Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/22 bl. 25-27
  • Waarom moet ons verhuis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet ons verhuis?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gesinne wat verhuis
  • Gemengde gevoelens
  • Waarom dit so moeilik is
  • Hoe om negatiewe gevoelens die hoof te bied
  • Hoe kan ek my by ons verhuising aanpas?
    Ontwaak!—1994
  • “Trek uit jou land en uit jou familie”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Waarom het my beste vriend weggetrek?
    Ontwaak!—1996
  • Is ek gereed om die huis te verlaat?
    Ontwaak!—2010
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/22 bl. 25-27

Jong mense vra . . .

Waarom moet ons verhuis?

Jy kom van die skool af vol planne vir die naweek—’n dag by die strand, ’n balspel, ’n rustige aandjie om ’n bietjie te lees. Maar toe Ma van die werk af kom, kon jy sommer aan haar gesig sien dat iets skort. ‘Hulle het my vandag ’n keuse tussen ’n oorplasing en ’n afdanking gebied’, sê sy. ‘Dit lyk my ons sal moet trek.’ Skielik sak jou moed in jou skoene.

AS JY ’n jongmens is wie se gesin gaan verhuis, is jy nie die enigste nie. In sommige nywerheidslande het dit vir baie gesinne ’n lewenswyse geword. Volgens die Sensusburo in die Verenigde State sal die gemiddelde Amerikaner hom byvoorbeeld 12 keer in sy leeftyd hervestig. Trouens, nagenoeg 12 miljoen jong Amerikaners ondervind elke jaar die druk wat met verhuising gepaardgaan! Maar sulke statistieke is dalk nie baie vertroostend as dit jou gesin is wat van adres gaan verander nie. Jy voel dalk eenvoudig oorweldig wanneer jy daaraan dink. Jy vra dalk ontsteld: ‘Waarom moet ons trek?’

Gesinne wat verhuis

’n Gesin het dikwels min keuse in die saak. In Bybeltye moes die gesin van Elimeleg en Naomi na die naburige land Moab vlug toe ’n droogte Israel verwoes het (Rut 1:1, 2). Baie ouers bevind hulle vandag in ’n soortgelyke verknorsing. In ontwikkelende lande het droogte en omgewingsverwaarlosing miljoene verplig om na stampvol stede en noodlenigingsentrums—of na ander lande—te verhuis. In Westerse lande het die verswakking van die ekonomie veroorsaak dat ’n menigte nywerhede en sakeondernemings moes toemaak. Boerderygebiede wat vroeër gefloreer het, is nie meer winsgewend nie. Werksgeleenthede het skaars geword. Jou ouers kan gevolglik dalk nie anders as om na ’n welvarender gebied te verhuis nie.

Maar nie alle gesinne verhuis om armoede te ontvlug nie. Werksbevordering, die verskuiwing van ’n ouer se werksplek, huweliksverbrokkeling, swak gesondheid, ’n strawwe klimaat—dit alles is algemene redes waarom sommige gesinne verhuis. Die sosioloog John D. Kasarda meld ’n ander gewilde rede: “Mense meen dat stede deesdae gevaarliker is. Veral dwelmmiddels het tot ’n vinnige toename in misdaad teen mense en ten opsigte van eiendom gelei.” Sommige mense meen dat dit veiliger sal wees om in ’n voorstedelike gebied of in ’n dorpie te woon.

In Bybeltye het Abraham sy gerieflike huis in Ur verlaat om God te dien (Genesis 12:1; Hebreërs 11:8). Vandag het sommige gesinne onder Jehovah se Getuies eweneens na gebiede verhuis waar daar meer predikers van die Koninkryksboodskap nodig is (Mattheüs 24:14). Ander het die vergaderinge van ’n naburige gemeente begin bywoon waar daar opsieners of bedieningsknegte nodig is. Hoewel so ’n stap dalk nie sal beteken dat jy van woonplek moet verander nie, beteken dit wel dat jy jou by ’n nuwe groep mense en nuwe omstandighede sal moet aanpas.

Wat ook al die rede is waarom jou gesin verhuis, dit was waarskynlik nie jou idee nie. Dit is dus verstaanbaar dat jy dalk nie heeltemal gelukkig daaroor is nie.

Gemengde gevoelens

Nie dat dit altyd sleg is om te verhuis nie. Die twaalfjarige Justin se afkeur is duidelik wanneer hy aan hulle vorige huis in die groot stad dink. “Dit was aaklig”, sê hy. “Daar was baie geweld in ons buurt. Jy kon nie 50 meter van die huis af gaan sonder om jou oor bendes te bekommer nie. Mense het hulle in hulle huise toegesluit. Ek het dit gehaat. Toe ek uitvind dat ons na die platteland toe gaan verhuis, was ek in die wolke.”

Die gedagte daaraan om jou vriende en ’n bekende omgewing te verlaat, kan jou egter steeds gemengde gevoelens laat ervaar. Jong Anita het sulke gevoelens gehad toe sy gehoor het dat haar gesin gaan verhuis. “Ek het die grootste gedeelte van my lewe op ’n Amerikaanse militêre basis in Engeland gewoon”, vertel sy. “Dit het regtig vir my gevoel of ek meer Brits as Amerikaans was. Toe ek tien was, het ek uitgevind dat my pa na die Verenigde State, na Nieu-Mexiko—die woestyn—oorgeplaas gaan word! Aanvanklik het ek nie geweet wat om te dink nie. Ek was opgewonde, maar onseker. Ek wou nie my vriende agterlaat nie. Dit was wat die trek die moeilikste gemaak het.”

Waarom dit so moeilik is

Jongmense is deesdae veral geneig om onder druk te verkeer wanneer hulle verhuis. Die Reader’s Digest sê: “Deskundiges op die gebied van geestesgesondheid sê dat verhuising ’n ondervinding is wat jou ontwrig en emosioneel onder druk plaas selfs wanneer dit as ’n verbetering beskou word.”

Om mee te begin, net die opwinding en die afwagting wat met verhuising gepaardgaan, plaas jou reeds onder druk. Onvermydelike vertragings en terugslae kan die druk vererger. Die Bybel sê: “’n Uitgestelde hoop maak die hart siek” (Spreuke 13:12). Selfs wanneer almal daarna uitsien, “kan die verhuising aansienlike hartseer en bekommernis by gesinslede wek”, sê die tydskrif Parents. “Dit is omdat dit gevoelens van verlies en onsekerheid oor die onbekende wek wanneer daar afskeid geneem word.” Dit is dus nie ongewoon om allerhande gevoelens te ervaar nie—skok, woede, frustrasie sowel as neerslagtigheid.

The Teenager’s Survival Guide to Moving sê: “Om te verhuis, beteken meer as om bloot jou adres te verander. Dit beteken dat jy talle belangrike aspekte van jou lewe moet verander—jou skool, jou onderwysers, jou bedrywighede, jou vriende. En ’n verandering is altyd moeilik, selfs as die verandering ’n verbetering is.” Die maatskaplike werkster Myra Herbert sê dat dit “mislukking en ellende” tot gevolg kan hê wanneer ’n mens herhaaldelik verhuis. Om mee te begin, kinders wat dikwels verhuis “se skoolprogramme verander voortdurend, en veral as hulle sukkel om te studeer, gooi hulle êrens langs die pad tou op”. Om vriende agter te laat, sê sy, “is veral moeilik” vir jongmense.

Hoe om negatiewe gevoelens die hoof te bied

Dit is dus maklik om te begryp waarom jy dalk prikkelbaar, gegrief of kwaad sal voel as julle gaan verhuis. Dit sal dinge nietemin net moeiliker maak as jy jou aan negatiewe gevoelens oorgee. Jy sal beter daaraan toe wees as jy ’n positiewe beskouing probeer aankweek. Negatiewe emosies, soos kommer of hartseer, is heeltemal normaal onder hierdie omstandighede. Hierdie gevoelens verdwyn gewoonlik mettertyd. Probeer intussen dink aan die voordele daarvan om te verhuis.

Anita, wat vroeër genoem is, is nou 15 en het sedertdien weer verhuis. “Toe ons getrek het, het ek wel hartseer gevoel”, vertel sy. “Maar toe het ek na die positiewe kant gekyk—dat ek nuwe mense sou ontmoet en na interessante plekke toe sou gaan.” Sy is gelukkig en pas goed by haar nuwe tuiste aan.

Soms duur negatiewe gevoelens voort ten spyte van jou beste pogings. Indien wel, moenie hulle ignoreer nie. “’n Verslae gees” kan jou op stuk van sake fisies kwaad doen (Spreuke 17:22). Miskien behoort jy meer aandag te skenk aan jou behoefte aan rus, oefening of behoorlike voeding. Terselfdertyd moet jy dalk oor jou gevoelens praat, veral met jou ouers (Spreuke 23:26). Laat hulle weet wat jou bekommer en waaroor jy besorg is.

Is jy byvoorbeeld hartseer omdat jy ontslae moet raak van besittings wat vir jou kosbaar is omdat ‘daar nie genoeg plek is nie’? Of meen jy dat julle te kort voor jou skooleksamen verhuis en dat jy onder te veel druk is? Ongeag wat jou klagte is, Spreuke 13:10 herinner ons hieraan: “Deur vermetelheid veroorsaak ’n mens slegs ’n stryd, maar by dié wat saam beraadslaag, is wysheid” (NW). Jou ouers sal dalk instem om ’n paar toegewings te maak. Indien nie, kan hulle ten minste medelye met jou hê, jou ondersteun en gerusstel.

Moenie toelaat dat gerugte en bangmaakstories aangaande julle nuwe tuiste jou pogings ondermyn om ’n positiewe gesindheid te behou nie. Spreuke 14:15 sê: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe.” Vind self uit wat die ware toedrag van sake is. Anita sê: “Ek het na die biblioteek gegaan en navorsing gedoen oor die agtergrond en kultuur van die plekke waarheen ons verhuis het.” Jy kan jou nuwe tuiste dalk voor die tyd besoek as dit nie te ver weg is nie. Dit kan jou baie help om twyfelgedagtes oor die verhuising uit die weg te ruim en jou verstandelik daarvoor voor te berei.

Om te verhuis, sal weliswaar nie maklik wees nie. The Teenager’s Survival Guide to Moving maak dié voorstel: “Besoek jou gunstelingplekke vir oulaas voordat jy verhuis . . . , en neem net afskeid van hulle.” Jy wil dalk ’n foto-album of ’n plakboek maak om jou herinneringe te bewaar. Neem bowenal die tyd om van jou vriende afskeid te neem. Verseker hulle dat julle vriendskap nie verby is nie. Die apostel Johannes het “papier en ink” gebruik om in aanraking te bly met diegene wat hy liefgehad het, en jy kan ook! (2 Johannes 12). Met vasbeslotenheid en inspanning kan vriendskappe selfs oor lang afstande gedy.

Jou afskeidstrane sal mettertyd opdroog, en jy sal die uitdaging die hoof moet bied om jou by jou nuwe tuiste aan te pas—die onderwerp van bespreking van ’n artikel in ons volgende nommer.

[Prent op bladsy 26]

Waarom doen jy nie voor die tyd navorsing en leer iets van jou nuwe tuiste nie?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel