Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 2/8 bl. 26-27
  • Mikrofilm—Die “geheim” opgeklaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mikrofilm—Die “geheim” opgeklaar
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe dit jou raak
  • “Getrou onder beproewinge”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Van draaiboek tot silwerdoek
    Ontwaak!—2005
  • Ons verduur beproewinge in die krag van God
    Ontwaak!—2000
  • ’n Baie moeilike toewysing word deur heilige gees voltooi
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2021
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 2/8 bl. 26-27

Mikrofilm—Die “geheim” opgeklaar

WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “mikrofilm” hoor? Geheimsinnigheid en intrige? Superspioene en geheime agente? Maar mikrofilm is net so min geheimsinnig as jou gewone foto wat op ’n rol film van 35mm geneem word. Tog kan dit jou lewe op verskeie maniere raak.

Miskien is die “mikro” in die woord “mikrofilm” misleidend. Dit is in werklikheid nie die film nie, maar die beeld op die film, wat klein is. Hoe so? Wel, daar is drie basiese verskille tussen mikrofilm en jou gewone foto. Ten eerste is daar moontlik mense of natuurtonele op jou foto, terwyl mikrofilm ’n skatkamer van inligting word vir diegene wat daarna kyk. Ten tweede verskil die soort film wat vir jou foto gebruik word van die film wat vir mikrofilm gebruik word. Waarom? Omdat mikrofilm fyn besonderhede, soos die letters op ’n gedrukte bladsy, moet kan weergee. Ten derde word jou foto dikwels op fotografiese papier afgedruk, maar mikrofilm word gewoonlik as film ontwikkel.

Hoe dit jou raak

Was jy onlangs by ’n biblioteek? Baie biblioteke hou nou historiese dokumente of dokumente wat uit druk is, asook boeke en tydskrifte wat hulle nie in voorraad hou nie, op mikrofilm aan. Byvoorbeeld: As ’n Bybelstudent navorsing oor baie ou godsdienstige materiaal wil doen, kan hy dit op mikrofilm kry. Mikrofilm word ook in die onderwys, nywerheidswese, versekeringswese en deur federale en staatsregering en plaaslike bestuur gebruik.

Is jy ’n sakeman? Mikrofilms kan voorkom dat gegewens oor personeel sonder toestemming bestudeer of verander word, terwyl dit makliker geraadpleeg en bewaar kan word. As afskrifte van rekenings wat betaal en ontvang is op mikrofilm opgeneem word, verseker dit dat dit veilig en toeganklik is en word skryfwerk tot ’n minimum beperk. As klante se lêers op mikrofilm opgeneem word, bevorder dit beter diens aan en betrekkinge met klante.

Het jy ingenieurstekeninge nodig of werk jy daarmee? Dit kan jou geld bespaar as jy mikrofilms van hierdie tekeninge maak. Mikrofilms kan die slytasie van waardevolle oorspronklike tekeninge, die koste verbonde aan afdrukke en die verspreiding daarvan, asook die onproduktiewe tyd wat hoogs betaalde personeel daaraan bestee, verminder. Dit kan jou tekenkamer vir goed vereenvoudig. Op mikrofilm kan geskrewe prosedures en onderhoudsverslae enige tyd geraadpleeg word; dieselfde kan gesê word van salaris- en belastingstate wat op mikrofilm opgeneem word.

Waaraan dink jy nou wanneer jy die woord “mikrofilm” hoor? Is dit vir jou minder geheimsinnig? Jy kan ongetwyfeld nou sien dat mikrofilm ’n veelsydige hulpmiddel is wat môre-oormôre jou lewe kan raak.

[Venster/Prent op bladsy 26]

Mikrofiche

Een van die mikrovorme wat vandag die meeste gebruik word, is mikrofiche. Een mikrofiche, ongeveer die grootte van ’n speelkaart, kan ’n stuk of honderd bladsye getikte inligting bevat. Standaardmikrofiches is ongeveer honderd-en-vyf by honderd-agt-en-veertig millimeter groot, waarop mikrobeelde gewoonlik in 7 rye en 14 kolomme gerangskik word, sodat daar hoogstens 98 bladsye op ’n fiche kan wees. Die voordeel van mikrofiche bo rolfilm is dat ’n mens ’n volledige eenheid inligting op ’n enkele vel film het wat maklik bewaar, maklik gevind en maklik gelees kan word.

[Prent]

Die voorbeeld hierbo, wat die werklike grootte is, bevat al 773 746 woorde van een uitgawe van die “King James Version”

[Venster op bladsy 27]

Die mikrofilmrevolusie

Hoewel die meeste mense dink dat mikrofilm ’n 20ste-eeuse deurbraak is, gaan dit tot die laat 19de eeu terug. Gedurende die Frans-Pruisiese oorlog van 1870-71 het Rene Prudent Dagron ’n vroeë vorm van mikrofilm gebruik om boodskappe met behulp van posduiwe van Parys na Bordeaux, Frankryk, te stuur. Hierdie vroeë mikrofilm, wat ’n vliesie genoem is, is gemaak deur boodskappe met behulp van ’n emulsie op glas te fotografeer; wanneer die emulsie droog was, is dit van die glas afgetrek en in klein rolletjies opgerol wat aan die duiwe vasgemaak is.

Hoewel die eerste mikrofilmleser-drukker in 1928 beskikbaar gekom het, het die bekendstelling van die eerste outomatiese mikrofilmleser-drukker in 1957 ’n mikrofilmrevolusie begin. Hierdie toestel het dit moontlik gemaak dat ’n mens nie net kon sien wat op die film is nie, maar dat jy ’n vergrote afdruk op papier daarvan kon maak. Die mikrofilmrevolusie het in 1958 nog ’n groot hupstoot gekry—RAM (rekenaarafvoermikrofilm). Dit is ’n metode waarvolgens gegewens van ’n rekenaar in beelde op mikrofilm omgesit word sonder tussen- fotografiese stappe.

Benewens RAM is daar twee ander gebiede waarop mikrofilm gebruik word. Die eerste en verreweg die oudste is brondokumentverfilming. Dit is die vermikrofilming van brondokumente soos kaarte, tekeninge, fakture, banktjeks, geboortebewyse en ander waardevolle dokumente. Die tweede gebied is mikro-uitgewery, wat verwys na nuwe inligting wat aanvanklik op mikrofilm verkoop of versprei word. ’n Onderhoudshandleiding wat deur handelslugrederye gebruik word, is een voorbeeld.

Met hierdie uitvindinge is mikrofilm nie meer net ’n ruimtebespaarder nie, maar ’n middel met hierdie voordele: kostebesnoeiing, volledige lêers, vinniger en makliker hantering van inligting en minder diefstal, beskadiging en veranderings.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel