Ons beskou die wêreld
DEURBRAAK?
In stede daarvan om bloed oor te tap, het dokters in Japan onlangs ’n anemiese, vroeggebore baba met eritropoiëtien behandel, ’n hormoonbestanddeel wat rooiselvorming stimuleer. Volgens die koerant Asaji Sjimboen het die baba by geboorte slegs 800 gram geweeg en het “sy anemie versleg tot ’n toestand wat onder normale omstandighede ’n bloedoortapping sou vereis”. Omdat die baba se ouers egter Getuies van Jehovah is, het hulle die gebruik van bloed vir hulle baba geweier. Daarom het die dokters vanaf die 39ste dag na die geboorte eritropoiëtien toegedien. Binne ’n week het die rooi selle begin toeneem. Later het die hemoglobienvlak ook gestyg. “Hoewel die rede vir hierdie geval godsdienstig was”, het die dokter in beheer gesê, “sal die behandeling heel waarskynlik algemeen gebruik word om die risiko van besmetting weens bloedoortappings te vermy.”
GEEN BEEN OM OP TE STAAN NIE
Evolusioniste veronderstel dat slange uit akkedisse geëvolueer het, maar hulle vind dit moeilik om te verduidelik waarom akkedisse hulle bene verloor het. In 1973 het ’n invloedryke ondersoek aan die Harvardse Universiteit aangevoer dat slange uit akkedisse geëvolueer het omdat hulle energie bespaar deur te seil in stede van te loop. Wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië in Irvine het egter onlangs daardie teorie op die proef gestel. Hulle het ’n klompie Amerikaanse swartslange met klein suurstofmaskertjies toegerus, hulle op trapmeule geplaas en die hoeveelheid energie gemeet wat werklik deur die seilproses verbruik word. Die gevolg: Die slange het òf net so veel energie verbruik, òf tot sewe keer soveel as akkedisse met bene wat dieselfde afstand geloop het.
BESOEDELING OP GROOT HOOGTES
Hoog-vlieënde vliegtuie kan besonder ernstige bronne van besoedeling wees, volgens ’n ondersoek wat in Wes-Duitsland uitgevoer is. Die Oostenrykse tydskrif Profil berig dat besoedelstowwe soos koolmonoksied, stikstofoksied en roet jare lank aktief bly nadat dit op hoogtes bo 10000 meter vrygestel is, terwyl dit in slegs ’n paar dae op die grond sou ontbind. Burgerlike vliegtuie stel jaarliks sowat 600 000 ton salpetersuur vry; militêre vliegtuie selfs meer. Op groot hoogtes vries water wat deur straalmotorverbranding vrygestel word onmiddellik en vorm dit hoë wolke bestaande uit ysdeeltjies en salpetersuur. Hierdie wolke staan algemeen onder verdenking dat hulle bydra tot die vernietiging van die planeet se onmisbare osoonlaag.
GOUE KALF GEVIND
“’n Beeldjie ondersteun die verhaal van Moses en die afgodiese Israeliete”, het die tydskrif Time gesê. Tot nog toe is geen godsdiensbeelde van kalwers in Kanaänitiese ruïnes uit die tydperk voor die Israelitiese Uittog gevind nie. Maar in Junie 1990 het ’n span argeoloë in die ruïnes van die eertydse hawestad Askelon in Israel ’n 12,5 sentimeter lange kalf gevind wat uit brons, koper en moontlik lood en silwer gemaak is. Die brons is klaarblyklik gepoleer om dit soos goud te laat blink. Lawrence Stager, die leier van die span, is van mening dat die kalf uit 1550 v.G.J. dateer, voordat die Israeliete Kanaän verower het. Stager reken dat die kalf in die aanbidding van die heidense god El of sy seun Baäl gebruik kon gewees het, en dat dit ’n prototipe kon wees van die goue kalwers wat in die Bybel gemeld word.
HANDBOEKFOUTE
Die wetenskaphandboeke wat in laerskole in die VSA gebruik word, is deurspek met lastige foute, kla al hoe meer wetenskaplikes. Volgens Newsweek het een fisikus gesê: “Die boeke is vol feitelike onjuisthede en gee ’n totale wanvoorstelling van die hele wese van die wetenskap.” Enkele voorbeelde: Swaartekrag het geen uitwerking op ’n ruimteman in die ruimte nie. (Verkeerd. Wat hou die ruimteman in sy wentelbaan as daar geen swaartekrag daar buite is nie?) ’n Muskiet steek met sy agterkant. (Net so vergesog, soos enigiemand weet wat al ’n muskiet dopgehou het terwyl hy steek.) Dit wil voorkom asof baie min handboeke noukeurig deur vakkundiges ondersoek word voor hulle verskyn. Newsweek voeg by: “Die onjuisthede teel soos maaiers aan, aangesien feitlik elke ‘nuwe’ handboek streng by die patroon van winsgewende voorgangers hou.”
DWELMS IN BRASILIË
“Navorsing onthul dat die gebruik van dwelms onder Brasiliaanse leerlinge die afgelope twee jaar met 24% toegeneem het”, berig die Brasiliaanse tydskrif Veja. Dié skrikwekkende syfer spruit voort uit ’n ondersoek van 30 000 laer- en hoërskoolleerlinge. “Toe die inligting uit die onderhoude saamgestel is, het ’n sombere beeld aan die lig gekom. . . . Die toename in die gebruik van dwelms was beduidend hoër onder jeugdiges tussen die ouderdomme van 13 en 15 jaar.” Die ondersoek toon ook dat kalmeermiddels en ingeasemde dwelms (soos skoenmakersgom en reukwater in spuitflessies) die meeste gebruik word. Hoewel hierdie dwelms nie so sterk is nie, kan hulle tot die gebruik van skadeliker dwelms lei. Professor Elisaldo Carlini het gesê: “Die gegewens is verontrustend omdat die dwelms wat die meeste in hierdie land gebruik word nie onwettig is nie en by apteke gekoop kan word.”
’N GEBREK AAN HARTLIKHEID?
Baie Italianers het die toestand van hulle volk verlede jaar swaarmoedig in oënskou geneem na aanleiding van die hartseer ondervinding van ’n sesjarige dogtertjie. Klein Vanessa Moretti en haar pa was in hulle motor op pad strand toe. Toe hulle deur ’n tonnel ry, het hy skielik ’n hartaanval gehad. Voor sy dood het die sterwende man vir sy dogtertjie gesê om haar weg terug huis toe te vind. Sy het uit die tonnel gesukkel terwyl sy verskeie kere omgestamp is deur rukwinde van motors wat verbygesnel het sonder om spoed te verminder. Stukkend gekrap, bloeiend en huilend het sy ’n halfuur langs die hoofweg geloop waar sy deur honderde verbygaande motors vol opgeruimde vakansiegangers geïgnoreer is. Uiteindelik het een gestop. Hoofartikels van koerante landwyd het skerp vrae gestel, soos of die land se welvaart meegebring het dat hy van die hartlikheid en menslikheid waarvoor hy so lank bekend was, ingeboet het.
HULLE GOOI DIE HANDDOEK IN
Die Common Cold Research Center in Salisbury, Engeland, het vroeër vanjaar gesluit, en so het ’n vergeefse soektog van 44 jaar na ’n kuur vir die gewone verkoue aan ’n einde gekom. Dit het geblyk dat hierdie taak nie so eenvoudig was as wat eens gemeen is nie. Die bestuurder van die sentrum merk op: “Ons het voorheen gedink dat daar slegs een verkouevirus is. Nou weet ons dat daar amper 200 is; daar is dus geen sprake van ’n entstof nie.” Oor die jare heen het sowat 18 000 vrywilligers na die sentrum gekom om tydens kwarantynprogramme van tien dae elk aan ’n verskeidenheid virusse blootgestel te word. Selfs al moes vrywilligers minstens 10 meter van enigiemand behalwe hulle kamermaat en die mediese personeel af wegbly, het party blykbaar die program geniet. Een paartjie wat gedurende hulle verblyf ontmoet het, het die volgende jaar vir hulle wittebrood teruggekeer. Een man het 26 keer teruggekom. Die bestuurder beskryf hom egter as “ietwat eienaardig”.
’N WASIGE HEELAL
Skokgolwe van bitterheid en woede het deur die sterrekundige gemeenskap gegaan, wat hoë verwagtinge van die onlangs gelanseerde Hubble-ruimteteleskoop ter waarde van R4 160 000 000 gekoester het. Met sy reusagtige, sensitiewe spieëls wat ontwerp is om die kristalhelder uitsig buite die aarde se verwringende atmosfeer vas te lê, het die teleskoop die belofte ingehou om die mensdom se uitsig op die heelal net so drasties te vergroot as wat die geval was met die teleskoop wat deur Galileo gebruik is. Maar toe sterrekundiges vanaf die basis op aarde probeer het om die teleskoop te bedryf, het hulle tot die ontsettende besef gekom: die teleskoop kan nie behoorlik fokusseer nie. Blykbaar is ’n spieël met ’n afwyking gemaak wat nie ontdek is nie omdat die spieëls nooit ten volle getoets is nie.
BESMETTINGSVRYE BLOEDBANK?
’n Wes-Duitse dokter staan voor ’n moeilike uitdaging in ’n land in Midde-Afrika—hy is gevra om ’n Vigs-vrye bloedbank daar tot stand te bring. In dié land se hoofstad is 6 persent van die bloed wat geskenk word met die Vigs-virus besmet. Gevolglik beklemtoon die bloedbank die toetsing van bloed. Glipse kom nietemin voor. Soos die maandblad New African berig: “In een geval het dit geblyk dat ’n bloedmonster met Vigs besmet was, maar sonder dat die bank daarvan bewus was, is dit aan twee pasgebore babas gegee.” Hoewel die bank beweer dat sy bloed Vigs-vry is, toets hy nie eers vir die malaria en sifilis, waarvan dit bekend is dat dit meer as 18 persent van die bloed besmet nie.
TRONKPROBLEME VERMENIGVULDIG
’n Onlangse verslag deur die Australiese Instituut van Kriminologie waarsku dat Australië se tronke erg oorvol is. Dit beweer dat tronke ’n besettingsyfer van 85 persent behoort te hê, terwyl die syfer in Australiese tronke tans gemiddeld 103 persent is, met sommige state heelwat hoër as ander. Slegs in die eilandstaat Tasmanië het elke gevangene sy eie sel. ’n Ander kommerwekkende feit is dat 23 van die vasteland se 88 tronke voor 1900 gebou is. In baie van hierdie tronke is die toestande primitief en word dit deur sommige as “onmenslik” beskryf. Daar is blykbaar min hoop op verbetering, aangesien statistiek verontrustende tendense toon. Die aantal vroue wat tussen 1982 en 1986 tronk toe gestuur is, het byvoorbeeld met 65 persent toegeneem!