Jongmense vra . . .
Hoe kan ek die moed hê om anders te wees?
“Partykeer laat portuurdwang my dinge doen wat ek dink verkeerd is, maar aangesien dit te ouderwets is om dit nie te doen nie, sê ek maar ja.”—John.
“PORTUURDWANG maak inbreuk op elke aspek van ons lewe.” Dit is wat die skryfster Lesley Jane Nonkin sê. Portuurs probeer aan jou voorskryf hoe jy moet aantrek. Hulle bepaal die reëls oor hoe jy moet loop, praat en jou hare moet kam. Individualiteit word nie geduld nie. Jy moet soos hulle wees—of verwerping verduur!
Jong Christene gaan egter nie saam met die stroom nie. Hulle volg die standaard wat Jesus vasgestel het in Johannes 15:19 en is “geen deel van die wêreld” van goddelose mense nie (NW).a Dit is egter ’n uitdaging om in die wêreld te wees, maar geen deel daarvan te wees nie. Dis soos om ’n boot op ’n onstuimige see te roei. Jy is in die water en word deur water omring, maar om te bly lewe, probeer jy soveel moontlik daarvan uit jou boot hou! Jong Getuies van Jehovah streef eweneens daarna om die wêreld se goddeloosheid uit hulle lewe te hou.
Dit is egter nie altyd maklik nie. Beskou die geval van Eijitsjiro, ’n jong Getuie in Japan. In daardie land is die druk om soos ander te wees baie sterk onder jongmense sowel as volwassenes. Eijitsjiro vertel: “Op skool het my gewete my nie toegelaat om aan seremonies deel te neem wat volksimbole en volksliedere insluit nie. Ek kon boonop nie die verweerkuns aanleer nie, omdat dit in teenstelling met Bybelbeginsels is.” (Sien Exodus 20:4, 5 en Lukas 4:8; Jesaja 2:4 en Lukas 10:27.) Dit het Eijitsjiro onder sy portuurs opvallend gemaak—moontlik tot sy verleentheid.
Jong Getuies regoor die wêreld kom voor soortgelyke situasies te staan. “Vakansiedae is die moeilikste”, sê een jong Christen. “Al die kinders vra: ‘Waarom vier jy dit nie?’” Die moeilikste besluit vir een tienermeisie is “of sy met kêrels moet uitgaan”. Maar ’n ander tienderjarige Christen kla oor die druk om met ander sosiaal te verkeer. Hy sê: “Mense vra jou gedurig: ‘Gaan jy nie na die partytjie toe nie?’” Ander jong Getuies is al bespot omdat hulle geweier het om stokkies te draai of tydens toetse af te kyk. Dit is dus voor die hand liggend dat dit heelwat moed verg om anders te wees, en party jongmense meen dat hulle dit nie het nie.
Een jongmens het geskryf: “Ek lei ’n dubbele lewe—een by die skool en een by die huis. By die skool assosieer ek met wêreldse kinders. Maar hierdie kinders vloek byna elke keer wat hulle praat, en ek is besig om net soos hulle te raak. Wat moet ek doen?” Die antwoord is duidelik: Kry die moed om anders te wees! Maar hoe?
Die bron van ware moed
Moed is die geestelike of morele krag om gevaar, vrees of moeilikheid die hoof te bied. Nie almal het dit nie, maar dit kan verkry word. “God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie,” verduidelik die apostel Paulus, “maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheüs 1:7). Ja, God kan jou die nodige krag gee om jou man te staan teen jou portuurs.—Filippense 4:13, NAV.
Maar hoe kry jy hierdie krag? Een manier is om eenvoudig daarvoor te vra. “Bid en julle sal ontvang”, het Jesus in Johannes 16:24 belowe. Jy behoort veral te bid wanneer jy voor die versoeking te staan kom om ’n kompromis aan te gaan. “Ek bid tot Jehovah sodat ek my verstand en hart kan beheers”, sê een jong Christen.
Eertydse moedige jongmense
Nog iets wat jou sal help om onverskrokkenheid aan die dag te lê, is om Bybelverhale te lees wat handel oor moedige knegte van God en daaroor te peins. Is jy byvoorbeeld skaam om ander te vertel dat jy een van Jehovah se Getuies is? Bestudeer dan die verslag in 2 Konings 5:1-5. Dit handel oor ’n ontvoerde Israelitiese meisie wat haar geloof moedig voor ander bekend gemaak het. Nog ’n opwindende verslag is in Handelinge 4:20 opgeteken. Daar het die apostels met vrymoedigheid vir teenstanders gesê: “Vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” As jy hierdie verhale bestudeer, kan dit jou aanmoedig om dieselfde vrymoedigheid aan die dag te lê wanneer jy met ander praat.
Nog ’n aangrypende verhaal is dié van Daniël en sy drie tienderjarige metgeselle, Sadrag, Mesag en Abednego. Hierdie jongmense was onder ’n aantal vooraanstaande Joodse jongmense wat gevange geneem is en na Babilon gebring is. Die koning van Babilon was van voorneme om hierdie jongmense op te lei vir verantwoordelike staatsposisies. Om hulle by die Babiloniese lewenswyse te help aanpas, is die jongmense se Joodse name weggeneem en moes hulle die Babiloniërs se taal en lewenswyse aanleer. Daarbenewens het hulle gevangenemers hulle die Joodse gewoontes probeer afleer deur hulle “die spys van die koning” te gee om te eet.—Daniël 1:7, 8.
Volgens die Babiloniërs was sulke kossoorte lekkernye vir ’n fynproewer. Vir godvresende Jode was Babiloniese kos strydig met hulle geloof. Maar die meeste van die gevange jongmense het klaarblyklik voor die versoeking geswig—almal behalwe Daniël en sy metgeselle. Stel jou die druk voor wat hulle Joodse portuurs moontlik op hulle uitgeoefen het! Hoe het hierdie jongmense op sulke druk gereageer? Lees self die geloofversterkende verslag in Daniël hoofstuk 1. Miskien sal dit jou help om die moed te hê om onwettige dwelms of alkohol van die hand te wys as iemand jou dit ooit sou aanbied!
“Wees dapper”
Dit is eenvoudig nie genoeg om van moed te lees nie. Om die moed te kry wat jou sal help om portuurdwang te weerstaan, moet jy daagliks die raad volg wat Paulus aan manne en vroue in die Korinthiese gemeente gegee het: “Bly standvastig in die geloof; wees dapper en wees sterk.”—1 Korinthiërs 16:13, The Jerusalem Bible.
Verander jy byvoorbeeld jou kleredrag of haarstyl om by wêreldse jongmense te pas wanneer jou ouers en lede van die Christengemeente nie by jou is nie? Of bly jy onversetlik by Christelike standaarde? “Ek weier om elke mode te volg wat uitkom”, sê een dapper Christenmeisie.
Nog ’n vraag: Is jy dapper genoeg om jou klasmaats te vertel dat jy een van Jehovah se Getuies is? Dra jy jou Bybel en Bybellektuur by jou as jou skool jou toelaat om dit te doen? Is jy ‘bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van jou rekenskap eis omtrent die hoop wat in jou is’ as geskilpunte oor evolusie, patriotiese seremonies of bloedoortappings in die klas ter sprake kom? (1 Petrus 3:15). Of sit jy in angstige stilswye by jou lessenaar? Jesus Christus het gesê: ‘Elkeen wat hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal Ek my ook skaam.’—Markus 8:38.
’n Moedige Christen sal alles behalwe skaam wees; hy sal eerder roem oor sy Bybelse hoop! (Vergelyk Hebreërs 3:6.) Eijitsjiro, die Japannese jongman wie se woorde vroeër aangehaal is, het geleer om dit te doen. Hy is dikwels gevra waarom hy nie aan patriotiese seremonies of die verweerkuns deelgeneem het nie. Het dit hom benadeel omdat hy anders was? “Nee”, sê hy, “ek het dit alles as ’n uitdaging beskou. Jy sien, ek moes antwoorde voorberei om my optrede te verdedig, en ek moes op Jehovah se hulp vertrou. Op die lange duur het die nadele dus voordele geword.”
Leer ook om jou standpunt in te neem wanneer jy voor versoeking te staan kom. Spreuke 1:10-15 sê: “My seun, as die sondaars jou wil verlei, moet jy nie inwillig nie; as hulle sê: Gaan saam met ons . . . my seun, gaan nie met hulle saam op die weg nie, hou jou voet terug van hulle pad.” Dit hoef natuurlik nie te beteken dat jy ’n preek moet afsteek nie. Die raadgewer Sharon Scott sê in haar boek How to Say No and Keep Your Friends dat jy dalk soms eenvoudig sal moet wegstap, die uitnodiging van die hand wys—of dit eenvoudig ignoreer. Maar soms sal jy dalk nie juis ’n keuse hê as om jou standpunt in te neem en ander te vertel waarom jy nie by hulle kan aansluit nie. Sharon Scott raai aan dat jy beslis moet wees: “Probeer om nie gedwee te lyk nie . . . Kyk na die persoon. . . . Praat met ’n besliste en kalm stem.”
Jy sal dalk nog steeds oor jou standpunt geterg of gespot word. Maar baie sal jou teen hulle sin bewonder. Mike, ’n ander tiener, sê: “Baie van die seuns weet dat ek ’n Getuie is, en hulle respekteer my. As hulle iets slegs gaan bespreek, sal hulle sê: ‘Mike, ons wil nou praat, as jy dus wil gaan, moet jy nou gaan.’” Nie alle jongmense sal jou soveel respekteer nie. Maar God sal ongetwyfeld bly wees oor jou optrede (1 Petrus 4:3-6). Een jong Christen sê dus: “Moenie bekommerd wees oor wat ander kinders van jou dink nie!” Dit is God se beskouing wat tel. En hy sal jou seën omdat jy die moed het om anders te wees.
[Voetnoot]
a Sien die artikel “Waarom moet ek anders wees?” wat in ons nommer van 8 Junie 1992 verskyn.
[Prent op bladsy 16]
Maak jy van geleenthede gebruik wanneer hulle opduik om met ander oor jou geloof te praat?