Ons beskou die wêreld
Hout versus plastiek
Wanneer ’n mens rou vleis en pluimvee opsny, neem jy moontlik aan dat ’n plastiekkerfplank meer higiënies as ’n houtkerfplank is. ’n Onlangse studie het die teenoorgestelde bevind. Volgens die Berkeley Wellness Letter het twee mikrobioloë aan die Universiteit van Wisconsin, VSA, hout- en plastiekkerfplanke doelbewus met bakterieë, soos salmonella, besmet wat voedselvergiftiging veroorsaak. Dit was verbasend dat die bakterieë op die plastiekkerfplanke gefloreer het, terwyl hulle op die houtkerfplanke gesterf het of onskadelik gemaak is—in sommige gevalle binne net drie minute. Wanneer die houtkerfplanke besmet en oornag gebêre is, was hulle die volgende oggend bakterievry, terwyl die plastiekkerfplanke van die bakterieë gekrioel het. Ou hout was in hierdie opsig doeltreffender as nuwe hout. Dit was ook moeiliker om die plastiek te was as wat verwag is, veral as die oppervlak gekrap was. Ongeag die soort kerfplank wat gebruik word, dit is noodsaaklik dat dit met seep en warm water gewas word nadat rou vleis daarop gesny is.
’n Daaglikse slagting
“Daagliks sterf daar ten minste vier vroue in Brasilië as gevolg van aborsiekomplikasies—1460 elke jaar”, berig die Brasiliaanse koerant Folha de S. Paulo. Die koerant erken dat hierdie skatting “optimisties” is en dat die werklike syfer moontlik drie keer hoër is. Dit voeg by: “Die gemiddelde in Latyns-Amerika is heelwat hoër. Die VN skat dat 50 persent van alle ma’s weens ’n aborsie sterf, wat 15 duisend vroue elke jaar beteken—’n gemiddeld van 41 Latyns-Amerikaanse vroue wat elke dag sterf.”
Staan regop
As jy ’n slap liggaamshouding het, gaan jou rug daaronder ly. Volgens ’n verslag in die International Herald Tribune plaas ’n slegte liggaamshouding 15 keer meer druk op die onderste deel van die rug as wanneer ’n mens regop staan. ’n Slap liggaamshouding veroorsaak ook dat jy vlakker asemhaal, en dit beteken dat minder suurstof ingeasem word om die liggaam te voed. Dit kan jou van jou energie beroof en tot pyne en krampe, veral in die nek en rug, lei. Dit kan jou ook ouer, vetter en meer onseker laat lyk as wanneer jy regop staan. Die verslag sê dat ’n goeie liggaamshouding beteken dat jou oorlelle, skouers, die middel van die heupe, kniekoppe en enkelbene in ’n reguit vertikale lyn moet wees. Maar dit beteken nie ’n laaistokagtige, militêre liggaamshouding met knieë styf teen mekaar gedruk en die kop en skouers agtertoe gegooi nie. Dit plaas oormatige spanning op die ruggraat. Kenners sê dat ’n slegte liggaamshouding gewoonlik ’n slegte gewoonte is wat afgeleer kan word.
Ongelukke wat wag om te gebeur
“’n Vloot drywende katastrofes wat wag om te gebeur”—dit is, volgens International Environmental Update, wat party kritici die wêreld se olietenkskepe noem. Die tydskrif sê dat “die wêreld steeds staatmaak op honderde ongereguleerde tenkskepe wat roes en oud word en ’n swak opgeleide bemanning het om die wêreld se belangrikste brandstof te vervoer”. ’n Groot tenkskip moet na verwagting ongeveer 15 jaar diensbaar wees. Maar ongeveer 65 persent van die wêreld se tenkskipvloot is al ten minste so oud. Selfs party amptenare van die olienywerheid erken dat baie van hierdie uitgediende tenkskepe tot niet gemaak moet word. Daar is blykbaar nie een instansie wat alleen die gesag het om die skepe aan hulle diens te onttrek nie. Maar die probleem is moontlik veel eerder die manier waarop hierdie skepe hanteer word en nie die vaartuie self nie. Die tydskrif haal een kenner op die gebied van oliebesoedeling aan wat sê: “Die meeste tenkskipongelukke is die gevolg van mensefoute.”
Maniere waarop kinders hewige druk die hoof bied
Wat stel party kinders in staat om die hewige druk van die moderne lewe die hoof te bied? Om uit te vind, het navorsers aan die Loyola-universiteit van Chicago, VSA, ’n studie gedoen van 400 kinders wat tussen 9 en 13 jaar oud is en uiteenlopende agtergronde het. Die tydskrif American Health berig dat die navorsers drie algemene eienskappe waargeneem het onder ongeveer die helfte wat moeilike situasies oor die algemeen goed hanteer het. Eerstens, hulle was bereid om hulp te vra, hulle bekommernisse te bespreek en emosionele ondersteuning by ’n volwassene te soek—dikwels, maar nie altyd nie, by ’n ouer. Tweedens, hulle het gewoonlik verantwoordelikheid vir hulle eie gedrag aanvaar en hulle portuurs probeer beïnvloed sodat hulle nie dinge doen wat tot hulle nadeel sal strek nie. Derdens, hulle het tyd opsygesit om rustig te wees of te ontspan en sodoende spanning te verminder. Die navorsers het daarenteen drie neigings waargeneem wat kinders se vermoë om moeilike situasies te hanteer, verminder het: om van aggressie gebruik te maak; selfvernietigende gedrag soos dwelmmisbruik te openbaar en om probleme te vermy en dit nie aan te pak nie.
Geluk in Asië
’n Meningsopname wat deur Survey Research Hong Kong Limited gedoen is, het bevind dat die gelukkigste mense in sowel Taiwan as die Republiek van Korea arm en in hulle dertigerjare is. In die Filippyne, waar die BNP (bruto nasionale produk) slegs R1500 per capita is en 41 persent van die mense in armoede leef, sê 94 persent dat hulle gelukkig is. Dieselfde gesindheid ten opsigte van die lewe word deur byna al hulle bure in Asië, behalwe een, gedeel. “In ’n gebied wat gewoonlik oorloop van vreugde”, het Mainichi Daily News gesê, is daar bevind dat Asië se rykste land “die ongelukkigste plek is”. Selfs met ’n BNP van oor die R80 000 per capita, sê 40 persent van die Japannese dat hulle nie gelukkig is nie.
’n Gebrek aan kommunikasie
“Die gemiddelde egpaar in Duitsland gesels skaars 10 minute per dag met mekaar”, berig die Duitse koerant Nassauische Neue Presse. Die meeste paartjies bestee dus gans te min tyd daaraan om hulle probleme op te los. Gesinsraadgewers in Duitsland het ook opgemerk dat veral jong egpare nie weet hoe om hulle meningsverskille te hanteer nie. Dit is ’n groot oorsaak van huwelike wat vroeg ineenstort; twee uit vyf huwelike misluk binne die eerste vier jaar. Die koerant haal raadgewer Rosemarie Breindl aan wat sê: “Daar is nie veel modelegpare wat deur hulle voorbeeld toon hoe konflikte opgelos moet word nie.” Die berig voeg by: “Daarom is daar ’n toenemende gewilligheid om huweliksprobleme uit die weg te ruim deur eenvoudig te skei.”
Hou werk op sy plek
Maagswere, hartsiektes, senuwee-uitputting, wegblyery van die werk en ongelukke—dit is die prys van te veel spanning, wat sowel die werknemer as die werkgewer duur te staan kom. Volgens ’n verslag deur die Franse Internasionale Arbeidsburo het werkverwante spanning “een van die ernstigste probleme van ons tyd” geword. Volgens die Franse mediese tydskrif Le Concours Médical het spanning in die werkplek aansienlik in Europa vererger weens personeelverminderings en die toenemende verantwoordelikhede van werknemers, tesame met die begeerte na verhoogde produksie en winste, en dit voeg by dat party in Frankryk selfs sterf omdat hulle hulle oorwerk. Verskeie studies toon interessant genoeg dat ’n persoon spanning die beste die hoof bied wanneer hy hartlike en liefdevolle vriendskappe met diegene om hom ontwikkel. Dokters beveel ook aan dat ’n mens ontspan, fisiese oefeninge doen, ’n gebalanseerde dieet volg en werk op sy plek hou—wat beteken dat tyd vir die gesin en ontspanning opsygesit word.
Polisie leer van kultusse
Polisiemanne van oor die hele land het vroeër vanjaar in Rhode-eiland, VSA, byeengekom vir ’n driedaagse konferensie oor ’n ongewone onderwerp: sataniese aanbidding, kultusse en heksery. Die Daily News van New York het berig dat dit die doel van die seminaar was om ervare polisiemanne op te lei om die geweld wat deur sulke kultusse gepleeg word te kan uitken. Sersant Edmund Pierce van die Polisiedepartement van Warwick word aangehaal: “Ons lê ons toe op misdade wat wissel van wreedheid teenoor diere, grafskendings en roof tot aanrandings, ritualistiese kindermolestering en selfs moord.” Die Daily News haal dr. Carl Raschke, ’n professor aan die Universiteit van Denver, aan wat sê: “Ek dink daar gaan nog baie meer gewelddadige kultusse ontstaan en gewelddadige misbruik plaasvind wat onder die dekmantel van okkulte opvattings gepleeg word.” Kenners by die seminaar het ook gewaarsku dat sulke haatgroepe soos die neo-Nazi’s en die Ku-Klux Klan die rituele en bonatuurlikhede van die okkulte gebruik om lede te lok en meer beheer oor hulle te verkry.
’n Dodelike handel keer terug
India Today berig dat bewaringspogings in Indië, ten spyte van vooruitgang, in onlangse jare grootliks deur wilddiewe in die wiele gery is. In 1988 was daar ongeveer 4500 tiere wat nog in hulle natuurlike omgewing in Indië gewoon het. Teen 1992 het daardie syfer tot 1500 gedaal. Die tier word vir sy vel, sy bloed, sy bene (wat in volksgeneeskunde gebruik word), sy kloue en selfs sy genitalieë verkoop. Maar die tier is nie die enigste slagoffer van die menigte wilddiewe nie. Agt-en-veertig Indiese renosters is in 1992 vir hulle horings doodgemaak, wat die grootste getal in dekades is. Die getal Indiese olifante het afgeneem van 5000 tien jaar gelede tot ongeveer 1500 vandag. Bosbewaarders is glo so bang vir vandag se swaar gewapende wilddiewe dat party glad nie meer hulle amptelike uniform dra nie; ander weier summier om hulle werk te verrig totdat hulle behoorlik toegerus word om hulleself te verdedig.