Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 4/8 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DROEWIGE STAND VAN SAKE
  • REGSGEDING DEUR VIGSLYERS
  • KOMMUNIKASIEPROBLEME
  • TEIKEN VIR DWELMVERSLAWING: KINDERS
  • MEER TWEELINGE EN DRIELINGE
  • IS STAP GOED VIR DIE GESONDHEID?
  • DIE WÊRELD SE LANGSTE TREIN
  • RIETPADDABEDREIGING
  • HOE VEILIG IS “VEILIG”?
  • “PRUIKROWERS”
  • Konyne en paddas—Indringers in ’n vasteland
    Ontwaak!—2005
  • Ons beskou die wêreld
    Ontwaak!—1991
  • Landpadda of waterpadda—Is dit die enigste verskil?
    Ontwaak!—1995
  • Hoe om jou kinders te beskerm
    Ontwaak!—2003
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 4/8 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

DROEWIGE STAND VAN SAKE

UNICEF (United Nations International Children’s Emergency Fund) voorspel ’n donker toekoms vir kinders. In sy jaarlikse verslag State of the World’s Children voorspel UNICEF dat 100 miljoen kinders gedurende hierdie dekade aan siekte en wanvoeding sal sterf, tensy R6,5 miljard elke jaar aan goedkoop geneesmiddels bestee word wat tans beskikbaar is. Hoe groot is hierdie uitgawe? Dit is net soveel as wat Amerikaanse maatskappye elke jaar aan sigaretadvertensies bestee, berig The Wall Street Journal.

REGSGEDING DEUR VIGSLYERS

Hospitale en mediese instellings in Australië word deur slagoffers van die Vigs-virus gedagvaar. Die slagoffers beweer dat hulle die dodelike siekte opgedoen het weens nalatigheid of omdat hulle nie genoeg gewaarsku is teen die gevare wat met ’n bloedoortapping gepaard gaan nie. Hulle beweer boonop dat hulle nooit ingelig is omtrent alternatiewe behandelings wat in stede van ’n bloedoortapping gebruik kan word nie. Tot op hede het ’n 16-jarige hemofilie-lyer wat besig is om aan die dodelike siekte te sterf die meeste publisiteit ontvang, maar 31 ander slagoffers het saamgespan en ’n hofsaak aanhangig gemaak. Die 16-jarige se verklaring is in die hooggeregshof gelees. Hy het onder andere gesê: “Dit is soos ’n storieboek—’n storieboek waarvan die laaste bladsy uitgeskeur is. Daar is geen gelukkige einde nie.”

KOMMUNIKASIEPROBLEME

Skakeldiens, ’n telefoniese voorligtingsdiens vir kinders in Japan, sê dat talle kinders wat geen ernstige probleme het en geen raad wil hê nie deesdae bel net om met iemand oor hulle dag te gesels. Hulle kies hierdie alternatief om te vergoed vir die gebrek aan gesinskommunikasie, sê die voorligtingsdiens. Die raadgewers het egter ook kommunikasieprobleme. “Die kinders sit die gehoorbuis neer sodra hulle ’n prekerige toon in die raadgewer se stem hoor”, het ’n personeellid gesê.

TEIKEN VIR DWELMVERSLAWING: KINDERS

◼ Dwelmhandelaars het hulle op skole begin toespits, wat (naas nagklubs en kroeë) die beste mark vir hul dodelike handel is. “Dwelmhandelaars buit adolessente tussen die ouderdomme van 13 en 15 uit, die tydperk van selfgelding; in ’n poging om hulle verslaaf te maak, doen hulle ’n beroep op moed en manlikheid en buit hulle die vrees om van die groep afgesny te word uit”, berig die Brasiliaanse koerant O Estado de S.Paulo. Selfs onderwysers en skoliere tel onder die dwelmhandelaars. Weens toenemende dwelmmisbruik het ’n ander koerant van São Paulo, die Jornal da Tarde, gewaarsku: “In enige land is jongmense die kosbaarste bate, en dwelms skroei die breine van hierdie jeugdiges net soos ons die woude afbrand.”

◼ Waarom is kinders so vatbaar vir dwelmmisbruik? In ’n persgesprek wat in O Estado de S.Paulo gepubliseer is, het psigiater Claude Olievenstein kommentaar gelewer oor party van die oorsake: “Ons leer ons kindertjies om kalmeermiddels te gebruik om hulle vrees en slapeloosheid te bowe te kom. Hierdie kinders word groot, en wanneer hulle probleme begin ervaar, wend hulle hul tot dwelms om ’n oplossing te probeer vind.” Dan pak hy die skuld op die ineenstorting van twee voorheen stabiele instellings: “Die gesin ondergaan groot veranderinge met betrekking tot tradisionele standaarde. Terselfdertyd is godsdiens glad nie meer so belangrik nie, en ouerlike gesag het ook afgeneem.”

MEER TWEELINGE EN DRIELINGE

Elke 50ste swangerskap in die Bondsrepubliek Duitsland lei tot die geboorte van twee of meer kinders. Waarom neem die aantal tweelinge en drielinge toe? Ginekoloë skryf dit hoofsaaklik toe aan hedendaagse mediese tegnieke om onvrugbaarheid te behandel, soos hormoonterapie en in vitro-bevrugting. Nog ’n rede is dat meer vroue tans eers ’n baba wil hê as hulle ouer is, wat die moontlikheid van veelvuldige geboortes vergroot. Dit lyk egter of hierdie swangerskappe ’n groter gevaar vir die moeder en kind inhou.

IS STAP GOED VIR DIE GESONDHEID?

Matige oefening voorkom nie net kardiovaskulêre kwale nie, maar moontlik ook kanker, sê Rui Bevilacqua, ’n professor in die gewaskunde aan die Universiteit van São Paulo, Brasilië. Blykbaar word trae dermfunksies gestimuleer as ’n mens gereeld stap en ander vorms van oefening doen. Bevilacqua het gesê: “Baie van die voedsel wat ons eet, is karsinogeen, en as dit te lank in die derms bly, kan dit dikdermkanker veroorsaak.” Fúlvio Pileggi, ’n professor in kardiologie aan die Universiteit van São Paulo, meen insgelyks dat stap die beste oefening is vir diegene wat nie aan sport deelneem nie.

DIE WÊRELD SE LANGSTE TREIN

Op 26 Augustus 1989 het ’n trein wat uit 660 vol gelaaide trokke, 3 ander waens en 16 lokomotiewe bestaan het en sewe kilometer lank was op ’n spesiale tog vertrek. Hy was met ’n vrag ystererts van ’n Suid-Afrikaanse myndorp af op pad na ’n kushawe 860 kilometer daarvandaan. Die vrag erts was genoeg om ’n hele vragskip vol te laai. Dit het meer as 70000 ton geweeg. Die voorbereidsels vir die onderneming het sewe jaar geduur. Waarom dié lang trein? Om in die Guinness Book of Records te kom as die langste en swaarste trein wat tot nog toe geloop het.

RIETPADDABEDREIGING

In 1932 het Australië ongeveer honderd rietpaddas uit Latyns-Amerika ingevoer om die kewerplaag op suikerrietplase te bestry. Die taktiek was ’n bietjie te suksesvol. Die suikerriet is gered en die kewers uitgeroei. Maar nou, byna 60 jaar later, staan dele van Australië op die drempel van ’n rietpaddaplaag; die vrugbare wyfies produseer tot 40000 eiers op ’n slag. ’n Kleurbrosjure van vier bladsye met die titel 101 Ways to Kill a Cane Toad is gedruk om burgers op te lei in die bestryding van hierdie yslike padda, wat ’n gifstof afskei wat dodelik vir honde en katte is. ’n Raadslid van Brisbane het ’n “Rietpadda-uitroeiingsveldtog” georganiseer. Hy stel voor dat die paddas in die vrieskas gesit moet word om hulle genadiglik dood te maak: “Die rietpaddas dink dat dit ’n vroeë winter is, raak aan die slaap en word nooit weer wakker nie”, sê hy.

HOE VEILIG IS “VEILIG”?

Weens toenemende openbare kommer oor die potensiële gesondheidsgevare van betreklik geringe blootstelling aan straling, toksiese chemikalieë en plaagdoders het die wetenskap probeer om ’n noukeuriger manier te vind om vas te stel wat ’n “veilige blootstellingsvlak” is. Tot op hede was veiligheidsgrense vir mense skattings op grond van toetse op laboratoriumdiere wat blootgestel is aan groot dosisse agentia wat moontlik die gene kan beskadig. Die International Herald Tribune berig dat ’n nuwe en noukeuriger tegniek ontwikkel is wat toon dat blootstellings wat voorheen as veilig beskou is aansienlike genetiese skade kan veroorsaak. ’n Aansienlike vermeerdering van ’n sekere mutante-witbloedsel kom voor in mense wat aan geen-beskadigende agentia blootgestel is. Dit is interessant dat hulle gevind het dat die voorkomssyfer van ’n sekere beskadigde geen 50 persent groter by rokers as by nie-rokers was.

“PRUIKROWERS”

“Britse advokate en regters dra al pruike sedert Karel II die idee in die 1670’s uit Frankryk ingevoer het”, sê The Wall Street Journal. “Die pruike onderskei advokate van prokureurs, regspraktisyns wat gewoonlik nie in die hof verskyn nie.” Maar nou verdwyn al hoe meer van die kosbare ou pruike, wat ervaring en wysheid simboliseer, uit die howe en kleedkamers, en daar word gevrees dat “die meeste van die skuldiges advokate is”. Daar word neergesien op nuwe pruike, wat van perdehare gemaak is, omdat dit ’n advokaat laat lyk asof hy sy opleiding onlangs voltooi het. Diegene wat een moet kry, laat dit dus oud lyk deur dit ’n ruk lank as ’n “stoflap” te gebruik of deur dit buite in die reën te laat hang. Intussen word desperate versoeke om die vermiste pruike terug te bring op kennisgewingborde in feitlik alle strafhowe in Londen aangetref, hoewel pruike selde teruggekry word. Hoewel die sekuriteit streng is vir diegene wat in die howe ingaan, word niemand wat uitloop, gevisenteer nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel