Kardinale verduidelik waarom Katolieke die kerk verlaat
“DIE opkoms en verspreiding van die sektes of nuwe godsdiensbewegings is ’n opvallende verskynsel in die godsdiensgeskiedenis van ons tyd. Hulle gaan met aansienlike ywer te werk”, het kardinaal Francis Arinze van Nigerië gesê aan ’n spesiale vergadering van hooggeplaaste Katolieke geestelikes wat in April 1991 in die Vatikaan gehou is. Die Vatikaanse Engelse weeklikse uitgawe van L’Osservatore Romano het hieroor verslag gedoen. Kardinaal Ernesto Corripio Ahumada, aartsbiskop van Mexikostad, was meer spesifiek in sy toespraak. Hy het aangaande die verspreiding van nuwe godsdiensgroepe gesê: “Die wydverspreidste pseudo-Christelike sektes is Jehovah se Getuies en die Mormone.” Kardinaal Angel Suquía Goicoechea, aartsbiskop van Madrid, Spanje, het Jehovah se Getuies onder diegene genoem wat “in die meeste lande wortelgeskiet het”.a
Waarom behaal hierdie groepe welslae in lande en gebiede wat oorwegend Katoliek is? Verskeie kardinale het ’n hele paar redes aan die hand gedoen. Kardinaal Ricardo J. Vidal, aartsbiskop van Cebu, Filippyne, het gesê: “Die doeltreffendste manier om dit te doen, is blykbaar ’n direkte aanval op Katolieke leerstellings en gebruike, veral op Maria-verering, die gebruik van beelde, die kultus van die heiliges, die sakrament van die belydenis, die reël van die priesterselibaat, ens.”
Dit is ’n interessante opmerking in die lig van die feit dat nie een van hierdie gebruike deur die eerste-eeuse Christene ingestel is nie.b Die kardinaal se erkenning klink baie soos ’n verklaring deur ’n ander Katolieke prelaat, kardinaal Newman, wat in 1878 geskryf is: “Die gebruik van tempels en die toewyding daarvan aan sekere heiliges . . . , dankoffers . . . , heilige water . . . , en later beelde . . . is almal van heidense oorsprong, en geheilig deur hulle opneming in die Kerk.”
Watter ander redes het die kardinale gegee vir die sogenaamde kwetsbaarheid van hulle kuddes? Kardinaal Vidal het gesê dat een rede “die gebrek aan priesters is wat op ’n persoonlike manier in die behoeftes van die getroue Katolieke kan voorsien. Dit is dus geen wonder nie dat baie van ons bisdomme wawyd oop is vir die proselitisme van die sektes.” Maar waarom die tekort aan priesters? ’n Hoofoorsaak is die onskriftuurlike selibaatvereiste wat sedert die 12de eeu aan priesters in die hele Latynse kerk opgelê is. Selfs die Katolieke Jerusalem Bible sê in 1 Timotheüs 4, verse 1 en 3: “Die Gees het uitdruklik gesê dat daar in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word . . . Hulle sal sê dat dit verbode is om te trou.”—Vergelyk 1 Korinthiërs 9:5; 1 Timotheüs 3:1, 2.
Watter oplossing het kardinaal Vidal aan sy medeprelate gebied vir die probleem van Katolieke wat die kerk verlaat? “Daar is die uitdaging om die geskrewe Woord van God te lees en te bestudeer, daaroor te bid en dit uit te leef.” En dit is presies wat Jehovah se Getuies alle opregte mense aanmoedig om te doen, ongeag hulle sosiale of godsdiensagtergrond. Dit is waarom hulle so ywerig is om “hierdie evangelie van die koninkryk . . . in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” te verkondig, voordat God ’n einde maak aan hierdie wêreld wat deur Satan beheer word. As jy graag ‘die geskrewe woord van God wil lees en bestudeer’, kan jy gerus met Jehovah se Getuies by hulle plaaslike Koninkryksaal in aanraking kom.—Mattheüs 24:14; 1 Johannes 5:19.
[Voetnote]
a In 1991 was daar meer as 320 000 bedrywige Getuies in Mexiko, meer as 88 000 in Spanje en 180 000 in Italië.
b Vir die Bybelse beskouing van al hierdie Katolieke gebruike sien Redenering uit die Skrif, bladsye 286, 56, 182, 61, 44, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.