Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 9/8 bl. 16-19
  • ’n Nuwe skool in Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Nuwe skool in Afrika
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die doel van die skool
  • Unieke opleiding
  • Opmerkings uit die veld
  • Wie kwalifiseer?
  • Die Bedieningsopleidingskool—’n Groot deur wat tot bedrywigheid lei
    Ons Koninkryksbediening—2004
  • ’n Skool waarvan die gegradueerdes mense wêreldwyd bevoordeel
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Die opleiding van Koninkryksbedienaars
    God se Koninkryk regeer!
  • Nog ’n mylpaal in Bybelonderrig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 9/8 bl. 16-19

’n Nuwe skool in Afrika

Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië

IN JULIE 1990 is ’n brief gelees wat groot opgewondenheid veroorsaak het onder die meer as 400 vrywilligers, Jehovah se Getuies, wat by die Wagtoringgenootskap se takkantoor by Igieduma, Nigerië, woon en werk. Die Bedieningsopleidingskool, wat in 1987 in die Verenigde State gestig is, sou in Afrika aangebied word, en die eerste klasse sou by Igieduma gehou word!

In die daaropvolgende maande het die Bethelgesin voorbereidsels vir die eerste klas getref.a Die studente en instrukteurs sou huisvesting nodig hê. Die bestaande gastekamers sou nie voldoende wees nie; nog 15 kamers was nodig. Die Getuies het dus begin om pakkamers in aantreklike kamers te omskep. Dit het beteken dat hulle die vloere moes teël, die mure verf en gordyne hang. Die houtwerkafdeling het beddens, kaste en lessenaars gemaak en geïnstalleer. Eindelik is stoele, leeslampe en boekrakke ingebring. Die rakke is vol teokratiese publikasies gepak.

Daarbenewens is die gesinskamer in ’n klaskamer en biblioteek vir die studente omskep. Een van die slaapkamers in die sieke-afdeling het ’n tydelike kantoor vir die instrukteurs geword en is met lessenaars, tafels en ander kantoortoerusting uitgerus. Intussen het honderde aansoeke van voornemende studente begin instroom namate nuus van die naderende skool dwarsdeur die land by kring- en streekbyeenkomste van Jehovah se Getuies bekend gemaak is.

Teen die eerste week van Februarie 1992 was alles gereed. Twee instrukteurs, Michael Purbrick en Peter Nicholls, het uit Brittanje aangekom om die eerste klas te onderrig. Benewens die 22 studente het drie voornemende instrukteurs, Isaiah Mnwe, Isaiah Olabode en Pius Oparaocha, ook gekom. Hulle was Nigeriese Getuies wat opgelei sou word om daaropvolgende klasse te onderrig.

Die doel van die skool

Oral in Bethel was daar ’n gees van afwagting en opwinding. Waarom? Weens die goeie uitwerking wat die skool op die dissipelmaakwerk in Nigerië sou hê. Jehovah het lank gelede voorspel dat hy “gawes in die vorm van mense” sou voorsien (Psalm 68:18, NW). Hy het dit in apostoliese tye gedoen, soos die apostel Paulus in Efesiërs 4:8-11 (vgl. NW) gesê het. Vandag voorsien Jehovah ook gawes in mense. Die Bedieningsopleidingskool is ’n liefdevolle voorsiening om sommige van hierdie manne toe te rus om verdere organisatoriese verantwoordelikhede te aanvaar.

Daar is meer as 160 000 Getuies in meer as 3000 gemeentes in die land. Sommige van hierdie gemeentes het slegs een of twee ouere manne en min bedieningsknegte. Ander gemeentes het uitgestrekte gebiede waar die goeie nuus nie op groot skaal verkondig word nie. Daar is gevolglik ’n groot behoefte aan bekwame manne om nie alleen die leiding in die evangelisasiewerk te neem nie, maar ook om as herders oor die kudde toesig te hou en in die gemeentes te onderrig.

Die doel van die Bedieningsopleidingskool is om broers op te lei sodat hulle na hierdie verantwoordelikhede kan omsien. Ná graduering word sommige van die studente in die spesiale pionierdiens of reisende werk aangestel, aspekte van die diens waarin daar ’n groot behoefte in Nigerië bestaan. Ander keer terug na hulle gemeentes om die plaaslike broers te help en aan te moedig. Wat ’n seën is sulke bekwame manne tog nie vir die gemeentes waarin hulle dien nie!

Unieke opleiding

Hoewel die Bedieningsopleidingskool ’n uitbreiding van die Wagtoring-Bybelskool Gilead is wat sendelinge vir buitelandse diens oplei, is die leerplan uniek. Gedurende die agt weke lange skool maak die studente ’n intensiewe studie van die Bybel. Hulle ondersoek ’n wye reeks Bybelleerstellings noukeurig, met inbegrip van raad oor herderlike verantwoordelikhede en riglyne om probleme in die Christelike leefwyse te behartig. Hulle leer ook wat die Skrif omtrent administratiewe, regterlike en organisatoriese sake sê. Hulle ontvang gespesialiseerde opleiding in die spreekkuns asook persoonlike aandag van besorgde instrukteurs, wat hulle help om geestelike vordering te maak.

Die deursneestudent ontvang altesaam 45 klaskamertoewysings en vind baat by 256 uur van klaskameronderrigting. Daarbenewens bestee hy 140 uur aan huiswerk en 14 uur om toetse af te lê.

Hoewel die Bybel die vernaamste leerboek is, word die studente gevra om hulle persoonlike kopieë van 16 ander boeke, Bybelstudiehulpe wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, saam te bring. Gedurende die skoolkursus delf die studente ook diep in ander publikasies wat in die goed toegeruste Bethelbiblioteek beskikbaar is. Hulle moet beslis goeie lesers wees.

Buiten skoolwerk werk die studente 45 minute elke dag in een van agt Bethelafdelings: die skoonmaakafdeling, eetsaal, terreininstandhouding, huishou-afdeling, kombuis, wassery, versendings- en vragmotorafdeling. Hulle maak beurte om op verskillende plekke te werk sodat elkeen teen die einde van die agt weke lange kursus in al hierdie afdelings ervaring opgedoen het. Een student het gesê: “Die feit dat ek in verskillende afdelings gewerk het, het my laat besef dat Jehovah oor die werk toesig hou.” ’n Ander student het gesê: “Die opsieners is gereed om ’n mens liefdevol te onderrig en reg te help.” En nog iemand anders het gesê: “Bethelwerk is iets wat elkeen moet smaak en sien dat dit goed is.”

Hoe het die broers op die opleiding gereageer wat hulle ontvang het? Een het gesê: “[Dit was] die beste skool wat ek nog bygewoon het.” ’n Ander student het entoesiasties uitgeroep: “Wat ’n voortreflike reëling!” Met harte vol vreugde en waardering het die studente van die eerste klas in ’n brief geskryf: “Ons voorneme is . . . om ons hele lewe om die boodskap van die goeie nuus te laat draai.”

Opmerkings uit die veld

Gedurende die eerste gedeelte van 1992 en 1993 is die eerste vier klasse van die Bedieningsopleidingskool in Nigerië gehou. In ’n dankbetuigingsbrief aan die Bestuursliggaam het die studente van die tweede klas geskryf: “Ons het waarlik nog nooit enige skool bygewoon wat beter was nie. Die kursus is baie beter as ’n universiteitsprogram. Ons stem dus van harte saam met William Phelps dat ‘’n kennis van die Bybel sonder ’n universiteitskursus waardevoller is as ’n universiteitskursus sonder ’n Bybel’. Dit is duidelik dat julle opreg in ons belangstel. Ons is dus vasbeslote om die voltydse bediening ons loopbaan te maak.”

Hoe is die gegradueerdes in hulle nuwe toewysings ontvang? ’n Reisende opsiener het ’n brief geskryf oor twee gegradueerdes van die eerste klas wat as spesiale pioniers dien: “Vergaderinge is nou boeiend, aanmoedigend, aangenaam en betekenisvol. Velddiensbedrywighede neem toe . . . Die gemeente sprankel van vreugde . . . Toe ek sommige broers aangaande hierdie spesiale pioniers uitgevra het, het die presiderende opsiener met trane van blydskap geantwoord: ‘Ons dank Jehovah en sy organisasie dat hulle betroubare en doeltreffende helpers na ons gemeente toe gestuur het.’”

Wie kwalifiseer?

Om die Bedieningsopleidingskool in enige land by te woon, is ’n wonderlike diensvoorreg, ’n uitsonderlike seën van Jehovah af. Hierdie opleiding help die studente ongetwyfeld om as geestelike manne in volwassenheid toe te neem en rus hulle toe om in ’n groter mate deur Jehovah gebruik te word.

Die vereistes is natuurlik hoog. Om te kan kwalifiseer, moet aansoekers al ten minste twee jaar lank as ’n ouere man of bedieningskneg in die Christengemeente dien. Daar word voorkeur gegee aan diegene in die gewone pionierdiens. Almal moet ongetroud en tussen 23 en 50 jaar wees. Hulle mag nie gedurende die afgelope vyf jaar regterlik tereggewys of uitgesit gewees het nie. Aansoekers moet Engels kan lees, skryf en vlot kan praat, en hulle moet goeie gesondheid geniet en nie spesiale sorg of ’n spesiale dieet nodig hê nie.

Diegene wat hulleself vrywillig aanbied, moet bowenal gereed, gewillig en in staat wees om te kan dien waar hulle ook al nodig sal wees. Dit beteken derhalwe dat hulle nie net ’n sterk begeerte moet hê om God se wil te doen nie, maar hulle moet ook die gees van Jesaja hê, wat homself gretig aangebied het om ’n spesiale werk te doen en gesê het: “Hier is ek, stuur my.”—Jesaja 6:8.

Het jy ’n soortgelyke gees? Is jy in ’n posisie om na hierdie diensvoorreg uit te reik? Diegene wat dit gedoen het, is glad nie spyt nie. Een gegradueerde van die skool, wat nou as ’n kringopsiener dien, het geskryf: “Vir my was die Bedieningsopleidingskool ’n geskenk sonder weerga. Dit was die geestelike hoogtepunt van my lewe. As ek my lewe kon oorhê, sou ek nooit ’n ander weg kies nie.”

[Voetnoot]

a “Bethel”, wat in Hebreeus “huis van God” beteken, is die naam wat aan elkeen van die Wagtoringgenootskap se takkantore gegee word.

[Prente op bladsy 16, 17]

Die instrukteurs Isaiah Mnwe en Pius Oparaocha

Onderrigting in die klaskamer

’n Klaskamer-besprekingsgroep

Studente doen navorsing in die biblioteek

[Prente op bladsy 18]

Studente werk in die wassery en in die versendingsafdeling

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel