Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 5/22 bl. 12-14
  • Vyf Algemene Drogredes—Moenie daardeur mislei word nie!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vyf Algemene Drogredes—Moenie daardeur mislei word nie!
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DROGREDE NOMMER 1
  • DROGREDE NOMMER 2
  • DROGREDE NOMMER 3
  • DROGREDE NOMMER 4
  • DROGREDE NOMMER 5
  • Bloed
    Redenering uit die Skrif
  • Redding wat dit werklik beteken
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Bied die Goeie Nuus Aan—Deur goed gebruik te maak van Redenering uit die Skrif
    Ons Koninkryksbediening—1986
  • Moenie ’n slagoffer van propaganda wees nie!
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 5/22 bl. 12-14

Vyf Algemene Drogredes—Moenie daardeur mislei word nie!

“LAAT niemand julle met ydel woorde verlei nie.”a Hierdie raad is byna 2000 jaar gelede gegee en is nog net so geldig soos altyd. Vandag word ons met oortuigende stemme gebombardeer: rolprentsterre wat skoonheidsmiddels aanbeveel, politici wat beleidsrigtinge bevorder, verkoopsagente wat vir produkte reklame maak, geestelikes wat leerstellings verklaar. Die oortuigende stemme is alte dikwels bedrieglik—weinig meer as ydel woorde. Tog word mense in die algemeen maklik daardeur mislei.

Dit is dikwels omdat mense nie waarheid van drogrede kan onderskei nie. Studente in die redeneerkunde gebruik die woord “drogrede” om enige afwyking van gesonde redenasie te beskryf. ’n Drogrede is eenvoudig ’n misleidende of ongegronde argument, waarvan die gevolgtrekking nie op die voorgaande stellings, of vooronderstellings, volg nie. Drogredes kan nietemin geweldig oortuigend wees omdat dit dikwels sterk tot die emosies spreek—nie tot die rede nie.

As jy misleiding wil vermy, moet jy weet hoe drogredes werk. Kom ons kyk dus na vyf algemene drogredes met die doel om ons godgegewe “redeneervermoë” te verskerp.—Romeine 12:1, NW.

DROGREDE NOMMER 1

Die persoon word aangeval Hierdie soort drogrede probeer ’n heeltemal geldige argument weerlê of in twyfel trek deur die persoon wat dit aanvoer aan te val oor iets wat nie ter sake is nie.

Beskou ’n voorbeeld uit die Bybel. Jesus Christus het eenkeer probeer om ander aangaande sy toekomstige dood en opstanding in te lig. Dit was nuwe en moeilike begrippe vir sy luisteraars. Maar pleks van oor die voordele van Jesus se leer na te dink, het sommige Jesus aangeval, en gesê: “Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig; wat luister julle na Hom?”—Johannes 10:20; vergelyk Handelinge 26:24, 25.

Hoe maklik is dit tog om iemand as “onnosel”, “mal” of “oningelig” te bestempel wanneer hy of sy iets sê wat ons nie wil hoor nie. ’n Soortgelyke taktiek is om die persoon met insinuasies aan te val. Tipiese voorbeelde hiervan is: “As jy die saak werklik verstaan het, sou jy nie daardie beskouing hê nie” of, “Jy glo dit net omdat jy gesê word om dit te glo.”

Maar hoewel persoonlike aanvalle, listig of nie so listig nie, ’n mens kan intimideer en oortuig, bewys hulle nooit die teendeel van wat gesê is nie. Wees dus op jou hoede vir hierdie drogrede!

DROGREDE NOMMER 2

Beroepe op gesag Hierdie soort mondelinge intimidasie word bereik deur sogenaamde deskundiges of bekende mense as gesag aan te haal. Dit is net natuurlik dat ons raad vra by mense wat meer omtrent iets weet as ons. Maar nie alle beroepe op gesag berus op gesonde redenasie nie.

Veronderstel jou dokter sê vir jou: “Jy het malaria.” Jy antwoord: “Hoe weet u, dokter?” Hoe onredelik sal dit tog wees as hy sê: “Kyk, ek is ’n dokter. Ek weet baie meer omtrent hierdie dinge as jy. Jy kan my maar glo, jy het malaria.” Hoewel sy diagnose moontlik reg is, is dit verkeerd om te redeneer dat jy malaria het bloot omdat hy so sê. Dit sal vir hom baie voordeliger wees om die feite te bespreek: jou simptome, die uitslae van jou bloedtoets, ensovoorts.

Nog ’n voorbeeld van ’n intimiderende beroep op gesag word in Johannes 7:32-49 beskryf. Daar sien ons dat polisiebeamptes gestuur is om Jesus Christus in hegtenis te neem. Maar hulle was so beïndruk deur sy leer dat hulle, pleks van hom in hegtenis te neem, vir hulle owerstes gesê het: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” Jesus se vyande het geantwoord: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs?” Let op dat daar geen poging aangewend is om Jesus se leer te weerlê nie. Die Joodse leiers het hulle eerder op hulle eie gesag beroep as “gesaghebbendes” van die Wet van Moses as die rede om wat Jesus ook al gesê het te ignoreer.

Dit is interessant dat hedendaagse geestelikes ook daarvoor bekend is dat hulle van soortgelyke taktiek gebruik maak wanneer hulle leerstellings soos die Drie-eenheid, die onsterflikheid van die siel en die helse vuur nie uit die Bybel kan bewys nie.

Die advertensiewese maak ook ruimskoots gebruik van ongeldige beroepe op gesag, met beroemde mense wat kommentaar lewer oor dinge ver buite hulle spesialiteit. ’n Suksesvolle gholfspeler moedig jou aan om ’n fotokopieerder te koop. ’n Professionele voetbalspeler adverteer yskaste. ’n Olimpiese gimnas beveel ’n sekere ontbytkos aan. Talle dink nie daaraan dat sulke “gesaghebbendes” moontlik min of niks weet omtrent die produkte wat hulle aanbeveel nie.

’n Mens moet ook onthou dat selfs werklike deskundiges—soos alle ander—bevooroordeeld kan wees. ’n Hoogaangeskrewe navorser kan sê dat dit nie gevaarlik is om tabak te rook nie. Maar staan sulke “deskundige” kommentaar nie onder verdenking indien hy of sy by die tabakbedryf in diens is nie?

DROGREDE NOMMER 3

‘Volg die meerderheid’ Hier is die beroep op gewilde emosies, vooroordele en beskouings. Mense hou gewoonlik daarvan om te konformeer. Ons is geneig om weg te skram van die gedagte om ons teen heersende opvattinge uit te spreek. Hierdie neiging om die meerderheid se opvattinge outomaties as reg te beskou, word met dodelike gevolge benut in die drogrede dat jy ‘die meerderheid moet volg’.

In ’n gewilde Amerikaanse tydskrif was daar byvoorbeeld ’n advertensie met ’n aantal glimlaggende mense wat elk ’n glasie rum geniet. Saam met die foto het hierdie slagspreuk verskyn: “Dis wat gebeur. Oral in Amerika drink mense nou . . . rum.” Dit is ’n openlike oproep om ‘die meerderheid te volg’.

Maar terwyl ander moontlik iets dink of doen, beteken dit dat jy dit moet doen? Daarbenewens is gewilde opvattinge eenvoudig nie ’n betroubare maatstaf vir die waarheid nie. Allerhande idees is deur die eeue heen algemeen aanvaar, maar dan is die teendeel later bewys. Die drogrede dat ’n mens ‘die meerderheid moet volg’ bly egter voortbestaan. Die verenigde kreet: ‘Almal doen dit!’ veroorsaak dat mense dwelms gebruik, owerspel pleeg, by hulle werkgewers steel en met belasting kul.

Feit is dat nie almal daardie dinge doen nie. En al het hulle, sal dit geen rede wees dat jy dit moet doen nie. Die raad wat in Exodus 23:2 gegee word, dien dus as ’n goeie algemene gedragsreël: “Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie.”

DROGREDE NOMMER 4

Een van twee keuses Hierdie onwaarheid beperk die moontlikheid van ’n groot verskeidenheid van keuses tot net twee. Daar kan byvoorbeeld vir ’n persoon gesê word: ‘Òf jy aanvaar ’n bloedoortapping, òf jy sterf.’ Jehovah se Getuies kom dikwels voor so ’n redenasie te staan vanweë hulle Bybelse besluit om hulle ‘te onthou van bloed’ in enige vorm (Handelinge 15:29). Die swakheid in hierdie soort redenasie? Dit sluit ander geldige moontlikhede uit. Die feite toon dat daar alternatiewe behandelings is, en die meeste operasies kan suksesvol sonder bloed gedoen word. Bekwame dokters opereer dikwels met ’n minimale bloedverlies. Nog ’n moontlikheid is die gebruik van bloedlose vloeistowwe, plasma-uitdyers.b Bowendien het baie mense al bloedoortappings aanvaar en gesterf. Op dieselfde wyse het baie mense al bloed geweier en gelewe. Die gaping in die redenasie dat jy net een van twee keuses het, is dus baie groot.

Wanneer jy dus voor een van twee keuses gestel word, vra jou af: ‘Is daar werklik net twee moontlike keuses? Kan daar ander wees?’

DROGREDE NOMMER 5

Oorvereenvoudiging Hier ignoreer ’n stelling of argument tersaaklike oorwegings en oorvereenvoudig dit ’n moontlik ingewikkelde kwessie.

Dit is weliswaar nie verkeerd om ’n ingewikkelde onderwerp te vereenvoudig nie—goeie onderrigters doen dit deurgaans. Maar soms word ’n saak so vereenvoudig dat dit die waarheid verdraai. Jy kan byvoorbeeld lees: ‘Vinnige bevolkingsaanwas is die oorsaak van armoede in ontwikkelende lande.’ Dit bevat ’n kern van waarheid, maar dit ignoreer ander belangrike oorwegings, soos politieke wanbestuur, handelsuitbuiting en weerpatrone.

Oorvereenvoudiging het tot baie misverstande gelei wat God se Woord, die Bybel, betref. Beskou byvoorbeeld die verslag in Handelinge 16:30, 31. Daar het ’n tronkbewaarder ’n vraag oor redding gevra. Paulus het geantwoord: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word.” Baie het daaruit afgelei dat blote geestelike aanvaarding van Jesus dus al is wat nodig is vir redding!

Dit is ’n oorvereenvoudiging. Geloof in Jesus as ons Verlosser is weliswaar noodsaaklik. Maar dit is ook nodig om te glo wat Jesus geleer en beveel het om ’n volledige begrip van Bybelwaarhede te verkry. Dit word getoon deur die feit dat Paulus en Silas vervolgens “aan [die tronkbewaarder] die woord van die Here verkondig [het] en aan almal wat in sy huis was” (Handelinge 16:32). Redding behels ook gehoorsaamheid. Paulus het dit later getoon toe hy geskryf het dat Jesus “vir almal wat Hom gehoorsaam is, ’n bewerker van ewige saligheid geword” het.—Hebreërs 5:9.

’n Ou spreuk sê: “Wie ervaring kortkom, glo alles wat gesê word; ’n verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee” (Spreuke 14:15, NAV). Moet dus nie drogredes sluk nie. Leer om te onderskei tussen gegronde aanvalle op wat gesê word en goedkoop aanvalle op persoonlikhede. Moenie mislei word deur ongeldige beroepe op “gesag”, aansporings om ‘die meerderheid te volg’, die redenasie dat net een van twee keuses reg is of growwe oorvereenvoudigings nie—veral wanneer iets so lewensbelangrik soos godsdienswaarheid daarby betrokke is. Gaan al die feite na, of soos die Bybel dit stel: “Vergewis jou van alle dinge.”—1 Thessalonicense 5:21, NW.

[Voetnote]

a Aangehaal uit die Bybel, uit Efesiërs 5:6.

b Sien die boekie Jehovah’s Witnesses and the Question of Blood, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel