Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 10/8 bl. 23-25
  • Waarom moet ek die Bybel bestudeer?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom moet ek die Bybel bestudeer?
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bevredig jou geestelike behoefte
  • Vind die regte weg
  • Hulp om nader aan God te kom
  • Die beloning vir jou inspanning
  • Wie is God?
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Wat is die waarheid omtrent God?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Gelukkige jongmense in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jongmense—Wat jaag julle na?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 10/8 bl. 23-25

Jongmense vra . . .

Waarom moet ek die Bybel bestudeer?

“WANNEER ek van die skool af kom, wil ek nie meer studeer nie. Ek wil uitgaan en saam met my vriende wees!” Dit was hoe ’n tienderjarige genaamd Ken gereageer het op die aanmoediging dat hy tyd moet afstaan om die Bybel te bestudeer.

Soos baie tienderjariges, het jy moontlik nog nooit veel in verband met persoonlike Bybelstudie gedoen nie. Miskien glo jy dat die Bybel God se Woord is. Jy woon moontlik selfs Christenvergaderinge by. Maar jy meen dalk dat jy alreeds weet wat die Bybel leer. Of jy wonder miskien: ‘Waarom moet ek die Bybel bestudeer? Wat sal ek daaruit kry as ek my so inspan?’

Bevredig jou geestelike behoefte

Dit is nie verkeerd of oneerbiedig om sulke vrae te vra nie. Inteendeel, dit kan selfs toon dat jy bewus begin raak van wat Jesus jou “geestelike behoefte” genoem het (Mattheüs 5:3, NW). Dit is meer as net pure nuuskierigheid. Dit is, soos The New English Bible hierdie vers weergee, ’n “behoefte aan God”—’n behoefte om God intiem te ken en sy voornemens te verstaan. Toe jy byvoorbeeld ’n klein kindjie was, het jou ouers jou moontlik basiese Bybelwaarhede geleer. Jy het heel moontlik alles aanvaar wat hulle gesê het sonder om dit te betwyfel. Maar namate jy ouer geword het, het jy moontlik ’n begeerte gehad om ‘alle dinge te beproef’—om te weet of dít wat jy geleer is waar is of nie.—1 Thessalonicense 5:21.

Aan die ander kant is jy moontlik nie in ’n godsdienstige huis grootgemaak nie. Beteken dit dat jy nie ’n geestelike behoefte het nie? Hoegenaamd nie! Beskou die situasie in ’n land waar ateïsme al lank bevorder word. In onlangse jare het jongmense daar ’n toenemende belangstelling in godsdiens getoon. Een anti-godsdienspropagandis het beskuldigend gewys na, onder andere, “die feit dat ateïste nie oortuigende antwoorde verstrek op vrae oor die betekenis van teleurstelling en lyding in die lewe nie”. Jy vra moontlik dieselfde vrae—’n bewys dat jy ’n geestelike behoefte het.

Nie alle godsdienste verstrek egter bevredigende antwoorde nie. Jong Manisj het byvoorbeeld as ’n Hindoe grootgeword en aan miljoene gode geglo. Tog erken hy: “Ek het begin wonder: ‘Wie is God?’” En talle jongmense wat in die godsdienste van die Christendom grootgemaak is, het in hulle soeke na bevredigende antwoorde gevind dat die antwoorde net so ontwykend is. Waarheen kan ’n mens dan gaan? Jesus Christus antwoord: “U [God se] woord is die waarheid.”—Johannes 17:17.

’n Akkurate kennis van God se Woord, die Bybel, kan jou dors na geestelike waarhede les. Dit sal jou vrae oor God se identiteit, die redes vir huidige wêreldtoestande en jou vooruitsigte vir die toekoms beantwoord. Dit is waar, jy is moontlik deur ouers grootgemaak wat Jehovah se Getuies is, en jy kan meen dat jy alreeds ‘die waarheid’ in sekere mate ken. Maar “begryp [jy] . . . die breedte en lengte en diepte en hoogte” van die Bybel se waarhede, of is jou kennis slegs oppervlakkig? (Efesiërs 3:18). Indien laasgenoemde die geval is, moet jy self “beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” deur die Bybel deeglik te bestudeer.—Romeine 12:2.

Vind die regte weg

Is jy al ooit die verkeerde aanwysings gegee na ’n plek waarheen jy wou gaan? Die verlore tyd en verkwiste inspanning kan frustrerend wees. Tog stuur talle jongmense se hele lewe in die verkeerde rigting! Die Bybel sê: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”—Spreuke 14:12.

Beskou byvoorbeeld die geskil van geslagsedelikheid. Een 14-jarige meisie het gesê: “Daar bestaan nie so iets soos reg of verkeerd nie. Daar is net opinies.” Die drang om geslagsomgang te hê is weliswaar sterk, veral wanneer ’n mens jonk is. Maar as ’n mens dit nie beteuel nie, kan hierdie begeerte jou in die “weë van die dood” lei. Daar is elke jaar 2,5 miljoen Amerikaanse tienderjariges wat ’n seksueel oorgedraagde siekte opdoen. Talle jong meisies word ongehude moeders—of maak hulle babas deur aborsie dood! En selfs al word swangerskap of siekte moontlik voorkom, sal voorhuwelikse geslagsomgang God altyd mishaag.—1 Thessalonicense 4:3.

Waarom dus in die “weë van die dood” rondstruikel? Die Bybel gee duidelik afgebakende riglyne om jou te help om ‘vir die begeerlikhede van die jonkheid te vlug’ (2 Timotheüs 2:22). Dit behels dat onsedelike geslagsneigings, nie die normale drang na geslagsomgang binne ’n eerbare huwelik nie, ‘doodgemaak’ word (Kolossense 3:5). Jy kan hierin gehelp word deur die Bybel te bestudeer. Dit kan jou die morele krag gee om weg te vlug van wat verkeerd is—selfs al lyk daardie verkeerde daad baie aantreklik. Dit kan ‘aan die eenvoudiges skranderheid gee, aan die jongeling [of jonge dogter] kennis en oorleg’ om omstandighede te vermy wat tot onsedelike gedrag kan lei.—Spreuke 1:4.

Jong Dan is iemand wat baat gevind het by ’n studie van die Bybel. Hoewel hy erken dat dit lyk asof promiskue tieners die lewe geniet, sê hy dat hy ook “buite-egtelike babas, geslagsiektes en baie ander probleme” gesien het. Hy vra: “Hoe sou ek gelewe het as ek nie die Bybel bestudeer het nie?” Die Bybel kan jóú ook van die “weë van die dood” red.

Hulp om nader aan God te kom

Hoewel talle jongmense vandag sê dat hulle aan God glo, neem die geloof in ’n persoonlike God af namate jongmense ouer word. ’n Artikel in die tydskrif Adolescence het opgemerk dat “die konsep oor God té abstrak is” vir sommige jongmense. Baie godsdienste het God abstrak laat lyk deur die feit te verbloem dat God ’n naam het. Hoe kan jy per slot van rekening ná aan iemand voel as jy nie eers sy naam ken nie?

Die Bybel toon egter dat God se naam Jehovah is, en gebruik daardie naam meer as 7000 keer! (Psalm 83:18, NW). As jy daardie naam ken, open dit vir jou die weg om ’n persoonlike verhouding met die almagtige God te hê. Maar dit behels meer as net ’n terloopse belangstelling in die Bybel. Eerste Kronieke 28:9 sê: “As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind.” Dit dui op ’n sorgvuldige ondersoek van die Skrif in ’n poging om Jehovah intiem te leer ken.

Het jy dit al gedoen? Kan jy byvoorbeeld verduidelik waarom die Bybel van Jehovah praat as iemand wat “oë”, “ore”, ’n “gesig” en ’n “arm” het? (1 Petrus 3:12; Esegiël 20:33). Sê die Bybel nie “God is gees” nie? (Johannes 4:24). Of weet jy in watter mate God die vermoë het om jou waar te neem, te weet wat jy gaan sê selfs nog voor jy dit sê? (Psalm 139:4). En wat van Jehovah se hoofeienskappe: liefde, wysheid, geregtigheid en krag? Kan jy verduidelik wat die grootste blyk van God se liefde was? (Johannes 3:16). Weet jy wat die verskil tussen God se gees en sy krag is? (Miga 3:8). Kan jy bewys dat God gevoelens het—en dat dit moontlik is om sy gevoelens seer te maak?—Psalm 78:40, vgl. NW.

Daar is net een manier om al daardie vrae te beantwoord—deur die Bybel te bestudeer. Jong Luther het uitgevind dat hy “Jehovah se persoonlikheid, asook watter soort persoon hy is, kan ‘sien’ deur Sy Woord te bestudeer”. (Vergelyk Job 42:5.) Jaquella het God ook só beter leer ken. Sy het deur haar studie van die Bybel besef “dat Jehovah kan waarborg wat hy sê. Wanneer hy iets belowe, breek hy nie sy belofte nie; hy lieg nie.”—Titus 1:2.

Die beloning vir jou inspanning

Dit verg inspanning en die opoffering van ’n deel van jou vrye tyd om die Bybel te bestudeer. Dit kan moeilik wees om te begin en jy kan selfs deur familie en vriende bespot word. Maar kyk na die beloninge. Gereelde Bybelstudie het Paula gehelp. Sy het gesê: Ek het “’n intiemer verhouding met Jehovah, my Christenbroers en my gesin” ontwikkel. Sandy sê dit het haar gehelp om “’n gewete op te lei” wat selfs op betreklik onbenullige dingetjies reageer. Sy sê: “Ek kan aan tekste of beginsels dink wat my help om te besluit waarna ek op TV wil kyk.” En onthou jy vir Ken na wie ons aan die begin van die artikel verwys het? Hy het sy Bybel meer gereeld begin lees en sê: “Hoe meer ek gelees het, hoe meer beïndruk was ek, hoe meer het dit sin gemaak.” Ken is beweeg om ’n gedoopte kneg van God te word.

Waarom maak jy nie ’n ernstige studie van die Bybel nie? Beskou dit as ’n uitdaging. Vra jou ouers of ’n lid van ’n plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies om jou te help om daarmee te begin. Wees vasbeslote om nie op te gee nie. Pas toe wat jy leer. En onthou: ‘Hy wat diep insien in die volmaakte wet en daarby bly, sal gelukkig wees in wat hy doen.’—Jakobus 1:25.

[Lokteks op bladsy 24]

“Begryp [jy] . . . die breedte en lengte en diepte en hoogte” van die Bybel se waarhede, of is jou kennis slegs oppervlakkig?

[Prent op bladsy 25]

’n Ouer of ’n ander lid van die Christengemeente kan jou help om die Bybel gereeld te begin lees

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel