Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 5/8 bl. 22-25
  • Katolieke pelgrimsreis—Gegrond op feite of mites?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Katolieke pelgrimsreis—Gegrond op feite of mites?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Stad wat op ’n visioen gebou is
  • Die ontstaan van die mite
  • Die betowering agter die mite
  • Die Middeleeuse groeptoere
  • Grondslag vir ware geloof
  • Waarom hulle relieke in aanbidding gebruik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Keur God die verering van relieke goed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die Woord van God in Middeleeuse Spanje
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Hemingway en die Fascistiese saluut
    Ontwaak!—1992
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 5/8 bl. 22-25

Katolieke pelgrimsreis—Gegrond op feite of mites?

Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje

ELKE somer beleef Europa ’n reusepelgrimsreis. Miljoene mense stroom suidwaarts per bus, motor en vliegtuig op soek na see en sonskyn. Hulle geliefkoosde mekka? Die strande van Spanje. Maar wat die meeste strandliefhebbers nie weet nie, is dat sommige van hierdie toeriste dieselfde roete volg wat hulle Katolieke voorvaders eeue gelede gevolg het.

Natuurlik was die middeleeuse pelgrims ’n ander geslag. Hulle doelwit was ’n graftombe, nie sonskyn nie; hulle beloofde beloning, ’n goddelike kwytskelding, nie ’n sonbruining nie. Boere, prinse, soldate en skurke het by die duisende sowat 1000 kilometer ver oor Spanje se noordelike agterland aangesukkel op pad na Santiago de Compostela, ’n klein, vogtige dorpie aan die afgesonderde noordwestelike punt van die Iberiese Skiereiland.

Watter eerbiedwaardige voorwerp kon daardie mense beweeg om honderde kilometers oor sneeubedekte pieke en bloedige warm vlaktes te trek, om struikrowers en honger, siekte en selfs die dood te trotseer? Dit was glo die graftombe van “Sint” Jakobus, Santiago, die “beskermheilige” van Spanje. Sy “heilige relieke” het ’n buitengewone aantrekkingskrag vir die gelowiges van oor die hele middeleeuse Europa gehad. Vandag is daar ’n katedraal op die terrein. Hoe het dit alles begin?

’n Stad wat op ’n visioen gebou is

Dit het begin met een van daardie “wonderbaarlike” visioene wat dikwels in die bladsye van die Spaanse geskiedenis opduik. Een aand in 813 G.J. het ’n kluisenaar met die naam Pelagius ’n bonatuurlike verskynsel gesien. Hy het pligsgetrou sy biskop gaan roep en uiteindelik is ’n marmergraf ontdek. Die lyke daarin is glo geïdentifiseer as niemand anders s’n nie as dié van die apostel Jakobus en twee van sy dissipels. Die plaaslike koning, Alfons die reine, het die terrein besoek, verklaar dat die oorblyfsels eg is en Jakobus “Beskermheer van Spanje” verklaar.

Sodoende is die land se “beskermheilige” gebore. Die tydsberekening van daardie ontdekking was tot voordeel van die “Christene” wat slaggereed was in enklaves in noordelike Spanje, waar hulle deur Moslems omring was. Hierdie reliek was net wat hulle nodig gehad het om die ‘mag van die Profeet Mohammed’ te probeer teëwerk wat in Córdoba, suidelike Spanje, gesetel was en die More na bewering onoorwinlik gemaak het. “Sint” Jakobus het weldra die vaandeldraer geword wat gedien het as basis om mense aan te moedig om teen die More te veg, wat die grootste gedeelte van die skiereiland beset het.

In die 11de eeu is ’n katedraal op die graftombe gebou en het die stad Santiago de Compostela (letterlik “Sint Jakobus van die sterreveld”) op dieselfde plek verrys waar Pelagius sy sterrevisioen gesien het. Spoedig het Santiago een van die Christendom se belangrikste pelgrimsoorde geword—wat slegs deur Jerusalem en Rome oortref is. Maar waarom het die beendere van hierdie sogenaamde apostel soveel betekenis verkry?

Die ontstaan van die mite

’n Merkwaardige mengsel van legende, mite en godsdienstradisie gee “Sint” Jakobus ’n spesiale plek in die Spaanse geskiedenis. Volgens sommige Katolieke geskiedskrywers was hierdie apostel Spanje se eerste Christensendeling. Daar word beweer dat hy kort ná Jesus se dood etlike jare lank in Galicia (noordwestelike Spanje) gepreek het. Maar daardie kampanje het net nege bekeerlinge opgelewer. Omdat hy blykbaar deur so min sukses ontmoedig is, het hy ooswaarts gegaan en is hy bemoedig deur ’n skouspelagtige verskyning van Maria, die moeder van Jesus (wat egter steeds in Palestina gelewe het). Sy het bo-op ’n marmerpilaar en in “sterflike vlees” aan hom verskyn in die Romeinse dorp genaamd Caesaraugusta (later as Zaragoza bekend), in die noordooste van die skiereiland. Die legende sê dat die pilaar na haar vertrek daar gebly het, en eeue later het dit ’n pelgrimsoord geword.a

Kort daarna het Jakobus teruggekeer na Jerusalem, waar hy deur koning Herodes se toedoen ’n marteldood gesterf het (Handelinge 12:1-3). Volgens legende het sy dissipels die lyk gered, dit na die kus geneem en by Jaffa aan boord van ’n wonderskip gegaan wat van klip gemaak was. Na ’n week se reis (wat oor die 5000 kilometer beslaan het!) het hulle in Galicia aangekom, waar hulle hulle meester in ’n graf sonder opskrif begrawe het, en die ligging daarvan is uiteindelik vergeet.

Eeue het verloop, en dit was glo hierdie graf wat weer deur die kluisenaar ontdek is. En die mite het werklikheid vir die “Christen”-soldate geword. Nie lank daarna nie is “Jakobus” self gesien waar hy ten behoewe van die “Christene” veg. Volgens tradisie het hy in die beslissende stryd van Clavijo verskyn en, op die rug van ’n wit strydros, gehelp om die More te verslaan. Na daardie oorwinning het hy algemeen bekend geword as Santiago Matamoros (Sint Jakobus, doodslaner van die More).—Vergelyk Mattheüs 26:52.

Ander wonderdadige kragte van ’n welwillender aard is aan hom toegeskryf. Een legende vertel van ’n jong man wat te perd langs die strand gery het om sy aanstaande bruid te ontmoet. Skielik het ’n reusebrander oor hom gebreek en hom meegesleur. Sy verloofde het ’n beroep gedoen op “Sint” Jakobus, wat gehoor gegee het en die jong man uit die see laat kom het met klere wat met wit skulpe bedek is. Die hartmosselskulp het gevolglik die simbool geword van Spanje se “beskermheilige” en van die pelgrims wat na sy graftombe gereis het.

Die betowering agter die mite

Gedurende die grootste gedeelte van die Middeleeue het relieke van beroemde “heiliges” manskappe en konings tot optrede aangespoor. Daar is geglo dat hulle die gelowiges teen die kwaad beskerm—Willem die Veroweraar het verskeie relieke om sy nek gedra tydens die Slag by Hastings waarin hy koning Harold van Engeland verslaan het. Pelgrims is die versekering gegee dat kontak met hierdie eerbiedwaardige “heilige” beendere goddelike guns sal verseker.

Relieke was meer werd as goud, en geen katedraal in die Christendom was volledig sonder hulle nie. ’n Florerende handel in relieke het ontwikkel, en daar was party gevalle van onbeskaamde bedrog. ’n Ab van die 12de eeu se beswaar was dat as die kop van Johannes die Doper in twee verskillende kerke bewaar word, Johannes òf twee koppe gehad het òf dat een ’n namaaksel moet wees.

Die gewone mens het nietemin in die relieke geglo en het daarvoor geveg. Die Spaanse leër het in die naam van “Sint” Jakobus teen die More en ander Europese magte geveg. Hulle het die Nuwe Wêreld in sy naam gekoloniseer, en dorpe met die naam Santiago het oral in Latyns-Amerika verrys.

Die Middeleeuse groeptoere

Een geskiedskrywer merk op dat “pelgrimsreise na die terreine van belangrike relieke [gedurende die Middeleeue] . . . die vernaamste motief vir reise geword het”. Dit is nie verbasend dat die sogenaamde graftombe van ’n wonderdoener soos “Sint” Jakobus die gelowiges van heinde en ver gelok het nie. Gedurende Santiago se middeleeuse bloeityd het Spanje dus sy eerste toeriste-oplewing beleef.

“Konings en burgers, biskoppe en monnike, heiliges en sondaars, ridders en wapendraers”—’n halfmiljoen van hulle elke jaar—het van oor die hele Europa na Santiago gestroom en “Die Weg van St. Jakobus” in een van Europa se besigste hoofweë omskep. Dit was ’n ontsaglike hoeveelheid mense, as ’n mens in ag neem dat die totale bevolking van Europa in die 11de eeu net ongeveer 30 miljoen was en dat die reis deur Spanje etlike maande geduur het.

Nadat die pelgrims die Pireneë vanuit Frankryk oorgesteek het, moes hulle nog 1000 kilometer oor die ruwe berge en stowwerige vlaktes van noordelike Spanje loop. Diegene wat hierdie marathon oorlewe het, het hulle laaste bietjie energie vir die finale naelloop ingespan. Die eerste een wat die torings van die katedraal van Santiago gesien het, het geskree “Mi gozo!” (My vreugde!) en is as “koning” gekies van die groep waarmee hy saamgereis het. So het die vanne van baie families ontstaan. Baie van diegene wat King, König, Rey, Leroy of Rex genoem word, het heel moontlik hulle naam te danke aan ’n eertydse voorvader wat ná etlike maande op pad na Santiago nog die stamina gehad het om te hardloop en te skreeu.

Vandag sal sommige dalk die gees van daardie taai reisigers bewonder wat so baie van hulle tyd, gesondheid en geld opgeoffer het ter wille van ’n reis wat vir baie hulle laaste reis geword het. Die meeste is ongetwyfeld aangespoor deur opregte geloof, geloof in ’n reliek wat hulle nooit gesien het nie—die beendere is in ’n swierige kis agter metaaltralies toegesluit. Trouens, die beendere was driehonderd jaar lank weg. Hulle is weggesteek toe die heiligdom bedreig is en is eers in 1879 teruggebring.

Grondslag vir ware geloof

Jesus se apostels het heelwat gereis, nie om heiligdomme tot stand te bring of te besoek nie, maar eerder om die evangelie te verkondig. Hulle het baie tyd aan die bestudering van God se Woord bestee, iets wat waarlik blywende geloof opgebou het. So ’n geloof, wat op juiste kennis gebaseer is, kan ons beskerm sodat ons nie slagoffers word van mites en tradisies van mense, waardeur baie mense steeds mislei word nie.—Mattheüs 15:9; 1 Timotheüs 2:3, 4.

Hoe sonderling godsdienstradisies en -legendes ook mag wees, hulle is geen plaasvervanger vir ware geloof nie. Volgens die Skrif is daar geen rede om te glo dat Jakobus Spanje ooit besoek het nie. (Sien venster.) Selfs as hy dit besoek het en sy beendere in Santiago begrawe is, sou dit geen rede wees om dit te vereer nie. Die Skrif maan ons om ons geloof in die lewende, onsigbare God en in sy Woord, die Bybel, te stel, en nie in relieke nie.—2 Korinthiërs 5:7; 1 Thessalonicense 1:9; vergelyk Mattheüs 23:27, 28.

[Voetnoot]

a “Onse Liewe Vrou van die Pilaar” word steeds oor die algemeen in Spanje en Latyns-Amerikaanse lande vereer. Sommige Katolieke bronne erken dat die geskrifte van die eerste sewe eeue G.J. glad nie melding maak van hierdie pilaar nie.

[Venster op bladsy 24, 25]

Was Jakobus ooit in Spanje?

1. Daar is geen skriftuurlike verslag dat die apostel Jakobus ooit buite Palestina gepreek het nie. Dit was Paulus, wie se sendingdiens in 49 G.J. begin het, wat bekend geword het as “’n apostel van die heidene”, nie Jakobus nie.—Romeine 11:13; sien ook Handelinge 9:15; Galasiërs 2:7.

2. In die jaar 55 G.J. het Paulus, toe hy aan die Christene in Rome geskryf het, gesê dat ‘hy hom ten doel gestel het om die goeie nuus nêrens bekend te maak waar die naam van Christus reeds genoem is nie’. Hy het egter beplan om na Spanje te gaan omdat daar nie meer “onaangeroerde gebied” vir hom in Klein-Asië en Griekeland was nie. Dit dui aan dat Spanje teen daardie tyd nog nie ’n betekenisvolle Christelike boodskap ontvang het nie.—Romeine 15:20, 23, 24, NW.

3. In sy Historia de la Iglesia Católica (Geskiedenis van die Katolieke Kerk) erken Jesuïeteprofessor Bernardino Llorca aangaande Jakobus se verblyf in Spanje dat “die feit dat geen bevestigende verslag daaroor tot ses eeue ná die gebeure gevind is nie, [vir Katolieke geleerdes] ’n groot probleem skep wat die egtheid van die feit betref”.—Bladsye 122-3.

[Kaart op bladsy 24]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

SPANJE

Parys

Vézelay

Poitiers

Limoges

Arles

Toulouse

Pamplona

Burgos

Astorga

Santiago de Compostela

Atlantiese Oseaan

[Prente op bladsy 23]

Santiago de Compostela-katedraal en (inlas) Jakobus op ’n wit strydros

[Erkenning]

Photo: Godo-Foto

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel