Sal jy ’n dokter se advies volg?
WAT is ’n dokter se verantwoordelikheid ten opsigte van die gebruik van tabak? Bloot om dié wat aan rookverwante siektes ly te behandel? Dr. Louis Sullivan, sekretaris van die Departement van Gesondheid en Menslike Dienste van die Verenigde State, meen dokters behoort veel meer as dit te doen. Hy het onlangs in The Journal of the American Medical Association geskryf: “Geneeshere het die verantwoordelikheid om pasiënte in te lig aangaande die uitwerking wat rook op hulle gesondheid het, om pasiënte wat nie rook nie te help om nie te begin rook nie en om rokers te help om die gewoonte af te leer.”
Waarom behoort dokters so betrokke te raak by hulle pasiënte se lewens en keuses? Dr. Sullivan erken: “Om te rook is ’n keuse, maar dit is ’n slegte keuse.” Hy lewer onomstootlike bewyse: “Bykans 400 000 Amerikaners sterf elke jaar as gevolg van die rookgewoonte; dit is meer as 1000 mense per dag, wat meer as een uit elke ses sterfgevalle in ons land uitmaak. Daar sterf elke jaar meer Amerikaners aan siektes wat deur rook veroorsaak word as wat daar in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het.”
Met verwysing na vroue haal dr. Sullivan verdere verontrustende bevindinge aan: “Longkanker het borskanker oortref as die algemeenste doodsoorsaak van kanker by vroue. Die risiko van ’n hartaanval is drie keer so groot by vroue wat rook as by dié wat nooit gerook het nie, en swak gesondheid en die dood as gevolg van emfiseem en ander rookverwante siektes staar vroulike rokers in die gesig. Vroue wat tydens hulle swangerskap rook, loop ’n groter risiko om miskrame te hê, asook babas wat by geboorte min weeg en kinders wat tydens hul kleuterjare sterf.”
Dr. Sullivan het daarop gewys dat daar ten spyte van hierdie ontstellende feite nog steeds aansienlike druk op mense is om te rook. Hy bestempel sigaretadvertensies wat minderheidsgroepe hul teikens maak as “veragtelik”. Hy spreek ook sy ontsteltenis uit oor die listige gebruik van jong, aantreklike modelle in vrolike, sonnige tonele wat aan jongmense te kenne gee dat dit gesond en aantreklik is om te rook. As rooksyfers onveranderd bly, kan dit in werklikheid beteken dat vyfmiljoen kinders wat vandag lewe aan rookverwante siektes sal sterf. “Dit”, spoor dr. Sullivan sy mededokters aan, “is ’n ramp wat ons moet voorkom.”
Of dokters wel hierdie ramp sal voorkom, bly te betwyfel. Soos dr. Sullivan sê: “Ongelukkig hou party geneeshere aan rook en stel hulle ’n swak voorbeeld vir hulle pasiënte en personeel en dra hulle ’n antigesondheidsboodskap oor aan almal wat hulle ken.”