Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 7/8 bl. 6-9
  • Dierenavorsing—heftige reaksies

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dierenavorsing—heftige reaksies
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Dierevryheidsbeweging
  • Waarom die teenstand?
  • Afgryslike verhale
  • Dierenavorsing—’n gebalanseerde beskouing
    Ontwaak!—1990
  • Dierenavorsing—Seën of vloek?
    Ontwaak!—1990
  • Diere
    Ontwaak!—2015
  • Is dit verkeerd om vleis te eet?
    Ontwaak!—1997
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 7/8 bl. 6-9

Dierenavorsing—heftige reaksies

AS DIE presiese aantal diere wat in laboratoriumeksperimente en as modelle vir mediese navorsing gebruik word, getabuleer kon word, sou die totaal wat elke jaar wêreldwyd gebruik word verstommend wees. Daar word geskat dat ten minste 17 miljoen diere—honde, katte, primate, marmotjies en konyne—elke jaar in die Verenigde State alleen gebruik word. Rotte en muise maak 85 persent van hierdie getal uit. Aangesien daar geen akkurate verslae is van waar of hoeveel van hierdie diere gebruik word nie, beskou party gesaghebbendes hierdie getalle op die beste as ’n konserwatiewe skatting. Sommige bronne sê dat die totaal vir die Verenigde State waarskynlik nader aan honderdmiljoen is. Skok hierdie syfers jou?

Is die blote gedagte aan die opoffering van hierdie diere vir jou weersinwekkend, al was dit nie vergeefs nie? Beskou jy hierdie slagting as immoreel? Miljoene mense verafsku die gebruik van diere in navorsing. Party redeneer dat die misbruik van diere spesieïsme is. ’n Spesieïs is iemand wat “partydig is vir die belange van sy eie spesie en wat teen die belange van ander spesies is” (Point/Counterpoint Responses to Typical pro-Vivisection Arguments). Diereliberaliste sê spesieïste “meen dat die doel die middele heilig en dat [diere] moet ly om [mense] te bevoordeel”.

Daarenteen som die volgende vrae die wetenskaplike sienswyse op: Word jy gegrief deur ’n stelsel wat die dood van diere voorstaan sodat dokters nuwe tegnieke kan leer om op mense te opereer of om die verspreiding van dodelike siektes te voorkom? Is jy bereid om jouself nuwe lewensreddende geneesmiddels te ontsê omdat jy weet dat hulle eers op diere getoets is? Sal jy gewillig wees, ja verkies, dat jou lewende maar breindooie kind of ouer in chirurgiese proefnemings gebruik word eerder as diere? En ten slotte is daar die volgende: As navorsing op ’n dier jou of ’n geliefde van ’n verskriklike siekte of die dood kon red, sou jy dit weier omdat jy meen dat dit immoreel is om ’n dier te offer sodat ’n mens gered kan word? Party sal sê dat dié dilemma nie so maklik is om op te los nie.

Dierevryheidsbeweging

Nogtans was daar gedurende die dekade van die tagtigerjare ’n toenemende gevoel teen die gebruik van diere in navorsing. Vandag het daardie gevoel gestaltenis gekry in ’n wêreldwye netwerk van aktiewe organisasies wat steeds in krag en getalle toeneem. Hulle laat hulle stemme luid hoor wanneer hulle aandring op die algehele afskaffing van die gebruik van alle diere vir mediese of laboratoriumproefnemings.

Aktiviste vir diereregte laat hulle stemme hoor deur straathoekbetogings, politieke stemwerwery, tydskrifte en koerante, die radio en televisie, en veral deur militante en gewelddadige taktieke. ’n Prominente Kanadese aktivis het die volgende omtrent die vryheidsbeweging gesê: “Dit versprei vinnig deur Europa, Australië en Nieu-Seeland. In Amerika word dit sterker. Daar is fenomenale groei in Kanada. Daar is ’n groep netwerke wat wêreldwyd versprei is, en die neiging aardwyd is om die aggressiewer diereregtebewegings te ondersteun.”

Party van hierdie ‘aggressiewe netwerke’ is bereid om geweld te gebruik ter ondersteuning van hulle saak. Gedurende die laaste paar jaar is ten minste 25 navorsingslaboratoriums deur diereregtegroepe verniel. Universiteitslaboratoriums is gebombardeer. Hierdie aanvalle het skade van miljoene rande veroorsaak. Belangrike verslae en waardevolle data is vernietig. Navorsingsdiere is gesteel en vrygelaat. In een so ’n aanval is waardevolle navorsing oor kinderblindheid vernietig. Duur toerusting van honderdduisende rande is stukkend geslaan.

In ’n ope brief aan universiteitsamptenare en die nuusmedia het ’n militante groep gespog dat die vernietiging van ’n mikroskoop ter waarde van R25 000 in omtrent 12 sekondes met ’n staalstaaf van R10 “’n goeie wins op ons belegging” was. In ander navorsingsplekke het dokters en wetenskaplikes gevind dat bloed oor lêers en navorsingsmateriaal uitgegooi is en vryheidslagspreuke op mure geverf is. Een berig vertel van “teistering, waaronder doodsdreigemente, van wetenskaplikes en hulle gesinne”. In die Verenigde State het diereliberaliste meer as ’n dosyn dreigemente van dood en geweld aan individuele wetenskaplikes gemaak. In 1986 het ’n kommentator in ’n Londense BBC-uitsending gesê: “Die aktiviste word verenig deur die oortuiging dat direkte aksie—die vernietiging van eiendom en selfs lewe—moreel geregverdig is in ’n oorlog om die diere te bevry.”

Een diereliberalisteleier het gesê: “Niemand het nog seergekry nie, maar dit is ’n gevaarlike dreigement . . . Môre-oormôre gaan iemand terugbaklei en dan kan mense seerkry.” In 1986, in dieselfde onderhoud, het die liberalisteleier geweld in Brittanje en Wes-Duitsland voorspel. Gebeure soos vuurbombardering en geweld het haar voorspelling bevestig. In die Verenigde State is daar alreeds ’n aanslag gemaak op die lewe van ’n man wie se maatskappy proefnemings op diere doen. Vinnige optrede deur die polisie het hom van ’n bomaanval gered. Maar nie alle diereliberaliste stem met hierdie gewelddadige, onwettige taktieke saam nie.

Waarom die teenstand?

Volgens The Journal of the American Medical Association, “kan die meeste mense wat besorg is oor die gebruik van diere in biomediese navorsing in twee algemene groepe verdeel word: (1) diegene wat bekommerd is oor die welsyn van diere, en wat nie teen biomediese navorsing gekant is nie maar die versekering wil hê dat diere so menslik as moontlik behandel word, dat die hoeveelheid diere wat gebruik word die absolute minimum is wat vereis word, en dat diere net gebruik word wanneer dit nodig is”. Hierdie groep maak volgens onlangse opnames die stiller meerderheid uit.

Volgens dieselfde bron is die tweede groep “diegene wat bekommerd is oor diereregte, wat radikaler is en heeltemal gekant is teen die gebruik van diere in biomediese navorsing”. “Diere het fundamentele, onvervreembare regte”, het die mededirekteur van een so ’n groep gesê. “As ’n dier pyn kan waarneem of vrees kan voel, dan het dit die reg om nie daardie dinge aangedoen te word nie.” “Daar is geen redelike grondslag om te sê dat ’n mens spesiale regte het nie”, het ’n ander woordvoerder gesê. “’n Rot is ’n vark is ’n hond is ’n seun. Hulle is almal soogdiere.”

Talle diep oortuigde diereliberaliste is gekant teen die gebruik van diere vir voedsel, klere, sport en selfs troeteldiere. Vissers is al in die water gestoot deur mense wat teen die vang en eet van vis gekant is. Mense wat pelsjasse en klere van diervel dra, is al op straat uitgeskel. Daar is by winkels ingebreek en duur pelsjasse is vernietig deur mense wat ’n radikaler beskouing het van die gebruik en misbruik van diere. “Ek sal nie eiers vir ontbyt eet of leergoed dra nie”, het een gesê. “Agter feitlik elke sny spek en elke onskuldige eier”, het ’n nuusbrief van die Humane Gemeenskap van die Verenigde State gewaarsku, “skuil ’n lang, verborge geskiedenis vol ondraaglike lyding”. Die nuusbrief het foto’s gehad van sôe en hoenders wat in klein hokke toegesluit is, en het gesê dat hierdie toestande, algemeen in die vark- en pluimveebedryf, ’n “bord spek en eiers niks minder as ‘’n ontbyt van wreedheid’ maak nie”. Klaarblyklik is daar sterk en opregte gevoelens betrokke by die beskerming van diereregte.

Afgryslike verhale

Baie mense meen dat verset teen dierenavorsing heeltemal geregverdig is. By een van die skandeliker gevalle was die Kopbeseringslaboratorium van ’n vooraanstaande Amerikaanse universiteit betrokke. Videobande wat gedurende ’n dierebevrydingsaanval gesteel is, het gewys hoe “ape se koppe in ’n masjien geklap word, terwyl navorsers vir die rukkerige gedrag van die breinbeskadigde diere lag”, het die tydskrif Kiwanis van September 1988 berig. Dit het daartoe gelei dat die regering opgehou het om fondse aan die laboratorium beskikbaar te stel.

Daar is ook die skandelike Draize-toets wat alte bekend is aan die skoonheidsbedryf en die sjampoe-, reinigingsmiddel- en loogindustrie. Hierdie toets word gebruik om die produk se graad van irritasie te toets as dit in ’n mens se oë sou kom. Kenmerkend word ses tot nege albinokonyne in blokke gesit wat net hulle koppe en nekke laat uitsteek. Dit verhoed dat hulle hul oë krap nadat die chemiese bestanddeel daarin gegooi is. Daar word berig dat die konyne van pyn skreeu. Selfs baie navorsers is bitter gekant teen hierdie toetsmetode en probeer om dit stop te sit. Diereregtebewegings het baie afgryslike verhale gedokumenteer wat hulle in dierenavorsingslaboratoriums afspeel.

Diereliberaliste het nie ’n baie hoë dunk van dr. Robert White wat voorheen aangehaal is nie. Die Amerikaanse Anti-Viviseksiegenootskap het geskryf dat hy “die berugte vivisektor van Cleveland is wat ape se koppe oorgeplant het en aapbreine in vloeistof, buite die liggaam, aan die lewe gehou het”.

Soos met baie geskille is daar twee uiterstes, en dan is daar ’n middeweg wat probeer om die beste te neem en die slegste gevolge te elimineer. Byvoorbeeld, is daar enige praktiese alternatiewe vir proefneming met diere? Is totale verwerping van navorsing op diere die enigste moontlike, gebalanseerde antwoord? Ons volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Venster op bladsy 9]

Uiteenlopende standpunte

“EK GLO dat diere regte het wat, hoewel dit van ons s’n verskil, net so onvervreembaar is. Ek glo dat diere die reg het om nie pyn, vrees of fisiese verwaarlosing te ervaar wat ons hulle laat ondergaan nie. . . . Hulle het die reg om nie enigsins onmenslik behandel te word vir voedselbronne, vermaak of enige ander doel nie.”—Naturalis Roger Caras, ABC-TV News, VSA (Newsweek, 26 Desember 1988).

“As ek na die breë skets kyk, kan ek nie die ontsaglike voordeel ignoreer wat uit navorsing voortgespruit het nie. Entstowwe, vorme van behandeling, chirurgiese tegnieke en prosedures wat in laboratoriums ontwikkel is, het lewensverwagtinge in die laaste eeu dramaties laat toeneem . . . In die lig hiervan kan dit as die onmenslike keuse beskou word om nie diere vir navorsing te gebruik nie: Ons het die manier geken om siekte te verlig, maar het dit nie gebruik nie.”—Marcia Kelly, Health Sciences, Herfs 1989, Universiteit van Minnesota.

“Ek sê ‘Nee’ vir diereproefneming. Nie net om etiese redes nie, maar hoofsaaklik om wetenskaplike redes. Daar is bewys dat die resultate van diereproefnemings glad nie op mense van toepassing is nie. Daar is ’n natuurlike wet wat met metabolisme verbind is . . . waarvolgens ’n biochemiese reaksie, wat vir een spesie vasgestel is, slegs vir daardie spesifieke spesie geldig is en vir geen ander nie. . . . Diereproefneming is bedrieglik, waardeloos, duur en boonop wreed.”—Gianni Tamino, navorser aan die Universiteit van Padua, Italië se vernaamste mediese opleidingskool.

[Prent op bladsy 7]

Konyne in blokke wat vir Draize-toetse op die oë gebruik word

[Erkenning]

PETA

[Foto-erkenning op bladsy 8]

UPI/Bettmann Newsphotos

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel