Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/22 bl. 3-4
  • Ongeletterdheid—’n wêreldwye probleem

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ongeletterdheid—’n wêreldwye probleem
  • Ontwaak!—1994
  • Soortgelyke materiaal
  • Geletterdheid onder God se volk
    Ontwaak!—1994
  • Mense word gehelp om te lees
    Ontwaak!—1994
  • Van gesproke woorde tot heilige geskrifte—Die skryfkuns en die vroeë Christene
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • “Migael, die grootvors”—Wie is hy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/22 bl. 3-4

Ongeletterdheid—’n wêreldwye probleem

Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië

ALMAZ woon in Ethiopië. Toe haar dogtertjie siek geword het, het die dokter ’n bottel medisyne voorgeskryf. Maar Almaz kon nie lees wat die regte dosis was nie—hoeveel moes sy gee en wanneer? Gelukkig kon ’n buurman die voorskrif lees. Die medisyne is reg toegedien en die kind het gesond geword.

Ramu is ’n boer in Indië. Toe die tyd aangebreek het vir sy dogter om te trou, het hy besluit om sy grond te verpand sodat hy geld by ’n plaaslike geldskieter kon leen. Aangesien hy nie kon lees of skryf nie, het hy sy duimafdruk gebruik om ’n dokument te teken wat hy nie verstaan het nie. ’n Paar maande later het Ramu ontdek dat die dokument ’n verkoopkontrak was—sy grond het nou aan iemand anders behoort.

Michael het op ’n groot plaas in die Verenigde State gewerk. Sy voorman het vir hom gesê om die beeste ekstra voer te gee. Michael het twee sakke in die skuur gekry, maar hy kon nie lees wat daarop geskryf staan nie. Hy het die verkeerde een gekies. Etlike dae later was die beeste dood. Michael het vir hulle gif gegee. Hy is onmiddellik afgedank.

Ongeletterdheid—die onvermoë om te lees en te skryf—het Michael sy werk gekos. Dit het sy werkgewer ’n trop eersteklas beeste gekos. Dit het Ramu sy grond gekos. Dit kon Almaz haar baba se lewe gekos het.

Volgens UNESCO (Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur) kan meer as ’n kwart van die wêreld se volwassenebevolking—meer as 960 miljoen manne en vroue—nie lees of skryf nie.a In ontwikkelende lande is 1 uit elke 3 volwassenes ongeletterd. Soos Almaz, Ramu en Michael kan hierdie miljoene nie ’n straatbordjie, ’n koerant of ’n gedeelte uit die Bybel lees nie. Hulle het geen toegang tot die ontsaglike skatkamer van inligting wat in tydskrifte en boeke gevind word nie. Hulle kan nie ’n brief skryf of ’n eenvoudige vorm invul nie. Die meeste van hulle kan nie eens hulle naam teken nie. Omdat hulle onbekwaam is om mee te ding om werk waar ’n basiese kennis van lees en skryf vereis word, bly baie werkloos, hulle talente onbenut, hulle vermoëns onontwikkel.

Hierdie syfers sluit nie die groot groep volwassenes in wat funksioneel ongeletterd is nie—wat in staat is om op ’n elementêre vlak te lees en te skryf, maar nie goed genoeg om ingewikkelder lees- en skryftake in die loop van die daaglikse lewe te verrig nie. In die Verenigde State alleen is daar tot 27 miljoen funksioneel ongeletterde volwassenes.

En wat van kinders? Hoewel syfers onvolledig is omdat opnames nie in alle lande gedoen is nie, skat die Verenigde Nasies se Kinderfonds dat daar wêreldwyd 100 miljoen kinders van skoolgaande ouderdom is wat nooit ’n klaskamer sal binnegaan nie. Nog 100 miljoen kinders sal nie eens ’n basiese skoolopleiding voltooi nie. Trouens, die VN se Departement van Openbare Inligting sê dat slegs die helfte van die kinders in plattelandse gebiede van die ontwikkelende wêreld meer as vier jaar van laer onderwys ontvang. En in sommige industriële lande bestee baie kinders veel meer tyd voor die televisie as in die skool.

Ongeletterde kinders word gewoonlik ongeletterde volwassenes. Wat dra tot hierdie wêreldomvattende probleem by? Wat kan gedoen word om ’n volwassene te help wat nie kan lees of skryf nie? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnoot]

a UNESCO definieer ’n ongeletterde as iemand van 15 jaar of ouer wat nie ’n kort, eenvoudige verklaring oor sy of haar lewe met begrip kan lees of skryf nie.

[Prent op bladsy 3]

Meer as ’n kwart van die wêreld se volwassenebevolking kan nie lees of skryf nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel