‘Ek het nog nooit een van Jehovah se Getuies ontmoet van wie ek nie gehou het nie’
HET jy al ooit een van Jehovah se Getuies van aangesig tot aangesig ontmoet? Het jy al ooit die geleentheid gehad om uit te vind wat hulle werklik glo? Jy het waarskynlik ’n Getuie net kortliks op straat of by jou deur ontmoet. Maar dikwels is dit te kort om werklik te kommunikeer.
George Plagenz, ’n Amerikaanse godsdiensrubriekskrywer, het oor sy ondervindinge met Getuies geskryf: “Ek stel dit in die woorde van [die Amerikaanse humoris] Will Rogers, wat gesê het dat hy nog nooit ’n mens ontmoet het van wie hy nie gehou het nie: ek het nog nooit ’n Getuie van Jehovah ontmoet van wie ek nie gehou het nie.”
Toe het George Plagenz die Ierse skrywer Alan Bestic aangehaal: “Die gewone lede van hierdie erg belasterde beweging is gesellige, opgewekte en gelukkige mense. By hulle internasionale byeenkoms in Londen [Engeland] is ek deur elke Getuie wat ek ontmoet het met die uiterste goedhartigheid, goeie maniere en opregte vriendelikheid behandel.”
George Plagenz sê dat die ou, aggressiewe metode waarvolgens party Getuies van huis tot huis gepreek het baie onmin veroorsaak het. “Maar dit het baie verander.” Dan haal hy ’n woordvoerder van die Getuies aan: “Die meeste mense wat vandag Getuies is, het eenkeer die deur in die gesig van ’n besoekende Getuie toegeslaan.” Waarom het mense vandag ’n positiewer gesindheid? “Mense begin besef . . . dat daar geen menslike oplossing is vir die ontsaglike probleme waarmee die wêreld te kampe het nie.”
Jehovah se Getuies glo dat die enigste, algehele oplossing vir die mensdom se probleme in Jesus se gebed opgesluit lê: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). Die heerskappy van God se Koninkryk, wat deur ’n gehoorsame en nederige mensegesin erken word, is die enigste oplossing vir die geweld en haat wat die wêreld vandag teister. As jy graag meer omtrent die Bybel en sy leerstellings wil weet, kan jy gerus met Jehovah se Getuies by ’n nabygeleë Koninkryksaal in verbinding tree of aan die naaste adres op bladsy 5 skryf.