Die huwelikslewe—Hoe om dit gelukkiger te maak
Wat kan die huwelik laat slaag?
Wie se voorligting kan tot huweliksgeluk lei?
Hoe kan kommunikasieprobleme opgelos word?
AANGESIEN Jasoehiro en sy vriendin, Kajoko, beïnvloed is deur boeke wat hulle oor vrouebevryding gelees het, het hulle begin saamwoon en gedink hulle kon hulle verhouding enige tyd verbreek. Eers nadat Kajoko swanger geraak het, is hulle wettig getroud. Maar Jasoehiro het steeds twyfelgedagtes oor die gesinsreëling gehad. Toe daar finansiële probleme en ’n gevoel van onaanpasbaarheid ontstaan het, was daar niks wat kon keer dat hulle skei nie.
’n Ruk ná hulle egskeiding, en sonder die ander se medewete, het Jasoehiro sowel as Kajoko die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Hulle albei het later hiervan uitgevind en kon sien watter veranderinge die ander een in sy lewe aangebring het deur Bybelbeginsels toe te pas. Hulle het besluit om weer te trou. Aangesien hulle nou God se beskouing van die huwelik het, is hulle bereid om opofferinge te maak om hulle probleme op te los.
Wat het hulle tweede huwelik laat slaag? Dit was hulle respek vir die Insteller van die huwelik (Genesis 2:18-24). Die raad wat die mees ervare huweliksraadgewer, Jehovah God, gee, is die sleutel wat die deur tot huweliksgeluk open.
Die sleutel tot huweliksgeluk
Huweliksprobleme kan opgelos en huwelike gered word as albei huweliksmaats toepas wat Jesus Christus gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:37-39). Hier is die sleutel tot huweliksgeluk. Die man sowel as die vrou moet Jehovah allereers liefhê en daarna hulleself of mekaar. Hierdie verhouding kan met ’n driedubbele lyn vergelyk word. “As iemand die een aanval, kan altwee hom teëstand bied; en ’n driedubbele lyn word nie gou verbreek nie.”—Prediker 4:12.
Aangesien die liefde tot God beteken dat ’n mens sy gebooie bewaar, moet die man en die vrou sy wette en beginsels vir menslike gedrag eerste in hulle lewe stel. Sodoende maak hulle ’n driedubbele lyn waarvan die sterkste draad hulle liefde vir Jehovah is. En “sy gebooie is nie swaar nie”, sê 1 Johannes 5:3.
Dit lei tot die beskouing dat die huwelik iets permanents is (Maleagi 2:16). Wanneer ’n egpaar só ’n grondslag in hulle huwelik het, sal hulle beweeg word om huweliksprobleme op te los pleks van by ’n skuiwergat uit te glip deur ’n egskeiding te verkry.
Toon liefde vir die een naaste aan jou
Om ’n permanente band met jou huweliksmaat te hê, moet jy jou liefde vir hom of haar, die een naaste aan jou, voed. Hierdie liefde moet onselfsugtig wees. Let op hoe die Bybel hierdie beginsel beklemtoon: ‘Julle moet dieselfde liefde hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n.’—Filippense 2:2-4.
Dit is weliswaar moeilik om in hierdie selfsugtige wêreld niks uit selfsug of ydele eer te doen nie. Wanneer jou maat nie die inisiatief neem om liefde te betoon nie, is dit selfs moeiliker om onselfsugtig te wees; maar deur nederigheid aan te kweek en jou maat hoër as jouself te ag, sal dit vir jou makliker wees om aan jou maat se belange te dink. Die Bybel spoor ons aan om die gesindheid te hê wat daar in Christus Jesus was. Hy was ’n magtige geesskepsel, maar het ‘die gestalte van ’n dienskneg aangeneem’ en ’n mens geword. Daarbenewens het hy, toe hy op die aarde was, “Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe”, en selfs mense wat hom nie aangeneem het nie, is daardeur bevoordeel (Filippense 2:5-8). Jesus het talle teenstanders se hart verower deur hierdie gesindheid te openbaar, en deur Jesus se voorbeeld na te volg, het sy volgelinge dieselfde gedoen (Handelinge 6:7; 9:1, 2, 17, 18). Dit kan met jou ook die geval wees. As jy jou huweliksmaat hoër as jouself ag en na jou huweliksmaat se belange omsien, kan jy gaandeweg sy of haar hart verower.
Maar om jou huweliksmaat hoër te ag, vereis nie dat ’n vrou haar gelate aan haar man se oorheersing onderwerp soos in die Ooste nie. Die man sowel as die vrou moet die ander een hoër ag deurdat elkeen bereid is om vir die ander opofferinge te maak. Wanneer ’n egpaar hulle probleme met so ’n nederige gesindheid bespreek, onselfsugtige belangstelling in mekaar toon en Goddelike raad toepas, is dit ’n goeie begin om hulle probleme op te los. Kom ons beskou nou van God se raad.
“Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar”
Jehovah, wat die huweliksreëling ingestel het, het ’n plan vir die behoorlike verhouding tussen ’n man en sy vrou. Toe Jesus Christus gevra is of ’n man oor allerhande redes van sy vrou mag skei, het hy gesê: “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” Hy het getoon dat daar slegs een wettige grondslag vir egskeiding en hertroue is deur voorts te sê: “Ek sê vir julle, elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk.”—Mattheüs 19:3-9.
Buite-egtelike geslagsgemeenskap is vir niemand wat daarby betrokke is liefdevol nie, al word dit in die naam van liefde beoefen. ’n Man in Sentraal-Japan het met verskeie vroue buite-egtelike verhoudings gehad. Sy vrou het agterdogtig en gefrustreerd geraak. Hulle huwelik het voor ’n krisis gestaan. Toe het een van sy minnaresse eendag vir hom gesê sy gaan vir sy vrou van hulle verhouding vertel en het daarop aangedring dat hy met haar trou. Hy sê berouvol: “Sulke verhoudings maak niemand gelukkig nie.” Hy het eers nadat hy al die betrokkenes seergemaak het uit hierdie verknorsing gekom. Wat hierdie saak betref, is die Bybel se standaard duidelik. “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar, want ontugtiges en egbrekers sal onder die oordeel van God kom” (Hebreërs 13:4, NAV). As ’n mens hierdie bevel gehoorsaam, spring jy seksueel oordraagbare siektes, huwelikspanning en druk weens ’n geheime liefdesverhouding vry.
Mans, julle moet julle vrou liefhê en koester
God het ook die beginsel van hoofskap in die gesin uiteengesit. Efesiërs 5:22, 23 sê: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente.” Dit is nie maklik om hierdie raad toe te pas nie. “Dit was vir my ’n geweldige uitdaging”, erken Sjoko, wat haar haar man se reg toegeëien het om die finale besluite te neem. Aangesien sy gedink het dat ’n man wat in sy laat twintigerjare is ’n huis behoort te koop, het sy daarop aangedring dat haar man ’n huis koop wat sy toe reeds opgespoor het. Maar nadat sy geleer het watter Bybelbeginsels daarby betrokke is, het haar beskouing van haar man begin verander. Sy het eers gedink hy is besluiteloos en lafhartig, maar uit die regte oogpunt beskou, was hy verstandig, nederig en sagmoedig.
Hierdie beginsel vereis dat mans besef dat hulle onder die hoër gesag van Christus Jesus is (1 Korinthiërs 11:3). Aangesien ’n man onder die gesag van Christus is, moet hy sy vrou liefhê en koester soos Jesus sy volgelinge liefhet (Efesiërs 5:28-30). ’n Christenman sal dus sy vrou se gevoelens, begeertes en beperkings bedagsaam in ag neem voordat hy besluite neem.
“Met sout besprinkel”
Dit was vir Hisako moeilik om met haar man te kommunikeer. Elke keer as sy iets met hom probeer bespreek het, het hy daarvan weggeskram deur te sê: “Maak soos jy wil.” Hisako vertel: “Ek dink dat my gebrek aan teerheid die oorsaak van ons probleem was. Dit sou dalk beter gewees het as ek op ’n kalmer manier gepraat het.” Vandag kan sy en haar man sake met ’n glimlag bespreek. Die verandering het plaasgevind sedert Hisako die volgende raad toegepas het: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kolossense 4:6). Net soos sout voedsel smaakliker maak, word weldeurdagte woorde wat op ’n mooi manier gesê word makliker aanvaar (Spreuke 15:1). Trouens, ’n mens kan huweliksonmin dikwels voorkom deur bloot op ’n bedagsame manier te praat.
Ja, dit is werklik voordelig om Jehovah God lief te hê en sy beginsels te respekteer. Liefde vir Jehovah beweeg jou om jou huwelik as ’n permanente band te beskou en maak jou vasbeslote om dit in stand te hou. God het goeie riglyne neergelê wat jou sal help om enige huweliksonmin uit die weg te ruim en jou probleme op te los, hoe ontsaglik hulle ook al lyk. Nee, in die meeste gevalle is egskeiding nie die sleutel tot ’n gelukkiger lewe nie, maar die toepassing van Bybelbeginsels is wel. Jy kan van daardie sleutel gebruik maak deur jou liefde vir Jehovah op te bou. Jy kan gerus uit die gesaghebbendste huweliksgids, die Bybel, meer omtrent sy raad leer.
[Venster op bladsy 9]
Wanneer egskeiding ’n opsie is
HOEWEL die Bybel egskeiding en hertroue op grond van hoerery toelaat, maak die owerspel nie outomaties ’n einde aan die verhouding tussen man en vrou nie. Die onskuldige huweliksmaat het die keuse om ’n egskeiding te verkry of nie.—Mattheüs 19:9.
Jasoeko moes hierdie besluit neem. Haar man het by sy minnares gaan woon. Jasoeko se skoonmoeder het haar blameer en gesê: “Dis jou skuld dat my seun so optree.” Jasoeko het dagin en daguit gehuil. Baie mense het haar raad gegee, maar niemand het haar man se buite-egtelike verhouding veroordeel nie. Toe het haar eie moeder, wat die Bybel begin bestudeer het, vir haar gesê: “Die Bybel sê duidelik dat dit verkeerd is om owerspel te pleeg” (1 Korinthiërs 6:9, 10). Jasoeko was baie verlig om te weet dat daar in vandag se wêreld nog ’n standaard van goed en sleg is.
Jasoeko het nou ’n keuse gehad. Hoewel sy dit oorweeg het om van haar man te skei, kon sy ná haar Bybelstudie saam met Jehovah se Getuies insien dat sy ook nie haar deel doen nie. Sy het dus besluit om die Bybelbeginsels as ’n oplossing vir haar probleme te beproef. Sy het dit begin toepas (Efesiërs 5:21-23). “Dit was nie maklik nie”, vertel sy. “Ek het keer op keer teruggeval. Baie keer het ek in trane tot Jehovah gebid.” Namate sy verander het, het haar man ook geleidelik verander. Sowat vyf jaar later het haar man alle bande met sy minnares verbreek. Jasoeko sê ten slotte: “Ek is oortuig dat gehoorsaamheid aan God se Woord beslis voordelig is.”
[Venster op bladsy 11]
Seksuele onaanpasbaarheid en egskeiding
BAIE egpare gee seksuele onaanpasbaarheid aan as die rede vir hulle egskeiding. ’n Boek met die titel Sekkoesjoearitii to Kazokoe (Seksualiteit en die gesin), wat oor vandag se veranderende gesinsreëling handel, toon waar die probleem lê en sê: “’n Monogame huweliksreëling en seksinligting wat wellus beklemtoon, gaan vandag nie hand aan hand nie. Die vloed van seksinligting verdraai huweliksliefde en vernietig gewone toegeneentheid. Dit is nie net die verhandeling van seks wat die mens se verstand en hart verderf nie, maar ook pornografiese videobande en prentverhale wat die vroulike liggaam as ’n handelsartikel uitbeeld. Vroue het dus te kampe met [hulle man wat] gewelddadige seks aan hulle opdwing, en mans wat verwerp word, raak impotent.”
Onsedelike publikasies, video’s en TV-programme verdraai seks. Dit leer ’n mens nie wat dit werklik beteken om die huwelikstaat te geniet nie. Dit vernietig ook die vertroue wat ’n man en vrou in mekaar moet opbou om ’n suksesvolle huwelik te hê. Psychology Today sê: “Vertroue stel jou in staat om jou innigste gevoelens en vrese aan jou huweliksmaat toe te vertrou, met die wete dat dit liefdevol hanteer sal word. Hoewel gevoelens van liefde of seksuele opwinding met verloop van tyd kan groei en afneem, is vertroue, ideaal gesien, ’n konstante.”
Seks is nie die spil waarom ’n suksesvolle huwelikslewe draai nie. ’n Vrou wat moeilike huweliksprobleme deurgemaak het, sê: “Ek het die meeste aanmoediging gekry uit wat die boek Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou sê: ‘Indien die verhouding in die huwelik in alle ander opsigte goed is, indien daar liefde, respek, goeie kommunikasie en begrip is, sal seks selde ’n probleem skep.’”a
Die werklike bindingsmiddel tussen huweliksmaats is nie seks nie maar liefde. Seks sonder liefde is sinloos, maar liefde kan alleen bestaan. Wanneer ’n egpaar die regte beskouing van seks verkry en dit nie die belangrikste ding in hulle lewe maak nie, kan hulle genot put uit hulle verhouding en die probleem van seksuele onaanpasbaarheid te bowe kom.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 10]
Die toepassing van Bybelbeginsels sal ’n egpaar help om openhartig te kommunikeer