Ek het ver van die huis af belowe om God te dien
DIE vallende ysreën en sneeu het ons gesig gebrand. Die yskoue wind het nou in ’n storm verander. Ons vragmotorbestuurders het geweier om verder te ry. “Almal uit en loop!” Die kortaf bevel is só gegee dat nie een van ons dit gewaag het om te weier nie. Ons het dus die laaste sowat drie kilometer teruggestap na ons kamp in Siberië—ellendig, vol heimwee en koud.
Daar was ongeveer 150 van ons—almal Duitse gevangenes wat deur ses Russiese wagte bewaak is. Die genadelose storm was so erg dat ons heeltemal vooroor in die wind moes leun. Die sig was so sleg dat ons niks verder as vyf mans voor ons kon sien nie. Die stormagtige teenwind het van tyd tot tyd skielik gaan lê, wat ons vooroor op ons gesig laat val het!
Ons het uiteindelik, heeltemal uitgeput, by die kamp aangekom. Dit was daardie nag in Siberië, terwyl die temperatuur 50 grade Celsius onder vriespunt was, dat ek God belowe het om ’n manier te vind om hom te dien as ek ooit weer terug in Duitsland kom.
Probleme in oorlogstyd
Ek is in 1928 in Berlyn, Duitsland, gebore. Toe ek omtrent tien was, het ek by die Hitler-jeugbeweging aangesluit. Later wou Ma hê dat ek in die kerk aangeneem moet word, en sy het my dus godsdiensonderrigklasse laat bywoon. Sy is ongelukkig net twee dae voor my aanneming oorlede. Ek was baie eensaam en het begin om dikwels so goed ek kon te bid en met God oor my probleme te praat.
Die Tweede Wêreldoorlog het vererger, en daar was feitlik elke dag en elke nag lugaanvalle in Berlyn. Die wrede patroon van die lugaanvalle het behels dat bomwerpers tydens die eerste lugaanval oor die stad gevlieg het en brandbomme, wat gewoonlik vol fosfor was, afgegooi het. Dan, wanneer mense—hoofsaaklik vroue en kinders—hulle skuilplekke verlaat het om die vure te blus, is hulle in die volgende lugaanval in stukkies geskiet wanneer die bomwerpers hulle groter bomme, wat vol plofstowwe was, op die onbeskermde mense afgegooi het.
Een winter het die Britse lugmag tydbomme afgegooi wat vooraf gestel is sodat dit nie sou ontplof wanneer dit die grond tref nie maar dat dit om 7:00 nm. op 24 Desember sou ontplof. Hulle het geweet dat gesinne daardie aand voor Kersfees bymekaar sou wees. Die vraag het heeltyd deur my kop gemaal: ‘Waarom laat God toe dat sulke verskriklike dinge gebeur?’
Ek het in 1944 besluit om by die leër aan te sluit. Maar tydens my finale mediese ondersoek het hulle vir my gesê dat ek nog nie sterk genoeg was vir militêre diens nie en dat ek oor ses maande moes terugkom. Uiteindelik, in Maart 1945, is ek vir militêre diens opgeroep, maar ek het besluit om my nie aan te meld nie.
Baie moeilike tye begin
Kort daarna, in Mei 1945, het die Tweede Wêreldoorlog geëindig. Pa was ’n krygsgevangene, en die Sowjetleër het ons deel van Berlyn beset. Gedurende die daaropvolgende maande moes ons vir die besettingsmagte werk deur masjinerie en ander toerusting van ’n chemiese fabriek te verpak sodat dit na Rusland gestuur kon word. Dit het my die geleentheid gegee om ’n paar Russe te leer ken. Ek het tot my verbasing agtergekom dat hulle mense net soos ons is, wat geglo het dat hulle vir vryheid en ’n beter wêreld veg.
Op 9 Augustus 1945, omstreeks twee-uur die middag, het ’n motor voor ons huis stilgehou. Twee Russiese soldate en ’n burger het uitgeklim en het my, nadat hulle gevra het wie ek is, in die motor ingestamp. ’n Aantal ander jeugdiges is ook daardie dag aangekeer. Ons is almal uiteindelik na ’n nabygeleë voorstad geneem. Die meeste van ons is daarvan beskuldig dat ons lede is van die Werwolf-organisasie, waarvan nie een van ons al ooit gehoor het nie.
Een van die jonger seuns het beweer dat ek die adresse van ander jeugdiges geken het. Ek het dit ontken en is dus saam met die jong informant in ’n donker, nat kelder gegooi. Afgesonderd in die kelder—koud en baie eensaam—het trane oor my wange gerol terwyl ek gekniel en tot God gebid het. Gebed het altyd gehelp. Trouens, toe ek daardie aand uit die sel gehaal is en weer by die res van die ouens kon aansluit, het baie kommentaar gelewer oor my blymoedige gesindheid ten spyte van dit wat ek kort gelede deurgemaak het.
’n Week of twee daarna het ons na die dorpie Cöpenick, nie ver daarvandaan nie, gemarsjeer. Daar is ons gedwing om buitekant op die harde grond te sit. Dit het begin reën. Uiteindelik is die seuns vyf-vyf op ’n keer in die huis ingeroep. Ons het die gille gehoor van diegene wat voor ons ingegaan het, en gesien hoe hulle al bloeiende uitkom en hulle broeke vashou. Hulle gordels is weggeneem en die boonste knope van hulle broeke is afgeruk sodat dit sou afval as dit nie met die hand vasgehou is nie. Toe ons groep ingegaan het, het ons geweet dat iets verskrikliks op ons wag.
Ek het nie ’n gordel nie, maar ’n paar kruisbande gedra. Toe die sersant dit sien, het hy dit van my broek afgeruk en my daarmee in die gesig begin slaan. Terselfdertyd het twee ander soldate my geskop en geslaan. My mond en neus het verskriklik gebloei. As ander soldate my nie weggeruk het nie, sou hulle my waarskynlik doodgemaak het.
Ons is weer in kelders gegooi en is toegelaat om net een keer elke oggend na die toilet toe te gaan. Ons het net twee minute gehad om dit te gebruik. Enigiemand wat dit gewaag het om langer te bly, het die gevaar geloop om in die put van menslike uitskeiding ingestamp te word. Een arme siel het verdrink toe hy daar ingestamp is.
My situasie verbeter
Na vier dae is ons op vragmotors gelaai en na ’n kamp in Hohen-Schönhausen geneem. Daar was ongeveer 60 van ons wat tussen 13 en 17 was, asook ongeveer 2000 volwassenes. Poolse gevangenes moes die sop uitdeel, en hulle het gesorg dat ons jongeres altyd eerste bedien is.
Toe, op 11 September 1945, baie vroeg in die oggend, het ons na die Sachsenhausen-konsentrasiekamp begin marsjeer wat ongeveer 50 kilometer daarvandaan was. Diegene wat gedurende die mars gesterf het, sowel as diegene wat te swak was om te loop, is op ’n perdewa gegooi. Die middag het dit begin reën. Laat die aand het ons uiteindelik, papnat, koud en uitgeput, die hekke van een van die sykampe bereik. Die volgende dag moes ons na die hoofkamp marsjeer. Daar moes tweehonderd mense in elke barak woon.
Nie ver van Sachsenhausen af nie, was daar ’n groot voedselbewaarplek in die dorp Velten. Gevangenes het daar koring en ander voedselsoorte op treine gelaai wat na Rusland gegaan het. Nadat ek ’n rukkie daar gewerk het, is ek gekies om as besteljonge te werk. Dit was my taak om die resultate van mediese toetse van die Russiese kamp na die laboratorium ’n ent daarvandaan te neem. Wat ’n aangename verandering!
Ek het ’n kamer met ’n ander besteljonge en ’n Russiese manlike verpleër gedeel. Ons het elke dag skoon lakens gekry en soveel komberse as wat ons wou hê. Ons kos was baie beter, en ons kon gaan waar ons wou. Ek en die ander besteljonge het dus begin om die gronde te verken van dit wat eers die Sachsenhausen-konsentrasiekamp was wat deur die Nazi’s gebruik is.
Ons het na die gaskamers en die verbrandingsoonde aan die ander kant van die kamp gaan kyk. Ek kon skaars glo wat die Nazi’s gedoen het. Ek was geskok. Hoewel ek self nie sleg behandel is nie, het honderde Duitse mede-gevangenes elke dag in die hoofkamp gesterf. Hulle liggame is op waens gegooi en na massagrafte in die woud weggeneem.
Ons het eendag ’n skryfbord gevind met ’n lys van die verskillende gevangenes wat gedurende Hitler se tyd in die konsentrasiekamp was. Onder dié op die lys was Jehovah se Getuies. Min het ek geweet dat ek self eendag die voorreg sou hê om een van Jehovah se Getuies te word.
Nog slegte behandeling
Die beter toestande wat ek geniet het, het nie lank geduur nie. ’n Offisier het my voorgekeer en gevra waarom ek van die mediese voorrade misbruik het. Hoewel ek vir hom gesê het dat ek niks weet van dit waarvan hy my aankla nie, het hy my nie geglo nie en is ek alleen opgesluit. Hoewel dit winter was, het ek baie min kos en geen komberse in die klein sel gekry nie. Toe skielik, op die 11de dag, is ek uitgelaat.
Ek was verbaas toe die jong soldaat wat by die hoofkamp se hek aan diens was my hartlik verwelkom het toe ek teruggestap het. Hy was voorheen baie koud teenoor my. Maar nou het hy sy arm om my gesit en in gebroke Duits gesê dat sy ouers deur die Gestapo doodgemaak is en dat hy in Duitse konsentrasiekampe was. Hy het gesê hy weet ek is onskuldig.
Kort hierna is die gesondste van ons gevangenes gesê dat ons gestuur sou word om iewers anders te gaan werk. Op 30 Januarie 1946 is ons op ’n trein gelaai waarvan die waens twee onafgewerkte rakke, die een bo die ander, gehad het. Daar was 40 gevangenes in elke wa, wat beteken het dat dit baie beknop was op die rakke. Dit was moeilik om snags te slaap, want wanneer een persoon omgedraai het, moes almal saam met hom omdraai.
Daar was allerhande gerugte oor ons bestemming, maar hulle was almal verkeerd. By ons eerste halte het nog 500 gevangenes van ’n ander kamp by ons aangesluit. Van toe af het ons ’n daaglikse rantsoen van ’n bietjie droë, harde brood, ’n gesoute haring en ’n bietjie warm sop gekry. Elke tweede dag het ons ’n klein koppie tee gekry. In ’n poging om hulle dors te les, het die meeste van die mans die mure van die treinwaens gelek wat met ys bedek was. Toe ons by die buitewyke van Moskou aangekom het, het ons gestort en is ons ontluis. Ek dink ek het daardie dag ’n hele emmer water gedrink.
Op pad na Siberië!
Op 6 Maart 1947 het ons in Prokopjefsk, Siberië, aangekom. Die burgerlike bevolking van die stad was ’n vermenging van mense uit baie dele van die Sowjetunie. Daar was orals diep sneeu, in party plekke so hoog soos die heinings. Die barakke is halfpad in die grond ingebou om beskerming teen die yskoue winter te bied. Dit was gedurende ons verblyf hier dat ’n groep van ons die lewensgevaarlike ondervinding gehad het wat ek aan die begin beskryf het.
Die eerste jaar in Siberië was moeilik. Die kamp is erg deur disenterie getref. Baie het gesterf. Ek het ook baie siek geword en het op een tydstip gedink dat ek nie sal herstel nie. Een voordeel vir ons in die kamp was dat ons ons daaglikse rantsoen brood ontvang het, terwyl die meeste van die Russe wat in Prokopjefsk gewoon het ure lank in die koue moes staan, en dan het die kosvoorraad partykeer opgeraak voordat hulle enigiets kon kry.
In die herfs van 1949 het ’n kommissie van regterlike offisiere van Moskou af gekom om ons eerste verklarings na te gaan en te besluit wat om met ons te doen. ’n Jong patriotiese offisier, wat blykbaar alle Duitsers gehaat het, het my ondervra. Ek was dankbaar dat ek nie tronkstraf opgelê is nie. Die van ons wat nie tronkstraf opgelê is nie, is na Stalinsk geneem, wat nou Nowokoeznetsk genoem word, waar ons opdrag gekry het om aan die bou van ’n kragstasie te werk.
Uiteindelik terug by die huis!
Uiteindelik, in Maart 1950, is ons na Duitsland teruggestuur, en op 28 April is ek uiteindelik weer met my gesin verenig. Hoewel dit ’n groot vreugde was om weer by die huis te wees, was dit nie die einde van my probleme nie. Aangesien ek ’n kort rukkie by die Hitlerjeug betrokke was, het die Oos-Duitse Kommunistiese owerheid my soos ’n Nazi-ondersteuner behandel en my net van die helfte van die normale kos- en klererantsoen voorsien. Nadat ek net drie weke lank tuis was, het ek dus van Oos-Berlyn na Wes-Berlyn verhuis.
Maar ek het nie my belofte vergeet dat ek ’n manier sou vind om God te dien as ek ooit weer terug in Duitsland kom nie. Ek het dikwels voor ’n kerk gaan staan, maar ek kon myself nie sover kry om in te gaan nie. Godsdiens het my teleurgestel, en ek het dus besluit om net aan te hou om privaat tot God te bid en hom te vra om my ’n manier te wys waarop ek hom kon dien.
Mettertyd het ek met Tilly getrou, en ons het ’n seun, Bernd, gehad. Toe, in die lente van 1955, het ’n werkmaat wat ’n Getuie van Jehovah was met my oor God begin praat. Maar ek het gou kontak met hom verloor toe ons die land skielik verlaat het. Ek het vroeër aansoek gedoen om na Australië te immigreer. Ons moes skielik vertrek as gevolg van ’n telegram waarin ons meegedeel is dat ons aansoek aanvaar is en dat ons gereed moet wees om binne drie dae van Bremerhaven af te vaar.
’n Nuwe land, ’n nuwe lewe
Ons het ons uiteindelik in Adelaide gevestig. Hier het ’n Duitssprekende Getuie ons aan die einde van 1957 besoek. Ons was verheug! Ons het gou goeie vordering met ons gereelde Bybelstudie gemaak. Maar om die waarheid te sê, na alles wat ek en Tilly deurgemaak het, was vryheid van verdrukking vir ons die belangrikste. Noudat ons in sonnige Australië was, het ons so vry soos voëls gevoel en dit baie geniet. Maar ons het gou uitgevind dat daar selfs hier vorme van verdrukking, ekonomiese probleme en ander vorme van lewensdruk is.
Hoe dankbaar was ons tog om uit te vind wat die grondliggende rede daarvoor is. “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose”, sê die Bybel (1 Johannes 5:19). Daarom sou daar probleme gewees het in watter land ons ook al gewoon het. Ons was ook verheug om uit te vind wat die gebed beteken wat ek so dikwels opgesê het: “Laat u koninkryk kom.” Ons het geleer dat God se Koninkryk ’n werklike regering, ’n hemelse regering, is en dat Christus Jesus in 1914 die troon as Koning van daardie Koninkryk bestyg het. Hoe aangrypend was dit tog om te leer dat die Koninkryk van God reeds tot handeling oorgegaan het—dat dit Satan en sy demone uit die hemele neergewerp het en dat die aarde binnekort, gedurende die groot verdrukking, van alle goddeloosheid gereinig sal word!—Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 12:12.
“Dit is die manier”, het ek gesê. Ek het nou geweet hoe om my belofte aan God te hou. Ek het dus op 30 Januarie 1960 begin om my belofte om God te dien te vervul deur gedoop te word as ’n simbool van my toewyding aan hom, en Tilly het haar saam met my as ’n Christen aan God toegewy.
Ons geniet nou al meer as 30 jaar lank verskeie seëninge in God se diens. Bernd het nou ’n gesin van sy eie, en hy dien ook as ’n ouere man in die Christengemeente. In 1975 het ons ons huis verkoop sodat ons vry kon wees om te verhuis en te dien waar daar ook al Getuies nodig was om die goeie nuus te verkondig. Toe, in 1984, het ek die aanbod aanvaar om as opsigter van die Adelaide-byeenkomssaal van Jehovah se Getuies te dien.
Hoe verheug is ek en my vrou tog dat ek die belofte aan God kon nakom wat ek meer as vier dekades gelede ver van die huis af in Siberië gemaak het. Ons glo nederig dat die geïnspireerde spreuk baie kere in ons geval bewaarheid is: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak” (Spreuke 3:6).—Soos vertel deur Gerd Fechner.
[Prent op bladsy 23]
By my vrou, Tilly