bybeltye kan sulke jongmense jou ook by verkeerde dade probeer betrek deur te sê: “Kom . . . ons oorval sommer iemand, al het hy ons niks gedoen nie”! Maar die wyse koning Salomo het gewaarsku: “Moenie met hulle saamgaan nie, my seun, bly van hulle pad af; hulle is daarop uit om kwaad te doen.”—Spreuke 1:10-16, NAV.a

Gee aandag aan ander mense

Een besliste manier waarop jy jou aandag van jou eensaamheid kan aflei, is deur na maniere te soek waarop jy ander—veral jou eie gesinslede—kan aanmoedig. “Verhuising is ook nie vir ouers kinderspeletjies nie”, sê die tydskrif Current Health, “en hulle kan al die ondersteuning gebruik wat hulle kan kry.” Ma of Pa moet hulle dalk albei by ’n nuwe werk aanpas. Die nuwe huis of woonstel is dalk nie so gerieflik of so aangenaam soos die ou een nie. En as jy broers of susters het, ondervind hulle dalk ook tye van eensaamheid en ontmoediging. Kyk gerus wat jy kan doen om hulle te help. Vra jou ouers of daar ekstra takies is wat jy kan doen. As dit lyk of jou broers of susters eensaam is, kan jy gerus aanbied om tyd saam met hulle deur te bring. Onthou: “liefde bou op”, diegene wat dit ontvang sowel as diegene wat dit betoon.—1 Korinthiërs 8:1, NAV.

Of jy dus van jou nuwe tuiste hou of nie, hang op die ou end baie van jouself af. Ons word herinner aan die verhaal van die wyse ou man wat deur twee motors vol vreemdelinge genader is. “Ons oorweeg dit om hierheen te trek”, het die gesin in die eerste motor gesê. “Hoe is die mense hier?” Die ou man het gevra: “Hoe is die mense waar julle vandaan kom?” Die gesin se antwoord was: “Ons kom van ’n baie vriendelike dorp af. Die mense is vrygewig en vriendelik en stel werklik in vreemdelinge belang.” Die ou man het geglimlag. “Ek dink julle sal dit hier geniet”, het hy gesê. “Die mense hier is net so.”

Die ou man het die gesin in die tweede motor dieselfde vraag gevra. Hulle antwoord was: “Ons kom van ’n nare dorpie af. Die mense daar is lui en bemoeisiek en skinder vreeslik.” Die ou man het gefrons. “Ek dink nie julle sal hier gelukkig wees nie”, het hy gesê. “Die mense hier is net so.”

Die les van die verhaal? Mense is feitlik oral dieselfde. En of jy van hulle geselskap hou of nie, hang baie af van jou eie gesindhede, sienings en die manier waarop jy ander behandel. Behou dus ’n positiewe gesindheid! Wees vasbeslote dat jy jou geleenthede ten volle gaan gebruik wanneer jy verhuis. Nee, dinge sal dalk nooit weer dieselfde wees nie. Maar as jy daarvan werk maak en geduldig is, kan jy dinge beter as voorheen maak. Solank jy by diegene is wat jou werklik liefhet, kan enige plek waarlik jou tuiste wees.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Jongmense vra . . . Moet ek by ’n bende aansluit?” in die Ontwaak! van 8 Junie 1991.

[Prent op bladsy 13]

Neem die inisiatief om nuwe vriende te maak

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel