Gawe van lewe of kus van die dood?
“Hoeveel mense moet sterf? Hoeveel sterfgevalle het julle nodig? Gee ons die doodsdrempel wat julle nodig het om te glo dat dit werklik gebeur.”
DON FRANCIS, ’n amptenaar van die CDC (Centers for Disease Control van Amerika), het met sy vuis op die tafel geslaan terwyl hy die woorde hierbo in ’n vergadering met hooggeplaaste verteenwoordigers van die bloedbankbedryf uitgeroep het. Die CDC het die bloedhandelaars probeer oortuig dat Vigs deur die volk se bloedvoorraad versprei word.
Die bloedhandelaars was nie oortuig nie. Hulle het gesê die bewys is niksbeduidend—net ’n handjievol gevalle—en het besluit om nie bloedtoetse of bloedontleding te verskerp nie. Dit was op 4 Januarie 1983. Ses maande later het die president van die American Association of Blood Banks beweer: “Daar is weinig of geen gevaar vir die gewone publiek nie.”
Daar was vir baie deskundiges alreeds genoeg bewys om optrede te regverdig. En sedertdien het daardie oorspronklike “handjievol gevalle” onrusbarend toegeneem. Voor 1985 het ongeveer 24 000 mense oortappings ontvang wat besmet was met HIV (menslike immuungebreksvirus), wat Vigs veroorsaak.
Besmette bloed is ’n skrikwekkend doeltreffende manier om die Vigs-virus te versprei. Volgens The New England Journal of Medicine (14 Desember 1989) kan ’n enkele eenheid bloed genoeg van die virus bevat om tot 1,75 miljoen mense te besmet! Die CDC het aan die Ontwaak! gesê dat 3506 mense teen Junie 1990 in die Verenigde State alleen reeds Vigs opgedoen het van bloedoortappings, bloedkomponente en weefseloorplantings.
Maar dit is bloot getalle. Hulle kan nie naastenby die diepe ellende van die persoonlike tragedies oordra wat daardeur veroorsaak word nie. Beskou byvoorbeeld die tragedie van Frances Borchelt, 71 jaar oud. Sy het die dokters baie duidelik laat verstaan dat sy nie ’n bloedoortapping wou hê nie. Hulle het haar in elk geval ’n bloedoortapping gegee. Sy het pynlik aan Vigs gesterf terwyl haar gesin hulpeloos toegekyk het.
Of beskou die tragedie van ’n 17-jarige meisie wat aan swaar menstruale bloeding gely het en wat twee eenhede bloed ontvang het net om haar bloedarmoede te genees. Sy was 19 en swanger toe sy uitgevind het dat die bloedoortapping haar met die Vigs-virus besmet het. Op 22-jarige ouderdom is sy deur Vigs platgetrek. Sy het nie net uitgevind dat sy binnekort aan Vigs sou sterf nie, maar is ook geteister deur die onsekerheid of sy die siekte aan haar baba oorgedra het. Die lys van tragedies is oneindig, en wissel wêreldwyd van babas tot bejaardes.
In 1987 het die boek Autologous and Directed Blood Programs gekla: “Die oorspronklike risikogroepe was skaars gedefinieer toe die ondenkbare gebeur: die bewys dat hierdie potensieel dodelike siekte [Vigs] oorgedra kan word deur die bloedvoorraad wat van vrywilligers afkomstig is en dat dit wel besig is om te gebeur. Dit was die bitterste van alle mediese ironies; dat die kosbare lewegewende gawe van bloed ’n instrument van die dood kan wees.”
Selfs geneesmiddels wat van plasma gemaak is, het gehelp om hierdie plaag wêreldwyd te versprei. Hemofilie-lyers, wat omtrent almal ’n stollingsmiddel met ’n plasmabasis gebruik om hulle siekte te behandel, het in groot getalle gesterf. In die Verenigde State het tussen 60 en 90 persent van hulle Vigs gekry voordat daar met ’n prosedure begin is om die geneesmiddels met hitte te behandel om HIV te vernietig.
Nogtans is bloed tot vandag toe nie van Vigs gevrywaar nie. En Vigs is lank nie die enigste gevaar verbonde aan ’n bloedoortapping nie.
Die gevare wat Vigs oorskadu
“Dit is die gevaarlikste bestanddeel wat ons in geneesmiddels gebruik”, sê dr. Charles Huggins van bloed. Hy behoort te weet; hy is die direkteur van die bloedoortappingsdiens van ’n hospitaal in Massachusetts. Baie mense dink ’n bloedoortapping beteken maar net dat jy iemand met dieselfde bloedgroep moet kry. Maar behalwe die ABO-groepe en die Rh-faktor waarvoor daar gewoonlik kruistoetse op bloed gedoen word, kan daar sowat 400 ander verskille wees waarvoor daar nie getoets word nie. Soos kardiovaskulêre chirurg Denton Cooley sê: “’n Bloedoortapping is ’n orgaanoorplanting. . . . Ek dink dat daar in amper alle bloedoortappings sekere onverenigbaarhede is.”
Dit is dus nie verbasend nie dat die oortapping van so ’n komplekse bestanddeel die liggaam se immuniteitstelsel kan “verwar”, soos een chirurg dit gestel het. Trouens, ’n bloedoortapping kan immuniteit tot ’n jaar lank onderdruk. Vir party is dit die onheilspellendste aspek van bloedoortappings.
Dan is daar ook aansteeklike siektes. Hulle het eksotiese name soos Chagas-siekte en sitomegalovirus. Gevolge wissel van koors en kouekoors tot die dood. Dr. Joseph Feldschuh van die Cornell-universiteit van Geneeskunde sê dat die kans om een of ander infeksie van ’n bloedoortapping te kry 1 uit 10 is. Dit is soos om Russiese roulette te speel met ’n vuurwapen waarvan die magasyn tien koeëls kan neem. Onlangse navorsing het ook getoon dat bloedoortappings tydens kankerchirurgie die risiko vergroot dat die kanker kan terugkeer.
Dit is dus geen wonder nie dat ’n televisie-nuusprogram beweer het dat ’n bloedoortapping die grootste hindernis kan wees om ná ’n operasie te herstel. Hepatitis besmet honderdduisende en veroorsaak die dood van baie meer ontvangers van bloedoortappings as Vigs, maar dit kry baie min publisiteit. Niemand weet hoeveel sterfgevalle daar is nie, maar ekonoom Ross Eckert sê dit kan die ekwivalent wees van ’n DC-10 vliegtuig vol mense wat elke maand neerstort.
Die risiko en die bloedbanke
Hoe het bloedbanke gereageer op die onthulling van al hierdie risiko’s wat aan hulle produkte verbonde is? Nie goed nie, sê die kritici. In 1988 het die Report of the Presidential Commission on the Human Immunodeficiency Virus Epidemic die bedryf daarvan beskuldig dat dit “onnodig stadig” op die Vigs-bedreiging reageer. Bloedbanke is aangespoor om lede van hoërisiko-groepe af te raai om bloed te skenk. Daar word by hulle daarop aangedring om die bloed self te toets, deur dit te ontleed vir tekens dat dit van hoërisiko-skenkers kom. Die bloedbanke het getalm. Hulle het die gevare weggepraat as pure histerie. Waarom?
In sy boek And the Band Played On sê Randy Shilts dat party bloedhandelaars “amper net ter wille van inkomste” verdere toetse teëgestaan het. “Hoewel die bloedbedryf grotendeels bestuur word deur organisasies sonder winsmotief, soos die Rooi Kruis, het die bedryf groot bedrae geld verteenwoordig, met ’n jaarlikse inkomste van [2,6 miljard rand]. Hulle bedryf wat die bloed vir 3,5 miljoen oortappings per jaar voorsien, is bedreig.”
Aangesien bloedbanke sonder winsmotief so afhanklik is van vrywillige skenkers, het hulle gevolglik gehuiwer om enigeen van hulle aanstoot te gee deur sekere hoërisiko-groepe, veral homoseksuele, uit te sluit. Voorstanders van homoseksuele-regte het dreigend gewaarsku dat dit hulle burgerlike regte sou skend en dat dit die konsentrasiekamp-mentaliteit van ’n ander era sou weerspieël as hulle verbied word om bloed te skenk.
Minder skenkers en bykomende nuwe toetse sou ook meer geld kos. In die lente van 1983 het die Bloedbank van die Stanford-universiteit die eerste instansie geword wat ’n surrogaattoets op bloed uitgevoer het, wat kon toon of die bloed van skenkers kom wat ’n hoë risiko loop om Vigs te kry. Ander bloedbanke het die stap gekritiseer as ’n kommersiële set om meer pasiënte te lok. Toetse verhoog wel pryse. Maar soos een egpaar dit gestel het, wie se baba sonder hulle medewete ’n bloedoortapping gekry het: “Ons sou beslis ’n addisionele [R13] per [half liter] betaal het” vir sulke toetse. Hulle baba is aan Vigs dood.
Die selfbehoudfaktor
Party deskundiges sê dat die bloedbanke traag is om op die gevare van bloed te reageer omdat hulle nie verantwoording hoef te doen vir die gevolge van hulle eie nalatigheid nie. Byvoorbeeld, volgens die berig in The Philadelphia Inquirer is dit die FDA (Food and Drug Administration van Amerika) se verantwoordelikheid om toe te sien dat die bloedbanke die vereiste standaard handhaaf, maar dit maak grootliks staat op die bloedbanke om daardie standaarde te bepaal. En party van die FDA se amptenare is persone wat vroeër vername posisies in die bloedbedryf beklee het. Bloedbanke is dus in werklikheid al hoe minder ondersoek namate die Vigs-krisis toegeneem het!
Amerikaanse bloedbanke het ook aangedring op wetgewing wat hulle teen hofsake sal beskerm. In amper elke staat bepaal die wet nou dat bloed ’n diens en nie ’n produk is nie. Dit beteken dat ’n persoon wat ’n bloedbank dagvaar, moet bewys dat die bank nalatig was—’n moeilike wetlike beletsel. Sulke wette beveilig bloedbanke teen hofsake, maar hulle maak bloed nie veiliger vir pasiënte nie.
Ekonoom Ross Eckert redeneer dat bloedbanke meer sal doen om die kwaliteit van hulle bloed te verseker as hulle verantwoordelik gehou word vir die bloed waarmee hulle handel dryf. Afgetrede bloedhandelaar Aaron Kellner stem saam: “Deur ’n wetlike toorkunsie het bloed ’n diens geword. Almal het skotvry daarvan afgekom, dit wil sê, almal behalwe die onskuldige slagoffer, die pasiënt.” Hy voeg by: “Ons kon ten minste op die onbillikheid daarvan gewys het, maar ons het nie. Ons was besorg oor ons eie risiko; waar was ons besorgdheid oor die pasiënt?”
Die slotsom lyk onvermydelik. Die bloedbankbedryf stel baie meer daarin belang om hulleself finansieel te beskerm as om mense teen die risiko’s van hulle produk te beskerm. ‘Maar maak al hierdie risiko’s regtig saak’, redeneer party miskien, ‘as bloed die enigste moontlike behandeling is om ’n lewe te red? Weeg die voordele nie swaarder as die risiko’s nie?’ Dit is goeie vrae. Hoe noodsaaklik is al daardie oortappings werklik?
[Lokteks op bladsy 9]
Dokters doen baie moeite om hulleself teen hulle pasiënte se bloed te beskerm. Maar kry pasiënte voldoende beskerming teen oorgetapte bloed?
[Venster/Prent op bladsy 8, 9]
Is bloed vandag teen Vigs gevrywaar?
“DIT is wonderlike nuus”, het ’n opskrif in die New York Daily News van 5 Oktober 1989 aangekondig. Die artikel het berig dat die kanse om Vigs van ’n bloedoortapping te kry 1 uit 28 000 is. Dit het gesê dat die proses om die virus uit die bloedvoorraad te hou nou 99,9 persent doeltreffend is.
Daar heers soortgelyke optimisme in die bloedbankbedryf. ‘Die bloedvoorraad is veiliger as ooit tevore’, beweer hulle. Die president van die American Association of Blood Banks het gesê dat die risiko om Vigs van bloed te kry “feitlik uitgeskakel” is. Maar waarom het howe sowel as dokters bloed as “toksies” en “onvermydelik gevaarlik” bestempel as dit veilig is? Waarom dra dokters wanneer hulle opereer klere wat soos ruimtepakke lyk, kompleet met gesigsmaskers en waterstewels, net om kontak met bloed te vermy? Waarom vra soveel hospitale pasiënte om ’n toestemmingsvorm te teken wat die hospitaal onthef van aanspreeklikheid vir die skadelike gevolge van bloedoortappings? Is bloed werklik gevrywaar van siektes soos Vigs?
Die veiligheid hang af van die twee maatreëls wat gebruik word om bloed te beveilig: om skenkers wat dit voorsien te toets en om die bloed self te toets. Onlangse navorsing het getoon dat daar nog steeds bloedskenkers is wat nie deur toetse opgespoor word nie, ten spyte van al die pogings om bloedskenkers te toets wat deur hulle lewenswyse ’n hoë risiko loop om Vigs op te doen. Hulle gee verkeerde antwoorde op die vraelys en skenk bloed. Party wil net indirek uitvind of hulle die virus het.
In 1985 het bloedbanke bloed begin toets vir die aanwesigheid van die teenliggaampies wat die liggaam vervaardig om die Vigs-virus te beveg. Die probleem met dié toets is dat ’n mens die Vigs-virus al ’n tyd lank kan hê voor jou liggaam enige teenliggaampies ontwikkel wat deur die toets bespeur kan word. Hierdie kritieke tydperk word die vensterperiode genoem.
Die gedagte dat die kans om Vigs deur ’n bloedoortapping te kry 1 uit 28 000 is, kom van ’n studie wat in The New England Journal of Medicine gepubliseer is. Daardie tydskrif het gesê dat die vensterperiode waarskynlik gemiddeld agt weke lank is. Dit was egter net maande vantevore, in Junie 1989, dat daardie selfde tydskrif ’n studie gepubliseer het wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die vensterperiode baie langer kan wees—drie jaar of meer. Hierdie vroeëre studie het gesê dat sulke lang vensterperiodes moontlik meer algemeen is as wat daar eers gedink is, en dit het, om dit nog erger te maak, gegis oor die moontlikheid dat party draers van die virus nooit teenliggaampies teen die virus sal ontwikkel nie! Die meer optimistiese studie het egter nie hierdie bevindinge ingesluit nie en het gesê dat hulle “nie goed verstaan” word nie.
Dit is geen wonder nie dat dr. Cory SerVass van die Presidential Commission on AIDS gesê het: “Bloedbanke kan aanhou om vir die publiek te sê dat die bloedvoorraad so veilig moontlik is, maar die publiek laat hulle dit nie meer wysmaak nie, omdat hulle besef dat dit nie waar is nie.”
[Erkenning]
CDC, Atlanta, Ga.
[Venster op bladsy 11]
Oorgetapte bloed en kanker
Wetenskaplikes vind nou uit dat oorgetapte bloed die immuniteitstelsel kan onderdruk en dat onderdrukte immuniteit ’n nadelige uitwerking kan hê op die lewensverwagting van mense wat vir kanker geopereer word. Die tydskrif Cancer se nommer van 15 Februarie 1987 doen verslag oor ’n insiggewende studie wat in Nederland gedoen is. Die tydskrif het gesê: “Daar is opgemerk dat ’n bloedoortapping pasiënte met kolonkanker se lewensverwagting aansienlik benadeel. In hierdie groep was daar, in sy geheel geneem, ’n kumulatiewe oorlewingsyfer oor 5 jaar van 48% vir pasiënte wat bloed ontvang het en 74% vir dié wat nie oortappings ontvang het nie.”
Geneeshere aan die Universiteit van Suid-Kalifornië het ook bevind dat van pasiënte wat kankerchirurgie gehad het, baie meer weer kanker gekry het as hulle ’n oortapping ontvang het. Die Annals of Otology, Rhinology & Laryngology, Maart 1989, het verslag gedoen oor ’n opvolgstudie van honderd pasiënte deur hierdie geneeshere: “Die herhalingsyfer vir alle kankers van die larinks was 14% vir diegene wat nie bloed ontvang het nie en 65% vir diegene wat wel bloed ontvang het. Wat kanker van die mondholte, farinks en neus of sinus betref, was die herhalingsyfer 31% sonder oortappings en 71% met oortappings.”
In sy artikel “Bloedoortappings en chirurgie vir kanker” het dr. John S. Spratt afgesluit: “Die kankerchirurg sal moontlik ’n bloedlose chirurg moet word.”—The American Journal of Surgery, September 1986.
[Prente op bladsy 10]
Dat bloed ’n lewegewende geneesmiddel is, is betwisbaar, maar dat dit mense doodmaak, is nie