Die waarheid het my vrygemaak
MY PA is dood toe ek sewe was, en my arme ma moes ses kinders alleen grootmaak. Ons het in Johannesburg grootgeword. As jongmens het ek nie die geselskap van ander geniet nie. Jy sien, ek was skaam om te gesels omdat ek vreeslik gehakkel het.
Maar hierdie gebrek het my gehelp om ander vermoëns te ontwikkel. Op skool het ek dikwels die hoogste punte behaal wanneer ons klas opstelle geskryf het. Soms het die onderwysers selfs my opstelle aan ander klasse voorgelees. Hakkelry het ook nie my vermoë om te sing aangetas nie. By die huis het ek die meeste van my vrye tyd in die slaapkamer deurgebring terwyl ek die kitaar gespeel en gesing het.
Musiek was al waarin ek mettertyd belanggestel het. Ek wou bitter graag in ’n rockgroep speel en dit het my skoolwerk benadeel. Om die waarheid te sê, ek het die skool verlaat sonder om die basiese skoolopleiding te voltooi. Ek het ’n orkes gestig en ons het amper elke naweek by verskillende plekke in en om Johannesburg gespeel. Nie te lank nie of ek het my hare lank laat groei en begin om te veel te drink.
Ek onthou dat ons weke lank by ’n nagklub in Johannesburg gespeel het. Een van die werknemers, wat na ’n pragtige vrou gelyk het, het van my gehou en vir my drankies gekoop. Maar hoe het dit my tog gewalg toe ek uitvind dat hierdie persoon ’n man was wat hom soos ’n vrou aangetrek het! Ja, die nagklub het veral vir homoseksuele vermaak verskaf. Om ses aande per week by hierdie nagklub se program wat van 9:00 nm. tot 5:00 vm. geduur het te kon bly, het ons afhanklik geraak van hallusinogene dwelms.
Nadat ek vyf jaar lank in ’n orkes gespeel het, het iets gebeur wat my ernstig oor godsdiens laat begin dink het. ’n Katolieke priester het ons groep genooi om vir ’n jeugvereniging in sy kerksaal te speel. Daar was meer as 500 tieners teenwoordig, en die Katolieke priester was die kassier. Ons het regtig wilde musiek gespeel, en baie van die tieners was onder die invloed van alkohol. Maar dit was ’n ander groep tieners wat eintlik my aandag getrek het. Hulle het in groepies op die dansvloer gesit en dwelms omgestuur. Ek het begin wonder of God werklik bestaan.
Is daar ’n God?
In my soeke het ek die kerkdienste van die Sewendedag-Adventiste, Metodiste, Katolieke en ander kerke bygewoon. Maar ek het gevoel dat hulle my niks kan bied nie en ek het spoedig opgehou om hulle dienste by te woon. My gevoel van ontnugtering is bevestig deur iets wat een Sondagaand by ’n disko gebeur het. Die ligte was gedemp en die musiek was hard, en toe het ek die kroegman raakgesien—dit was die plaaslike Katolieke priester. Hy het ’n denim en ’n frokkie sonder ’n hemp gedra en daar was ’n groot kruis om sy nek. Ons het nie gedink dat hy enigsins ’n beter mens was as ons nie en ons het hom die hippiepriester genoem.
Ek het in Boeddhisme begin belangstel en het ’n klein Boeddha-beeldjie gekoop wat ek in my kamer langs my bed gesit het. Ek het elke dag voor die beeldjie gekniel en gesê: “O Boeddha, help my asseblief.” Ek het ook geglo dat die mens ’n astrale siel het wat met ’n silwer koord aan die liggaam verbind is en dat dit ’n mens in staat stel om deur die heelal na enige plek van sy keuse te reis.
Hierdie verkeerde opvatting oor die onsterflikheid van die siel het ’n uitwerking op ons musiek gehad. (Vergelyk Prediker 9:5, 10 en Esegiël 18:4.) Ek het liedjies onder die invloed van dwelms begin skryf. Die groep het geleer om my musiek te speel en ons het ’n professionele opname daarvan laat maak. Die opname het twee uur geduur en die liedjies het oor die lewe van ’n astrale reisiger gehandel. Een van die liedjies was oor Satan; dit het die godslasterlike idee bevorder dat die Duiwel magtiger as God is.
My obsessie met die okkulte en hallusinogene dwelms het my werklik benadeel. Ek het snags wakker geword en gesien hoe donker gedaantes in my kamer rondbeweeg. Ek was een aand so bang dat my arms lam geword het, en ek kon skaars beweeg terwyl ’n skrikwekkende voorwerp na my toe beweeg het. By ’n ander geleentheid het ek op my bed gelê toe vreemde voorwerpe skielik in die kamer verskyn het. Ek het begin wens dat ek my van hierdie slawerny kan bevry.
’n Dag wat my lewe verander het
Teen hierdie tyd was my broer Charles en sy vrou, Lorraine, reeds Getuies van Jehovah. Ek het dikwels Saterdagoggende met ’n dikkop wakker geword en ’n klein stukkie papier langs my bed gevind. Daarop het Charles ’n paar Bybeltekste neergeskryf wat betrekking gehad het op my eiesinnige lewenswyse.
Toe het Charles en Lorraine my een Sondag genooi om saam met hulle na ’n Bybeldrama te gaan kyk wat deur Getuies van Jehovah by hulle jaarlikse streekbyeenkoms in Pretoria opgevoer sou word. Omdat ek nuuskierig was oor die drama het ek besluit om te gaan. Wat ’n aangename verrassing was dit tog om so ’n groot skare netjiese mense te sien! Ek het die dag geniet, hoewel ek nie eers ’n tiende verstaan het van wat ek gehoor het nie. Dit het my beïndruk toe Charles my aan sy vriende voorstel en hulle my, ten spyte van my lang hare en onvanpaste kleredrag, hartlik verwelkom het. Reëlings is getref sodat ’n Getuie ’n Bybelstudie met my kon hou.
Die week daarna het ek die vergaderinge van Jehovah se Getuies by hulle Koninkryksaal bygewoon, pleks van na ons groep se oefensessies te gaan. Teen die einde van die week het ek besluit om die orkes te verlaat en my musiektoerusting te verkoop. Nadat die groep uitmekaar is, het ons besluit dat ek die oorspronklike band van ons opnames moes hou omdat ek al die liedjies geskryf en die musiek gekomponeer het. Ek kon nie die versoeking weerstaan om dit te hou nie. Ek het ook my akoestiese kitaar gehou en steeds die okkulte musiek gespeel wat ek onder die invloed van dwelms gekomponeer het.
Deur my voortgesette studie van die Bybel en bywoning van Christelike vergaderinge het ek met die verloop van tyd God se vereistes beter verstaan. Ek het spoedig besef dat ek aan die Christelike vergaderinge moes deelneem en die goeie nuus van huis tot huis as een van Jehovah se Getuies bekend moes maak as ek God wou behaag (Handelinge 5:42; Romeine 10:10). Die blote gedagte daaraan het my laat sidder. Ek het so vreeslik gehakkel dat ek ’n introvert geword het wat gewoonlik op ander staatgemaak het om namens my te praat.
Hakkelry het my nie teruggehou nie
By die vergaderinge het ek altyd vir myself gesê: ‘As ek maar soos ander kan antwoord.’ Ek hét uiteindelik, maar watter stryd was dit tog om daardie paar woorde uit te kry! Ná die vergadering het baie na my toe gekom en my geprys. Hulle het my laat voel soos ’n sokkerspeler wat so pas ’n doel aangeteken het. Ek het reeds die opregte liefde begin ervaar wat die kenmerk van die ware Christelike godsdiens is.—Johannes 13:35.
Die volgende hindernis wat ek moes oorkom, was toe ek by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit het en ’n leesgedeelte uit die Bybel voor ’n klein gehoor moes doen. Ek het só erg gehakkel dat ek nie die toewysing in die gegewe tyd kon voltooi nie. Ná die vergadering het die skoolopsiener my vriendelik praktiese raad gegee. Hy het voorgestel dat ek oefen deur hardop vir myself te lees. Ek het dit gedoen deur dag na dag my tyd te gebruik om hardop uit my Bybel en Die Wagtoring te lees. Die Teokratiese Bedieningskool het my genoeg selfvertroue gegee om die uitdaging te aanvaar om vreemdelinge in die bediening van huis tot huis te besoek. In Oktober 1973 is ek gedoop as simbool van my toewyding aan Jehovah God.
Ek breek finaal los van my verlede
Maar ek was nog ’n nuwe, onvolwasse Christen. Ek het byvoorbeeld, nadat ek op ’n koue Sondag aan die prediking van huis tot huis deelgeneem het, in my motor geklim en die vensters toegemaak. Terwyl ek die son se hitte geniet het, het ek na ’n kasset van die oorspronklike opname van my musiek geluister. Ek het terselfdertyd ook ’n oulike jong vrou, Debbie, wat voltyds aan die Getuieniswerk deelgeneem het, die hof begin maak. Eenkeer, terwyl ek na daardie kasset geluister het, het Debbie na die motor toe gekom, en ek het die kasset vinnig afgeskakel. In my hart het ek besef dat dié musiek nie paslik vir ’n Christen is nie.
Kort ná my en Debbie se troue het ons probleme begin ondervind. Ek het dikwels in die middel van die nag wakker geword omdat ek so gesweet en gebewe het. Ek het verskriklike nagmerries gehad waarin ek deur riviere bloed gesukkel het terwyl demone my jaag. My arme vrou het maande lank ’n moeilike tyd beleef as gevolg van hierdie demoonaanvalle. Hoewel Debbie nie ten volle bewus was van die inhoud van my musiek nie, het sy wel vermoed dat dit ’n slegte uitwerking op my het, en sy het dit ook vir my gesê. Maar ek het koppig volgehou: “Ek gaan hierdie kasset vir ewig as ’n aandenking hou.”
Ons het ook oor baie ander dinge gestry en dan het ek dikwels vir haar geskreeu. Aangesien ons so baie gestry het, was Debbie verstandig genoeg om die gemeentelike ouere manne om hulp te nader. ’n Ouere man het ons soms besoek en probeer om ons te help, maar wanneer die ouere man weg was, het ek weer eens vir Debbie kwaad geword. Ek was te trots om te erken dat ons hulp nodig gehad het en daarom het ek gesê: “Wie gee jou die reg om na die ouere manne toe te gaan en met hulle te praat? Dit is my verantwoordelikheid. Ek is die hoof van die huis.” Ja, ek het nie ’n gebalanseerde beskouing van hoofskap gehad nie. Dan was ek dae lank nukkerig en het ek nie met haar gepraat nie. Nou besef ek dat sy net haar man en haar huwelik probeer red het.
Toe het Debbie een aand met een van die ouere manne gepraat oor my kitaarspel en die soort musiek waarna ek geluister het. ’n Ouere man het my dus besoek en lank met my daaroor gepraat. Ek onthou dat hy vir my gevra het: “Het jy iets in jou huis wat moontlik die oorsaak van jou probleme kan wees?” Ek het uiteindelik openhartig met hom gepraat en hom van die kasset vertel, en ek het ook erken dat my gewete my daaroor pla.—1 Timotheüs 1:5, 19.
Daardie selfde aand nog, nadat die ouere man weg is, het ek besluit om van die kasset ontslae te raak. Ek en Debbie het dit na die agterplaas geneem en dit probeer verbrand, maar dit wou nie brand nie. Ons het dus ’n gat gegrawe en dit daarin begrawe. Ek het ook my kitaar verkoop. Ek het gedink: ‘As ek gaan wegbreek van verdorwe musiek moet ek dit geheel en al doen.’ En tot my verbasing het my nagmerries opgehou. Van toe af het dinge in ons huwelik geleidelik verbeter.
Die uitdaging om ’n openbare spreker te word
Hoewel die Teokratiese Bedieningskool my meer selfvertroue gegee het, het ek nog erg gehakkel. Ek wou só graag ’n toespraak in die gemeente hou sonder om te hakkel. Debbie het vriendelik voorgestel dat ek ’n spraakterapeut besoek. Ek het ingestem en het ongeveer vier maande lank een keer per week professionele hulp ontvang. Deur die terapie en die goeie raad van Jehovah se organisasie toe te pas, het ek vordering gemaak as ’n openbare spreker.
In 1976 het ek die voorreg gehad om as ’n ouere man in ons gemeente aangestel te word. Twee maande later het ek my eerste openbare toespraak van 45 minute gehou. ’n Paar jaar later het ek die voorreg gehad om my eerste toespraak op die program van ’n kringbyeenkoms te hou. Mettertyd het ek byna by elke kringbyeenkoms ’n toespraak gehou. Toe, in Desember 1990, het ek ’n hoogtepunt in my diens as ’n openbare spreker geniet. Ek het die voorreg gehad om ’n toespraak van 20 minute oor die Christelike gesinslewe te hou voor ’n gehoor van meer as vierduisend by die Engelse sessie van die “Suiwer Taal”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Johannesburg.
Ek moet voortdurend aan my hakkelprobleem werk. As ek dit nie doen nie, kan dit terugkeer en as ek eers begin hakkel, is dit baie moeilik om weer op te hou. Ek sukkel van tyd tot tyd nog ’n bietjie daarmee, maar my vertroue op Jehovah help my baie. Wanneer ek ook al na die verhoog toe loop om ’n toespraak te hou, bid ek tot Jehovah om hulp sodat ek kalm kan wees en die inligting goed kan aanbied. Maar ek wil net sê dat ek nog nooit vergeet het om Jehovah ná ’n toespraak nederig te bedank nie, want dit is met sy hulp dat ek dit kan doen.
Ek en Debbie is ook geseën met twee pragtige kinders, Pendray wat 15 is en Kyle wat 11 is. As gesin put ons baie vreugde uit ons deelname aan die bediening van huis tot huis. Die ywer wat Pendray en Kyle vir hierdie werk het, is vir my en Debbie ’n groot aanmoediging.
Wanneer ek terugdink aan my lewe is ek terselfdertyd bly en spyt. Ek is spyt oor die slegte invloed wat my musiek op ander gehad het, maar ek is bly dat ek die waarheid gevind het, opgehou het om verdorwe musiek te speel en daarin geslaag het om my hakkelprobleem te bowe te kom. Ek dink dikwels aan Jesus se woorde aan sy dissipels: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). Deur Jehovah se onverdiende goedheid was dit ook my vreugdevolle ondervinding.—Soos vertel deur William Jordaan.
[Prente op bladsy 26]
Debbie en William Jordaan vandag
Ek moet voortdurend hard werk aan my hakkelprobleem