Lees die tekens van spanning in jou kind
“Spanning ontstaan selde vanself: Dit is gewoonlik ’n reaksie op bepaalde gebeure of omstandighede.”—Dr. Lilian G. Katz.
HOE kan ’n vlieënier sien waar om te gaan wanneer hy op ’n donker, mistige nag vlieg? Vandat hy opstyg totdat hy land, maak hy op seine staat. In ’n groot vliegtuig se stuurkajuit is daar meer as honderd instrumente in die panele en elkeen dra lewensbelangrike inligting aan die vlieënier oor en waarsku hom teen moontlike probleme.
Om in ons spanningsvolle wêreld groot te word, is soos om deur ’n storm te vlieg. Hoe kan ouers ’n vlug verseker wat van die kinderjare af tot volwassenheid vlot verloop? Aangesien baie kinders nie oor hulle spanning praat nie, moet ouers leer om die waarskuwingstekens te lees.
Die liggaam “praat”
’n Kind se liggaam toon dikwels dat hy spanning verduur. Psigosomatiese reaksies, onder andere maagprobleme, hoofpyn, moegheid, slaapafwykings en probleme met uitskeiding, kan ’n teken wees dat iets verkeerd is.a
Sharon se gehoorverlies was die klimaks van ’n tydperk van intense eensaamheid. Toe Amy skool toe moes gaan, het haar maagkrampe voortgespruit uit vrees om van haar ma af weg te wees. John se hardlywigheid het voortgespruit uit spanning omdat hy die gewelddadige bakleiery tussen sy ouers moes aanskou.
Seksuele molestering het fisiese gevolge vir die tienjarige Ashley gehad. “Ek onthou dat ek [ná die verkragting] ’n week lank nie skool toe kon gaan nie omdat ek siek was”, sê sy. Die boek When Your Child Has Been Molested verduidelik: “Die spanning wat die kind as gevolg van die molestering moet deurmaak, kan veroorsaak dat hy siek raak.” Letsels, pyn tydens uitskeiding, herhaaldelike maagpyn, hoofpyn en been- of spierpyn sonder enige oënskynlike oorsaak is van die moontlike fisiese tekens van so ’n trauma.
Wanneer dit lyk asof ’n siekte psigosomaties is, moet ouers die tekens ernstig opneem. “Of die kind net voorgee dat hy siek is of nie, maak nie saak nie”, sê dr. Alice S. Honig. “Dit is die onderliggende probleem wat belangrik is.”
Gedrag spreek boekdele
’n Skielike gedragsverandering is dikwels ’n noodkreet. Die boek Giving Sorrow Words sê: “Wanneer ’n goeie leerling begin F’s kry, verdien dit aandag, en dit is eweneens die geval wanneer ’n kind wat voorheen ’n skoorsoeker was ewe skielik in ’n engeltjie verander.”
Die sewejarige Timmy het skielik begin leuens vertel toe sy ma geheel en al by haar werk betrokke geraak het. Die sesjarige Adam se skielike onbeskoftheid het uit sy gevoel van onbekwaamheid op skool voortgespruit. Die sewejarige Carl het weer sy bed begin natmaak omdat hy ’n behoefte gehad het aan sy ouers se aandag, wat nou skynbaar op sy jonger sussie toegespits was.
Selfvernietigende gedrag is veral verontrustend. Die twaalfjarige Sara se gereelde ongelukke kon nie bloot aan lompheid toegeskryf word nie. Ná haar ouers se egskeiding het sy onbewustelik haar afwesige vader se liefde probeer herwin deur haarself seer te maak. Of dit nou so eenvoudig soos geringe selftoegediende wonde of so ernstig soos ’n poging tot selfmoord is, aggressie wat deur middel van selfvernietigende gedrag na binne gekeer word, is ’n teken van geweldige spanning.
Die hart “praat”
“Uit die oorvloed van die hart praat die mond”, het Jesus Christus gesê (Mattheüs 12:34). As ’n hart deur negatiewe gevoelens oorheers word, kom dit gewoonlik aan die lig deur wat die kind sê.
“Kinders wat by die huis kom en sê: ‘Niemand hou van my nie’, sê in werklikheid vir jou dat hulle nie van hulleself hou nie”, sê dr. Loraine Stern. Dit kan eweneens die geval wees wanneer ’n kind grootpraat. Al lyk dit op die oog af asof grootpratery die teenoorgestelde van min selfrespek is, kan grootpratery oor werklike of denkbeeldige prestasies ’n poging wees om diepliggende gevoelens van onbekwaamheid te oorkom.
Alle kinders raak weliswaar siek, is nou en dan stout en is soms teleurgesteld in hulleself. Maar wanneer sulke probleme ’n patroon vorm en daar geen klaarblyklike oorsaak is nie, moet ouers ernstig nadink oor wat dit kan beteken.
Nadat Mary Susan Miller ses tieners wat ’n uiters gewelddadige daad gepleeg het se gedragspatroon tydens hulle kinderjare ondersoek het, het sy gesê: “Al die tekens was daar. Die seuns het hierdie tekens jare lank in hulle gedragspatroon geopenbaar, maar niemand het hulle daaraan gesteur nie. Volwassenes het dit gesien, maar hulle het hulle skouers opgehaal.”
Ouers moet nou meer as ooit tevore wakker wees om die tekens van spanning in hulle kinders te herken en daarop te reageer.
[Voetnoot]
a In teenstelling met hipochondrie, wat met denkbeeldige siektes verband hou, is ’n psigosomatiese siekte ’n werklike siekte. Die oorsaak daarvan is egter emosioneel pleks van fisies.
[Venster op bladsy 8]
Spanning in die baarmoeder?
Selfs ’n fetus kan die spanning, vrees en angs waarneem wat sy ma deur middel van chemiese veranderinge in die bloedstroom aan hom oordra. “Die ontwikkelende fetus voel elke bietjie spanning wat die swanger vrou ervaar”, skryf Linda Bird Francke in Growing Up Divorced. “Hoewel die fetus se senuweestelsel nie direk met die vrou s’n verbind is nie, is daar ’n eensydige verhouding tussen die twee wat nie verbreek kan word nie.” Dit verduidelik waarskynlik waarom ongeveer 30 persent van die babas wat 18 maande en jonger is volgens die tydskrif Time spanningsverwante probleme het wat van emosionele onttrekking tot angsneurose wissel. “Ongelukkige, beangste vroue se babas is dikwels ook ongelukkig en beangs”, is Linda Francke se gevolgtrekking.
[Venster op bladsy 9]
Wanneer ’n kind selfmoord probeer pleeg
“Wat sal gebeur as ek honderd jaar lank slaap?” het Lettie haar pa gevra. ’n Kinderlike vraag, het hy gedink. Maar Lettie was ernstig. ’n Paar dae later is sy in ’n hospitaal opgeneem omdat sy ’n hele bottel slaappille gedrink het.
Wat moet jy doen as jou kind selfmoord oorweeg of selfmoord probeer pleeg? “Kry dadelik professionele hulp”, waarsku die boek Depression—What Families Should Know. “Om potensiële selfmoordenaars te probeer help, is nie ’n werk vir amateurs nie, selfs nie vir dié wat baie vir die depressiewe persoon omgee nie. Jy dink dalk dat jy jou gesinslid oorreed het om nie selfmoord te pleeg nie, terwyl hy of sy bloot stilbly en al die gevoelens opkrop totdat hy of sy daaraan uiting gee, met angswekkende gevolge.”
Met behoorlike behandeling is daar hoop vir ’n kind wat selfmoord probeer pleeg. “Die meeste mense wat selfmoord probeer pleeg, wil hulleself nie werklik om die lewe bring nie”, sê die boek wat hierbo aangehaal word. “Hulle wil net nie meer seerkry nie. Hulle pogings is ’n noodkreet.” In die Christengemeente kan ouers wat nie weet hoe om selfmoordneigings te hanteer nie liefdevolle ondersteuning en goeie skriftuurlike raad van die ouere manne ontvang.