Die ophoping van vullis—Sal ons daaronder begrawe word?
DIT is inderdaad ’n sonderlinge paradoks. Die mens het in hierdie geslag maan toe en terug gereis. Die jongste gesofistikeerde satelliete wat met hoëskeidingskameras toegerus is, is miljarde kilometers die ruimte in geskiet, en het nabyfoto’s van verafgeleë planete teruggestuur. Die mens het tot in die dieptes van die oseane gedaal en skepe opgespoor wat in die gryse verlede vergaan het en hulle rykdom uit ’n lank vergete eeu na die oppervlak teruggebring. Wetenskaplikes het die ontwykende atoom ingespan, tot voordeel van die mens of om hele stede en hulle inwoners uit te wis. Die hele Bybel kan op ’n paar piepklein silikonrekenaarvlokkies skaars groter as ’n mens se vingernael vasgelê word vir onmiddellike toegang. Maar terselfdertyd kan die mense met hierdie skatkis van vermoë en intelligensie nie hulle eie huishoudelike vullis verwyder en behoorlik daarvan ontslae raak, en sodoende hulle geslag van die vrees dat hulle lewend daaronder begrawe sal word, bevry nie.
Beskou vir eers die Verenigde State se rommeldilemma. Volgens berig gooi Amerikaners daagliks meer as 400 000 ton vullis weg. Daar word, met uitsondering van slyk en bou-afval, jaarliks 160 miljoen ton vullis weggegooi—“genoeg om 30 verdiepings hoog oor 1000 voetbalvelde te sprei, genoeg om ’n konvooi vulliswaens te vul wat halfpad maan toe strek”, het die tydskrif Newsweek gesê. Meer as 90 persent van hierdie vullis word na stortterreine vervoer totdat hope vuilgoed honderde meters bokant die grond uittoring.
Byvoorbeeld: Die stad New York het toegang tot die grootste stedelike stortplek ter wêreld—800 hektaar op New York se Staten Island. Daar word daagliks 24 000 ton vullis opgelaai en 24 uur per dag deur ’n menigte vragskepe na hierdie enorme stortterrein geneem. Volgens skatting sal hierdie vullishoop teen die jaar 2000 “anderhalf keer so hoog as die Vryheidsbeeld [Statue of Liberty] wees en meer kubieke [meter] as die grootste Groot Piramide van Egipte” vul. Daar word verwag dat wanneer hierdie stortterrein gedurende hierdie dekade sluit, dit al 150 meter hoog sal wees. Toe David Dinkins, die pas gekose burgemeester van die stad New York, die amp aanvaar het, is hy met hierdie boodskap van die kommissaris van die gesondheidsdepartement begroet: “Hallo. Welkom in die Stadhuis. Terloops, jy het nêrens om die vullis te stort nie.”
“Elke groot stad in die Verenigde State het ’n probleem met die storting van vullis”, sê een deskundige. “Amerika se stortplekke raak eenvoudig vol, en daar word geen nuwes opgerig nie”, het U.S.News & World Report gesê. “Teen 1995 sal die helfte van die bestaande stortplekke gesluit wees. Talle voldoen nie aan hedendaagse omgewingstandaarde nie”, het die verslag voorts gesê.
Volgens skatting gooi die gemiddelde inwoner in Kalifornië jaarliks ongeveer 1100 kilogram rommel en vullis weg. “In die Los Angeles-distrik gooi ons genoeg vullis weg om die Dodger-stadion elke nege dae of wat met rommel te vul”, het een omgewingsdeskundige gesê. Daar word verwag dat vullisstortplekke in Los Angeles teen 1995 heeltemal vol sal wees. Wat dan? vra sy inwoners. Maar die dag van afrekening breek dalk vroeër aan as wat verwag word, soos een Kaliforniese omgewingsopvoedkundige toon: “Ons het vulliswaens wat elke dag in die stad rondry sonder dat hulle ’n stortplek het.”
Chicago staan voor die probleem dat sy 33 stortplekke binne die eerste helfte van hierdie dekade gesluit gaan word. Ander groot stede wat die vullisprobleem het, vervoer eenvoudig hulle vullis oor staatsgrense na ander stortterreine. Dit het mense in state wat ander se onwelkome vullis kry woedend gemaak. Sowat 28 000 ton vullis word daagliks oor Amerika se hoofweë vervoer onderwyl iemand op soek is na ’n plek om dit te stort. Volgens berig voer New York, New Jersey en Pennsilvanië jaarliks agtmiljoen ton vullis uit. Inderdaad ’n duur verwyderingsmetode. “Nog erger”, skryf die tydskrif Newsweek, “sommige vragwabestuurders wat vleis en landbouprodukte in koelwaens na die Ooste [van die VSA] vervoer, bring in dieselfde vragwaens vullis wat wemel van maaiers terug na die Weste [van die VSA].” Die Amerikaanse Kongres oorweeg dit om hierdie gebruik te verbied weens die ooglopende gesondheidsgevare.
Die vulliskrisis is nie net vir die Verenigde State ’n probleem nie. Die ophoping van vullis bedreig ook ander nasies. Japan probeer byvoorbeeld werk maak van sy probleem. Daar word geskat dat Tokio en drie buurdorpe teen die jaar 2005 3,43 miljoen ton te veel vullis sal hê. Hulle sal dit ook moet uitvoer. “Vullis is een Japannese uitvoerproduk waarvoor daar nie ’n mark is nie”, het een skrywer gesê.
Hoewel sommige nasies nog nie ’n probleem het om van hulle huishoudelike vullis ontslae te raak nie, het die probleem om van hulle fabrieksafval ontslae te raak ’n werklikheid geword. Byvoorbeeld: Lande wat reuseverbrandingsoonde gebruik om hulle vullis te verbrand, het te kampe met duisende tonne as, waarvan ’n deel hoogs toksies kan wees. NIMBY (Not in my back yard [nie in my agterplaas nie]) is ’n kreet wat al hoe meer van hierdie lande se inwoners gehoor word wanneer hulle voor die probleem van vullisstorting in hulle omgewing te staan kom. Wat met die vullis gedoen moet word, is vir diegene wat daarmee gemoeid is ’n verbysterende vraag. Vragskepe gelaai met duisende tonne toksiese afval deurkruis die oseane op soek na ’n “agterplaas” in die buiteland. Talle word weggewys. Hulle het hulle teen die onversetlike NIMBY-sindroom vasgeloop.
Ontwikkelende lande het in onlangse jare die stortplek vir duisende tonne onwelkome afval geword. Gewetenlose mense het dit eenvoudig in oop velde gestort. “Europeërs en Amerikaners ontdek dat die bewaring van hulle omgewing die besoedeling van ander mense se land kan beteken”, het die tydskrif World Press Review geskryf.
The German Tribune van Oktober 1988 het berig dat Zürich, Switserland, hulle oorskot vullis na Frankryk uitvoer en dat Kanada, die Verenigde State, Japan en Australië stortplekke in Oos-Europa se “agterplaas” gevind het.
En dit is hoe dit gaan. “Die vulliskrisis verskil van alle ander waarmee ons al te kampe gehad het”, het een Amerikaanse amptenaar gesê. “Wanneer daar ’n droogte is, gebruik mense minder water. Maar in hierdie krisis lewer ons eenvoudig meer vullis.”
[Lokteks op bladsy 4]
“Genoeg om ’n konvooi vulliswaens te vul wat halfpad maan toe strek”
[Lokteks op bladsy 5]
“Vullis is een Japannese uitvoer- produk waarvoor daar nie ’n mark is nie”