Help hulle om ’n huweliksmaat verstandig te kies
WEET jou kinders watter eienskappe ’n moontlike huweliksmaat behoort te hê en hoe hulle ’n verstandige keuse kan maak? Dit is noodsaaklik om hieroor na te dink en hulle te help om ’n verstandige keuse te maak, omdat dit ’n groot invloed op hulle toekomstige geluk sal hê.
In lande waar dit gebruiklik is om afsprake te maak, is daar toenemende druk op jongmense om hulle op ’n al hoe jonger ouderdom in paartjies af te sonder. “Ouers met 10-jarige kinders sê vir my dat hulle onder geweldige druk verkeer om hulle kinders op afsprake te laat uitgaan”, het dr. Ronald W. Taffel, ’n kliniese sielkundige in New York, gesê. “Ouers ontdek skielik dat hulle gekonfronteer word met geskille wat hulle gedink het nie voor [hulle kinders se] adolessensie sou opduik nie.”
Wat sal waarskynlik die gevolge wees as jy toegee en jou kinders toelaat om op ’n jong ouderdom afsprake te maak? The Journal of the American Medical Association het gesê: “Wanneer daar op ’n jong ouderdom gereeld afsprake gemaak word, loop dit gewoonlik op [geslagsomgang] uit.” Ja, jy het waarskynlik al gelees van “die toenemende aantal 10- tot 14-jarige meisies wat die lewe aan babas skenk”.
Wat kan jy dus doen om jou kinders te help?
Leer hulle van kleins af
Ouers moet positiewe Christelike eienskappe by hulle kinders inskerp en hulle help om hierdie eienskappe aan te kweek. En hulle moet hulle ook help om hierdie eienskappe in ’n moontlike huweliksmaat te herken. Wanneer jou kind oor afsprake begin praat, moet jy verduidelik dat dit nie iets is wat kinders of selfs diegene in hulle vroeë tienderjare as ’n sosiale tydverdryf moet beskou nie. Jy moet dit eerder by hulle inskerp dat afsprake vir diegene bedoel is wat oud genoeg is om ernstig na ’n huweliksmaat te soek.
Kinders het nie genoeg ondervinding om iemand se karakter te beoordeel nie, en hulle behoort dit geredelik te erken. ’n Indiese meisie het eenkeer aan ’n huweliksraadgewer verduidelik: “Ons ouers is ouer en verstandiger, en hulle word nie so maklik soos ons mislei nie. . . . Dit is so belangrik dat die man met wie ek trou die regte een moet wees. Ek kan so maklik ’n fout maak as ek hom self moet soek.” Jongmense kan beslis baat vind by die hulp van ouer mense!
Jongmense beoordeel moontlike huweliksmaats dikwels volgens standaarde wat eintlik niks te doen het met die vraag of die persoon ’n goeie man of vrou sal wees nie. Jong mans word dalk deur ’n bekoorlike gesiggie en ’n mooi figuurtjie bekoor—maar wat van die toekoms? Liggame en gesigte kan verander, en in die toekoms sal die jong man beslis ’n vrou wil hê wat volwasse eienskappe het, waaronder intelligensie en die vermoë om verantwoordelikheid te dra. Meisies gee dikwels voorkeur aan jong mans wat aantreklik is, stylvolle klere dra en gevatte antwoorde kan gee, pleks van voorkeur te gee aan die belangriker eienskappe soos goedhartigheid en ’n liefde vir God en sy medemens.
Wat kan jy dus doen? Waarom vestig jy nie jou kinders se aandag op die voorbeelde van mense wat hulle ken en wat ’n goeie huwelik het nie? Jy kan hulle moontlik daarop wys dat party van hierdie mense huweliksmaats gekies het wat nie noodwendig die mooiste of die aantreklikste was nie, maar dat dit iemand met mooi eienskappe was, iemand wat dieselfde voorkeure, belangstellings en doelwitte as hulle gehad het.
Praat gerus met jou kinders hieroor! Toe Ann 13 was, het haar ma haar gevra watter eienskappe sy in ’n man soek. Hulle het dit bespreek en sy het ’n lys opgestel van eienskappe wat sy in ’n huweliksmaat wou hê en waarvoor sy bereid was om te wag. Dit was nie ’n onrealistiese lys nie. Daardie persoon moes iemand wees wat sy kon respekteer, en sy voorkeure en belangstellings moes met hare ooreenstem. Vandag is Ann ’n gelukkige ouma en sy beveel nog steeds aan dat ander hierdie voorbeeld volg.
Wat ’n Christen betref, is die Bybelse bevel om “net in die Here” te trou ’n belangrike oorweging (1 Korinthiërs 7:39). Iemand wat “in die Here” is, is ’n toegewyde, gedoopte Christen en neem toegewyd deel aan dieselfde bedrywigheid waaraan Jesus deelgeneem het. Diegene wat hierdie bevel om net in die Here te trou, ignoreer, vind dikwels dat dit tragiese gevolge het. Jy moet dus nie versuim nie om vir jou kinders te wys hoe belangrik dit is om net iemand as ’n moontlike huweliksmaat te oorweeg wat dieselfde sedelike en geestelike beginsels as hulle het en hulle dus sal help om hierdie beginsels by enige kinders wat hulle moontlik sal hê in te skerp.
Berei hulle voor om probleme te kan oplos
Wanneer jy besluit het dat jou kinders oud genoeg is om afsprake te maak, moet jy hulle wys hoe verstandig dit is om hulle metgesel in openbare plekke te leer ken deur dinge saam te doen, soos om restaurante, museums, dieretuine of kunsgalerye te besoek, waar hulle die geleentheid het om te gesels en mekaar te leer ken sonder dat hulle van ander mense afgesonder is. Help hulle om te besef waarom dít baie verstandiger is as om alleen tyd saam deur te bring in ’n geparkeerde motor of enige ander plek waar daar geen mense is nie. Dit is ook belangrik om hulle te leer dat wanneer hulle van ’n afspraak terugkom, dit behoorlik is om by die deur tot siens te sê en om die persoon nie binne te laat nie, tensy jy natuurlik wakker en teenwoordig is.
Waarsku jou kinders oor dit wat dalk kan gebeur. ’n Nuusberig vertel byvoorbeeld van ’n student wat haar metgesel ná ete na haar koshuiskamer genooi het om te dans en te gesels. Hoewel hy op suggestiewe wyse toenadering gesoek het, het sy nie daarop aangedring dat hy loop nie. Wanneer sy haar teëgesit het, het hy verskoning gevra vir sy optrede, maar het dan weer probeer om haar te verlei. Die verslag sê: “Sy geduld het uiteindelik teen dagbreek opgeraak”, en hy het haar verkrag. Hoe tragies tog!
Jy moet dus seker maak dat jou kinders weet hoe om op besliste wyse op te tree as enigiemand selfs net onsedelike dade noem. Hulle moet die gevaarsituasie ontvlug soos jong Josef vir Potifar se opdringerige vrou gevlug het (Genesis 39:7-12). Hulle moet besef dat die eeue oue pleidooi: “As jy my liefhet, sal jy”, so dikwels die woorde van ’n verleier is. Enigiemand wat dit gebruik, doen dit waarskynlik dikwels, los dan sy slagoffer en soek na iemand anders om te verower. Jou seun of dogter moet weet dat ’n ferm, positiewe nee die beste antwoord op ’n onsedelike voorstel is.
Moenie versuim om jou dogter te leer hoe om situasies te vermy waarin sy dalk verkrag kan word nie. Jy moet beklemtoon hoe belangrik dit is dat sy enige jong man met wie sy uitgaan goed moet ken en dat jy, haar ouer, hierdie persoon ook goed moet ken. As jou kinders nie meer naby jou woon nie, moet jy seker maak dat hulle ’n Christenopsiener oor hulle moontlike huweliksmaat uitvra. Onthou dat daar bedrieërs is wat voorgee dat hulle Christene is en die gemeente insypel, net soos in die eerste eeu gebeur het.—2 Petrus 2:13-15, 17, 18.
Jy moet jou seuns ook leer dat ware mans ander nie opsetlik seermaak nie. Hulle beskerm hulle. Ware mans is in beheer, en nie slawe van hulle drange nie. Hulle moet die ander geslag op ’n eerbare wyse behandel soos hulle hulle eie moeder of suster, met eer en respek, sou behandel.—1 Timotheüs 5:1, 2.
Jy moet nooit toelaat dat jou kinders dié basiese Bybelbeginsel vergeet nie: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Korinthiërs 15:33). Jou kinders moet dus besef dat dit belangrik is om nie geselskap te hou met enigiemand wat ’n onsedelike lewe lei nie. Jy moet dit van kleins af by hulle inskerp dat hoewel ander dalk nie sien wat hulle doen nie, God altyd sien, en hy sal elkeen van ons na ons werke vergeld.—Romeine 2:6.
Hoe om ’n sedelike lewe in ’n onsedelike wêreld te lei
Hoewel wêreldse kenners kla dat hulle “nie eintlik weet hoe om ongetroude tieners te ontmoedig om geslagsomgang te hê nie”, weet Christenouers dat dit gedoen kan word. Deur liefde vir God en opregte eerbied vir sy wette by hulle kinders in te skerp, rus ouers hulle kinders toe om die versoekings van hierdie onsedelike wêreld te weerstaan en om ’n regskape, sedelike lewe te lei. ’n Groot gemeenskap van miljoene Getuies van Jehovah is merkwaardige handhawers van die hoë sedelike standaarde van God se Woord. Selfs die New Catholic Encyclopedia sê dat hierdie groep se “huweliks- en seksuele sedelikheid baie streng is”.—Deel 7, bladsy 864.
Jongmense onder Jehovah se Getuies wat ’n sedelike lewe lei, weet dat nie net hulle ouers nie, maar hulle mede-Christene oor die hele wêreld heen, vir hulle omgee en hulle waardeer. Hulle voel goed oor hulleself, neem deel aan gemeentelike vergaderinge, ontwikkel leervaardighede en het ’n aandeel aan Bybelopvoedingswerk. Hulle beoefen goddelike sedes, geniet positiewe gevoelens van eiewaarde en het die hoop op ’n rooskleurige toekoms in God se regverdige nuwe wêreld.—1 Johannes 2:17; Openbaring 21:3, 4.
[Venster op bladsy 9]
Met wie sal jy trou?
Die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gee uitstekende wenke oor hoe jongmense ’n moontlike huweliksmaat kan leer ken.a Dit toon hoe belangrik dit is om te weet wat die persoon se goeie sowel as sy swak punte is, watter soort mens hy dus eintlik is. Hoe kan jy dit doen?
Jy kan die persoon eerstens dophou. Hoe gedra hy hom? Hoe behandel hy ander mense? Hoe praat sy met haar ouers of ander gesinslede? Hierdie dinge is belangrik omdat dit ’n aanduiding is van hoe jy dalk in die toekoms behandel gaan word.
Deur terloopse gesprekke kan jy uitvind of sy of haar belangstellings en doelwitte met joune ooreenstem. Jy kan ook uitvind wat ander mense van hierdie persoon dink.
Jy sal wil weet watter soort mens hierdie persoon is, wat sy of haar gedagtes, idees en innerlike karakter is. Hoe tree hy op as hy onder druk verkeer? Wie is haar vriende? Uit watter soort gesin kom hy, en hoe behandel hulle mekaar?
As julle daaglikse take saam verrig, kan dit jou beter insig in die persoon se eienskappe gee. Laat genoeg tyd verloop sodat onaangename gewoontes te voorskyn kan kom. Dan, soos hierdie uitstekende boek oor jongmense sê wat hierdie goeie raad gevolg het, “kan hulle die huwelik betree met hulle oë wawyd oop en met die sekerheid dat hulle meningsverskille wat sal ontstaan, sal kan oplos. ’n Suksesvolle hofmakery het hulle vir ’n suksesvolle en gelukkige huwelik voorberei.”—Hoofstukke 29-32.
[Voetnoot]
a Hierdie boek word uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., die uitgewers van hierdie tydskrif.
[Prent op bladsy 7]
’n Aantreklike fisiese uiterlike kan indrukwekkend wees, maar goeie innerlike eienskappe is belangriker
[Prent op bladsy 8]
Dit is verstandiger om mekaar in openbare plekke te leer ken as om tyd alleen op afgesonderde plekke deur te bring