Hoe om jou geheue te verbeter
JY HET ’n uitstekende geheue! Is dit vir jou moeilik om te glo? Wel, dink vir ’n oomblik aan die baie dinge wat jy maklik onthou: tonele uit jou kinderdae, die name van vriende en familie—selfs fiktiewe karakters in boeke en op televisie, die wysies en woorde van jou geliefkoosde liedjies, die alfabet, hoe om te tel, duisende woorde. Ja, jy het reeds bewys gelewer van jou vermoë om miljoene dinge te onthou!
‘Maar as my geheue so wonderlik is’, wonder jy dalk, ‘waarom vergeet ek dinge? Waarom verlê ek dikwels goed? Waarom gaan ek winkel toe en vergeet dan wat ek wou koop? Nog erger, waarom is dit vir my so moeilik om name te onthou—om nie eers van telefoonnommers en afsprake te praat nie?’ Dit is iets waaroor almal wonder. Tog is jou geheue baie beter as wat jy dalk besef—en dit kan verbeter word.
Waarom ons vergeet
God het ons met ’n wonderlike geheue geskep. Die brein kom gepas voor in wat die Bybel digterlik ’n “goue oliekruik” noem—’n kosbare houer vol herinneringe (Prediker 12:6). Waarom laat ons geheue ons dan soms in die steek? Dit is dikwels vanweë ’n gebrek aan belangstelling. Die beroemde dirigent Arturo Toscanini het hele simfonieë uit die hoof gedirigeer. Handelsmagnaat Charles Schwab kon die name van 8000 werknemers onthou. Maar kon hulle net soveel onthou van onderwerpe waarin hulle nie persoonlik belanggestel het nie? Waarskynlik nie. Dinge waarin jy nie belangstel nie, sal dus vir jou baie moeilik wees om te leer en te onthou ongeag hoe goed jou geheue moontlik is.
Nog ’n faktor wat ons kan laat vergeet, is ’n verandering van situasie of plek. Dinge word die beste onthou teen die agtergrond waarin dit geleer is. ’n Man wat die gebied besoek het waarin hy grootgemaak is, is deur ’n vreemde vrou gegroet. Hy het vanselfsprekend aangeneem dat sy saam met hom in sy ou buurt grootgeword het. Maar skielik het hy besef dat sy iemand is wat hy elke dag sien—’n kollega! Sy het bloot per toeval dieselfde gebied besoek. Omdat hy haar in ’n ander omgewing gesien het, het hy vir ’n oomblik vergeet wie sy is.
Gelukkig hoef jy nie die miljoene stukkies data te onthou wat elke dag in jou verstand instroom nie; baie daarvan is onbenullighede. Maar wanneer iets belangrik is, kan jy leer om dit te onthou. Hoe? Deur spesiale aandag daaraan te gee.
Hoe om te onthou
Sê nou jy moet vanaand ’n belangrike telefoonoproep maak. As jy niks meer doen as om net vlugtig te dink dat jy dit moet doen nie, sal jy waarskynlik daarvan vergeet. Jy moet dus stilstaan en nadink oor hierdie telefoonoproep wat jy wil maak. Die boek Instant Recall—Tapping Your Hidden Memory Power, deur Jeff Budworth, beveel aan dat ’n mens “minute, nie sekondes nie”, neem om belangrike inligting in die geheue in te prent. Sê vir jouself dat jy werklik wil onthou om hierdie oproep te maak. Omdat jy spesiale aandag aan hierdie saak gegee het, sal jy dit nie sommer vergeet nie.
Maar hoe anders kan jy spesiale aandag gee aan dinge wat jy nie wil vergeet nie? As jy die volgende wenke toepas, kan hulle gou by jou ’n tweede natuur word.
Maak seker van jou inligting: ’n Rekenaar kan data nie noukeurig herwin tensy dit in die eerste plek behoorlik ingevoer is nie. Dit is tot ’n groot mate ook waar van ons geheue. Beskou byvoorbeeld die kwessie van name leer. Dr. Bruno Furst skryf in sy boek Stop Forgetting: “As ons nie duidelik en presies hoor wat die naam is nie, is daar nie eers sprake dat ons dit kan onthou of vergeet nie. Ons kan nie iets wat ons nooit geweet het, onthou of vergeet nie. Daarom moet ons eerste stap wees om die naam so te hoor dat ons glad nie twyfel oor sy uitspraak of spelling nie.” As iemand sy naam mompel wanneer hy aan jou voorgestel word, moet jy nie huiwer om die persoon te vra om dit te herhaal nie. Vra hom hoe dit gespel word.
Vorm gedagtebeelde: Probeer vir jou ’n voorstelling maak van wat jy wil onthou. Is daar ’n sekere takie waarvan jy nie moet vergeet nie? Sien dan in jou verbeelding hoe jy dit doen. Hoe meer besonderhede jy by hierdie gedagtebeeld voeg, hoe makliker sal jy dit onthou.
Gedagtebeelde kan jou ook help om dinge wat klaarblyklik nie verwant is nie met mekaar te verbind. Verbeel jou dat jy moet onthou om melk en tandepasta te koop. Jy kan dalk ’n gedagtevoorstelling probeer maak van ’n koei wat haar tande borsel. Dit is ’n beeld wat jy nie sommer sal vergeet nie, al probeer jy ook!
Sê dit hardop: As jy hardop sê: ‘Ek moet Jan vanaand bel’, sal dit jou help om dit te onthou. Vergeet jy daarenteen dikwels of jy die deur gesluit of die oond afgeskakel het? Die boek How to Improve Your Memory, deur dr. James D. Weinland, sê: “Die probleem kan gewoonlik opgelos word deur die takies hardop te noem terwyl ons hulle verrig . . . Wanneer jy die wekker opwen en dit stel om te lui, moet jy sê: ‘Ek het die wekker opgewen en gestel.’ Wanneer jy die deur sluit, sê vir jouself: ‘Ek het die deur gesluit.’” Dit laat jou dalk verspot voel, maar dit kan jou help onthou.
Ontwikkel ’n belangstelling in jou onderwerp: Jy hou moontlik nie van nature van ’n onderwerp nie, maar dit sal makliker wees om dit te leer as jy jou herinner aan waarom jy die inligting moet leer en wat die gevolge sal wees indien jy dit nie kan onthou nie. Hoe meer jy buitendien oor enige onderwerp leer, hoe meer beïndruk dit jou. Die Bybel sê: “Vir die verstandige is kennis maklik.”—Spreuke 14:6.
Tel: Veronderstel jy moet verskeie goed môre-oggend werk toe neem. As jy let op presies hoeveel goed jy moet saamneem, is dit minder waarskynlik dat jy enigiets sal vergeet.
Organiseer: Indien jy ’n hele paar artikels by ’n koswinkel moet koop, moet jy hulle in kategorieë probeer rangskik. Jy kan byvoorbeeld besluit dat jy drie suiwelprodukte, twee vleisprodukte en twee ander artikels moet koop. As jy dinge só organiseer, sal jy hulle beter kan onthou.
Gebruik dit en hersien dit: Jy sal altyd jou eie naam of die alfabet onthou, of hoe om ’n vurk of ’n potlood te gebruik. Waarom? Omdat jy hierdie kennis herhaaldelik gebruik het. Gereelde gebruik versterk ’n geheue sodat dit makliker is om iets te onthou. Jy moet dus van tyd tot tyd die dinge wat jy wil onthou in jou gedagtes hersien of hulle gebruik. Nadat jy aan iemand voorgestel is, moet jy probeer om sy naam verskeie kere te gebruik. Of as jy enigiets nuuts geleer het, moet jy dit in jou gesprekke probeer gebruik, maar moet dit nie laat klink asof jy met jou kennis spog nie.
Die waarde daarvan om te onthou
‘Maar waarom al die moeite doen?’ vra jy dalk. ‘Sal dit nie makliker wees om dinge net neer te skryf nie?’ Kalenders, lyste, wekkers, notas wat jy vir jouself geskryf het—al hierdie dinge kan nuttig wees. Maar soms is dit net nie prakties om dinge neer te skryf nie soos wanneer jy mense by ’n geselligheid ontmoet. En wanneer jy nog iets op jou goed beplande inkooplys wil skryf, is daar dikwels nie ’n pen byderhand nie. Lyste kan boonop maklik wegraak. En sê nou jy vergeet om na jou kalender te kyk? Dit is dus die moeite werd om jou geheue te oefen.
Hoe meer jy oefen, hoe makliker sal jy kan onthou. Jy sal waarskynlik gou vind dat jy verkies om dinge te onthou pleks van hulle neer te skryf. Jy hoef egter nie bang te wees dat jy jou verstand op die een of ander manier sal volprop en dit minder doeltreffend of minder skeppend sal maak nie. Die verstand word, soos ’n spier, sterker en doeltreffender wanneer dit gebruik word. Dr. Joan Minninger sê: “Die meeste mense dink aan die langtermyngeheue as ’n groot laai wat van tyd tot tyd vir nuwe dinge leeggemaak moet word. Verkeerd. Daar is geen bekende beperkings aan hoeveel in jou geheue bewaar kan word nie. Jy kan jou hele lewe lank nuwe dinge leer en onthou.”
Dr. Furst toon eweneens dat “dit verkeerd sal wees om te dink dat ons ons breinselle glad nie moet inspan nie en hulle moet spaar as ons hulle behoorlik wil versorg. Net die teenoorgestelde is waar.” Jou geheue sal sterker word as jy dit gebruik. (Vergelyk Hebreërs 5:14.) Sommige, soos Harry Lorayne, medeskrywer van The Memory Book, glo selfs dat “die geheue beter kan word namate jy ouer word”.
Hoe dit ook al sy, jy het niks om te verloor nie, en jy kan baie voordeel daaruit trek as jy jou godgegewe gawe van die geheue gebruik. Die voordele sal moontlik onvergeetlik wees.