Die Filippynse Hooggeregshof beslis tengunste van vryheid van aanbidding
Deur Ontwaak!-medewerker in die Filippyne
OP 7 JUNIE 1993, toe miljoene Filippynse skoolkinders na hulle klaskamers teruggestroom het, was Jehovah se Getuies onder hulle besonder bly. Waarom? Omdat die Hooggeregshof van die Filippyne op 1 Maart 1993, kort voor die einde van die vorige skooljaar, ’n Hooggeregshofbeslissing van 1959 tersyde gestel en beslis het dat die kinders van Jehovah se Getuies die reg het om nie die vlag te salueer, die eed van trou af te lê en die volkslied te sing nie.
Wat het tot hierdie ommeswaai aanleiding gegee? En wat beteken hierdie beslissing vir alle liefhebbers van vryheid in die Filippyne?
Waarom Jehovah se Getuies nie die vlag salueer nie
Jehovah se Getuies glo om ’n vlag te salueer, ’n volkslied te sing en ’n eed van trou af te lê, is godsdiensdade. Hulle Bybelopgeleide gewete laat hulle nie toe om aan sulke dade van aanbidding deel te neem nie (Mattheüs 4:10; Handelinge 5:29). In navolging van Jesus Christus, wat gesê het dat sy navolgers ‘nie van die wêreld sal wees nie, net soos hy nie van die wêreld was nie’, is dit hulle standpunt ongeag in watter land hulle woon.—Johannes 17:16.
Terselfdertyd toon Jehovah se Getuies respek vir die regering wat oor hulle aangestel is en glo hulle dat dit ’n instelling is wat deur God toegelaat word. Hulle is dus onder verpligting om die landswette te gehoorsaam, belasting te betaal en die regeringsamptenare hulle regmatige eer te gee. Hulle sal nooit aan enige opstand teen enige regering deelneem nie.a
Redes vir die Hooggeregshofbeslissing
Watter redes het die huidige Hooggeregshof gegee vir die tersydestelling van die beslissing in 1959 in die saak van Gerona v. Secretary of Education? Die besluit van 1993 wat deur regter Griño-Aquino opgeteken is, het gesê: “Die idee dat ’n mens verplig kan word om gedurende ’n vlagseremonie die vlag te salueer, die volkslied te sing en die patriotiese eed af te lê op straf daarvan om afgedank of uit die skool gesit te word, is in stryd met die gewete van die huidige geslag Filippyne wat grootgeword het met die Verklaring van Regte, wat hulle reg op vrye spraak en die vrye beoefening van hulle godsdiens en aanbidding waarborg.”
Die hof het opgemerk dat hoewel Jehovah se Getuies “nie aan die verpligte vlagseremonie deelneem nie, hulle niks deur hulle dade of gedrag doen wat hulle landgenote, wat daarin glo om hulle vaderlandsliefde deur die vlagseremonie te betoon, aanstoot sal gee nie”. Die hof het verder gesê: “Hulle staan eerbiedig op aandag gedurende die vlagseremonie om hulle respek te toon vir die reg van diegene wat verkies om aan die plegtige verrigtinge deel te neem. . . . Aangesien hulle niks doen wat die verrigtinge ontwrig nie, is daar geen regverdiging vir hulle uitsetting nie.”
Die huidige hof het ook aandag geskenk aan die voorspelling wat tydens die beslissing in die Gerona-saak gedoen is, wat gesê het as daar toegelaat word dat Jehovah se Getuies van die vlagsalueringsvereiste vrygestel word dit daartoe sal lei dat “die vlagseremonie iets sal word wat tot die verlede behoort of moontlik met baie min deelnemers uitgevoer sal word, en die tyd sal dan aanbreek wanneer ons burgers sal hê wat onkundig is en by wie eerbied vir die vlag en vaderlandsliefde nie ingeskerp is nie en dit hulle nie besiel nie; burgers wat nie hulle volkshelde vereer en geen patriotisme toon nie—’n patetiese, selfs tragiese toestand, en dít net omdat ’n klein gedeelte van die skoolbevolking hulle wil opgedwing het, ’n vrystelling geëis en dit gekry het”.
Die hofbeslissing van 1993 het hierdie stelling beantwoord deur te sê: “Die negatiewe voorspelling wat die hof in die Gerona-saak gedoen het . . . , is nie bewaarheid nie. Ons is nie daarvan oortuig dat die vrystelling van Jehovah se Getuies van vlagsaluering, die sing van die volkslied en die aflegging van die patriotiese eed daartoe sal lei dat hierdie godsdiensgroep, wat weliswaar ’n ‘klein gedeelte van die skoolbevolking’ uitmaak, ’n opskudding in ons deel van die wêreld sal veroorsaak en skielik ’n volk sal voortbring wat ‘onkundig is en by wie eerbied vir die vlag, patriotisme, vaderlandsliefde en verering van volkshelde nie ingeskerp is en dit hulle nie besiel nie’.”
Die huidige hof het ten slotte na die kommentaar van regter Robert Jackson van die Amerikaanse Appèlhof in die Barnette-saak van 1943 verwys waarin hy gesê het: “As ons meen dat patriotisme nie sal gedy as patriotiese seremonies vrywillig en spontaan pleks van ’n verpligte roetine is nie, toon ons dat ons nie veel vertroue het in die aantrekkingskrag wat ons instellings op vrye denke uitoefen nie. . . . Die vryheid om te verskil, is nie beperk tot dinge wat nie veel saak maak nie. Dít sal bloot ’n skadu van vryheid wees. Die wese daarvan word getoets aan die reg om te verskil wat betref die dinge wat die hart van die bestaande samelewing raak.”
Nadat hierdie uitstekende regsargumente gestel is, was die eenparige beslissing van die Filippynse hof: “Die uitsettingsbevele wat deur die staatsrespondente teen die petisionarisse uitgevaardig is, word hiermee OPGEHEF EN TERSYDE GESTEL. Die tydelike weerhoudingsbevel [teen die skoolowerhede] wat deur hierdie hof uitgevaardig is, word hiermee permanent gemaak.”
Die mederegter, Isagani Cruz, het in ’n soortgelyke mening die volgende bygevoeg: “Na my beskeie mening was die Gerona-saak op ’n verkeerde veronderstelling gegrond. Die hof wat dit afgekondig het, het blykbaar onder die indruk verkeer dat die staat die reg gehad het om te bepaal wat godsdienstig en wat nie godsdienstig was nie en om aan die persoon voor te skryf wat hy kon en nie kon aanbid nie. . . . Deurdat die staat van die petisionarisse hierin vereis het om aan die vlagseremonie deel te neem, het dit ex cathedra verklaar dat hulle nie die Bybel se beginsels oortree deur die vlag te salueer nie. Dit is vir my ’n ongemagtigde inbreuk op hulle godsdiensoortuiging, wat vir hulle die teendeel sê. Die staat kan nie die Bybel vir hulle vertolk nie. Dit het geen bevoegdheid in hierdie saak nie.”
Wat dit vir liefhebbers van vryheid beteken
Alle liefhebbers van vryheid verbly hulle ongetwyfeld in hierdie beslissing om die reg van keusevryheid in die saak van godsdiens en in die stem van ’n mens se gewete te handhaaf, terwyl hulle hulle terselfdertyd aan die relatiewe gesag van die staat onderwerp (Romeine 13:1, 2). Deur die regte van mense te beskerm, baan die staat nie die weg vir anargie nie, maar dien eerder in die rol wat deur die apostel Paulus in Romeine 13:5, 6 genoem word, waar hy sê: “Dit [is] noodsaaklik om jou te onderwerp . . . ter wille van die gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is.”
Jehovah se Getuies in die Filippyne respekteer die regspraak van die regters van die Hooggeregshof en besef dat die uiteindelike eer ons Skepper, Jehovah God, toekom.
[Voetnoot]
a Vir ’n breedvoerige bespreking oor waarom Jehovah se Getuies nie die vlag salueer, die volkslied sing en ’n eed van trou aflê nie, sien gerus die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies, bladsye 12-16, wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.