Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 6/22 bl. 5-8
  • Kan die breuk geheel word?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan die breuk geheel word?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Versperrings op die weg na ’n ooreenkoms
  • Waarom ooreenkoms gedoem is
  • Sien die werklike kwessie onder die oë
  • Die ware feite
  • ’n Nuwe era vir Jode en Christene?
    Ontwaak!—1991
  • Judaïsme—’n Soeke na God deur geskrifte en tradisie
    Die mensdom se soeke na God
  • Waarom het die Nazi-slagting plaasgevind? Waarom het God nie ’n einde daaraan gemaak nie?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Jehovah se Getuies en die Nazi-slagting – Wat sê die Bybel?
    Nog onderwerpe
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 6/22 bl. 5-8

Kan die breuk geheel word?

DIE skeuring tussen Jood en Christen lê dieper as die Nazi-Slagting. Van die staanspoor af het hierdie twee gelowe met mekaar verskil oor ’n sentrale kwessie: of Jesus van Nasaret die beloofde Messias was of nie.

In die eerste eeu het die Messiaanse kwessie gewelddadige vervolging van die Christene tot gevolg gehad (Handelinge 8:1). Later het die situasie egter omgekeer. Mettertyd het voorgewende Christene die Jode begin vervolg. Maar ondanks die Christendom se beste pogings om die Jode oor ’n tydperk van eeue te bekeer, het die Joodse volk in die geheel nie van hulle oorspronklike standpunt afgewyk nie.

Een Joodse skrywer het gesê hoewel die Jode niks teen Jesus as persoon het nie, hy “gewis nie die politieke Messias is . . . wat ons en ons voorvaders so vurig begeer het nie”. Rabbi Samuel Sandmel het dit meer ronduit gestel: “Ons het nie tot dieselfde oortuiging as julle [Christene] gekom nie; dit is só eenvoudig” (We Jews and You Christians). As gevolg van hierdie meningsverskil is daar ’n godsdienskloof tussen Jode en Christene wat baie wyer is as wat die meeste mense besef.

Versperrings op die weg na ’n ooreenkoms

Aan die een kant laat die Christelike leer hoegenaamd geen ruimte vir ’n weg tot redding sonder Jesus nie. Jesus self het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”—Johannes 14:6; vergelyk Handelinge 4:12; 1 Timotheüs 2:3-6.

Aan die ander kant word Judaïsme afgestoot deur die afgodediens wat so algemeen in die Christendom voorkom. Net so bejeën Jode die Drie-eenheidsleer met minagting as ’n duidelike weerspreking van “die wese van Judaïsme”—die monoteïstiese leer wat bevat is in die woorde: “HOOR, O ISRAEL: DIE HERE ONS GOD, DIE HERE IS EEN” (Deuteronomium 6:4, The Soncino Chumash). ’n Geleerde, Jakób Jocz, het gesê: “Dit is op hierdie punt dat die kloof tussen die Kerk en die Sinagoge in sy volle diepte en betekenis voor ons oopgaan. . . . Die leer van die godheid van Jesus Christus is ’n onverskoonbare belediging in die oë van Judaïsme.”—The Jewish People and Jesus Christ.

Die Christelike godsdiens en Judaïsme het ook verskillende sieninge omtrent die Mosaïese Wet en sy tradisies. Rabbi Stuart E. Rosenberg het só oor die saak geredeneer: “Sonder God se verbond sou daar geen Joodse nasie gewees het nie: Dit het hulle vroegste oorsprong gevorm, en hulle het dit nooit versaak nie. . . . Maar Christene het van die staanspoor af ’n probleem met Israel se verbond gehad.” Trouens, die apostel Paulus het van die Mosaïese Wet gesê: “[God] het die skuldbewys . . . tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis [“folterpaal”, NW] te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”—Kolossense 2:14, NAV.

Kerkteoloë wat die Christelike leer wil probeer verwater deur te redeneer dat die Mosaïese verbond steeds van krag is of dat daar ‘verskillende paaie na God is’, bevind hulle in ’n lastige penarie. Om hulle sieninge met die “Nuwe Testament” te versoen, moet kerkteoloë hulle oorgee aan iets wat neerkom op teologiese akrobatiek: die manipulering, verdraaiing of selfs ignorering van kritieke Bybeltekste. Of hulle moet, soos sommige, redeneer dat die probleemtekste in die eerste plek nie oorspronklik is nie, dat Jesus Christus nooit beweer het dat hy “die weg en die waarheid en die lewe” is nie en dat Petrus se woorde in Handelinge 4:12, wat sê dat Jesus die enigste “naam onder die hemel [is] . . . waardeur ons gered moet word”, later onder die invloed van Paulus se teologie gefabriseer is, ensovoorts. Maar deur dit te doen ondermyn hulle die geloof van hulle eie volgelinge.

Jakób Jocz het sake dus raak opgesom toe hy gesê het dat die twee gelowe “niks gemeenskapliks bevat wat die grondslag vir ’n ‘oorbruggingsteologie’ kan vorm nie. Hulle kan slegs ’n kompromis aangaan deur oorgawe: òf die Kerk word die Sinagoge òf die Sinagoge word die Kerk.”

Waarom ooreenkoms gedoem is

Daar is egter ontsaglike hindernisse in die weg om ooit so ’n kompromis aan te gaan. Die blote gedagte aan godsdienstige bekering is vir Jode iets afskuweliks. Wat het die godsdienste van die Christendom per slot van sake gedoen om hulle by Jode aan te beveel? Rabbi Samuel Sandmel noem party van die afgryslikhede wat in die geskiedenis “deur Christene aan Christene in die naam van die Christelike godsdiens gedoen is”, en vra: “Hoe kan julle, in die lig hiervan, redelikerwys van ons verwag om in te stem met die verklaring dat julle godsdiens beter as ons s’n is? Het dit beter mense voortgebring? Het dit die kwessie van vrede en oorlog en welvaart en kalmte onder Christennasies beslis?”

Die Slagting het ook die kwessie van die Jode se voortbestaan—as volk, as godsdiens en as kultuur—na vore gebring. Jode is dus geneig om bekering te beskou, nie bloot as die aanvaarding van ’n ketterse leer nie, maar as ’n daad van verraad. Die Journal of Jewish Communal Service het die situasie só betreur: “Ons kan dit nouliks bekostig om enige van die jongste geslag volwasse Jode te verloor. . . . Wat die Nazi’s nie met die Slagting kon regkry nie, kan dalk nog deur [proselitisme] gebeur.”

Rabbi Henry Siegman kom dus tot dié gevolgtrekking: “Die herinnering aan gedwonge bekerings is diep in die bewustheid van die Joodse volk ingeprent, en dit was nog altyd die belangrikste hindernis in die weg van Christen-Joodse verhoudinge.”

Sien die werklike kwessie onder die oë

Daar is dus geen werklike ooreenstemming tussen die Christendom en Judaïsme in die vooruitsig nie. Pogings tot eenheid word voortdurend deur onversoenbare teologieë, teenstrydige politieke belange en wedersydse wantroue ondermyn. Godsdienstige gesprekke is geneig om die kwessie te vermy wat in die eerste plek tot die skeuring gelei het, naamlik Jesus se aanspraak op Messiasskap. Slegs wanneer hierdie saak onder die oë gesien word, kan party van die eeue-oue hindernisse van vrees en wantroue begin verkrummel.

Die meeste Jode wil weliswaar nie oor Jesus praat nie. Hulle huiwering is die onvermydelike eindproduk van eeue van antisemitisme in die naam van Jesus. Dit was nietemin nie Jesus wat die Kruistogte begin het nie, en dit was nie Jesus wat die Inkwisisie aan die gang gesit het of die vure van die Slagting aan die brand gesteek het nie. Daardie afskuwelike dade is gepleeg deur mense wat valslik beweer het dat hulle Christene is! Dit blyk duidelik uit Jesus se eie woorde toe hy uit die Wet van Moses aangehaal het om een van die vernaamste beginsels van die ware Christelike godsdiens te gee: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39; Levitikus 19:18). Hierdie woorde kla die Christendom aan. Dit is duidelik dat sy soort godsdiens ’n afstootlike verdraaiing is van wat Jesus werklik geleer het.

Die ware feite

Jehovah se Getuies wil hê Jode moet besef dat die kerke van die Christendom—nie die ware Christelike godsdiens nie—verantwoordelik was vir die lyding van so baie Jode. Hulle wil hê dat Jode ’n onbevooroordeelde en duidelike beeld van Jesus moet hê sodat hulle ’n oorwoë besluit oor hom kan neem. Verder wil hulle Jode vertel van hul oortuiging dat die Messiaanse era, wat lank gelede deur die profete voorspel is, ophande is! Maar waarom sal ’n Jood na een van Jehovah se Getuies wil luister?

Om een rede te noem, hulle beledig Jode nie deur afgode in hulle aanbidding te gebruik nie, en hulle glo ook nie aan die Drie-eenheidsleer nie—nog ’n opvatting wat vir Judaïsme afstootlik is. Hulle verwerp daardie leer as heidens en onskriftuurlik.a Trouens, die Getuies is geensins ’n deel van die Christendom nie! Daarom is hulle nie verantwoordelik vir die Slagting nie, nog minder vir die bloedige geskiedenis van antisemitisme.

Van al die godsdienste wat verklaar dat hulle Christene is, is hulle die enigste groep wat Jesus se bevel in Johannes 17:16 gehoorsaam het deur “nie van die wêreld” te wees nie. Dit behels die handhawing van streng politieke neutraliteit. Ingeligte Jode weet dat meer as duisend Duitse Getuies gedurende die Tweede Wêreldoorlog in Hitler se kampe gesterf het omdat hulle verkies het om eerder slagoffers van die Slagting te wees as om swygende medepligtiges daaraan te wees.b Hulle onverskrokke handhawing van neutraliteit, ongeag Nazisme, is ’n skitterende bewys van die krag van die ware Christelike godsdiens. As die Christendom dieselfde gedoen het, sou die Slagting nooit kon plaasvind nie.

Jehovah se Getuies word gevolglik vriendelik ontvang deur baie Jode. Ons gee toe dat nie almal hulle besoeke waardeer nie. Rabbi Samuel Sandmel erken egter dat Christene verplig voel om vir ander te preek (Romeine 10:10). Hy vra vir Christene: “Kan julle jul oogmerk nastreef op ’n manier wat nie ons menswaardigheid aantas of impliseer dat julle hierdie [predikingsopdrag] wat vir julle van die grootste belang is, versaak het nie?”—We Jews and You Christians.

Jehovah se Getuies probeer juis om dit te doen. Hulle vra hul Joodse bure beleef om na te dink oor die kwessie wat Christene en Jode so lank reeds verdeel: die Messiaanse hoop. Wat het tot hierdie hoop aanleiding gegee? Hoe het dit gekom dat die beskouing van Christene en Jode so verskil? Die huidige toename in antisemitiese sentiment in party dele van die wêreld maak die vraagstuk aangaande Jesus meer tersaaklik as ooit tevore. Ons volgende artikel probeer om antwoorde te verskaf.

[Voetnote]

a Sien Moet jy aan die Drie-eenheid glo? wat deur die Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania uitgegee word.

b Sien “Die Slagting—Slagoffers of martelare?” in die Ontwaak! van 8 April 1989.

[Lokteks op bladsy 6]

“Die leerstelling van die godheid van Jesus Christus is ’n onverskoonbare belediging in die oë van Judaïsme”

[Prente op bladsy 7]

Die dade van sogenaamde Christene het min daartoe bygedra om die Christelike godsdiens aan te beveel as ’n godsdiens wat op liefde gebaseer is

[Erkenning]

U.S. Army

[Prent op bladsy 8]

Die Christendom se afgodediens en die Drie-eenheidsleer het baie Jode afgestoot

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel