Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 6/22 bl. 27
  • Die misverstane hiëna

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die misverstane hiëna
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom lag hy?
  • Taal in die natuur—die geheime van dierekommunikasie
    Ontwaak!—2002
  • Njalaland—’n ongerepte paradys
    Ontwaak!—1993
  • Op Safari in Ghana
    Ontwaak!—2001
  • Die hond se reuksintuig
    Is dit ontwerp?
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 6/22 bl. 27

Die misverstane hiëna

Daar is min diere waarvan daar so sleg gepraat word as die hiëna. En hulle is weliswaar nie eintlik minsame diere nie. Die kraalogies, hangrug en traagheid laat talle menslike waarnemers aan iets slordigs en gemeens dink. Daarbenewens lag en giggel die hiëna soos ’n maniak. Sy onheilspellende roepgeluid deurklief dikwels die stilte van die Afrika-nag. Al hierdie eienskappe saam is heel moontlik genoeg om jou te laat ril!

Maar hiënas het al meer as hulle regmatige deel van negatiewe publisiteit ontvang. Kom ons stel dus die saak reg in ’n paar opsigte. Vereers word die hiëna dikwels as die een of ander soort hond beskou. Hy is niks van die aard nie. Aangesien hy tot ’n afsonderlike spesie behoort, is die ooreenkoms geheel en al oppervlakkig.

Hiënas word gewoonlik ook as lafhartig beskou. Maar lafaarde sal beslis nie bekwame jagters wees nie. Jagters? Ja, hiënas is nie bloot aasdiere nie. Omdat hulle buitengewoon kragtige skouers en die sterkste kake van al die karnivore in Afrika het, is hulle baie bekwame jagters van hulle eie prooi—selfs diere so groot soos die buffel. Trouens, hulle word onder die groot roofdiere van Afrika gereken.

Terwyl hy Suidelike Afrika se karnivore bestudeer het, het skrywer Chris McBride dikwels gesien hoe hiënas leeuwyfies verjaag het terwyl hulle besig was om hulle prooi te eet. Dit was net die leeumannetjie wat hom teen die aanval van ’n groep hiënas kon verweer. Sal die hiëna so ’n gedugte vyand aandurf as hy werklik ’n lafaard is? Nie sommer nie.

Waarom lag hy?

Die hiëna se maniese gegiggel klink moontlik vir jou ’n bietjie onaangenaam. Maar hy kommunikeer bloot met sy mede-groeplede. “Elke gevlekte hiëna het sy eie roepgeluid wat deur ander hiënas herken kan word”, verduidelik een Suid-Afrikaanse deskundige, dr. G. Mills. So kan die wydverspreide groeplede mekaar laat weet waar hulle is sodat hulle vinnig kan hergroepeer wanneer dit nodig is, soos wanneer hulle hul gebied moet beskerm of om ’n jaggroep te vorm. Wanneer hulle hulle prooi gevang of aas ontdek het, gee hulle deur middel van ’n luidrugtige “gegiggel” uiting aan hulle vreugde.

Maar nie alle hiënas lag nie. Die bruin hiëna van Suidelike Afrika is kleiner as die meer alledaagse gevlekte hiëna en verkies om alleen pleks van in groepe kos te soek. Hy maak meer staat op reuk as kommunikasiemiddel.

Elke hiëna dra sy kenmerkende reuk oor op grashalms, bossies of klippe deur plaksels uit gespesialiseerde anale sakkies af te skei. Die hiëna het so ’n fyn reuksin dat hy blykbaar die geslag, sosiale status en selfs die identiteit van mede-groeplede uit die plaksel kan aflei.

Hou jy nie van die hiëna nie? Hy is weliswaar nie troetelbaar of aantreklik nie. Maar nie alle diere is nie. Baie diere beïndruk ons met ander eienskappe, soos krag en geslepenheid. In die lig daarvan is daar baie omtrent die hiëna wat ons kan beïndruk en fassineer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel