Hedendaagse jongmense—Bied die uitdagings van die 1990’s die hoof
NOVEMBER 1985. Afgevaardigdes uit 103 lande het by die Verenigde Volke se hoofkwartier bymekaargekom om “’n globale strategie [uit te werk] om die probleme van die wêreld se jongmense aan te spreek”.—UN Chronicle.
Vyf jaar het verloop, en jongmense se probleme het nou meer as ooit tevore op die voorgrond getree. Botsende politieke filosofieë, ’n gebrek aan fondse en steeds veranderlike prioriteite het die welmenende pogings van regerings om ten behoewe van jongmense saam te werk, verydel.
Godsdiens het eweneens nie daarin geslaag om ’n werklike krag ten goede te wees nie. Onlangse Gallup-meningspeilings in die Verenigde State het aan die lig gebring dat die oorgrote meerderheid jongmense (omtrent 90 persent) in God (of ’n universele gees) glo, nogtans meen net ’n minderheid dat godsdiens ’n baie belangrike rol in hulle lewe speel. Buitendien het godsdiens weinig of niks gedoen om promiskue seksuele gedrag aan bande te lê nie.
Dan is daar die sogenaamde deskundiges—sielkundiges, sosioloë, raadgewers en so meer—wat raad aan jongmense uitdeel. Party van die raad is goed en nuttig. Hulle raad is egter geneig om op fisiese bekommernisse te konsentreer: die ekonomiese las van tienerswangerskap, hoe om Vigs te vermy, die fisiese gevare van dwelmmisbruik. Hulle spreek selde, indien ooit, die veel belangriker morele geskille aan wat daarby betrokke is. Die “deskundiges” is oor die algemeen tevrede om die populêre mening van die oomblik te volg of om treffende slagspreuke, soos “Veilige seks” of “Sê net nee!” te herhaal.
Wat van ouers? Veels te veel word té besig gehou om ’n bestaan te maak. Baie ouers is nie seker oor watter riglyne hulle moet gee nie of voel ongemaklik wanneer dit by die bespreking van delikate sake kom en skram daarvan weg wanneer gevoelige geskille ontstaan. Dit is dus geen wonder nie dat baie jongmense hulle tot onervare portuurs wend om hulp.
Die beste bron van hulp vir jongmense
Hoe kan jongmense dan praktiese antwoorde kry op vrae wat hulle verwar? Vrae soos: ‘Moet ek dwelms en alkohol probeer?’ ‘Wat van voorhuwelikse seks?’ ‘Hoe weet ek of dit ware liefde is?’ ‘Wat hou die toekoms vir my in?’
Dit sal party moontlik verbaas om te hoor dat die beste bron van raad vir jongmense God se Woord, die Bybel, is. Die Bybel? Ja, dit het veel te sê vir jongmense. (Sien Spreuke, hoofstukke 1-7; Efesiërs 6:1-3.) Dit is boonop geïnspireer deur ons Skepper, wat terdeë bewus is van “die onstuimige begeerlikhede van die jonkheid” (2 Timotheüs 2:20-22, Phillips; 3:16). Voor jy die idee opsy stoot dat hierdie ou boek op lewe in die negentigerjare van toepassing kan wees, moet jy eers die volgende oorweeg: Is dit waarskynlik dat die meeste van die raad wat vandag se “deskundiges” voorhou ’n skrale 50 jaar van nou af deur mense gelees en gerespekteer sal word? Tog word die Bybel duisende jare nadat dit geskryf is steeds ernstig opgeneem!
Dit is waar, die mensegemeenskap het sedert Bybeltye baie verander, maar die mens het nie. Jeugdige begeertes is nog basies dieselfde. Die Bybel is dus nog net so geldig soos altyd. En dit dring reg deur tot die kern van die probleme waaroor jongmense hulle vandag bekommer. Terselfdertyd bied dit aan jongmense ’n hoop vir die toekoms.
Aangesien die Bybel van ons Skepper kom, kan ons verwag dat die raad daarin uitvoerbaar en prakties sal wees. Die werklike ondervindinge van duisende Christenjeugdiges vandag, wat die Bybel se raad volg, is bewys hiervan! Die Wagtoringgenootskap het ’n boek getiteld Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gepubliseer om jongmense te help. Dit dek ’n wye spektrum van dinge waaroor jongmense hulle bekommer, en al die raad daarin word op die Bybel gebaseer! Die entoesiastiese reaksie van jong lesers op hierdie boek getuig nie net van die doeltreffendheid van die Bybel se onderrigting nie, maar ook van die feit dat jongmense die Bybel se leiding wil hê en daarop gedy. Die volgende artikel bevat sommige van die hartgrondige waarderinge wat jongmense wêreldwyd uitgespreek het.
Of jy jonk of oud is, jy is dit aan jouself verskuldig om vertroud te raak met die Bybel. Jehovah se Getuies het reeds miljoene gehelp om dit te doen deur ’n gratis Bybelstudiereëling, en hulle sal jou ook met genoeë help. Wanneer jongmense vertroud raak met die Bybel se raad en dit toepas, sal hulle nie net praktiese oplossings vir vandag se probleme vind nie, maar ook hoe hulle God, wat jongmense uitnooi om hom te dien, se guns kan wen.—Prediker 12:1.
[Venster op bladsy 8]
Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk
Hier is net enkele voorbeelde van die Bybel se raad oor aktuele vrae wat in hierdie boek gegee word.
Die Vigs-epidemie: “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ’n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam.”—1 Korinthiërs 6:18, “Nuwe Afrikaanse Vertaling”; vergelyk Spreuke 5: 3-20.
Alkoholmisbruik: “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal. Want ’n drinker en ’n vraat sal arm word, en slaperigheid laat stukkende klere dra. Op die end byt dit [wyn] soos ’n slang en spuug gif uit soos ’n basilisk.”—Spreuke 23:20, 21, 32.
Werk: “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan, hy hoef nie voor geringes te staan nie.”—Spreuke 22:29.
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie.”—Kolossense 3:23.
Vrees vir kernuitwissing: “So sê die Here, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word.”—Jesaja 45:18; 55:10,11; Prediker 1:4.
Ekonomiese onsekerheid: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie;... Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei nie.”—Jesaja 65:21-23.