Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 10/8 bl. 26-27
  • Het ons werklik priesters nodig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het ons werklik priesters nodig?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wie was die eerste priesters?
  • Waarom God priesters aangestel het
  • Watter priesterskap het Christene nodig?
  • ’n Koninklike priesterdom tot voordeel van die hele mensdom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Waardeer jou voorreg om in Jehovah se geestelike tempel te aanbid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Offerandes wat God behaag het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Lofofferandes wat Jehovah behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 10/8 bl. 26-27

Die Bybelse beskouing

Het ons werklik priesters nodig?

“DANK God vir die gawe van die Priesterskap”, het Johannes-Paulus II in sy jaarlikse brief aan priesters op “Heilige Donderdag”, 1992, gesê. Dit is nie net Katolieke wat pynlik bewus geword het van hulle eie foute nie; ander het ook. Hulle het behoefte daaraan dat iemand wat vir God aanneemlik is hulle God se wil leer, aan Hom ’n offer bring en vir hulle by God voorspraak doen. So iemand word ’n priester genoem. Het ons werklik ’n priester nodig om ons te help om vergifnis van God te ontvang?

Die gedagte aan priesters en offers het nie by mense nie, maar by God ontstaan. As daar nie sondes teen God was nie, sou priesters nie nodig gewees het nie. In Eden het die volmaakte mens Adam nie ’n priester nodig gehad nie. Hy is sondeloos geskep.—Genesis 2:7, 8; Prediker 7:29.

Wie was die eerste priesters?

Ons almal het vandag sondigheid oorgeërf omdat Adam opsetlik gesondig het en ons sy nakomelinge is (Romeine 3:23). Abel, die seun van die eerste mens, Adam, het dit erken. Die Bybel sê van hom: “Deur die geloof het Abel ’n . . . offer aan God gebring” (Hebreërs 11:4). Hoewel Abel en ander eertydse manne van geloof—soos Noag, Abraham en Job—nie priesters genoem is nie, het hulle wel ten behoewe van hulleself of hulle gesin offers aan God gebring. Die Bybel sê byvoorbeeld van Job en sy seuns: ‘Job het brandoffers vir elkeen van hulle gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig’ (Job 1:5). Maar hoe het priesters en offers iets so algemeens in soveel kulture geword?

Beskou die omstandighede waarin die eertydse patriarg Noag hom bevind het. Noag en sy gesin was die enigste mense wat die wêrelddwye sondvloed oorleef het. Nadat hulle op ’n skoongewaste aarde uitgeklim het, het Noag ’n altaar gebou en offers gebring uit waardering vir Jehovah se barmhartigheid en beskermende hand. Aangesien alle nasies afstammelinge van Noag is, het hulle ongetwyfeld sy voorbeeld gevolg en mettertyd ’n verskeidenheid tradisies ontwikkel wat bemiddelaars en sondoffers betref.—Genesis 10:32.

Meer as ’n eeu later het ’n opstand teen God in die stad Babel uitgebreek. God het mense se taal verwar en hulle is verstrooi (Genesis 11:1-9). Party priesters, wat toe verdraaide en verdorwe oortuigings bevorder het, het vreeslike ritusse ontwikkel in die lande waarheen hulle verstrooi is. God het dit nietemin nodig geag om sy aanbidders te laat besef dat hulle ’n ware priesterskap nodig het met ’n hoëpriester, onderpriesters en offers wat vir hom aanneemlik is.

Waarom God priesters aangestel het

Jehovah het mettertyd priesters aan die nasie Israel gegee en hulle het twee basiese funksies verrig. Eerstens, hulle het God voor die mense verteenwoordig as regters en onderrigters van God se Wet (Deuteronomium 17:8, 9; Maleagi 2:7). Tweedens, hulle het die volk voor God verteenwoordig deur ten behoewe van die volk offers aan hom te bring. Paulus se brief aan die Hebreeuse Christene verduidelik: “Elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, tree ten behoewe van mense op in die dinge wat in betrekking tot God staan, om gawes en offers vir die sondes te bring . . . Niemand neem die waardigheid vir homself nie, maar hy wat deur God geroep word.”—Hebreërs 5:1, 4.

Paulus verduidelik verder dat Israel se priesterskap nie God se finale manier was om mense met Hom te versoen nie. Die priesters se pligte was ’n simbool wat op beter dinge gedui het, “hemelse dinge” (Hebreërs 8:5). Toe daardie hemelse dinge eers ’n werklikheid geword het, was die simbole nie meer nodig nie. Ter toeligting: Jy hou moontlik ’n advertensie vir ’n produk wat jy uiters dringend nodig het, maar sal jy dit nie weggooi nadat jy daardie produk gekry het nie?

Lank voordat die nasie Israel ontstaan het, het God ’n priesterskap beoog wat tot die seëning van nie net Israel nie maar die hele mensdom sou lei. Israel het aanvanklik die voorreg en geleentheid gehad om die lede van daardie priesterskap te voorsien. Toe die nasie Israel gevorm is, het Jehovah vir hulle gesê: ‘As julle dan nou terdeë na my stem luister, sal julle vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees.’ (Exodus 19:5, 6; vergelyk Genesis 22:18.) Ongelukkig het die nasie selde na God se stem geluister. Jesus het dus vir die priesters en Fariseërs gesê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.” Wie moet nou tot die seëning van die mensdom as priesters dien?—Mattheüs 21:43.

Watter priesterskap het Christene nodig?

Aangesien ons sonde van Adam oorgeërf het, is redding tot ewige lewe net moontlik deur middel van die volmaakte offer wat Jesus voorsien het (1 Johannes 2:2). Jesus self doen vir ons voorspraak as Hoëpriester, net soos dit in Israel se priesterskap voorafgeskadu is. Hebreërs 9:24 sê: “Christus het nie ingegaan in ’n heiligdom met hande gemaak, ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn.” Die weergalose voortreflikheid van Christus se hoëpriesterskap skakel die behoefte aan menslike priesters as bemiddelaars uit. Tog is die dienste van onderpriesters steeds nodig. In watter opsig?

Priesters moet “geestelike offers . . . bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus” (1 Petrus 2:5). Wat hierdie soort offers betref, het Paulus geskryf: “Laat ons dan gedurig . . . aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe” (Hebreërs 13:15). Daarom verteenwoordig diegene wat die koninklike priesterskap sal uitmaak, terwyl hulle nog op die aarde is, God voor die mense as sy Getuies, en nie as bemiddelaars nie. Later, in die hemel saam met Jesus Christus, verteenwoordig hulle mense voor God deur die voordele van Christus se offer aan te wend en die genesing van alle gebreke te bewerkstellig.—Vergelyk Markus 2:9-12.

Hoewel alle gelowiges moet getuig, sal betreklik min in die hemelse “koninkryk van priesters” dien. Jesus het gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32; Openbaring 14:1). Hulle sal tot die hemel opgewek word en “sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank”.—Openbaring 20:6.

God het reëlings getref vir hierdie hemelse priesters om dinge in ’n geestelike sowel as in ’n fisiese sin te doen wat geen priesterskap nog ooit kon doen nie. Binnekort, namate hulle die voordeel van Jesus se losprysoffer aanwend, sal hulle ’n deel daaraan kan hê om alle gelowige mense tot menslike volmaaktheid te herstel. Dan sal Jesaja 33:24 ’n wonderlike vervulling hê. Dit sê: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.”

[Foto-erkenning op bladsy 26]

“Benediction of the Wheat at Artois” 1857, by Jules Breton: France / Giraudon/Art Resource, N.Y.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel