Ons beskou die wêreld
Franse dobbelverslaafdes
Ondanks toenemende werkloosheid en die verslegtende ekonomiese klimaat in Europa bestee die Franse meer aan dobbelary en weddenskappe as ooit tevore, sê die INSEE (Franse Nasionale Instituut vir Statistiek en Demografiese Studies). In 1992 is meer as 70 miljard frank (R120,4 miljard) verwed, 16 persent meer as die vorige jaar. Vir baie het die begeerte om te dobbel onbeheerbaar geword. “Dis ’n verslawing sonder ’n dwelm”, sê die Franse psigiater Jean Ades. “Met al hoe meer maniere om weddenskappe aan te gaan . . . en die voortdurende stortvloed boodskappe van die advertensiewese en die media wat mense aanmoedig om weddenskappe aan te gaan, ontdek al hoe meer mense dat hulle daaraan verslaaf is.” Dobbelaars is verslaaf daaraan “wanneer hulle bo hulle vermoëns weddenskappe begin aangaan en die finansiële gevolge van hulle optrede vir hulleself en hulle gesin verontagsaam”, berig die Franse koerant Le Monde, en “dobbelary is een van die moeilikste vorme van verslawing om te genees”. ’n Voormalige dwelmverslaafde sê: “Dit was makliker om dwelms te los as om op te hou dobbel.”
Min Swede gaan kerk toe
’n Studie wat namens die Sweedse Kerk deur die Sweedse Instituut vir Openbare Meningspeilings gedoen is, toon dat 47 persent van die meer as 1000 mense wat gevra is of hulle in God glo, ja geantwoord het. Kerkbywoningsyfers weerspieël dit egter nie. Van dié wat ondervra is, gaan slegs 9 persent gereeld kerk toe. “Mense stroom nie Kerk toe voordat hulle verwag dat hulle dit waarna hulle soek daar sal kry nie”, sê Anders Swärd, ondervoorsitter van die Sentrale Raad van die Kerk van Swede.
Dodelike herinneringe aan die Tweede Wêreldoorlog
Byna 50 jaar ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog het die Duitse stad Hamburg steeds dodelike herinneringe aan daardie stryd. Die koerant Süddeutsche Zeitung berig dat in die 12 maande lange tydperk wat in Julie 1993 geëindig het, het 23 lede van die stad se wapenruimeenheid meer as 500 bomme, 2440 patrone, 97 handgranate, 24 tenkafweer-vuurpyllanseerders, 4 tenkafweermyne en 149 kilogram los plofstof in die grond en water in Hamburg onskadelik gestel. Volgens skattings is daar ’n verdere 2000 bomme in die stad se ondergrond. “Hulle sal ’n verdere twee geslagte besig hou”, het die koerant berig.
Geen geld om lewens te red nie
Hoewel longontsteking en diarree geneesbaar is, veroorsaak dit elke jaar die dood van ongeveer 7,5 miljoen kinders, berig die nuusdiens Agence France-Presse. Wêreldwyd kry ongeveer 40 miljoen kinders onder vyf longontsteking en meer as ’n miljard kry diarree. Dokter Ralph Henderson van die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) erken egter dat hierdie siektes “maklik en goedkoop is om te behandel”. Ongelukkig moes baie van die programme waardeur die WGO beplan het om hierdie twee siektes te bestry weens finansiële hindernisse gekanselleer of onbepaald uitgestel word. Volgens die WGO kon hulle die helfte van die sterftes weens diarree en ’n derde weens longontsteking vermy het as die geld beskikbaar was.
Ander gebruike vir Miswyn
Onlangse bevindinge toon dat hoewel 10 000 000 liter wyn jaarliks vir die Mis in Italië verkoop word, slegs ongeveer 1000 000 liter vir “heilige gebruik” aangewend word. Waarom die verskil? Volgens een gesaghebbende sal “die tradisionele, geheime slukkie van die altaarknaap en die sakristein alleen die wynverbruik verdubbel”. “Die waarheid is”, sê Corriere della Sera, “dat dit by die biskoppe, prelate en priesters se tafels met tien vermenigvuldig word.”
Nuwe cholera-gevaar
’n Nuwe soort cholera wat vinnig deur Indië en Bangladesj en tot in Thailand versprei het, kan die agtste wêreldepidemie van hierdie siekte sedert 1817 tot gevolg hê, sê gesondheidsamptenare. Waarskuwings is aan lande in Asië, Afrika en Latyns-Amerika gegee. Vroeëre aanvalle deur ouer soorte bied geen blywende immuniteit teen die nuwe soort nie. Daarbenewens kan die nuwe soort nie deur standaard-toetstegnieke in ’n laboratorium opgespoor word nie, en hedendaagse entstowwe het geen uitwerking daarop nie. “Aangesien ons nie kan voorspel waarheen of hoe vinnig hierdie nuwe organisme gaan versprei nie, moet lande onbepaald voorbereid bly deur vol te hou met waarneming, toegang tot behandeling te verseker en skoon water en voldoende rioolverwydering te voorsien”, skryf dokters David L. Swerdlow en Allen A. Ries van die Sentrums vir Siektebeheer, soos daar in The Lancet berig is. Die sewende pandemie, wat in 1960 in Asië uitgebreek het, woed steeds, met meer as driemiljoen gevalle en tienduisende sterftes.
Japan wil mense hê wat ophou rook
Met meer as 60 persent van die volwasse mans wat rook, het Japan meer rokers as enige ander nywerheidsland, volgens die Mainichi Daily News. Met die hoop dat baie sal ophou rook, het Japan se Departement van Gesondheid en Welsyn ’n verslag uitgegee met die waarskuwing dat rook jou gehoor aantas, veroudering bespoedig en brein-atrofie, osteoporose en die geboorte van kleiner babas tot gevolg het. Dit het gesê dat sigarette met ’n lae teerinhoud nutteloos is om kardiale infarksie te voorkom. Hoewel mense wat ophou rook ongeveer twee kilogram aansit, hou dít geen gesondheidsgevaar in nie. Die verslag toon dat hoewel 80 persent van die rokers met die gewoonte probeer breek, dit selde werk as mens die hoeveelheid sigarette per dag probeer verminder. Die effektiefste manier om op te hou, is om sigarette geheel en al te los, het die Departement gesê, en die suksessyfers kan verdubbel as programme onder die toesig van ’n dokter gevolg word.
Geweld by die werk
“Verpleegsters en ander gesondheidsorgwerkers kom byna net so dikwels soos polisiebeamptes met geweld by die werk in aanraking”, berig The Vancouver Sun. Neil Boyd, professor in die Kriminologie aan die Simon Fraser-universiteit, het ’n studie oor geweld by die werk in Brits-Columbië, Kanada, gelei. Hy het gevind dat die risikosyfer vir polisiebeamptes en gesondheidsorgwerkers “vier keer hoër as in enige ander beroep” is en dat voorvalle van geweld sedert 1982 met 400 persent toegeneem het. Die pasiënte was “byna altyd die aanstigters van die geweld teen die gesondheidsorgwerkers”, het die koerant gesê, en sulke gedrag het die meeste voorgekom wanneer hulle “’n pasiënt wakker gemaak of gebad het”. Die studie het getoon dat “werkers by korrektiewe instellings, privaat sekuriteitsbeamptes, taxi- en busbestuurders en kleinhandelklerke” ook ’n hoë risiko loop wat geweld by die werk betref.
Die jen skiet die hoogte in
“In die afgelope 22 jaar het die [Japannese] jen ’n buitengewone metamorfose ondergaan”, merk The Wall Street Journal op. “Gedurende daardie tydperk het dit nie alleen 225% die hoogte ingeskiet in sy waarde teenoor die dollar nie, maar dit het ook wêreldwyd ’n status verkry waarmee min geldeenhede kan vergelyk. . . . Om die verandering te begryp, hoef jy maar net by ’n tapytwinkel in Istanbul in te gaan, ’n toergids in Oos-Europa te huur of ’n afdelingswinkel in Sydney te besoek.” Regoor die wêreld aanvaar al hoe meer handelaars die jen, en party verkies dit selfs. “Die jen sal beslis nog ’n ver pad moet loop voordat dit die dollar as die wêreld se belangrikste geldeenheid verbysteek”, sê die Journal. Die dollar “bly die wêreld se grootste reserwegeldeenheid” en “kan in die grootste verskeidenheid finansiële instrumente gebruik word, en dit bly die gewildste geldeenheid op die wêreld se swartmark. Maar die jen is vinnig besig om hom in te haal.”
Is kosjervoedsel beter?
Daar is meer as 20 000 kosjerprodukte op Amerikaanse supermarkrakke en dit word deur baie mense gekoop wat nie godsdienstige Jode of vroom Moslems (wat ’n soortgelyke stel dieetreëls het) is nie. Waarom? Want mense “assosieer die term met reinheid en heilsaamheid”, sê Tufts University Diet & Nutrition Letter. “Maar die kosjer-dieetwette, of ‘kashrut’, is nie uiteengesit om die liggaam se gesondheid te beskerm nie, maar eerder van die siel” en “dit beteken nie dat vleis wat die kosjer inspeksies geslaag het noodwendig beter vir jou is as vleis wat nie kosjer is nie”. Die Joodse voedselinspekteur soek na vleis wat aan die dieetstandaarde van die Tora voldoen, soos dat die bloed uitgeloop is, maar hy is nie opgelei om so deeglik soos regeringsinspekteurs na tekens van infeksie of siektes op te let nie. Hy gaan ook nie sanitêre standaarde by fabrieke na soos regeringsinspekteurs dit doen nie, maar hy gaan gewoonlik bestanddele en masjinerie na om te kyk of dit aan die kosjerdieetreëls voldoen, wat “niks met die voedingswaarde van voedsel te doen het nie”.
Australië se verouderende bevolking
Die syfers van Australië se 1991-sensus wat onlangs bekend gemaak is, toon dat die groeiende getal mense wat 65 en ouer is die opvallendste verandering in die land se bevolkingsamestelling is. ’n Vergelyking wat met die 1986-sensus getref is, toon dat dié neiging algemeen onder al die Gemenebesstate voorkom. Dit is opvallend dat die “persentasie van die bevolking van kinders van 15 jaar en jonger van 23,3 persent tot 22,3 persent verminder het”, het die koerant The Australian opgemerk. Volgens die studie is die gemiddelde ouderdom vir ’n Australiese man 31 jaar en vir ’n vrou 33 jaar.