Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 4/8 bl. 20-23
  • Miljoene ly—Kan hulle gehelp word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Miljoene ly—Kan hulle gehelp word?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Besware is geopper
  • Die gebruik duur voort
  • ’n Tradisie wat op leuens gegrond is
  • ’n Godsdiensverband
  • Besnydenis—’n Teken van manlikheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Moeders wat die uitdagings die hoof bied
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1997
  • ‘Dit het tot baie onenigheid gelei’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 4/8 bl. 20-23

Miljoene ly—Kan hulle gehelp word?

Deur ’n Ontwaak!-medewerker in Afrika

SOU jy, as jy die mag gehad het, menselyding beëindig het? Natuurlik sou jy—as jy die mag gehad het! Feit is dat geen mens die mag het om ’n einde aan al die pyn en angs in die wêreld te maak nie.

Maar jy het moontlik die mag om ’n mate van die lyding om jou te help verminder en selfs te voorkom. Na raming verduur tienmiljoene vroue in verskillende lande byvoorbeeld baie pyn en angs as gevolg van ’n ou en diepgewortelde tradisie. Ooreenkomstig die tradisie reël welmenende ouers dat ’n gedeelte of die meeste van hulle dogters se geslagsorgane verwyder word. Dit is altyd vrouebesnydenis genoem.a Maar nou noem die meeste deskundiges dit FGM (verminking van die vroulike geslagsorgane), ’n naam wat hierdie prosedure akkurater beskryf.

Die Hosken Report oor FGM deel ons mee dat die verminking van geslagsorgane beoefen word in ’n groot gebied wat van Oos-Afrika tot Wes-Afrika strek, asook in party naburige gebiede. Hierdie pynlike verminking van vroue veroorsaak gesondheidsprobleme en kan lewensgevaarlik wees.

Besware is geopper

Dit is nie maklik om ’n standpunt teen hierdie gebruik in te neem nie. Die Keniaanse koerant The Standard het gesê dat FGM “grootliks in geheimsinnigheid gehul is. Dit is moeilik en soms gevaarlik vir die vroue of mans wat die operasies wil stopsit om hulle teen die gebruik uit te spreek. Hulle word dikwels daarvan beskuldig dat hulle teen die tradisie, hulle familie, godsdiens en nasie is of dat hulle hulle eie volk en kultuur verwerp.”

Dieselfde koerant van Afrika verduidelik dat FGM “nie ’n ‘onskadelike kultuurgebruik’ is nie, maar ’n vername oorsaak van permanente liggaamlike skade en sterfte by vroue en dogtertjies . . . Dit skend elke meisie se reg om liggaamlik gesond en normaal te ontwikkel.”

Oral in Afrika en wêreldwyd spreek baie ander nou hulle mening uit in ’n poging om mense oor hierdie gebruik op te voed. Dit veroorsaak dat meisies selfs van kleins af pyn verduur en vermink word, en op mediese gebied is daar hoegenaamd niks wat dit regverdig nie.

Al die permanente, pynlike skade en sterftes wat aangemeld is, het gesondheidsbeamptes en die owerheid van talle lande verontrus. Daar word selfs beweer dat FGM moontlik tot die verspreiding van vigs in Afrika bydra. En as gevolg van die toeloop van emigrante van Afrika en die Midde-Ooste na Australië, Europa, Kanada en die Verenigde State is hierdie verminking van vroue besig om ’n openbare gesondheidsgeskil in party Westerse gesondheidsinrigtings te word. Die koste van die voortdurende behandeling van fisiese komplikasies en, in baie gevalle, sielkundige skade moet ook nie oor die hoof gesien word nie.

Wette is en word uitgevaardig om hierdie gebruik stop te sit. Engeland, Frankryk, Italië en Swede is ’n paar van die Europese lande waar FGM onwettig is. Volgens The Globe and Mail van Kanada word FGM “verbied deur die regulerende liggaam wat beheer uitoefen oor Ontario se dokters”. Dit het voorts gesê: “Hoewel die Kanadese wet vrouebesnydenis of infibulasie nie regstreeks noem nie, het federale amptenare gesê dat sulke gebruike as ’n vorm van kindermishandeling of swaar aanranding beskou sal word.”

’n Aantal internasionale organisasies soos die Wêreldgesondheidsorganisasie streef daarna om FGM stop te sit. In September 1990 is ’n mylpaal bereik toe wêreldleiers, onder andere die presidente van Afrika-lande soos Senegal, Uganda en Zimbabwe, in New York bymekaargekom het om die Konvensie oor die Regte van die Kind te onderteken. Hierdie dokument veroordeel vrouebesnydenis as marteling en seksuele mishandeling.

Londen se Economist het gesê: “Vrouebesnydenis—wat na regte verminking van die geslagsorgane genoem word—bly een van die groot onnoembare afgryslikhede van Afrika. Volgens ’n verslag deur die Groep vir Minderheidsregte in Londen . . . word tienmiljoene meisies jaarliks daardeur geraak.”

Hierdie publikasie het voorts gesê: “Die prosedure kan effens pynlik tot grusaam wees en kan behels dat die klitoris en ander organe met messe, stukke glas en skeermeslemme verwyder word—maar verdowing word selde toegedien. Dit kan lei tot ernstige probleme met menstruasie, geslagsomgang en bevallings asook tot sielkundige versteuringe en selfs die dood. . . . Die gebruik word voortgesit vanweë bygelowige vrese oor vroulike seksualiteit, die feit dat dit die gebruik is en die verkeerde opvatting dat dit higiënies is.”

Die gebruik duur voort

In een land in Afrika waar baie van die vroue hierdie operasie ondergaan het, het wette wat in 1947 uitgevaardig is die ernstigste soort verminking verbied. Maar die gebruik duur steeds voort. Waarom? Omdat miljoene welmenende mense nog verkeerd ingelig is en steeds onder die wanindruk verkeer dat FGM voordelig is. Bejaarde vroue in plattelandse dorpies glo byvoorbeeld dat dit in die meisie se belang is. Daarom het die Groep vir Minderheidsregte volgens die Nigeriese koerant The Guardian gesê dat “die opvattings van ouer vroue wat die gebruik in stand hou, verander moet word”.

Die tydskrif Nursing Times het ’n soortgelyke argument gebruik: “Voorligting is die enigste manier waarop jy vrouebesnydenis werklik kan bestry.” En later het hierdie selfde tydskrif gesê: “Die hele probleem kan met wortel en tak uitgeroei word slegs as mense meer bewus gemaak word van die gevare daaraan verbonde en as mans sowel as vroue ingelig word.” Waarom moet mans ook ingelig word? Want talle vaders betaal vir die chirurgie sodat hulle hulle dogters kan laat trou met mans wat slegs besnede vroue sal aanvaar.

Nog ’n rede waarom hierdie verminking voortduur, is dat daar geld by betrokke is. The American Journal of Nursing sê: “Besnydenis is ’n belangrike bron van inkomste vir dié wat die operasie doen; sulke mense het derhalwe gevestigde belange daarin om die gebruik in stand te hou.” Dit is nie net ouer vroue wat betaal word om hierdie operasie te doen nie, maar ook vroedvroue en barbiere. Verpleegsters en dokters by party mediese klinieke sal dit ook doen om die meisies ’n mate van die risiko’s en trauma te spaar wat uit onhigiëniese operasies voortspruit. Maar ongeag wie dit doen, dit is steeds verminking.

In party gevalle ondergaan volwasse vroue hierdie operasie keer op keer gedurende hulle vrugbare jare. The New York Times International het gesê dat “talle vroue ’n reeks pynlike operasies ondergaan waartydens hulle geslagsorgane by elke bevalling weer oop- en toegemaak word. Littekens van besnydenisse word voor die bevalling oopgesny en daarna toegewerk. Dit veroorsaak ernstige bloeding, verleng die bevalling en verhoog die risiko van fetale breinskade.”

Die tydskrif New Scientist het berig dat talle “dogtertjies hulle doodbloei omdat onbeholpe mense wat die operasies doen die geslagsarterie of die dorsale arterie van die klitoris raak sny. Ander sterf weens na-operatiewe skok omdat niemand weet hoe om hulle by te bring nie en die hospitaal te ver is, of die betrokkenes is huiwerig om hulp te kry omdat hulle skaam is oor die knoeiwerk.”

Maar die gebruik duur voort. Berigte oor FGM verskyn steeds in koerante in Afrika en Europa. Een tydskrif in Afrika het onlangs gesê dat “die meeste slagoffers van die verminking van die vroulike geslagsorgane babas en dogtertjies is. Hoewel ouers hulle dogters besny omdat hulle glo dat dit reg en nodig is, is die operasie en sy nadraai vergelykbaar met marteling.” Volgens die Londense koerant The Independent (7 Julie 1992) het ’n onlangse opname aan die lig gebring dat “die gebruik algemener in die Verenigde Koninkryk is as wat voorheen geglo is”. In Brittanje is daar meer as 10 000 meisies, “die meeste agt jaar of jonger, wat volgens skatting gevaar loop om besny te word”.

’n Tradisie wat op leuens gegrond is

Party glo die leuen dat die vroulike geslagsorgane onrein is en gereinig moet word deur dit weg te sny. Hulle dink dat net mans die reg op seksuele genot het. Daar word ook geglo dat FGM vrugbaarheid verhoog, geslagsonsedelikheid voorkom en ’n meisie se kanse op ’n huwelik vergroot. “Dit is ironies”, sê die tydskrif Time, “dat die kilheid of onvrugbaarheid wat deur die verminking veroorsaak word daartoe lei dat talle mans hulle bruide verstoot.”

Afgevaardigdes na ’n onlangse kongres van die Inter-Afrika-Komitee wat in Lagos, Nigerië, gehou is, glo nie dat vrouebesnydenis sal voorkom dat vroue promisku is nie en het gesê dat vroegtydige sedelike opvoeding baie voordeliger is. Verkeerde dade kan deur opvoeding, en nie deur verminking nie, voorkom word. Ter toeligting: Moet ons babas se arms afsny sodat hulle nie diewe word wanneer hulle groot is nie? Of hulle tong uitsny sodat hulle nooit lelike dinge sal sê nie?

Een Nigeriese egpaar het geweier om hulle dogter te besny. Dit het die man se moeder, wat gemeen het dat die kind promisku sal wees wanneer sy groot is, woedend gemaak. Maar met goeie sedelike opvoeding het die meisie kuis gebly. Daarenteen het hierdie gesin ander kinders geken wie se ouers nie die moeite gedoen het om goeie sedes by hulle in te skerp nie, en hierdie kinders het baie promisku geword al is hulle besny. Die grootmoeder is nou daarvan oortuig dat dit nie besnydenis of die gebrek daaraan is wat belangrik is nie, maar die inskerping van God se sedelike wette by kinders.

As ons ons dogters liefhet, sal ons aan die nadelige gevolge dink wat FGM op hulle lewe het en sal ons glad nie hierdie gebruik voorstaan of aanmoedig nie. Dit sal moed verg, want op party plekke is die vrees vir druk van die gemeenskap om aan hierdie tradisie getrou te bly baie groot.

’n Godsdiensverband

Die geskiedenis van vroueverminking is insiggewend. Dit is ’n eeue oue gebruik en word selfs by die mummies van eertydse Egipte aangetref. Die tydskrif Plastic and Reconstructive Surgery sê: “Vrouebesnydenis is in eertydse Egipte beoefen en hou verband met die Faraoniese geloof in die tweeslagtigheid van gode.” Tot vandag toe word die ernstigste vorm van hierdie verminking Faraoniese besnydenis genoem.

Op party plekke bestaan daar ’n verband tussen eertydse godsdiensseremonies en FGM. ’n Gesaghebbende op die gebied van Afrikane het verduidelik dat een seremonie in die besonder beskou word as kommunikasie met ’n voorvaderlike god, wat versoek word om die meisies deur die operasie by te staan en hulle terselfdertyd die wysheid van hulle voorvaders te gee.—Vergelyk 2 Korinthiërs 6:14-18.

