Kies God kant in sport?
’N SEËVIERENDE hardloper kniel en maak ’n biddende gebaar terwyl sy haar dank vir haar prestasie uitspreek. Tog moet ons aanneem dat sommige van die ander hardlopers in die wedstryd ook tot God om oorwinning gebid het—en verloor het.
Twee boksers kniel in die teenoorgestelde hoeke van ’n bokskryt voor die eerste ronde van hulle bokswedstryd. Albei maak die teken van die kruis, ’n soort stille gebed tot God om sukses. Toe gee die een die ander ’n uitklophou. By ander bokswedstryde is daar dalk net een bokser wat God om oorwinning smeek, tog is hy dikwels die verloorder.
In spansport bid groepe spelers dalk voor, gedurende of selfs ná ’n wedstryd. Gedurende die laaste sekondes van ’n Amerikaanse Super Bowl-voetbalwedstryd het ’n skopper hom byvoorbeeld vir die beslissende doel opgestel wat die spel vir sy span sou wen of as hy mis skop, sou verloor. Die skopper het later gesê: “Ek het daaroor gebid.” Maar party in die ander span het ook daaroor gebid—vir die teenoorgestelde uitslag.
Hoewel albei kante miskien bid, moet een kant verloor. Selfs ’n wenspan wie se spelers om oorwinning gebid het, kan die volgende spel verloor. Trouens, teen die einde van die seisoen moet alle ander spanne uiteindelik verloor omdat daar net een algehele kampioen in ’n liga kan wees. Tog het die meeste van die verloorspanne spelers gehad wat om oorwinning gebid het.
In ’n artikel met die titel “Spaar jou gebede, asseblief”, het ’n sportrubriekskrywer geskryf: “Net omdat jy spog oor hoe na jy aan God is, beteken dit nie noodwendig dis waar nie. . . . Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Duitse soldate ’n uitdrukking op hulle gordelgespe gegraveer gehad: Gott mit uns. Die vertaling: ‘God met ons.’” ’n Ander sportskrywer het gesê: “God kies nie kant in voetbalwedstryde nie. Wêreldlike sake soos hierdie word deur manne en vroue bepaal, nie deur die Almagtige nie.”
Die apostel Petrus het gesê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik.” As ’n mens aan gewelddadige sport deelneem, “beoefen” jy nie “regverdigheid” nie (Handelinge 10:34, 35, NW; Romeine 14:19). Sal dit God se skuld wees indien hy wel die gebede verhoor van diegene wat om oorwinning bid en ’n deelnemer word beseer of sterf selfs?
God se Woord sê: ‘Hy verhoor ons as ons iets volgens sy wil vra’ (1 Johannes 5:14). As ons wil hê ons gebede moet verhoor word, moet ons God se wil en voornemens ken en moet ons dade daarmee ooreenstem.—Vergelyk Mattheüs 6:9, 10.
Nee, God se wil en voornemens hou nie met sportgebeure verband nie. Luister God dus na gebede om oorwinning wat by sulke geleenthede gedoen word? Beslis nie.
[Foto-erkenning op bladsy 31]
UPI/Bettmann