Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 5/22 bl. 32
  • Kuns en die Christelike godsdiens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kuns en die Christelike godsdiens
  • Ontwaak!—1993
Ontwaak!—1993
g93 5/22 bl. 32

Kuns en die Christelike godsdiens

DIE apostel Paulus was ’n getuie van die artistieke prag van Athene wat op die aanbidding van die Griekse gode en godinne gebaseer was, en hy het daar aan ’n gehoor getoon hoe onlogies dit is dat mense, wat hulle lewe en bestaan aan die ware God en Skepper te danke het, kan dink dat “die godheid aan goud of silwer of steen, die beeldwerk van menslike kuns en uitvinding, gelyk” kan wees (Handelinge 17:29). Hy het aldus getoon dat artistieke skoonheid, ongeag hoe indrukwekkend of hoe aantreklik dit is, nie op sigself enige godsdiens as ware aanbidding identifiseer nie.—Vergelyk Johannes 4:23, 24.

Daar is geen verslag of bestaande bewyse van kunswerk onder die eerste-eeuse Christene nie. Dit is eers gedurende die tweede en derde eeu G.J. dat party skilderye en beelde wat aan naamchristene toegeskryf word in die katakombes verskyn het. Maar ná die Kerk en die Staat in die vierde eeu verenig is, is daar aan kuns prominensie verleen wat later dié van die heidense godsdienste geëwenaar het en wat dikwels verwant was aan of ’n direkte nabootsing was van sulke godsdienste wat die simboliek sowel as die vorm betref. Louis Réau, wat die leerstoel in die Geskiedenis van Middel-eeuse Kuns aan Frankryk se Sorbonne-universiteit beklee het, toon in sy werk Iconographie de l’art chrétien (Parys, 1955, Deel I, bladsy 10) dat kunsgeskiedkundiges lank reeds van sulke heidense gebruike bewus is en dat die blaam daarvoor nie alleen op die kunstenaars geplaas moet word nie, maar op die beleid wat die kerk self gevolg het. Hy wys daarop (bladsy 50) dat die kerk, pleks van die heidene werklik van hulle ou gebruike en vorme van aanbidding te bekeer, verkies het om “die voorouerlike gebruike [te respekteer] en hulle onder ’n ander naam voort te sit.”

Gevolglik is ons nie verbaas nie as ons die beelde van die diereriem, wat so prominent in antieke Babilon was, in katedrale soos dié van Notre Dame in Parys sien, waar dit op die linkerkantste ingang verskyn en Maria in die groot sentrale roosvenster omring. (Vergelyk Jesaja 47:12-15.) ’n Gids oor die katedraal by Auxerre, wat ook in Frankryk is, sê eweneens dat, in die sentrale ingang van die katedraal, “die beeldhouer sekere heidense helde saam uitgebeeld het: ’n Eros [Griekse god van die liefde] wat kaal en aan die slaap is . . . ’n Herkules en ’n Sater [een van die Griekse gode wat half mens en half god is]! In die gedeelte regs onder word die gelykenis van die Verlore Seun uitgebeeld.”

Louis Réau lewer verder kommentaar oor sulke heidense invloed en vra: “Maar wat moet ’n mens dan sê van die Laaste Oordeel van die Sixtynse kapel, die hoofkapel van die Vatikaan, waar ’n mens sien hoe die naak Christus van Michelangelo soos ’n donderende Jupiter [die Romeinse vader van die gode] die weerligstrale afwerp en die Verdoemdes die Styx [die rivier waaroor die dooies volgens die Grieke vervoer is] in Charon se skuit oorsteek?” Soos hy sê: “’n Voorbeeld wat van so hoog kom [dit wil sê, wat deur die pousdom goedgekeur is], moes eenvoudig gevolg word.”

Vleeslike Israel het nie baie aandag aan kuns gegee nie, en dit word feitlik nie in die verslag van die eerste-eeuse vroeë gemeente van geestelike Israel gemeld nie. Dit is eerder op letterkundige gebied dat hulle alle ander mense oortref het, want God het hulle gebruik om ’n kunswerk van manjifieke skoonheid voort te bring, nie net in vorm nie, maar hoofsaaklik in inhoud: die Bybel. Hulle geïnspireerde geskrifte is soos “goue appels op versierde silwerborde” met kristalhelder waarhede wat só skitter dat dit die fraaiste edelstene oortref en met woordskilderings wat visioene en tonele uitbeeld van ’n grootsheid en lieflikheid wat menslike skilders nie in staat is om uit te beeld nie.—Spreuke 25:11; 3:13-15.

As jy enige vrae oor die Bybel het nadat jy hierdie tydskrif gelees het, kan jy gerus met Jehovah se Getuies in aanraking kom by ’n Koninkryksaal in jou omgewing of aan die uitgewers van hierdie tydskrif skryf. (Sien bladsy 5.)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel