Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/22 bl. 4-8
  • Verlig die laste van die dood

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verlig die laste van die dood
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sê wat jy wil hê
  • Sakekontak met professionele instellings
  • Hoe om die smart te verwerk
  • Vereer jy die dooies?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Christelike begrafnisse—Waardig, beskeie en aanneemlik vir God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Christelike beskouing van begrafnisgebruike
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Hoe beskou Jehovah se Getuies begrafnisse?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/22 bl. 4-8

Verlig die laste van die dood

BEGRAFNISGEWOONTES en -gebruike verskil grootliks van land tot land en van kultuur tot kultuur. Staatsregulasies bepaal dalk party reëls wat gevolg moet word. Maar die familie en die gemeenskap se godsdiensopvattings is gewoonlik die beslissendste faktor. The New Encyclopædia Britannica sê: “Die studie van ritusse en gewoontes met betrekking tot die dood toon duidelik die verband tussen godsdiensopvattings en volksgebruike in die oorledene se teenwoordigheid.”

Neem byvoorbeeld ’n Hindoebegrafnis in Indië. Die liggaam word vir verassing voorberei volgens die ritusse van die besondere sekte. “Heilige water”, verkieslik uit die Gangesrivier, word oor die vloer gesprinkel. ’n Wit laken word dan op hierdie deel van die vloer uitgesprei, en die liggaam word daarop neergelê. Welriekende wierook word gebrand, want daar word geglo dat dit goeie geeste na die gebied sal aantrek. Sandelhoutsmeer en ’n rooi poeier word aan die gesig gesmeer. Die liggaam word gewas en dan met ’n wit doek bedek waaroor blomme gestrooi word. Daarna word die liggaam met die kop na vore op ’n bamboesdraagbaar na die brandende ghat (plek vir verassing) toe gedra. Daar word die draagbaar omgedraai sodat die liggaam met die voete na vore wys, na die brandende ghat toe, om aan te dui dat dit na die toekomstige lewe uitsien. Die oudste seun steek die brandstapel aan, want daar word geglo dat die afgestorwene se “siel” slegs op dié manier tot rus sal kom. Daarna word die as bymekaargemaak en na een van Indië se “heilige” riviere gestuur.

In Papoea-Nieu-Guinee is dit gebruiklik dat familielede naby die lyk bly, dit soen, daaroor huil, dinge daaraan belowe en om vergifnis vra vir sondes wat hulle teen die afgestorwene gepleeg het. Daar word swaar gerou, en die klaagsangers se geneurie dra by tot die hartseer. Dit is gebruiklik om ’n rukkie na die dood minstens twee groot feeste te hou om die afgestorwene se “gees” te vereer en te keer dat dit dalk wraak neem.

In Afrika vestig begrafnisgebruike en -tradisies die aandag op geloof in die onsterflikheid van die siel. Hulle meen dat dit nodig is om die afgestorwenes te paai uit vrees dat hulle dalk verwoesting onder hulle familielede sal aanrig. Baie geld word bestee en baie offerandes word geoffer in die hoop dat die dooies die lewendes goedgesind sal wees. Baie glo in reïnkarnasie, dat die afgestorwene as ’n dier sal terugkeer om vereer en aanbid te word of dat dit as ’n ander familielid sal terugkeer deur middel van ’n vrou wat op daardie stadium swanger is. “Daarom”, sê ’n verslag uit Nigerië, “is hulle baie versigtig terwyl hulle ’n lyk aantrek om te verseker dat dit heeltemal reg lê. Daar word byvoorbeeld geglo dat die afgestorwene se hand gebreklik sal wees wanneer die persoon reïnkarneer as sy hand nie reguit in die kis lê nie. Of ’n dooie man wat nie behoorlik aangetrek is nie, sal as ’n kranksinnige reïnkarneer.” Faktore soos ’n vrees vir die dooies en vir die mag wat hulle glo die dooies oor die lewendes het, bepaal dikwels die optrede by begrafnisse in Afrika.

In baie plattelandse dele in Griekeland word lang en omslagtige seremonies ook na die dood van ’n persoon gehou. Die tydskrif Science sê: “Gedurende die daaropvolgende vyf jaar reël en lei die afgestorwene se vroulike familielede baie roudienste. Vir die vrouens, moeders en dogters word rou ’n deel van hulle lewe. Hulle sal elke aand die graf besoek om kerse aan te steek, die grafsteen skoon te maak, met die dooie te praat, klaagliedere te sing en te huil. Hulle glo dat hulle die geliefde se siel sal help om in die hemel te kom as hulle hierdie ritusse volmaak uitvoer.” Die afgestorwene se bene word uiteindelik opgegrawe en in die dorp se gemeenskaplike grafkelder gesit.

In Japan word Boeddhistiese ritusse by die meeste begrafnisse gevolg. Nadat die liggaam gewas en aangetrek is, word dit met ’n wit laken bedek, en ’n mes word op die bors neergesit sodat dit bose geeste kan afweer. Terwyl kerse en wierook brand, sal ’n priester soetras (uittreksels uit Boeddhistiese kanonieke letterkunde) by die sterfbed opsê en vir die afgestorwene ’n postume Boeddhistiese naam gee waarvoor ’n groot som geld betaal moet word, na gelang van die aantal letters wat gebruik is. Die liggaam word dan in ’n ongeverfde houtkis gesit. Heelnag deur of die helfte van die nag word daar gewaak om oor die dooie te treur en te bid dat die siel moet rus. Terwyl die priester soetras opsê, neem die rouklaers beurte om ’n knypie wierook te brand. Die volgende dag word soortgelyke ritusse tydens die begrafnisdiens gehou voor ’n altaar waarop die kis, ’n foto van die afgestorwene en ander Boeddhistiese rituele voorwerpe is. Die wet vereis dat verassing dan moet plaasvind. ’n Tyd lank daarna sal wierook nou en dan gebrand word en ’n priester soetras opsê tot hulle oortuig is dat die siel sy mag oor menseaangeleenthede verloor het en met die voorvaderlike siel van die kosmiese natuur ineengesmelt het.

Sê wat jy wil hê

Sulke begrafnisgebruike verlig nie die spanning wat gepaardgaan met die dood van ’n geliefde nie, maar bring dikwels net groter laste mee. Een las is die onkoste. Indrukwekkende begrafnisse is duur. Priesters verwag gewoonlik groot bydraes of betaling vir hulle dienste. Groot feeste en seremonies is ook baie duur. Daar word dalk selfs druk op mense uitgeoefen om nie aan die afgestorwene se wense te voldoen nie of aan ritusse deel te neem waaraan hy nie geglo het nie. Familielede of vriende kla dalk dat die afgestorwene nie ’n gepaste en ordentlike begrafnis sal kry wat aan die gemeenskap se standaarde voldoen nie. As jy enige wense het oor hoe jou begrafnis gehou moet word, sal dit verstandig wees om hulle neer te skryf en toe te sien dat getuies die dokument teken.

Dit is wat ’n Japannese huisvrou uitgevind het toe haar 85-jarige vader gesterf het. Hy het gevra dat ’n eenvoudige gedenkdiens gehou moet word en dat net familielede teenwoordig moet wees. Maar dit het baie kritiek uitgelok van dié wat ten gunste was van die gebruiklike begrafnisdiens. Sy dogter het later aan ’n koerant in Tokio, die Asaji Sjimboen, geskryf: “As ’n mens graag ’n begrafnis wil hê wat anders as ander begrafnisse is, is dit raadsaam om dit in die loop van jou daaglikse gesprekke met jou familie te bespreek en seker te maak dat hulle met die idee saamstem, al dink jy dat jou wens redelik is. Dit is ook belangrik dat jy jou wense neerskryf sodat die bedroefde familielede die kritiek die hoof kan bied.”

Dit is selfs belangriker om dit te doen as jy vaste godsdiensopvattings het wat strydig met die plaaslike gebruik is. ’n Christen in Japan vrees dalk byvoorbeeld dat as hy sou sterf sy familielede wat nie Christene is nie by die begrafnis eerbiedig voor sy kis of foto sal neerbuig net soos hulle voor ’n Boeddhistiese altaar sou doen. Hy kan dus vooraf in sy skriftelike opdragte vra dat sy liggaam veras moet word ná mense by die huis van hom afskeid geneem het en ’n eenvoudige gedenkdiens gehou moet word waar geen kis of foto is nie. Die familielede kan vooraf oor die prosedure ingelig word om probleme te vermy.

Sakekontak met professionele instellings

Die meeste mense het tot ongeveer honderd jaar gelede by die huis gesterf, waar hulle deur vriende en familie omring was. Kinders is toegelaat om by die sterfbed te wees en het sodoende geleer wat die dood is. Maar in die gevorderde nywerheidslande van die wêreld het dit alles verander. Baie mense wat op sterwe lê, word inderhaas hospitaal toe geneem en daar word probeer om hulle lewe te verleng. “Pleks dat hedendaagse dokters die dood as iets natuurliks sien, beskou hulle dit as sleg of vreemd, ’n verydeling van al hulle geneeskundige pogings en soms selfs as ’n persoonlike nederlaag”, sê The New Encyclopædia Britannica. “Siekte word met alle moontlike wapens beveg, en dikwels word die siek persoon nie eers in ag geneem nie—soms sonder om daaraan te dink of daar nog hoegenaamd ’n ‘persoon’ is.”

In die Verenigde State kos die gemiddelde begrafnis nou meer as R8250—en dit sluit nie die stukkie grond in die begraafplaas in nie. Wanneer daar met ’n simpatieke begrafnisondernemer onderhandel word, is ’n mens geneig om te vergeet dat hy daar is om geld te maak. “Die onderneming wat ons laaste reëlings tref, het ongetwyfeld ’n winsmotief”, sê die tydskrif Changing Times. “En soos op enige handelsgebied loop die koper gevaar dat ’n onetiese verkoper hom sal oorreed om geld te bestee, sal kul, te veel sal laat betaal of sal inloop. Trouens, die risiko is groter omdat die meeste mense vir die eerste keer koop, hulle is diep bedroef en hulle moet vinnig optree.”

Maar daar is ander opsies. Een is om self die geld vir jou begrafnis opsy te sit. Dit kan gedoen word deur ’n spesiale spaarrekening by die bank te hê waar geld vir ’n oorlewende in ’n trust belê word. Volgens die Amerikaanse bankwette kan die begunstigde die geld in so ’n rekening (wat ’n Totten-trust genoem word) onttrek wanneer hy sy identiteitsdokument en ’n doodsertifikaat toon. Jy het intussen die seggenskap oor die geld. Lewensversekeringspolisse by ’n betroubare, hoogaangeskrewe maatskappy is nog ’n opsie. As jy getroud is, moet jy seker maak dat jy jou huweliksmaat goed inlig, veral ten opsigte van die geldsake. Dit is ook raadsaam om ’n testament op te stel. Dit is onwaarskynlik dat julle albei terselfdertyd sal sterf. Vrouens oorleef meestal hulle mans. Vrouens kom dikwels agter dat hulle oningelig is omtrent hierdie dinge, wat hulle hartseer en leed vererger. Aangesien die dood dalk onverwags kan kom, moet jy hierdie sake sonder versuim met jou gesin bespreek.

Hoe om die smart te verwerk

Iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, verduur baie pyn. Die behoefte om te huil en te treur sal voortdurend daar wees tot die dood aanvaar kan word. Die routydperk verskil van persoon tot persoon. Party kan hulle verlies dalk redelik gou verwerk, terwyl ander moontlik ’n jaar of langer kan neem. ’n Paar hou nooit op treur nie. Hoe kan ’n mens leer om die situasie te verwerk?

Dit is belangrik dat jy jou nie afsonder en jou aan die samelewing onttrek nie. As jy oor jou smart wil kom, is dit noodsaaklik dat jy jou daaglikse pligte hervat en met vriende en familielede in aanraking bly deur hulle te bel of te besoek. Hoewel jy soms alleen wil wees, moet dit nie ’n gewoonte raak nie. Help mense om jou by te staan deur jou tot hulle te wend.

Goeie raad kom van ’n man wat vyf naasbestaandes in net drie jaar aan die dood afgestaan het, waaronder sy moeder en sy geliefde vrou met wie hy 41 jaar getroud was en wat ’n uitgerekte stryd teen kanker gehad het. Hy het opgemerk: “Ek het beslis genoeg smart verduur. Soms het ek gehuil. Maar jy moet realisties wees oor die lewe. Jy moet die lewe aanvaar soos dit is, nie soos jy dit graag wil hê nie. Jy moet jou by die ellende aanpas en die dood aanvaar, pleks van aanhoudend te treur.”

Dit is belangrik om aan die treurendes hulp te verleen en hulle te bemoedig. Ongelukkig dink die meeste van ons dat ons onbevoeg is om dit te doen en weet ons nie wat om te sê nie. Ons is dalk selfs verleë wanneer emosies betoon word. Daarom is ons geneig om weg te skram van die bedroefde—juis wanneer daardie persoon ons die nodigste het. Party is al daarvan beskuldig dat hulle die straat oorgesteek het en aan die ander kant geloop het net om nie met die bedroefde te praat nie! Een weduwee het gesê: “Ek moes op my eie treur. Dit was vir my uiters nodig om te praat, maar niemand wou luister nie.”

Ander wat jou ten tye van die dood te hulp snel en jou ondersteun, hou dikwels net so vinnig op. Patricia Minnes, ’n professor in sielkunde, sê: “Ná die dood duur dit soms weke of maande voordat ’n bedroefde persoon oor die aanvanklike skok kom. Dit is wanneer hulp die nodigste is en die minste beskikbaar is.” En dit is verkeerd om die gevolgtrekking te maak dat diegene wat nie intense verdriet toon nie koud of liefdeloos is, die verlies nie wil aanvaar nie of reeds daaroor gekom het. Party het dalk eenvoudig meer innerlike krag om hulle smart te dra, maar hulle het ook vertroosting en hulp nodig.

Hoe wonderlik is dit tog nie wanneer vriende die bedroefde te hulp snel om na sake om te sien en die nodige dokumente te kry nie! Hoe gerusstellend is dit tog om iemand se ferme, ondersteunende hand en helder verstand te hê wanneer die begrafnisreëlings getref word! Hoe word dit tog nie waardeer wanneer iemand ’n handjie bysit met die kinders en omsien na die behoeftes van familielede en vriende wat kom besoek aflê het nie! Hoe bedagsaam is dit tog wanneer vriende en bure dag na dag kos bring en aanbied om los werkies te doen of om bedroefdes te neem waar hulle wil wees! Hoe wonderlik is dit tog nie om iemand te hê met wie treurendes hulle gevoelens kan bespreek nie! Hoe bemoedigend is dit tog nie om getroos te word en ’n simpatieke aanraking te voel nie! Hoe gaaf is dit tog wanneer iemand selfs maande later vra hoe dit met die treurendes gaan en ’n liefdevolle woordjie spreek!

Maar dit help baie om ’n toekomshoop te hê. Is daar so ’n hoop?

[Lokteks op bladsy 5]

“Jy moet die lewe aanvaar soos dit is, nie soos jy dit graag wil hê nie”

[Venster/Prent op bladsy 7]

Wat moet ons vir die kinders sê?

Vertel hulle die waarheid, volgens hulle begripsvermoë. Sê reguit wat die dood is, en vermy dubbelsinnige woorde. As jy sê: “Oupa is weg” of: “Ons het Oupa verloor”, kan die kind dalk dink dat Oupa sal terugkom of “gevind” sal word. Help die kind om die werklikheid van die dood te verstaan, en gee skriftuurlike antwoorde. ’n Kind kan met behulp van die natuur leer wat die dood is. Jy kan verduidelik hoe diere, voëls of insekte doodgaan. Wees geduldig, en stel verkeerde idees reg wat ’n kind dalk van rolprente of die TV gekry het. As kinders nie die volle waarheid omtrent die dood hoor nie, kan dit daartoe lei dat hulle kwaad of bang raak vir die onbekende.

’n Kindjie kan dalk meen dat hy vir die dood verantwoordelik is, veral as hy kwaad was vir die een wat gesterf het. Help die kind om te verstaan dat dit nie sy skuld is nie, en voorkom sodoende ’n skuldgevoel.

Kinders wat ’n ouer verloor het, is bevrees dat hulle aan hulself oorgelaat sal word. Kalmeer hulle so ver moontlik, en sê vir hulle dat hulle liefde en versorging sal ontvang. ’n Kind is dalk ook met woede gevul. As daar vir hom gesê word dat God sy ouer weggeneem het, sal hy God dalk haat. Dit help in hierdie gevalle as ’n mens Bybelwaarhede ken. Stel die kind gerus, en gee hom liefde en ondersteuning.

[Prent op bladsy 8]

Ondersteun treurendes en bemoedig hulle

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel