Jongmense vra . . .
Hoe kan ek dit oorleef as my ouers uitmekaar gaan?
“Na my ouers uitmekaar is, moes ons trek. Ons het nie meer ’n motor gehad nie, en Ma moes dus bus ry om êrens te kom en om ons by ’n kinderoppasser af te laai. Pa was veronderstel om onderhoud vir ons kinders te betaal, maar hy het dikwels nie en Ma moes vir die res sorg. Uiteindelik het hy glad nie betaal nie.”—Anne.a
ANNE se ouers is na 14 jaar steeds uitmekaar maar nie geskei nie. As jy die hartseer ondervinding deurgemaak het om te sien hoe jou ouers uitmekaar gaan, weet jy moontlik presies hoe sy voel. Daar het miskien genoeg weke, maande of jare verbygegaan sodat die aanvanklike skok kon verdwyn. Maar jy wonder dalk soms hoe jy dit sal regkry om so te bly lewe. Daar is steeds geen egskeiding of versoening nie; onsekerheid gooi steeds sy kwellende skaduwee oor jou lewe.
Eensaamheid kan ook die oorhand kry. Nadat Brad se ouers uitmekaar is, het sy ma twee betrekkings aanvaar én klas geloop om ’n beroep te leer. Brad het haar vreeslik gemis. Hy sê: “Ek het een aand in die motor weggekruip om saam met haar werk toe te gaan. Maar toe ek eers daar was, was ek ’n las. Iemand moes my huis toe neem.” Baie kinders van ouers wat uitmekaar is, voel inderdaad of die skeiding hulle albei ouers gekos het. Soos nog ’n jeugdige, Mike, sê: “Ons moes my pa aan ’n ander vrou afgee, en toe moes ons my ma aan haar betrekkings afgee.”
Eensaamheid, onsekerheid, ’n veranderde ekonomiese status—as jou ouers uitmekaar is, moet jy sulke probleme die hoof bied. Hoe kan jy ’n positiewe beskouing verkry?
Dink aan ander dinge
Hierdie stryd begin, soos die meeste ander, by jou eie verstand en hart. Jy is moontlik geneig om aan jou ouers se skeiding te bly dink, jou gedurig daaroor te bekommer, en jy kan selfs ’n tydperk van selfbejammering deurmaak waaruit dit baie moeilik is om te ontsnap. Maar jy kan jou beskerm sodat kommer jou nie oorweldig nie.
In ons vorige artikel in hierdie reeks het ons die oorlewing van jou ouers se skeiding met die trotsering van ’n storm in jou lewe vergelyk.b Die Bybel vertel interessant genoeg hoe die apostel Petrus in ’n letterlike storm op see vasgevang was. Toe die storm op sy sterkste was, het hy Jesus Christus ongedeerd op die oppervlak van die water sien loop! Jesus het Petrus selfs genooi om na hom op die see te loop. Maar Petrus het nie ver gekom voor hy begin sink het nie. Waarom?
Mattheüs 14:30 sê: “Maar toe [Petrus] die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe [het] hy begin sink.” Wat Petrus nodig gehad het, was geloof, nie vrees nie. Maar toe hy aan die storm met sy woeste, brekende golwe dink, het by bang geword. Hy het vergeet van Jesus, die een wat kon keer dat hy sink. Dieselfde kan waar wees van jou. Hoe meer jy aan jou probleme dink, hoe skrikwekkender sal hulle vir jou lyk. Dink liewer aan oplossings.
Meg, wie se ouers uitmekaar is, stel dit so: “Moenie te veel aan die onmiddellike situasie dink nie. Jy kan dit in elk geval nie verander nie.” Randy deel hierdie mening: “Wanneer jy negatief dink, beland jy net in hierdie moeras, en dieselfde gedagtes maal oor en oor deur jou kop, soos ’n vragmotor wat in die modder vassit.” Hoe kom jy daaruit?
Wend jou tot ander
Meg sê: “Praat daaroor met iemand wat werklik ervare en geestelik ryp is, iemand wat jou kan help om duidelikheid te kry oor dinge.” Daardie soort vriend kan jou help om positiewer te dink. Soos Spreuke 17:17 sê: “Op ’n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood” (NAV). Terwyl jy dus met jou ouers se skeiding worstel, en veral met die eensaamheid wat daarop volg, sal jy jou moontlik tot jou vriende moet wend en meer as ooit op hulle moet staatmaak.
Maar ’n woordjie van waarskuwing. Nie alle vriende sal jou help nie. Party sal jou net meer probleme gee. Mike sê: “Na my ouers uitmekaar is, het ek ’n byna onnatuurlike gehegtheid aan my vriende gehad. Ons het saam pret gemaak, maar ons het meestal saam in die moeilikheid gekom—soos dwelms en bakleiery. Ek het ’n ruk lank gedink dat ek alles sou verloor as ek my vriende verloor. Ek het later uitgevind dat dit ’n illusie was, omdat hulle nie werklik lojaal was nie. Hulle het teen my gedraai. Een van hulle het selfs voorgegee dat hy ek was toe die polisie hom gevang het terwyl hy besig was om die skoolgebou te verniel.”
Nee, nie alle vriende is ware vriende nie. Soos Spreuke 18:24 sê: “Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer” (NAV). Gelukkig het Mike later die regte soort vriende gevind. Hy onthou een in die besonder: “Hy was vir my soos ’n ouer broer. Hy het die Bybel met my studeer, en hy het ook ander dinge saam met my gedoen. Hy het my selfs saam met hom werk toe geneem. En hy het my nooit laat voel dat dit vir hom ’n las was nie. Ek weet tot vandag toe dat dit my lewe beïnvloed het. As ek hom nie ontmoet het nie, weet ek nie wat ek nou sou gewees het nie.”
Waar kan jy daardie soort vriend vind? Jesus het belowe dat die Christengemeente baie “broers en susters en moeders en kinders” sou voorsien vir dié wat nie het nie (Markus 10:30). Mike het derhalwe vriende by die vergaderinge van Jehovah se Getuies gevind.
Tom ook. Hy vertel: “Een broer in die gemeente het my behandel asof ek sy ouer seun was. En ’n ouer suster het vir ons soos ’n ouma geword. Die gemeente was altyd werklik lief vir ons, en dit is verbasend hoeveel dit vir jou doen.” Tom sê dus: “As jy nie ’n pa het nie, soek een in die gemeente. Intussen moet jy die gesinsbande wat jy het, verstewig, en jou gesin moet nader aan mekaar kom.” Broers, susters, grootouers en ander familielede kan almal jou troue vriende wees.—Spreuke 13:20.
Maar die grootste vriendskap wat jy ooit sal sluit, is die een met jou Skepper, Jehovah. Wanneer ouers uitmekaar gaan, is die belofte in Jakobus 4:8 veral vertroostend: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.”
Volg ’n geestelike roetine
As jy gereeld na Christenvergaderinge gaan, sal dit jou help om presies dit te doen—om tot God te nader deur van hom te leer. Vergaderinge sal jou ook help om nuwe vriende te vind (Hebreërs 10:24, 25). Maar vergaderinge en ander Christenbedrywighede kan jou lewe ook vastigheid en roetine gee. Dit is veral belangrik as die skeiding jou gesinsroetines verwoes het en jou dae met onsekerheid gevul het.
Jy voel weliswaar dalk nou ’n gevaarlike drang om teen alle vaste roetines in opstand te kom. Veral skool kan vir jou ’n las wees. Mike sê: “Ek het ’n ‘traak-my-nieagtige’ houding ingeneem. Ek het begin sleg vaar op skool en ek het gedink: ‘As my pa en ma nie genoeg omgee om die gesin bymekaar te hou nie, dan gee ek ook nie om nie.’ Hulle skeiding het my rede geword waarom ek nie probeer het nie.”
Maar jy moenie die fout maak om die skeiding as ’n verskoning te gebruik om juis die dinge wat jou die meeste sal help te verwaarloos nie. Die boek Surviving the Breakup sê dat skool vir kinders wie se ouers geskei het “nuttig was juis omdat dit vastigheid verleen het . . . Dit was duidelik dat skool baie kinders op hierdie basiese manier gesteun het, ongeag die gehalte van hulle akademiese en sosiale funksionering in die klaskamer.”
Skool kan jou ook help om eienskappe en vaardighede en dissiplines te leer wat jou dwarsdeur jou lewe kan help—en selfs kan maak dat jy makliker werk kry. As jou gesin finansieel sukkel vanweë die skeiding, soos dit met so baie die geval is, kan jy waarskynlik die voordeel daarvan sien om jou nou daarop voor te berei om ’n werk te kry wat jou sal help om in die toekoms in jou behoeftes te voorsien.
Buitendien, jou toekoms is nie buite beheer nie. Jy kan dit oorleef as jou ouers uitmekaar gaan. Jy is daarvoor toegerus. Navorsers oor egskeiding het gevind dat baie jongmense hulle ouers se skeiding ongeskonde oorleef het. Baie leer selfs uit hulle ouers se foute en word dus in sommige opsigte deur die ondervinding gelouter.c
Jou toekoms hoef nie onseker te wees nie. Dit hoef nie eensaam te wees nie. As jy jou tot die regte soort vriende wend, ’n vaste geestelike roetine volg en weier om gedurig oor jou probleem te tob, kan jou toekoms baie seker wees. Dit kan sonder twyfel lank en gelukkig wees.—Spreuke 3:1, 2.
[Voetnote]
a Party name is verander.
b Die artikel “Jongmense vra . . . My ouers gaan uitmekaar—Wat moet ek doen?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 1990 bespreek ’n paar van die slaggate wat vermy moet word, soos om toe te gee aan ’n toornige, wraaksugtige gees.
c Die artikel “Jongmense vra . . . Sal my ouers se egskeiding my lewe verwoes?” in die Ontwaak! van 22 Desember 1987 toon dat jy nie noodwendig jou ouers se foute sal herhaal nie.
[Prent op bladsy 18]
As jou ouers uitmekaar gaan, sal jy vriende nodiger hê as ooit. Waar kan jy die regte soort vriende vind?