Dit is nie moeilik om te verstaan waarom ware Christene wat in lande woon waar FGM beoefen word nie hierdie tradisie naleef nie. Niks in die Bybel sinspeel eers daarop dat ’n operasie wat vroue so vermink nodig is nie. Dit is duidelik dat die Skepper die vrou gemaak het om seksuele genot binne die huweliksreëling te kan hê. Verminking van die vroulike geslagsorgane stem nie ooreen met die beginsel van liefde, empatie en redelikheid wat die Heilige Skrif voorstaan nie.—Efesiërs 5:28, 29; Filippense 4:5, NW.

Die belangrikste is dat Jehovah, die God van liefde, bedroef word deur hierdie onredelike verminking en die gevolglike lyding van miljoene vroue en dogtertjies. Hoe bly is ons tog dat hy ’n nuwe wêreld belowe het waarin niemand sal ly nie!—Openbaring 21:3, 4.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Vrouebesnydenis—Waarom?” in die Ontwaak! van 22 Junie 1985.

[Venster op bladsy 21]

Wat van manlike besnydenis?

Party vra dalk: Is manlike besnydenis nie ook ’n verminking van die liggaam nie? Die Bybel sê dat God dit ’n tyd lank verpligtend gemaak het dat mans besny word. Later, met die stigting van die Christengemeente, was besnydenis nie meer ’n vereiste nie, hoewel dit nie verbied is nie. Elke individu moet self besluit of hy sal toelaat dat hy of sy seuns besny word of nie.

Vandag word manlike besnydenis op baie plekke beoefen. Die operasie behels wel dat vlees chirurgies verwyder word. Maar hierdie operasie is hoegenaamd nie dieselfde as FGM nie. Mans ondervind gewoonlik nie nadelige newe-effekte ná besnydenis nie. Daarenteen gaan normale vroulike funksies soos menstruasie, geslagsomgang, bevallings en die uitskeiding van urine dikwels lewenslank met verskriklike pyn gepaard as gevolg van FGM. Uiters gekompliseerde bevallings het ook al ernstige gebreke by geboorte en selfs die dood van baie pasgeborenes veroorsaak.

Hoeveel mans sal toelaat dat hulle of hulle seuns ’n operasie ondergaan wat die penis so beskadig dat hulle geen gevoel tydens geslagsomgang het nie en wat lewenslank voortdurende pyn en gesondheidsrisiko’s veroorsaak? Dit is duidelik dat manlike besnydenis en FGM eenvoudig nie te vergelyk is nie.

[Venster op bladsy 23]

’n Meisie van Afrika vertel

‘Ek was agt jaar oud toe ek besny is. Ek is nou 11, maar ek onthou die operasie nog só goed. Net om daaraan te dink, ontstel my, en soms kry ek nagmerries. Die meeste van die tyd is ek gelukkig, maar wanneer ek daaraan dink, raak dit dood binne-in my.

‘Ek was baie bly toe ek die eerste keer daarvan gehoor het. My gesin en familielede sou vir my baie geskenke gee. Ek het nie geweet wat die besnydenisoperasie is nie, en ek het nie gedink dat dit seer sou wees nie.

‘My opgewondenheid het gou verdwyn. Ek het begin huil en baie bang geword. Vier vroue het my arms en bene vasgehou. Een vrou het haar hand oor my mond gesit. Ek het probeer loskom, maar hulle was sterker as ek en het my weer plat gedruk. Dit was so seer.

‘Toe die mes my gesny het, was daar oral bloed. Ek het nooit gedink dat enigiets só seer kon wees nie. Daarna het hulle die wond met ’n mengsel van eier en suiker toegesmeer. Toe het hulle my bene aan mekaar vasgebind. Ek is na die motor toe teruggedra. Ek het die heelpad terug na die stat toe gehuil.’—Uittreksel uit die Keniaanse koerant The Standard.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

WHO/OXFAM

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel