Liefde met die eerste oogopslag—en vir altyd daarna!
“AS JY babas ná hulle geboorte dophou”, merk dr. Cecilia McCarton van die Albert Einstein College of Medicine in New York op, “is hulle wawyd wakker en bewus van wat om hulle gebeur. Hulle reageer op hulle moeders. Hulle draai na geluide. En hulle kyk stip na hulle moeder se gesig.” En die moeder maak oogkontak met haar baba. Dit is liefde met die eerste oogopslag—vir hulle albei!
Hierdie oomblik van binding tussen moeder en baba gebeur natuurlik in die geval van ’n natuurlike geboorte, sonder verdowingsmiddels wat die moeder en die baba se sinne verdoof. Sy gehuil stimuleer haar melkproduksie. Die aanraking van sy vel teen hare laat haar ’n hormoon afskei wat haar nageboortelike bloeding verminder. Die kind word gebore met programme in die brein wat verseker dat hy aan sy moeder geheg sal raak—hy huil, suig, brabbel en koer, glimlag en skop ekstaties om sy moeder se aandag te trek. Gehegtheid, veral aan die moeder, maak dit vir die baba moontlik om ’n gevoel van liefde en gehegtheid en vertroue te ontwikkel. Kort daarna word die vader belangrik as ’n figuur waaraan hy geheg raak. Sy verhouding het nie die intimiteit van die moeder s’n nie, maar dit voeg ’n belangrike aspek by: hy speel met die baba, kielie hom en karnuffel hom saggies, en die baba reageer daarop deur opgewonde te lag en te kriewel.
Dr. Richard Restak meld dat om vasgehou en geliefkoos te word vir ’n pasgebore baba soos ’n voedingstof is. “Aanraking”, sê hy, “is net so noodsaaklik vir die normale ontwikkeling van die baba soos voedsel en suurstof. Die moeder neem die baba in haar arms, druk hom teen haar vas, en ’n menigte psigobiologiese prosesse word met mekaar in harmonie gebring.” Met hierdie behandeling verander selfs die brein se “fisionomie van bulte en groewe”.
Koester die gehegtheid
Party mense het al gesê dat ’n tragedie voorlê as hierdie binding tussen die moeder en die baba nie by geboorte plaasvind nie. Dit is nie so nie. Met liefderyke moedersorg is daar honderde intieme oomblikke in die daaropvolgende weke wat binding verseker. Die afwesigheid van sulke intimiteit oor ’n langer tydperk kan egter ernstige gevolge hê. “Hoewel ons almal mekaar deur ons hele lewe nodig het”, vertel dr. Restak ons, “is hierdie behoefte die grootste in die eerste jaar. Ontneem ’n baba van lig, die geleentheid om na ’n mens se gesig te staar, die plesier om opgetel, vertroetel, oor gekoer te word, dat ’n ophef van hom gemaak word of om aangeraak te word—en die baba verdra nie sulke verwaarlosing nie.”
Daar is baie redes waarom babas huil. Gewoonlik wil hulle aandag hê. As daar ná ’n ruk nie op hulle gehuil gereageer word nie, hou hulle dalk op. Hulle voel dat die een wat vir hulle sorg, nie reageer nie. Hulle huil weer. As daar steeds geen reaksie is nie, voel hulle afgeskeep, onveilig. Hulle probeer harder. As dit langer aanhou en dikwels herhaal word, voel die baba verlate. Eers is hy kwaad, selfs woedend, en eindelik laat vaar hy dit. Die gehegtheid gaan tot niet. As hy nie liefde ontvang nie, leer hy nie om lief te hê nie. Die gewete is onontwikkeld. Hy vertrou niemand nie en gee vir niemand om nie. Hy word ’n probleemkind en, in uiterste gevalle, ’n psigopaat wat nie in staat is om spyt te hê oor kriminele dade nie.
Liefde met die eerste oogopslag is nie die einde daarvan nie. Dit moet vir altyd voortduur. Nie net in woorde nie maar ook in dade. “Laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid” (1 Johannes 3:18). Baie drukkies en soentjies. Leer hulle sommer vroeg, voor dit te laat is, die onvervalste waardes van God se Woord, die Bybel, en onderrig hulle daarin. Dan sal dit met jou kinders wees soos wat dit met Timotheüs was: “Jy [ken] van kleins af die heilige Skrifte . . . wat jou wys kan maak” (2 Timotheüs 3:15). Bring gedurende hulle kinder- en tienderjare daagliks tyd saam met hulle deur. “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.”—Deuteronomium 6:6, 7.
‘Ons huil dalk, maar dis vir ons beswil’
Dissipline is vir baie ’n netelige kwessie. Wanneer dit egter behoorlik toegedien word, is dit ’n onontbeerlike deel van ouerliefde. Een dogtertjie het dit erken. Sy het vir haar ma ’n kaartjie gemaak en dit geadresseer “Aan Mamma, aan ’n gawe tannie”. Dit was met kryttekeninge van ’n goue son, voëls wat vlieg en rooi blomme versier. Die kaartjie het gelui: “Hierdie is vir Mamma omdat ons almal lief is vir Mamma. Ons wil ’n kaartjie maak om te wys ons is dankbaar. Wanneer ons slegte punte kry, teken Mamma ons toets. Wanneer ons stout is, slaan Mamma ons. Ons huil dalk, maar ons weet dis vir ons beswil. . . . Ek wil net sê dat ek baie, baie lief is vir Mamma. Baie dankie vir alles wat Mamma vir my doen. Liefde en soentjies. [Geteken] Michele.”
Michele stem saam met Spreuke 13:24: “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” Die gebruik van die roede, wat gesag verteenwoordig, beteken dalk ’n pak slae, maar baie keer nie. Verskillende kinders, verskillende oortredings verg verskillende vorme van dissipline. ’n Vriendelike berisping kan voldoende wees; koppigheid vereis dalk fermer optrede: “’n Berisping gaan by ’n verstandige dieper in as om ’n dwaas honderd maal te slaan” (Spreuke 17:10). Hierdie woorde is ook toepaslik: “Met woorde laat ’n slaaf [of ’n kind] hom nie waarsku nie; want hy verstaan dit wel, maar hy steur hom daar nie aan nie.”—Spreuke 29:19.
In die Bybel beteken die woord “dissipline” onderrigting, opleiding, tugtiging—wat ’n pak slae insluit as dít nodig is om gedrag te verbeter. Hebreërs 12:11 toon die doel daarvan: “Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ’n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ’n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” Ouers se dissipline moenie oordrewe streng wees nie: “Vaders, moenie julle kinders terg nie, sodat hulle nie moedeloos word nie” (Kolossense 3:21). Hulle moet ook nie oordrewe toegeeflik wees nie: “Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande” (Spreuke 29:15). Permissiwiteit sê: ‘Doen wat jy wil; moenie my pla nie.’ Dissipline sê: ‘Doen wat reg is; ek gee vir jou om.’
U.S.News & World Report, 7 Augustus 1989, het tereg gesê: “Dit is baie waarskynliker dat ouers wat nie vir alles swaar straf uitdeel nie maar wat vaste perke stel en daarby bly, kinders sal grootmaak wat goed presteer en wat goed met ander oor die weg kom.” Die slotsom van die artikel was: “Die treffendste tema wat uit al hierdie wetenskaplike gegewens te voorskyn kom, is seker dat dit van die grootste belang is dat ’n patroon van liefde en vertroue en aanvaarbare perke in elke gesin ingestel word en dat ’n klomp tegniese besonderhede nie werklik saak maak nie. Die ware doel van dissipline, ’n woord wat van dieselfde Latynse grondwoord as dissipel afgelei is, is nie om weerbarstige kinders te straf nie, maar om hulle te leer en te lei en hulle te help om innerlike perke by hulle in te prent.”
Hulle hoor wat jy sê, maar hulle doen wat jy doen
’n Artikel oor dissipline in The Atlantic Monthly het met hierdie woorde begin: “’n Mens kan verwag dat ’n kind hom goed gedra slegs as sy ouers leef volgens die waardes wat hulle die kinders leer.” Die artikel het verder die waarde van innerlike perke getoon: “Tieners wat hulle goed gedra, het dikwels ouers wat self verantwoordelik, eerlik en gedissiplineerd is—wie se lewe strook met die waardes wat hulle voorstaan en wat hulle kinders aanmoedig om hulle voorbeeld te volg. Toe die goeie tieners, as ’n deel van die ondersoek, aan probleemtieners blootgestel is, was daar nie ’n permanente uitwerking op hulle gedrag nie. Hulle ouers se waardes was te diep by hulle ingeskerp.” Dit is soos die spreuk sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:6.
Ouers wat probeer het om onvervalste waardes by hulle kinders in te skerp, maar wat self nie daarvolgens lewe nie, het geen sukses gehad nie. Hulle kinders “kon nie daardie waardes deel van hulle maak nie”. Die studie het bewys dat “die mate waarin die ouers self die waardes toepas wat hulle hulle kinders probeer leer die deurslaggewende faktor is”.
Dit is soos die skrywer James Baldwin gesê het: “Kinders het nog nooit baie goed na hulle ouers geluister nie, maar hulle het hulle nog altyd nagevolg.” As jy jou kinders liefhet en jy hulle die beste waardes wil leer, moet jy die heel beste metode gebruik: Wees jy die voorbeeld van jou eie onderrigting. Moenie soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs wees wat deur Jesus as huigelaars veroordeel is nie: “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie” (Mattheüs 23:3). Of soos diegene aan wie die apostel Paulus beskuldigend hierdie vrae gestel het: “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy?”—Romeine 2:21.
Baie mense beskou die Bybel vandag as uitgedien en sy riglyne as onprakties. Jesus het daardie standpunt betwis met hierdie woorde: “Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders” (Lukas 7:35). Die volgende verhale van gesinne uit baie lande bewys dat hierdie woorde waar is.
[Prent op bladsy 7]
’n Hegte band met die moeder help die baba om emosioneel te ontwikkel
[Prent op bladsy 8]
Die vader se tyd saam met die kind is ook onmisbaar