Stiergevegte—Kuns of gewelddaad?
Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje
LUCIO was skaars 19 toe dit gebeur het. Dit was lente in Sevilla, en die bekende Maestranza-arena was vol. Maar Lucio was ’n tikkie te naby toe die bul verbygestorm het. ’n Skerp horing het sy regteroog uitgesteek.
Na hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy sy mantelwerk drie maande lank sonder ophou geoefen. Hy het ondanks die verlies van ’n oog geweier om sy lewenslange droom te laat vaar. Aan die einde van die somer het hy na die arena van Sevilla teruggekeer om te veg en is hy triomfantlik uit die arena gedra. “Dit was ’n waagstuk”, het hy erken, “maar dis maar hoe dit met stiervegtery gaan.”
Die dramatiese figuur van die stiervegter het al komponiste, skrywers en rolprentmakers geïnspireer. Dit is miskien waarom miljoene toeriste dink dat ’n besoek aan Spanje of Mexiko onvolledig sal wees as ’n mens nie na ’n stiergeveg gaan kyk nie.
Maar dit is beslis nie net die toeriste wat die arenas vol maak nie. Bekende matadors trek duisende goed ingeligte plaaslike bewonderaars na die monumentale arenas van Madrid, Sevilla en Mexikostad. Die liefhebbers van stiervegtery beskou ’n goeie matador as ’n kunstenaar, wat vergelyk kan word met Goya of Picasso, ’n kunstenaar wat die dood verag om bewegende prag te skep.
Stiervegtery sit egter nie in alle Spanjaarde se bloed nie. In ’n onlangse opname het 60 persent getoon dat hulle min of glad nie daarin belangstel nie. Verskeie groepe in Spanje, wat beweer dat “marteling nòg kuns nòg kultuur is”, het veldtogte teen hierdie “nasionale fiësta” begin.
’n Ou tradisie
Die kragmeting tussen ’n man en ’n bul, wat vir sommige fassinerend en vir ander afstootlik is, is ’n ou tradisie. Mediterreense volke respekteer die ontembare gees van die wilde bul al lank. Egiptiese Farao’s het hulle te voet gejag, terwyl Kretensiese prinse en prinsesse ’n aanstormende bul trotseer het deur bolmakiesie oor sy horings te slaan.
Gedurende die eerste millennium van ons Gewone Jaartelling het Romeinse en Moslemoorheersing hulle stempel afgedruk op wat ’n tradisionele Spaanse skouspel sou word. Vervalle Romeinse amfiteaters is omgeskep in arenas, wat steeds ’n bietjie met die Romeinse arena ooreenkom. Die More het begin om bulle te perd met lanse te steek en dit maak nou deel uit van die seremonie.
Maar dit was eers teen die 18de eeu dat die stiergeveg ’n ooreenkoms met die hedendaagse skouspel begin toon het. In daardie tyd is die stiergeveg van die adel na professionele ondergeskiktes oorgegaan. Goya het ongeveer hierdie tyd ’n kenmerkende professionele uniform ontwerp, wat vandag bekendstaan as ’n traje de luces, “pak van ligte”, vanweë sy ryk goue en silwer borduursel. Daar is ook aandag geskenk aan die verkryging van geskikte bulle.
’n Ander soort bul
Die wilde bul het in die 17de eeu uit sy laaste vesting in die woude van Sentraal-Europa verdwyn. Maar die Spaanse wilde bul het vanweë die teel van vegbulle die afgelope driehonderd jaar bly voortbestaan. Die belangrikste verskil tussen ’n wilde bul en ’n mak bul is sy reaksie wanneer hy bedreig word. Die wilde Iberiese bul sal wie of wat ook al voor hom beweeg onophoudelik aanval.
Die stiergeveg hang van hierdie eienskap af, een wat die Spaanse veetelers gedurig probeer verbeter. Die bulle word vier jaar lank vertroetel tot daardie noodlottige oomblik wanneer hulle ru die arena ingejaag word. Voor die bul in die arena kom, het hy nog nooit ’n matador of ’n mantel gesien nie—anders sou hy die tegnieke onthou en te gevaarlik gewees het. Maar hy storm instinktief op daardie bewegende doek af, of dit nou rooi of enige ander kleur is (bulle is kleurblind). Binne ongeveer 20 minute is alles verby; ’n karkas van 450 kilogram word uit die arena gesleep.
Die stadiums van ’n stiergeveg
Tydens die kleurryke openingseremonie paradeer al die deelnemers in die arena, onder meer die drie matadors, hulle helpers en die picadors. Elke matador kry twee bulle en veg deur die loop van sy twee gevegte een vir een teen hulle. ’n Orkes begelei al die gevegte met aangrypende tradisionele musiek, terwyl beuels die begin van elk van die drie tercios, of dele, van die drama aankondig.
Die eerste stadium begin nadat die matador verskeie voorbereidende bewegings met ’n groot mantel gemaak het om die bul uit te lok. Die picador kom die arena te perd met ’n lans binne. Die bul word uitgelok om die perd, wie se flanke deur ’n harnas beskerm word, te storm. Die picador weer die aanval af deur met sy lans in die bul se nek- en skouerspiere in te sny. Dit verswak die nekspiere, en dwing die bul om sy kop te laat sak wanneer hy storm, wat veral belangrik is vir die doodsteek. (Sien foto hierbo.) Na nog twee aanvalle verlaat die berede picador die arena, en die tweede tercio van die geveg begin.
Tydens hierdie stadium verskyn die matador se helpers, die banderillero’s, wat twee of drie paar banderillas, kort pyle met staalpunte, in die bul se skof moet steek. Die banderillero trek die bul se aandag deur van ’n afstand van 20-30 meter te skreeu en handgebare te maak. Wanneer die bul storm, hardloop die banderillero na hom toe, en spring op die laaste oomblik opsy terwyl hy twee pyle in die bul se skof plant.
Gedurende die laaste deel van die geveg trotseer die matador die bul—alleen. Hierdie kritieke deel van die geveg word die oomblik van waarheid genoem. Nou gebruik die matador ’n muleta, ’n skarlakenrooi serge- of flaneldoek, om die dier te mislei. Hy bly naby aan die bul, en tart die dier totdat hy uit desperaatheid storm, maar hy beheer die situasie met die muleta terwyl die bul al hoe nader aan sy liggaam kom. Daar is al gesê dat hierdie stadium van die geveg “nie werklik ’n stryd tussen ’n man en ’n bul is nie maar eerder die stryd van ’n man met homself: hoe naby sal hy daardie horings aan hom laat kom, hoe ver sal hy gaan om die skare te geval?”
Wanneer die matador gewys het dat hy die oorhand oor die nou gefrustreerde bul het, maak hy gereed vir die doodsteek. Dit is die klimaks van die geveg. Die matador maak seker dat die bul in die ideale posisie is vir die doodsteek, met sy voorpote langs mekaar. Dan beweeg hy na die bul toe, strek oor sy horings en druk die swaard tussen sy skouerblaaie in terwyl hy sorg dat hy ’n skielike stoot van die horings vermy. Die ideaal is dat die swaard die aorta afsny en onmiddellike dood veroorsaak. Dit gebeur selde. Die meeste bulle moet verskeie kere gesteek word.
Bulle kan selfs in hulle sterwensoomblikke dodelik wees. Vyf jaar gelede het ’n gewilde 21-jarige matador bekend as Yiyo weggedraai nadat hy die coup de grace toegedien het. Maar die bul het herstel en een van sy horings het die ongelukkige stiervegter se hart deursteek.
Meer as een ongunstige sy
Baie beskou die stiergeveg as ’n kleurryke en opwindende skouspel. Maar dit het meer as een ongunstige sy. Een entoesias het gesê dat “die bul die enigste eerbare figuur in hierdie ellendige bedrogspul is, en hulle vermink hom deur die punte van sy horings af te vyl sodat dit vir hom moeilik is om sy teiken op te spoor”.a
Die bestuur van stiergevegte is berug vir hulle korrupsie, wat daartoe gelei het dat een matador gesê het dat hy nie ‘naastenby so bang vir die bulle is as vir die mans wat die arenas bestuur nie’. Hoewel die beste matadors miljoene rande kan verdien, is die mededinging fel en beserings en die dood voortdurende gevare. Van die ongeveer 125 bekendste matadors die afgelope 250 jaar het meer as 40 in die arena gesterf. Die meeste matadors word ten minste een keer tydens elke stiergevegseisoen gewond, soms ernstig en soms minder ernstig.
Die Christelike beskouing
Hoe behoort ’n Christen stiergevegte te beskou, noudat hy die voorgaande gelees het? Die apostel Paulus het verduidelik dat die grondbeginsel van goedhartigheid teenoor diere steeds vir Christene geld. Hy het uit die Mosaïese Wet aangehaal, wat spesifiek van die Israelitiese boer verwag het om sy bul goed te behandel (1 Korinthiërs 9:9, 10). Die stiergeveg kan nouliks as menslike behandeling van die bul beskryf word. Sommige beskou stiergevegte weliswaar as ’n kuns, maar regverdig dit die seremoniële doodmaak van ’n edel dier?
Nog ’n beginsel wat in ag geneem moet word, is die heiligheid van lewe. Behoort ’n Christen sy lewe opsetlik in gevaar te stel net om sy manlikheid te bewys of om die skare te vermaak? Jesus het geweier om God te versoek deur sy lewe onnodig in gevaar te stel.—Mattheüs 4:5-7.
Ernest Hemingway het in Death in the Afternoon geskryf: “Ek veronderstel dat die hele stiergeveg, vanuit ’n moderne oogpunt, dit wil sê, ’n Christelike oogpunt, onverdedigbaar is; daar is beslis baie wreedheid, daar is altyd gevaar, of jy nou daarvoor soek of nie, en daar is altyd dood.”
Van die duisende wat na ’n stiergeveg gaan kyk, is party verheug, party teleurgesteld en ander gewalg. Ongeag hoe die mens hierdie skouspel beskou, die Skepper van die bul kan nie met genoeë daarna kyk nie. Hoewel baie dit as ’n kuns beskou, is dit in werklikheid ’n gewelddaad wat goddelike beginsels skend.—Deuteronomium 25:4; Spreuke 12:10.
[Voetnoot]
a Dit is verbode om die bul se horings af te vyl, maar dit is nog ’n algemene gebruik in Spanje.
[Prente op bladsy 18]
Die berede picador sny met ’n lans in die bul se nek- en skouerspiere in om dit te verswak
’n Matador op die punt om sy swaard in die bul te steek