Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 9/22 bl. 17-21
  • My brandende begeerte om God te dien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My brandende begeerte om God te dien
  • Ontwaak!—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind
    Ontwaak!—1995
  • Onderskraag deur ‘krag bo die normale’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 9/22 bl. 17-21

My brandende begeerte om God te dien

Ek was vyf jaar oud en het as die verskrikking van die speelterrein bekend gestaan. My skool was die Perkins-Skool vir blindes.

Ek sou die volgende 13 jaar van my lewe by dié skool in Watertown, Massachusetts, VSA, deurbring. Ek het geweet dat al die ander kinders in die skool blind was, maar ek het gedink dat ek kon sien. My ouers het my nooit anders as my vyf sussies behandel nie. Wat hulle ook al gedoen het, het ek gedoen—werkies by die huis, rolskaats, swem, boomklim, wat ook al. Ek is nooit as ’n blinde behandel nie en het myself dus nooit as ’n blinde beskou nie.

Ek was vol lewenslus en avontuurlus en wou altyd pret hê. Met speeltyd was dit ek wat die ander kinders oorreed het om op die glyplanke, swaaie en skommelboot te speel. Ek het dit so kwaai gewieg dat die kinders gegil het, maar ek het so hard gesing as wat ek kon en vir hulle geskreeu om dit te geniet. Ek het maar seker te ver gegaan, want gewoonlik het die klok dan gelui en het die huismoeder my geroep en met die haarborsel pak gegee, en dan moes ek ook op die stouterstoel gaan sit. Dit het by die trap gestaan wat deur al die onderwysers gebruik is. Hulle het my daar gesien en stilletjies gelag en gevra: “Al weer daar?”

Kom ek gaan ’n bietjie terug in die verlede en verduidelik waarom ek in hierdie skool vir blindes was. Ek is in 1941 gebore, en toe ek twee jaar oud was, het my ouers uitgevind dat ek ’n gewas op die optiese senuwee van een van my oë het. Die oog moes verwyder word. Tydens die operasie het hulle vasgestel dat die gewas na die optiese senuwee van die ander oog versprei het en in die rigting van my brein gegroei het. Dit het beteken dat hulle albei my oë moes verwyder, anders sou ek sterf. Destyds, in 1943, is blindheid as erger as die dood beskou. Een oogspesialis het gesê: “As dit my kind was, sou ek haar laat sterf.” Die ander spesialis het nie saamgestem nie. “Nee, laat haar leef.” Gelukkig het my ouers my laat leef. Drie jaar later was ek die verskrikking van die speelterrein.

Elke kind het godsdiensonderrig in die godsdiens van sy keuse ontvang. Aangesien my ma ’n Katoliek was, het ek onderwys ontvang van die nonne wat elke week van die nabygeleë klooster gekom het. Hulle het stories van “heiliges” vertel wat hulle lewe aan God gewy het, en op ’n jong ouderdom is ek aangevuur deur ’n brandende begeerte om net soos hulle te wees. Ek wou my hele lewe vir God gee, maar die nonne het vir my gesê dat daar geen hoop vir my is nie. “Jy is net té sleg”, het hulle gesê. “God sal jou nie wil hê nie!” Hulle het dit gesê omdat ek met Protestantse en Joodse kinders gespeel het, terwyl hulle gesê het dat ons net met Katolieke mag speel.

Ek het die nonne nog meer ontstem deur hulle oor Jehovah se naam uit te vra. Teen dié tyd het my ma af en toe saam met Jehovah se Getuies gestudeer, en wanneer ek een keer per maand vir ’n naweek huis toe gegaan het, het ek gehoor dat God se naam Jehovah is. Wanneer ek die nonne gevra het waarom hulle ons nie van Jehovah leer nie, het hulle rasend geword en moes ek buite gaan staan. Ek dink ek het seker die helfte van my kinderjare óf buite die klaskamer, óf op die stouterstoel deurgebring.

Hoe het dit gekom dat my ma saam met Jehovah se Getuies gestudeer het aangesien sy ’n vroom Katoliek was? Ná my operasie het die priester haar kom besoek en gesê dat sy iets vreeslik goddeloos moes gedoen het om God só toornig te maak dat hy my blindheid veroorsaak het. Pleks van haar te vertroos in hierdie moeilike tyd van droefheid wat sy verduur het, het hy haar skuldig laat voel. En dan het hy ook God vir my blindheid geblameer. Daardie priester het die deur wyd oop gelaat vir Jehovah se Getuies toe hulle aan my ma se deur kom klop het—wat hulle toe ook kort daarna gedoen het.

Hulle het haar die wonderlike goeie nuus van die Koninkryk vertel en dat God nie ’n God is wat ander leed aandoen nie, maar ’n God van liefde. Gevolglik het my ma saam met die Getuies begin studeer. Dit het egter lank geneem voordat sy haar aan Jehovah toegewy het om hom te dien. Die valse leerstellings van Katolisisme was diep in haar gewortel. Maar die Bybelwaarhede wat sy geleer het, was “kragtig deur God om vestings neer te werp”, en in 1954 is my ma as een van Jehovah se Getuies gedoop.—2 Korinthiërs 10:4.

Wanneer ek elke maand vir ’n naweek huis toe gegaan het, wou my pa hê dat ons na die Baptistekerk toe gaan, party van my susters het na die Metodistekerk gegaan, my ma het my na die Koninkryksaal geneem, en op skool is my onderrig in Katolisisme verskerp. Vier verskillende godsdienste in een gesin! Teen dié tyd was ek dus deeglik verwar oor wat die regte manier is om God te aanbid.

Teen die tyd dat ek 16 was, het daardie intense, knaende, brandende begeerte om God op die regte manier te dien sterker as ooit in my begin opwel. Ek het tot Jehovah gebid dat wanneer ek trou dit met ’n man sou wees wat die regte godsdiens het, watter een dit ook al was. Wel, die dag het gekom toe dié skynbaar wonderlike man opgedaag het en met my wou trou. En aangesien hy ’n Katoliek was en God hom blykbaar in antwoord op my gebed gestuur het, het ek die gevolgtrekking gemaak dat Katolisisme die regte godsdiens moet wees. Ek het besluit dat ek voortaan ’n werklik goeie Katoliek en eggenote en ma sou wees.

Ongelukkig was my huwelik rampspoedig. Binne 10 maande is ons met ’n dogter geseën en 22 maande daarna met ’n seun, maar die huwelik het die hele tyd agteruitgegaan. Ek was seker dat dinge nie erger kon gewees het nie.

Ek was verkeerd; dit het erger geword. Dit was ons gewoonte om elke Saterdagaand te gaan dans, en na die tyd het die groep na ons huis toe gekom vir koffie en verversings. Maar op dié bepaalde Saterdag het ons na ’n ander vriend se huis gegaan. Terwyl ons daar was, het ek my man hoor planne beraam vir vroueruilery. ’n Vreemdeling was daar, en hy het gevra wie hy sou kry, en ek het my man hoor sê: “Jy kan my vrou kry.” Geskok en paniekerig het ek uit die huis gevlug. In die vroeë oggendure moes ek dit ontgeld. Toe my man tuiskom, het hy my vreeslik geslaan. Die rede, het hy gesê, was dat ek ‘hom soos ’n gek laat lyk het’.

Die hele Sondag het ek vurig tot Jehovah gebid dat hy my sou wys watter godsdiens die regte een is, die regte manier om hom te dien, indien daar so iets was. Anders wou ek sterf. Al wat my daarvan weerhou het om selfmoord te pleeg, was my twee kindertjies. Wie sou vir hulle sorg as ek sou sterf?

Die volgende oggend was ek buite besig om kaalvoet die grasperk te sny—as ek kaalvoet was, kon ek voel waar die gras langer was en gesny moes word. Twee van Jehovah se Getuies, ’n man en ’n vrou, het daar aangekom. Ek sal nooit vergeet hoe sagsinnig die man was nie, en hy het ’n spesiale artikel in braille gehad wat die Wagtoringgenootskap uitgegee het. Hy het dit vir my gegee en gevra of hulle die volgende week kon terugkom. Ek was nie eintlik daarop voorberei nie, maar hulle was albei so hartlik en vriendelik dat ek nie kon weier nie. Ek onthou hoe ek in die huis ingeloop en gedink het: “Ag nee, God, nie hulle nie, nie Jehovah se Getuies nie! Kan dit nie ’n ander godsdiens wees nie?”

Hulle hét teruggekom, en ons het elke week die Bybel bestudeer. Uiteindelik het twee dames, Judy en Penny, my begin besoek. Hulle was voltydse dienaars (wat spesiale pioniers genoem word) en was ’n groot seën van Jehovah af. Judy was die uitgelate, spontane tipe, maar ook leergierig en baie bedrewe om sekere verse in die Bybel te vind. Penny was stiller, maar die ferm tugmeester wat ek nodig gehad het. Hulle hele lewe was aan Jehovah se diens gewy, en mettertyd wou ek net soos hulle wees, pleks van soos daardie “heiliges” waarvan die nonne my vertel het.

Toe hulle my later begin aanmoedig het om soos hulle in die predikingswerk van huis tot huis uit te gaan, het ek gedink: ‘Ag nee, hulle kan dít nie van my verwag nie! Ek is blind!’ Ek het nooit tevore my blindheid gebruik om iets te ontduik nie, maar dié keer het ek gedink: ‘Nie ek nie. Ek gaan nie in die huis-tot-huis-bediening uit nie.’ Toe sê ek: “Hoe kan ek tekste by die deure lees?” Penny het kalmweg gesê: “Jy kan mos tekste memoriseer.” Sy het geweet ek kan, want hulle het my elke week twee nuwe tekste laat memoriseer. Met daardie twee kon ek met niks wegkom nie!

Nadat ek twee jaar gestudeer het, was ek vasbeslote om 1968 se Gedenkmaalviering van Christus se dood by te woon. Ek het gebid voordat ek my man vertel het. Ek het geweet dat hy opvlieënd sou reageer, en hy het. Hy het geskreeu dat hy my eerder dood sou sien as dat ek een van Jehovah se Getuies word. Hy het ’n mes gegryp en dit teen my keel gedruk. “Sê jy gaan nie, dan sal ek jou nie doodmaak nie!” Ek het in my hart tot Jehovah gebid: ‘Help my om getrou te bly, al moet ek sterf.’ Ek was verbaas oor die innerlike kalmte wat ek begin voel het en het gedink: ‘Wat sal die nut van die lewe in elk geval wees as ek Jehovah nie dien nie?’ Dit het soos ’n ewigheid gevoel, maar uiteindelik het hy die mes op die vloer gegooi. “Ek kan jou nie doodmaak nie”, het hy gekerm. “Ek wil, maar ek kan net nie. Ek weet nie hoekom nie.”

Tydens die Gedenkmaaldiens het die gevoel van vrede en intimiteit met Jehovah weer in my opgewel. Toe ek tuiskom, was ek uitgesluit, en my goed was op die trappie. Ek het by my ouers oornag. Daarna het my man se dreigemente met ’n mes teen my keel aangehou, en hy het ook aangehou om my te slaan. Baie keer wanneer ek van die vergaderinge af tuisgekom het, was ek uit die huis uitgesluit. My man het gesê: “As jy Jehovah gaan dien, kan hy vir jou sorg.” Hy het opgehou om die rekeninge te betaal. Die kos het opgeraak, die gas en elektrisiteit is afgesny, ons het die huis verloor. Maar Jehovah was altyd daar vir my en die kinders.

In Julie 1969 is ’n groot byeenkoms van Jehovah se Getuies in New York-stad gehou. ’n Uur voordat ek op die trein moes klim om te vertrek, het my man my vasgekeer, sy gebruiklike dreigemente gemaak en die mes weer teen my keel gedruk. Maar ek was nou al daaraan gewoond en het nie eens daaraan gedink om te bly nie. Op 11 Julie 1969 het ek by daardie byeenkoms my toewyding aan Jehovah gesimboliseer. Ek is saam met 3000 ander byeenkomsgangers in die see gedoop.

Ek het ten minste twee keer per jaar 75 uur per maand aan die bediening bestee, al het my man my verbied om daaraan deel te neem. Ek het geweet dat Christus Jesus ons beveel het om te preek, en ek moes hom gehoorsaam (Mattheüs 24:14; 28:19). Maar ek het altyd hard gewerk by die huis. Ek het die huis skoon gehou. Ek het sy maaltye betyds klaar gehad. Ek het sy gunstelingmaaltye op vergaderingaande voorberei. Wanneer ek tuisgekom het, het ek spesiale nageregte vir hom gemaak. Selfs dan was hy redelik knorrig. Maar dit is moeilik vir iemand om op jou te skreeu as jy hom sy gunstelingnagereg gee!

In 1975 het my man besluit dat die gesin na Kalifornië moet verhuis. Ons huwelik het in November 1976, na 17 jaar, geëindig. Ek wou nooit skei nie. Ek het nooit gedink dat egskeiding reg is nie. Jehovah het in Maleagi 2:16 gesê hy “haat egskeiding”. Dit was ’n verskriklike ervaring om deur te maak. Die feit dat my kinders by hulle pa in Kalifornië gebly het, het my hartseer nog groter gemaak. Ek het teruggekeer na die oostelike VSA, waar ek voorheen gewoon het.

My ouers, wat my sulke veilige en liefdevolle kinderjare gegee het, het daar gewoon. (My pa is intussen oorlede, maar my ma lewe nog, oor die 80 en byna 40 jaar al ’n getroue Getuie.) Ek het egter op my eie gewoon, en Jehovah het in al my behoeftes voorsien: ’n woonstel, kos, klere, geld, ’n werk wanneer ek dit nodig gehad het en talle liefdevolle vriende wat nog altyd baie ondersteunend was. Iemand met wie ek al lank bevriend is, Judy Cole, bel my dikwels, lees vir my artikels uit Die Wagtoring en moedig my aan, al bly sy nou ver van my af. Sy is my allerbeste vriend—natuurlik naas Jehovah, wie se vriendskap ek meer op prys stel as enige ander verhouding wat ek ooit kan hê!

Op 1 Oktober 1986, 11-uur die nag, het my dogter, Linda, my uit San Diego, Kalifornië, gebel. Sy het my vertel dat my seun, Stephen, wat op daardie tydstip 23 jaar oud was, in die waakeenheid in die hospitaal was en dat hy na alle waarskynlikheid sou sterf. Hy het op ’n kronkelpad met sy motorfiets teen ’n boom vasgejaag, oor ’n 45 meter hoë krans gestort en in die kloof daaronder geland. Daar was net een huis daar naby. Dit was twee-uur die oggend, maar die man wat daar woon, het net toevallig laat wakker gebly om te studeer. Hy het die kommosie gehoor, uitgekom en gesien wat gebeur het en dadelik die paramedici ontbied.

Stephen was bewusteloos, albei bene was gebreek, sy knieskyf was vergruis en daar was baie drukking op sy brein. Toe ek daar aankom, het die dokters gesê dat hulle nie dink hy sal lewe nie. Hy was ’n week lank in ’n koma. Ek was daar toe hy bygekom het. “Hallo, Mams”, het hy gesê. Van al die woorde wat ek al ooit gehoor het, het daardie my die gelukkigste gemaak! Hy sou lewe! My vreugde het selfs toegeneem toe Stephen ’n jaar later, in Julie 1988, as een van Jehovah se Getuies gedoop is.

Nog ’n vreugde helder my lewe nou op: al die lektuur wat die Wagtoringgenootskap nou in braille beskikbaar gestel het! Dit is vir my so ’n wonderlike, wonderlike geskenk! Toe ek die waarheid aangeneem het, was daar so te sê niks in braille beskikbaar nie. Maar nou is daar die Groot Onderwyser-boek, die Bybelverhale-boek, die Jongmense vra-boek en nou ook die onlangse boek Die grootste mens wat nog geleef het.

Ten slotte wil ek graag sê dat al my beproewings my net nader aan Jehovah gebring het. Dit was alles baie geloofversterkend. Ek het nog nooit eintlik my gesigsvermoë gemis nie, want ek het nog nooit geweet wat dit is om te sien nie. Ek kon natuurlik gesien het totdat ek twee was, maar ek kan dit glad nie onthou nie. Maar een van my gunstelingtekste is Psalm 145:16, wat sê: ‘Jehovah maak sy hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.’ Enige begeerte wat nie nou bevredig word nie, sal bevredig word in sy beloofde Paradysaarde, waarin hy alles nuut sal maak (Openbaring 21:3-5). Ek sal selfs kan sien, soos een Getuie my herinner het.

Die vreugde wat nou my hart vul, is die vooruitsig om vir ewig my brandende begeerte uit te leef om Jehovah te dien!—Soos vertel deur Collette Nunes.

[Lokteks op bladsy 19]

“As dit my kind was, sou ek haar laat sterf”

[Lokteks op bladsy 19]

“Jy is net té sleg”, het hulle gesê. “God sal jou nie wil hê nie!”

[Lokteks op bladsy 20]

Die priester het God vir my blindheid geblameer

[Lokteks op bladsy 20]

Ek het my man hoor planne beraam vir vroueruilery

[Lokteks op bladsy 21]

Hy het ’n mes gegryp en dit teen my keel gedruk. “Sê jy gaan nie, dan sal ek jou nie doodmaak nie!”

[Prent op bladsy 17]

Collette met haar gidshond

[Prente op bladsy 18]

Collette, op 17 en op 2 (toe sy nog kon sien)

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel