Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 12/22 bl. 25-27
  • ’n Dubbele lewe—Waarom nie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Dubbele lewe—Waarom nie?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die verlokking van onafhanklikheid
  • ‘My ouers is te streng’
  • Die begeerte om in te pas
  • “Slegte omgang”—Waar?
  • Hou die rampspoed weg
  • ’n Dubbele lewe—Hoef iemand te weet?
    Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 2
  • Jongmense—Moenie ’n dubbele lewe lei nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Waarom moet ek my ouers gehoorsaam?
    Ontwaak!—1994
  • Hoe kan ek van ’n dubbele lewe wegbreek?
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 12/22 bl. 25-27

Jongmense vra . . .

’n Dubbele lewe—Waarom nie?

“Ek het ’n dubbele lewe gelei—een saam met my Christenvriende en ’n ander saam met my skoolvriende.”

Die situasie van die jong vrou wat hierbo aangehaal word, is geensins uniek nie. Maar wat beteken dit om “’n dubbele lewe te lei”? Ruth Bell, skryfster van die boek Changing Bodies, Changing Lives, het dit beskryf as “enigiets wat jy doen waarvan jy jou ouers nie vertel nie”.

Hierdie skryfster het met tientalle jongmense onderhoude gevoer en gesê: “Baie tieners het gesê dat daar dinge in hulle lewe aangaan waaroor hulle eenvoudig nie met hulle ouers kan praat nie. Die meeste was geheimsinnig wat seks, dwelms en drank betref, maar party het ook dinge genoem soos om laat uit te bly, afsprake met vreemdelinge te hê, stokkies te draai, te baklei en met vriende om te gaan van wie hulle ouers nie hou nie.”

Ongelukkig is daar selfs party jongmense wat deur Christenouers grootgemaak is wat vir hulle ouers en ander wegsteek wat hulle werklik is.a (Vergelyk Psalm 26:4, NW.) In die geselskap van ouers en medegelowiges lyk dit asof hierdie jongmense regskape en godvresend is. Maar wanneer hulle onder die wakende oog van hierdie mense uit is, is hulle heeltemal ’n ander mens.

Wat presies beweeg ’n jongmens om ’n dubbele lewe te lei?

Die verlokking van onafhanklikheid

Die Bybel sê uiteindelik “sal die man sy vader en moeder verlaat” (Genesis 2:24). Daarom is dit heeltemal normaal dat jy wil grootword, vir jouself wil dink en jou eie besluite wil neem. Maar die probleem is dat jy moontlik nie gereed is vir volwassenheid nie. Aangesien jy nog nie baie lewenservaring opgedoen het nie, het jy steeds die ondersteuning van godvrugtige ouers nodig.—Spreuke 1:8.

Baie jongmense weier om hierdie feit te aanvaar. Volgens die boek How to Survive Your Child’s Rebellious Teens wil baie jongmense “as ’t ware hulle ontwikkelende spiere, oftewel hulle nuutgevonde kragte, op die proef stel en hulle onafhanklikheid toon”. Wanneer ouers jongmense nie wil toelaat om dinge te doen wat hulle as onverstandig—of verkeerd—beskou nie, kom party jongmense in opstand. En hulle voel moontlik nie eers skuldig oor hierdie skending van vertroue nie. Een tienermeisie sê: “Ek hou daarvan om dinge te doen waarvan [my ouers] nie weet nie, omdat dit my belangrik laat voel. Ek lei my eie soort lewe, en ek glo nie hulle is enigsins daarvan bewus nie. . . . Hulle sal nie kan glo wat ek alles doen nie.”

‘My ouers is te streng’

Maar waarom doen selfs party jongmense wat ’n goeie Christelike opvoeding ontvang het in die geheim verkeerde dinge? Toe Ontwaak! hierdie vraag aan ’n groep jongmense gestel het, het een tienermeisie geantwoord: “Hulle koester woede teenoor hulle ouers. Hulle wil hulle ouers terugbetaal omdat hulle hulle inperk.” Die Christelike godsdiens beperk ongetwyfeld ’n mens se lewenswyse. Jesus het gesê: “Die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei” (Mattheüs 7:14). As jy God se gawe van die ewige lewe wil ontvang, kan jy eenvoudig nie van die sogenaamd prettige dinge doen wat ander jongmense doen nie. Die Bybel veroordeel byvoorbeeld dinge soos wilde partytjies, drinkpartye, voorhuwelikse geslagsomgang en losbandige gedrag.—Galasiërs 5:19-21.

Dan is daar die feit dat dit lyk of party ouers buitengewoon streng is. “Ons mag na omtrent geen rolprent kyk nie”, het ’n jong meisie met die naam Kim gekla. “Ek bestee ook baie minder tyd daaraan om na musiek te luister, en ek het selektief probeer wees. Maar my pa het ons verbied om na feitlik enige musiek te luister! Ons mag net na klassieke en jazzplate luister.” Aangesien party jongmense te kampe het met wat hulle as onredelike beperkings beskou, begin hulle wens dat hulle die vryheid kan hê wat hulle portuurs geniet.

Die begeerte om in te pas

’n Jong vrou met die naam Tammy sê: “Ek het begin deur by die skool vuil taal te gebruik. Dit het my meer soos een van die ander kinders laat voel. Later het ek begin rook. Ek het ook soveel alkohol gedrink dat ek dronk was. Toe het ek met kêrels begin uitgaan—in die geheim omdat my ouers streng was en my nie toegelaat het om met seuns uit te gaan nie.”

’n Tienerseun met die naam Pete het ’n soortgelyke ondervinding gehad: “Ek is as een van Jehovah se Getuies grootgemaak. Maar ek was baie bang dat mense my sou terg en daarom het ek altyd by die gewilde groep probeer inpas. Ek het gewild probeer wees. Ek het leuens vertel en verskonings gemaak oor waarom ek nie op godsdienstige feesdae enige geskenke ontvang het nie.”b Toe Pete eers klein kompromisse begin aangaan het, was dit nie lank voor hy hom aan ernstiger wangedrag skuldig gemaak het nie.

“Slegte omgang”—Waar?

Sulke ondervindinge beklemtoon die waarheid van die Christenapostel Paulus se woorde: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korinthiërs 15:33, NW). As jy dus met jongmense omgaan wat nie jou Bybelse waardes en sedes respekteer nie, kan jy hulle lewenstyl maklik begin navolg. Maar dit is interessant dat die apostel nie spesifiek oor omgang met ongelowiges gepraat het toe hy daardie waarskuwing gegee het nie. Hy het gewaarsku teen omgang met diegene in die Christengemeente wat versuim om by die Christelike leer te bly (1 Korinthiërs 15:12). Daar kan vandag eweneens jongmense in die gemeente wees wat nie die lewe van ’n ware Christen lei of ander aanmoedig om dit te doen nie. Hulle kan op ’n subtiele manier druk op jou uitoefen om ’n dubbele lewe te lei.

Beskou weer vir Tammy wat erken dat haar ouers “baie liefdevol” is. Sy beskryf haar pa as iemand wat “feitlik oorloop van ywer en heeltyd praat oor hoe Jehovah vir ons omgee”. Hy dien selfs as ’n ouere man in die gemeente. Hoe is sy dan mislei? “Slegte omgang in die gemeente”, sê sy. “Ander het my vertel van die pret wat hulle op verskillende partytjies gehad het en hoe hulle gedrink het. Of hulle het oor hulle kêrels gepraat en oor hoe hulle ná gemeentelike vergaderinge gaan dans het.”

Hou die rampspoed weg

Moenie sulke wangedrag onder jongmense verskoon deur soos volg te redeneer nie: ‘Dit is maar net ’n deel van die grootwordproses’ of ‘Alle kinders steek dinge vir hulle ouers weg.’ Let op God se waarskuwing aan jongmense in Prediker 11:9, 10: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring. En weer verdriet uit jou hart, en hou die kwale [“rampspoed”, NW] weg van jou liggaam.”

’n Dubbele lewe lyk moontlik na pret. Maar dit is uiteindelik ’n dodelike strik. (Vergelyk Psalm 9:17.) Ongehoorsame dade lei gewoonlik tot ernstiger verkeerde dade. Jong Pete het hom byvoorbeeld reeds aan seksuele wangedrag skuldig gemaak toe hy op 17 die huis verlaat het. Toe Pete 18 was, was hy reeds weens gewapende roof opgesluit.

Dit lyk dikwels asof baie jongmense net nie vir hulle slegte gedrag gestraf word nie. Jy kan maklik soos die Bybelskrywer Asaf begin voel, wat erken het: “Ek was jaloers . . . Ek het gesien dat die goddeloses voorspoed geniet. Hulle verduur nie pyn nie; hulle is sterk en gesond. Hulle ly nie soos ander mense ly nie.” Maar die oënskynlike veiligheid wat die goddeloses geniet het, was ’n wrede illusie. Asaf het tot die slotsom gekom: “[God] sal hulle op gladde plekke stel en hulle aan vernietiging onderwerp!” (Psalm 73:3-5, 18, Today’s English Version). Die Bybel waarsku dus tereg: “Laat jou hart die sondaars nie beny nie, maar wees die hele dag in die vrees van die HERE.”—Spreuke 23:17.

Wat van die idee dat ongehoorsaamheid aan sy ouers ’n jongmens help om volwasse en onafhanklik te word? Dit druis in teen die Bybel se raad om na jou ouers te luister (Spreuke 23:22). Dwase of onverantwoordelike gedrag sal jou emosionele en geestelike ontwikkeling in werklikheid net belemmer. Dit is eerder deur Bybelbeginsels toe te pas dat jy “’n volwasse man” word “tot die mate van die volle grootte van Christus”.—Efesiërs 4:13.

Dit lyk weliswaar asof party ouers onredelik streng is. Maar is dit nie vanweë hulle innige liefde vir jou en hulle begeerte om jou te beskerm nie? Moet jy dit nie eerder met jou ouers bespreek as jy meen dat hulle te streng is as om in die geheim in opstand te kom nie?c As jy in opstand kom, sal dit hulle, jou en, bowenal, Jehovah God self groot verdriet veroorsaak.—Spreuke 10:1; 27:11.

Sê nou jy het reeds ’n dubbele lewe begin lei? Is daar enige manier waarop jy jou daarvan kan losmaak? Toekomstige artikels sal dié vrae bespreek.

[Voetnote]

a Sien die artikel “Jongmense—Moenie ’n dubbele lewe lei nie” in Die Wagtoring van 1 Augustus 1988.

b Sien die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies, uitgegee deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania, vir ’n bespreking van die standpunt van Jehovah se Getuies ten opsigte van godsdienstige feesdae.

c Sien hoofstuk 3 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prente op bladsy 26]

Lei jy ’n dubbele lewe?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel