Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 5/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HONGERSNOODBEDREIGING VIR MILJOENE
  • ‘KAN NIE MEEDING NIE’
  • NUWE BEVINDINGS OOR OEFENING
  • MEGASTEDE
  • INKONGRUENSIE
  • BEVRORE BATES
  • MEDEDINGING OM LUGRUIMTE
  • LUGKAART
  • SLEGS VIR OPENBARE VERTOON
  • “Die stad is vol verdrukking”
    Ontwaak!—1994
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Hoe nodig is oefening?
    Ontwaak!—2005
  • Kan die mens blywende vrede en veiligheid bring?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 5/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

HONGERSNOODBEDREIGING VIR MILJOENE

“Oor die 4,5 miljoen mense in Ethiopië, meer as vier keer die aantal wat deur die groot hongersnood van 1984-85 uitgewis is, sal dalk vanjaar van honger omkom as noodvoedselvoorrade nie voorsien word nie—en spoedig daarby”, sê die tydskrif Time. “In die Soedan, waar tot ’n kwartmiljoen mense in 1987-88 van honger omgekom het, dui skattings daarop dat dieselfde lot tot driemiljoen mense teen die middel van hierdie dekade kan tref.” Hierdie keer rus die grootste blaam vir die bedreiging van die massahongersnood nie op droogtes, misoeste of ander “dade van die natuur” nie. Ryker nasies het noodvoedselvoorrade beloof, en verspreidingsnetwerke staan gereed om dit te vervoer. Maar politieke beleide en oorloë in die betrokke lande verhinder dit, omdat die leiers “meer daaroor begaan is om hulle oorloë te wen as om die mense te voed vir wie hulle kastig baklei”, sê Time. Hongersnood en siekte kan gebruik word as wapens om rebellie te onderdruk.

‘KAN NIE MEEDING NIE’

“Dwarsdeur die [Verenigde State] word soveel Suidelike Baptiste-leraars van hulle amp onthef dat talle dit as onrusbarend beskou”, sê The New York Times. Meer as 2100 Suidelike Baptiste-bedienaars is oor ’n onlangse tydperk van 18 maande onthef. Waarom hierdie toename van 31 persent vergeleke met ’n soortgelyke tydperk in 1985? “Die televisie-evangelis het die model-leraar geword”, sê geestelike Bruce Grubbs, wat self Suidelike Baptiste-bedienaars oplei. “Die plaaslike leraar word met die televisie-prediker vergelyk, en soos ons weet, lyk hy nie so goed nie; niks lyk so goed nie, nie die gebou of die koor nie. Jy kan nie met Hollywood meeding nie.” Die Suidelike Baptiste is die grootste Protestantse denominasie in die Verenigde State, met 14,8 miljoen lidmate en 37 800 kerke.

NUWE BEVINDINGS OOR OEFENING

’n Nuwe studie wat agt jaar geduur het, toon dat selfs gereelde, matige oefening ’n mens se kanse om aan hartsiekte, kanker en ander oorsake te sterf aansienlik kan verminder. Meer as 13 000 manne en vroue is getoets tydens die omvattendste studie om fiksheid te bepaal wat tot dusver gedoen is. Die doel van die studie was om vas te stel hoe liggaamlike fiksheid verband hou met sterftesyfers. En eerder as om net die woord van die proefpersone aangaande hul fisiese aktiwiteit te aanvaar, is hul fiksheid herhaaldelik getoets. Die resultate het getoon dat die grootste voordeel verkry is toe hulle net uit die onaktiewe kategorie beweeg het, eerder as om veeleisende oefeninge te doen. “Jy hoef nie ’n marathonloper te wees nie”, sê dr. Carl Caspersen van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer in Atlanta, Georgia. “Trouens, jy put baie meer voordeel daaruit as jy net ’n bietjie aktiewer is. Die risiko kan byvoorbeeld aansienlik verklein word deur uit die onaktiewe kategorie te beweeg en ’n aantal dae per week ’n halfuur lank vinnig te stap.”

MEGASTEDE

“Wêreldwyd beweeg etlike miljoene mense elke jaar na die stedelike gebiede van Suid-Amerika, Afrika en Asië”, sê die Duitse nuustydskrif Der Spiegel. “Die mense van die Derde Wêreld verhuis na wat in hulle oë die beloofde land is.” Maar min vind een. Weens werkloosheid word talle verplig om in krotbuurte te woon en te bedel en te smous om ’n bestaan te maak. Daar word beweer dat die helfte van die inwoners van Nairobi en Manila in krotbuurte woon. In Kalkutta is dit 70 persent. Dikwels kan selfs diegene wat werk nie huisvesting bekostig nie weens uiters hoë inflasiekoerse. In Djakarta, Indonesië, woon talle burokrate en soldate byvoorbeeld in krotte. Daar word geskat dat 17 van die 20 grootste stede in die wêreld teen die jaar 2000 in die ontwikkelende gebiede van die wêreld sal wees. São Paulo en Mexiko-stad sal bo-aan die lys wees, elk met ’n bevolking van ongeveer 25 miljoen. En met groot stede kom groot probleme in die vorm van misdaad, korrupsie, water- en lugbesoedeling en ’n gebrek aan sanitasie.

INKONGRUENSIE

“Drie jaar gelede, toe pous Johannes Paulus II Colombia besoek het, is hy opsigtelik ontroer deur die hartlikheid en godsdiensywer wat hom in Medellín begroet het en het hy gesweer dat as hy ooit die Vatikaan moet verskuif hy dit na daardie stad sal verskuif”, sê die Times van Londen. Maar Medellín is ook die tuiste van ’n dwelmkartel wat na bewering 80 persent van die wêreld se kokaïenhandel beheer. En dit is hier waar baie Katolieke jeugdiges, wat gereeld die Mis bywoon en blyke van godsdienstige eerbetoning lewer, hulle bestaan as kontrakmoordenaars maak, en veroorsaak dat Medellín die wêreld se hoogste moordsyfer het: meer as 4000 per jaar onder ’n bevolking van 2,5 miljoen. “Nadat die moordenaars ’n winsgewende kontrak afgehandel het, betaal hulle dikwels vir ’n spesiale Mis om hul dank te betuig, wat op dieselfde tyd as die slagoffer se begrafnis-Mis elders gehou word.” Hulle dink hoegenaamd nie dat hulle geloofsoortuigings en hul dade bots nie, sê die Times.

BEVRORE BATES

“’n Projek om sade van die wêreld se belangrikste voedselgewasse vir die nageslag in die ysgrond van die Noordpoolsirkel te bewaar is nou aan die gang”, sê die tydskrif New Scientist. Die plan is om “sade van die hoofvoedselsoorte en spesies wat van unieke ekonomiese belang” vir elke land is diep binne ’n ongebruikte mynskag op Spitsbergen-eiland, Noorweë, te plaas as beveiliging teen natuurrampe. Die ysgrond daar verseker ’n temperatuur van minder as -3,5°C. Ooreenkomstig die plan sal ’n internasionale verdrag elke nasie toegangsreg tot die eiland verleen, maar net tot sy eie bêreplek. Die lae temperatuur behoort appelsaad 100 jaar lank kiemkragtig te hou, gars 300 jaar en kafferboonsaad ongeveer 800 jaar.

MEDEDINGING OM LUGRUIMTE

“Kommersiële straallynvliegtuie tref al hoe meer voëls, en bestuursamptenare van die lugdiensbedryf sê dat die gevolglike meganiese skade bydra tot die toenemende probleem van vlugvertragings”, aldus The Wall Street Journal. “Ongeveer 6% van alle botsings met voëls het noodgevalle soos mislukte opstygings en belemmerde uitsig veroorsaak.” In een geval het ’n gans deur ’n stuurkajuitvenster van ’n vliegtuig gebars en die kaptein in een oog verblind. Deskundiges meen botsings met voëls tel onder die “mees onderskatte en mins gerapporteerde veiligheidsprobleme waarmee lugrederye te kampe het”. Lughawens vuur gewoonlik onskadelike ploftoestelle naby hul aanloopbane af of speel bandopnames van noodroepe van voëls om die probleem die hoof te bied. Maar Toronto se Lester B. Pearson- Internasionale Lughawe het ’n stap verder gegaan, berig National Geographic, deur valke te gebruik om die voëls te verjaag. Dit sê die valke “maak selde dood maar is skrikwekkend genoeg om ander voëls vir ure te verjaag”.

LUGKAART

Volgens ’n stuk wat Sarah Law in New Scientist geskryf het, het wetenskaplikes aan die Space Telescope Science Institute in Baltimore, Maryland, VSA, ’n lugkaart gemaak wat 18 819 291 helder ligpunte volgens hul ligging en magnitude aangee. Die berig sê dat “nagenoeg 15 miljoen sterre en die meeste van die ander galaksies is”. Dit is 60 keer groter as enige vorige katalogus. Daar word gehoop dat so ’n akkurate verwysingsruitenet sal help om waarnemingstyd met teleskope te verminder deur dit makliker te maak vir sterrekundiges om dowwe voorwerpe, soos bruin dwerge, waar te neem. Tot dusver is voorwerpe tot op die 15de magnitude (4000 keer dowwer as wat met die blote oog gesien kan word) aangestip, en voorwerpe wat ’n verdere 250 keer dowwer is (21ste magnitude), is op optiese skywe geplaas. Voorbereidsels word tans getref om sterbewegings op ’n latere tydstip in die katalogus aan te bring.

SLEGS VIR OPENBARE VERTOON

“[Die staat] Bihar [Indië] is ’n begraafplaas van stene sonder erfenis”, sê die tydskrif India Today. “Bihar se landskap is besaai met hierdie gedenkstene, wat deur vullis en onkruid, deur weiende beeste en aasetende varke gekamoefleer word.” Wat is hulle? Hoekstene vir bouprojekte wat nooit voltooi is nie. Een is in 1972 deur mev. Indira Gandhi as ’n hoeksteen vir ’n brug by Chittouni gelê. Die werk het nog nie begin nie, en reisigers moet noodgedwonge ’n ompad van 100 kilometer deur Nepal volg. Nog een moes die hoeksteen wees van ’n woningkompleks by Patna vir plaaslike munisipale werkers. Nou, 11 jaar later, gebruik huisvrouens dit om klere droog te maak. Partykeer is daar ’n hele paar stene in ’n ry, omdat die reg van benoeming aan verskeie organisasies gegee is maar “sonder enige fondstoekenning of -goedkeuring”. In ander gevalle is die hoekstene gelê en deur latere ministers verlê. “Die honger van die staat se politici om hul name op stene te graveer is feitlik onversadigbaar”, sê India Today.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel