Die kloof tussen dokters en Getuiepasiënte word oorbrug
DOKTERS in alle wêrelddele weet basies een ding van Jehovah se Getuies: Hulle weier bloedoortappings. Talle dokters weet egter byna niks anders van die Getuies nie. Daarom lyk dit vir hulle heeltemal onredelik wanneer hulle ’n Getuiepasiënt ’n bloedoortapping wil gee en dit geweier word. ’n Jammerlike kloof kan gevolglik tussen die geneesheer en die pasiënt ontstaan.
Daar is veels te min dokters wat besef dat Jehovah se Getuies nie teen mediese behandeling gekant is nie en dat hulle standpunt oor bloed onverhandelbaar sowel as stewig op skriftuurlike wette gegrond is. Intussen is die redelikheid van hierdie skriftuurlike standpunt keer op keer geregverdig deur ’n stortvloed nuwe wetenskaplike bevindinge oor die gevare van homoloë oortappings sowel as die veiligheid van alternatiewe vir oortapping. Maar hoe kan Jehovah se Getuies hierdie inligting aan die mediese gemeenskap oordra?
Hospitaalskakelkomitees
Met dié doel het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies gereël dat hospitaalskakelkomitees in belangrike stede met groot mediese inrigtings gestig word. In die Verenigde State vorm sowat honderd komitees, met gemiddeld vyf bedienaars op elk, alreeds ’n brug tussen die mediese wêreld en die Getuies. Vroeër vanjaar het die reëling in ander lande in werking getree. Van 19 Februarie tot 27 Maart het drie lede van die Hospitaalinligtingsdiens in Brooklyn agt takkantore van Jehovah se Getuies in Pasifiese gebied besoek.
Die doel was drievoudig: om seminare te hou om voorafgekose Getuiebedienaars op te lei vir hospitaalskakelkomiteewerk, om takpersoneel op te lei om ’n Hospitaalinligtingsdiens-afdeling in elke tak te hê en om hospitale en dokters te besoek sodat volgehoue en uitgebreide behandeling van Jehovah se Getuies sonder die gebruik van bloed aangemoedig kon word. Vier seminare is gehou: een in Sydney vir Australië en Nieu-Seeland; een in Manila vir die Filippyne, Hongkong en Taiwan; een in Ebina City vir Japan en Korea; en die laaste een in Honolulu vir Hawaii.
Die program het skyfies sowel as video’s gebruik om die funksie en inhoud van bloed en die toenemende lys van mediese alternatiewe vir homoloë bloed te verduidelik. Maniere is bespreek om Jehovah se Getuies te help wanneer hulle voor probleme te staan kom waarby bloed betrokke is. Die seminaar het ook die waarde van samewerking met dokters en hospitale beklemtoon, wat dit vir hulle makliker sal maak om die Getuies se standpunt te respekteer. Een Japannese komiteelid het gesê: “Die program het ons regtig toegerus om die werk aan te pak om begrip te bevorder.” Meer as 350 Getuies uit alle lewensterreine is by die vier seminare opgelei.
Voor die besoeke het die takkantore afsprake gemaak met vooraanstaande chirurge en senior personeellede by groot hospitale om bloedlose behandeling vir Jehovah se Getuies te bespreek. Drie spanne by elke tak is aangewys om hierdie besoeke te doen, en een van die drie verteenwoordigers van Brooklyn het aan die hoof van elkeen gestaan. Dit het nie net praktiese opleiding verskaf aan diegene wat aangewys is om hospitaalkomiteelede te wees nie, maar het hulle ook op hul gemak laat voel wanneer hulle met dokters en medici praat. Meer as 55 sulke besoeke is in hierdie tydperk van ses weke gedoen.
Brûe van samewerking
Die resultate was bevredigend. In Australië het een span die minister van gesondheid vir die staat Nieu-Suid-Wallis se assistent ontmoet. Hulle het die uitvoering van bloedlose operasies by talle gesondheidsorgsentrums met hom bespreek, en voorgestel dat Australië ’n sentrum vir sodanige chirurgie vir Jehovah se Getuies in die Stille Suidsee kan word. Hy het geen rede gesien waarom spanne dokters nie op die been gebring kan word om sulke operasies uit te voer nie. Twee-en-twintig besoeke is in Australië gedoen. Een superintendent van ’n hospitaal het gesê: “Julle weet meer oor die onderwerp van bloed en alternatiewe behandeling as ons.” Die hoofsuperintendent van ’n groep van sewe hospitale het die versekering gegee dat hy ’n professor in chirurgie gaan aanstel om die idee te ondersoek om ’n span chirurge by een van hulle hospitale op die been te bring om bloedlose behandeling aan Jehovah se Getuies te voorsien.
By Manila se hartsentrum—wat deur sommige as die beste in die Ooste beskou word—is die mediese superintendent se aandag daarop gevestig dat ongeveer honderd van Jehovah se Getuies wat op hartchirurgie wag aan die einde van die waglys geplaas is omdat hulle nie bloed wou neem nie. Sy het gesê dat sy daardie gebruik sou stopsit. Die mediese superintendent van die Filippyne se toonaangewendste hospitaal, St. Luke’s, is getoon wat die mediese lektuur deesdae oor bloedlose chirurgie sê, en hy het saamgestem dat dit veiliger is. “Dit is die behandeling van die toekoms”, het hy erken. “Dit is die enigste manier hoe ons Vigs en hepatitis kan vermy.” Hy het getoon dat hy bereid is om die Getuies die geleentheid te bied om bloedlose behandeling by sy fasiliteit te kry; hy is ook die president van die hospitaal se bloedbank.
By Japan se driedaagse seminaar is Korea ook verteenwoordig, deur ’n afvaardiging van 44 Getuies van Jehovah, waarvan 5 dokters was. Tweehonderd-vyf-en-vyftig Getuiebedienaars het uit Japan gekom, onder andere 41 dokters, waaronder daar ’n paar neurochirurge en narkotiseurs sowel as 2 regsgeleerdes was. Twintig komitees is in Japan op die been gebring, en sewe in Korea.
Na die seminaar het die instrukteurs saam met plaaslike hospitaalkomiteelede gegaan om dokters en hospitale in die Tokio-gebied te besoek om ’n samewerkende houding te bevorder. “Ons het ’n assistent-professor in verloskunde by ’n universiteitshospitaal besoek”, berig een Japannese bedienaar. “Hy het bygestaan met die bevalling van ten minste tien vroue wat Jehovah se Getuies is. Een van hulle het 2800 kubieke sentimeter bloed verloor, en haar hemoglobienvlak het tot 3,5 gram/desiliter gedaal. (Die gemiddelde vir ’n vrou is 14 gram/desiliter.) Maar die dokter het die bevalling sonder bloed uitgevoer. Hoewel hy ’n Boeddhis is, is dit sy beleid om sy pasiënte se oortuiginge te respekteer. Hy het ingestem om voort te gaan om pasiënte wat Jehovah se Getuies is te help.”
’n Mediese superintendent in Jokohama het ingestem dat sy hospitaal gelys kan word onder dié wat bereid is om saam te werk en het gesê dat hulle Getuiepasiënte wat deur ander hospitale verwerp is graag sal aanvaar. “Om Jehovah se Getuies sonder bloed te behandel”, het die dokter gesê, “is inderdaad ’n uitdaging, maar ek waardeer die Getuies want hulle het my geleenthede gegee om my bekwaamheid as dokter te verbeter.” Dit was ook in Jokohama dat een ginekoloog gesê het: “Ek sal in die hof vir pasiënte se regte veg as ek gedagvaar word omdat ek die pasiënt se wil gerespekteer en nie bloedoortappings toegedien het nie.”
Die komitees wat vir Korea op die been gebring is, berig dat hulle welslae behaal. Op 26 Mei is die Jonsei-Universiteitshospitaal besoek. Dit is welbekend dwarsdeur Korea en het drie takke. Altesaam 62 lede van al hierdie inrigtings was teenwoordig. ’n Professor in anestesiologie het gepraat oor “Narkotiese behandeling van Jehovasgetuie-pasiënte”. Die inligting wat hy gegee het, sal opgeneem word in ’n anestesiologietydskrif in Korea. Aangesien dit een van die belangrikste hospitale in Korea is, behoort dit ’n goeie uitwerking op ander hospitale en dokters te hê. Geen vraag is geopper wat nie deeglik by die seminaar in Japan gedek is nie.
Vyf skakelkomitees is vir Hawaii gestig, en hulle het almal na Honolulu toe gekom vir die seminaar. Die meeste van hulle is op hospitaalbesoeke geneem. By die Hawaii-Gesondheidsorgsentrum het die superintendent gesê dat hy ’n artikel oor ons in hulle nuusbrief sal skryf wat na al die hospitale in Hawaii gestuur sal word.
By die grootste gesondheidsorgsentrum, Queen’s in Honolulu, het die komitee daarop gewys dat die toestemmingsvorm wat deur die sentrum gebruik is ’n onjuistheid in bewoording bevat het wat Jehovah se Getuies verkeerd voorgestel het. Dit het geïmpliseer dat Getuies eerder sou sterf as om ’n “lewensreddende” bloedoortapping te aanvaar. Dit is duidelik gestel dat dit glad nie ons standpunt is nie, en dat ons na die hospitaal gegaan het om ons gesondheid en lewe te beskerm. Hulle bewoording het dit laat lyk asof bloed geheel en al goed is en dat dit gelykstaande aan die dood is as ’n mens bloed weier. Hulle bewoording het nie die moontlikheid van die dood weens oortappings erken nie, en het die pasiënt dus nie ’n ingeligte keuse gebied met betrekking tot watter risiko hy bereid sou wees om op hom te neem nie. Die hospitaalregsgeleerde het gesê: “Laat ek dit sien!” Toe hy dit lees, het hy gesê: “Ek het dit nie geskryf nie!” Toe die regsgeleerde en die superintendent uitloop, het die superintendent vir die regsgeleerde gesê: ‘Ek dink ons moet hierdie dokument saam deurlees.’
Nuwe komitee beantwoord aan sy doel
Binne dae na die opleidingsessie in Hawaii is ’n Getuie wat uiters anemies was inderhaas na ’n hospitaal geneem, en haar bloedtelling was gevaarlik laag. Geen bloeding kon opgespoor word nie; proefchirurgie was nodig. Die dokter wou nie sonder bloed opereer nie. Sy is na ’n ander hospitaal oorgeplaas waar ’n ander dokter ook geweier het om te opereer. Die pas gestigde skakelkomitee het op die toneel verskyn, met die mediese superintendent en die geneesheer wat die operasie sou uitvoer, gepraat en verduidelik dat hulle in werklikheid besig was om die pasiënt te verwerp. Die dokter het steeds geweier om te opereer en is van die geval ontslaan. Twee ander chirurge is ingeroep. Hulle het die operasie uitgevoer, die bron van die bloeding opgespoor en die probleem reggestel. Ons suster het dit oorleef. Sonder die tussenkoms van die skakelkomitee sou sy dalk gesterf het, en die media sou dit beskryf het as nog ’n geval van ’n Getuie wat ‘sonder die nodige bloed gesterf het’. In sulke gevalle het die Getuies in werklikheid gesterf sonder die nodige chirurgie terwyl bekwame chirurge hulle kon gered het.
Hospitaalskakelkomitees werk dus op ’n internasionale skaal om die kloof tussen die mediese gemeenskap en Jehovah se Getuies deur betekenisvolle kommunikasie en wedersydse begrip te oorbrug. Die resultate was bevredigend. Al hoe meer dokters besef dat goeie mediese praktyk en bekwame chirurgie goed kan aanpas by die oortuiginge van Jehovah se Getuies. In die Verenigde State is meer as 6500 dokters bereid om dit te doen.
Getuies moet op hulle beurt aanhou om hulle bes te doen om samewerkende en redelike pasiënte te wees. Op daardie manier begin party dokters die Getuies selfs respekteer vir die feit dat hulle getrou bly aan hoë beginsels. Soos ’n assistent-professor in urologie aan ’n mediese kollege in Tokio gesê het: “Ek respekteer pasiënte wat Jehovasgetuies is. Hulle het spesifieke norme in ’n wêreld waar niemand anders dit het nie.”
Die algemene doel van hierdie seminare en besoeke was om groter respek en samewerking te bevorder en gevolglik konfrontasie te vermy. Almal wat by hierdie poging betrokke was, het gemeen dat hierdie doel met bevredigende welslae bereik is. Ons vertrou dat Jehovah sal voortgaan om hierdie pogings te seën en diegene te steun wat Sy bevel gehoorsaam om hulle van bloed te onthou, soos sy Woord hulle beveel om te doen.
[Venster op bladsy 24]
“Alles wat beweeg en lewe, sal julle voedsel wees. Net soos die groen plante, gee Ek dit alles aan julle. Net die vleis met sy siel, met sy bloed, mag julle nie eet nie.”
“En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder julle vertoef, wat maar enigsins bloed eet—teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit. Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.”
“Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: Dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen. Vaarwel!”
[Prent op bladsy 23]
Hospital Committee Seminar—Maart 12, 1990