Die Bybelse beskouing
Behoort Christene godsdienstitels te gebruik?
DAAR word vandag baie gepraat oor die tekort aan geestelikes in die Christendom, maar daar is beslis nie ’n tekort aan godsdienstitels onder hulle nie. Party titels is eenvoudig; ander is hoogdrawend. Hier is ’n paar voorbeelde:
’n Geestelike: “Weleerwaarde” (Engels: “Reverend”).
’n Anglikaanse biskop: “Weleerwaarde die Heer Biskop.”
’n Rooms-Katolieke biskop (in Italië): “Sy Eksellensie, die Deurlugtigste en Hoogeerwaarde Monseigneur.”
’n Kardinaal: “Sy Eminensie.”
Die pous: “Allerheiligste Vader.”
Die Engelse titel reverend en die titel “biskop” word al so lank gebruik dat hulle vir die meeste kerklede nie vreemd klink nie. Maar keur die Bybel die gebruik van sulke titels goed?
“Reverend”, “Biskop”, “Kardinaal”
Die Engelse woord reverend verskyn net een keer in die King James Version in Psalm 111:9 waar dit sê: “Holy and reverend is his name.” Wie se naam? Die volgende vers sê: “Die vrees van die HERE is die begin van wysheid” (Psalm 111:10). In een Katolieke vertaling lui die twee verse soos volg: “Heilig en ontsagwekkend is sy naam. Die wortel van wysheid is die vrees van Jahweh [Jehovah]” (The New Jerusalem Bible). God se Woord toon dus duidelik dat godvrugtige vrees, of eerbied, uitsluitlik aan Jehovah, die Almagtige, behoort. Is dit dan reg om dit aan mense te betoon?
“As ’n man die amp van ’n biskop begeer, begeer hy ’n goeie werk”, het Paulus aan Timotheüs geskryf (1 Timotheüs 3:1, KJ). Maar volgens The New Jerusalem Bible lui die vers: “As iemand graag ’n presiderende ouderling wil wees, begeer hy ’n voortreflike werk.” Vroeë Christene met verantwoordelike pligte is “ouderlinge” en “opsieners” genoem. Is daardie benamings as titels gebruik? Nee. Sulke mans is nooit “Biskop Petrus” of “Ouderling Jakobus” genoem nie. Om dié rede gebruik ryp Christenmans onder Jehovah se Getuies wat as ouere manne in die gemeente dien nooit die benaming “ouderling” as ’n titel nie. Die benaming “ouderling” en “opsiener” (biskop) is van toepassing op diegene wat ’n posisie van gesag en verantwoordelikheid beklee. Die benamings beskryf ook die kwalifikasies van die aangestelde mans en die werk wat hulle doen.
Wat van die titel “kardinaal”? Kom dit in die Bybel voor? Nee. Dit kom nie in enige vertaling voor nie. Trouens, die Rooms-Katolieke Kerk erken dat dit nie ’n Bybelse titel is nie. Die New Catholic Encyclopedia verduidelik: “Die woord is afgelei van die Latynse woord cardo wat ‘skarnier’ beteken, en pous Eugenius IV het dit só gestel: ‘Soos die deur van ’n huis om sy skarniere draai, net so draai die Apostoliese Stoel, die deur van die hele Kerk, om die kardinalaat waarop hy rus en waardeur hy gesteun word.’” Hierdie naslaanwerk sê ook dat “kardinale die voorreg geniet om regstreeks as ‘Eminensie’ aangespreek te word”. Hulle status laat hulle ook toe om ’n rooi toga en ’n rooi hoed te dra. Het die apostels daardie ‘voorregte’ geniet? Die Bybel sê nee.
“Heer”, “Monseigneur” en “Vader”
Behoort ’n geestelike as heer aangespreek te word? ’n Anglikaanse biskop word as “heer” aangespreek. Katolieke prelate word dikwels aangespreek as “monseigneur”, wat “my Heer” beteken. In party lande word geestelikes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk as “dominee” aangespreek, ’n titel wat afgelei is van die Latynse woord dominus, wat “heer” beteken. Maar Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle weet in die wêreld speel regeerders heer oor hulle onderdane, . . . maar onder julle sal dit nie so wees nie” (Mattheüs 20:25, 26, The New English Bible). Die apostel Petrus het ook geskryf: “Moenie heer speel oor die groep wat in julle sorg is nie, maar wees ’n voorbeeld vir die kudde” (1 Petrus 5:3, NJB). Toe Jesus een keer nederig sy dissipels se voete gewas het, het hy vir hulle gesê: “Julle noem my Meester en Heer, en dit is reg; Ek is dit ook” (Johannes 13:13, NJB). Is dit reg dat mense ’n godsdienstitel gebruik wat aan God en sy Seun behoort?
Is die godsdienstitel “vader” reg? Dit word algemeen deur Rooms-Katolieke en Anglikane gebruik. “Pater”, wat “vader” beteken, word ook algemeen gebruik. Maar Jesus het sy dissipels geleer: “Julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mattheüs 23:9). Die Nuwe Afrikaanse Vertaling sê eweneens: “Moet niemand hier op aarde as ‘vader’ aanspreek nie.” Waarom verontagsaam geestelikes en hulle volgelinge hierdie bevel van die Heer Jesus Christus?
Die pous van Rome word gewoonlik as “Heilige Vader” aangespreek. Maar sy Italiaanse personeel spreek hom dikwels aan as Santissimo Padre, wat “Allerheiligste Vader” beteken. “Heilige Vader” is ’n titel wat net een keer in die Bybel voorkom (Johannes 17:11). Dit is die uitsluitlike titel van die Opperwese. Is dit dan reg dat daardie titel gebruik word om skepsele, wat aards en onvolmaak is, aan te spreek?
Oortreding op godsdiensgebied
Lees asseblief Mattheüs 23:1-12 en let op die konteks daarvan. Jesus praat van die Fariseërs, wat ’n prominente sekte van Judaïsme was. Hulle was wetsverheerlikers wat gesteld daarop was dat elke detail van die Mosaïese Wet onderhou moes word. Hulle het daarvan gehou om deur hulle kleredrag en gedrag die aandag op hulleself te vestig. Hulle godsdiens was een van vertoon—hulle styl van kleredrag, hulle hoofsitplekke by maaltye, hulle voorste sitplekke in die sinagoges en hulle eretitels. Hulle het selfs geëis dat hulle meer respek as ouers moes kry. Hulle wou vader genoem word. Maar Jesus toon dat al sy volgelinge as kinders van God gelyk is. Enige titel wat die teenoorgestelde hiervan bevorder, is ’n aanmatigende toe-eiening van iets wat God toekom. Gevolglik verbied Jesus die gebruik van die woord “vader” as ’n eretitel in godsdienstige sin. Jesus lê nadruk op die feit dat sy volgelinge net een Vader in die geloof het, naamlik Jehovah.
Is dit nie duidelik nie dat baie geestelikes op ‘heilige grond’ staan wat vir God en sy Seun bedoel is, en dat baie van die eer wat hulle toekom aan onvolmaakte mense betoon word? Ware Christene vermy vandag die gebruik van vleiende godsdienstitels, en hulle vermy die gebruik om mense as ’t ware op ’n geestelike voetstuk te plaas. Onder Jehovah se Getuies is “broer” die enigste aanspreekvorm vir bedienaars (2 Petrus 3:15, NAV). Dit stem ooreen met wat Jesus gesê het: “Julle is almal broers.”—Mattheüs 23:8, NAV.