Ons beskou die wêreld
VERGETE SLAGOFFERS
Mans wie se vrouens, of nooiens, verkrag is, word die “vergete slagoffers” genoem. Volgens die Londense psigiater Anthony Bateman ly hierdie mans aan ernstige probleme—soos depressie, skuldgevoelens en seksuele probleme—lank nadat die misdaad gepleeg is. Hulle raak dalk oorbeskermend en vergesel die slagoffer oral of vereis dat sy op sekere tye ‘aanmeld’. Volgens berig het dr. Bateman gesê dat sulke mans dalk intensiewe psigoterapie nodig sal hê as hulle wat gebeur het, wil aanvaar.
KONDO’S VIR PERDE
In suidwes-Vancouver, Kanada, word perderuiters kondominiums aangebied om hulle perde te huisves. ’n Perd met ’n kondo van sy eie het ’n stal van 11 vierkante meter met ingeboude loodgieterswerk wat ’n drinkbak outomaties volmaak, ’n skuddak van sederhout en houtpanele, en toegang tot ’n patio. Stygende grondpryse en die gevolglike hoë eiendomsbelasting het aanleiding gegee tot hierdie projek om kondo’s aan perde te voorsien. Die koopprys van R59 000 kan aantreklik wees vir sommige wat “[R680] per maand of meer betaal om hulle perde in kommersiële stalle in die ryk Southlandsgebied te huisves”, berig The Sunday Star.
DEUR WREEDHEID BESTOOK
Die Vereniging van Onderwysers in Duitsland spoor ouers en onderwysers aan om die blootstelling van kinders aan wreedheid wat deur die media vertoon word, teen te werk. Die president van die vereniging beweer dat “die verontrustende verheerliking van Satanisme, dwelms, die dood en wreedheid” in hard rock-musiek en op video’s adolessente ongevoelig vir geweld kan maak en hulle emosioneel kan beskadig. Dit lyk asof onderwysers en ouers baie min weet van wat video’s en hard rock-musiek bevat. Daar word berig dat een uit twee jongmense gereeld na gruwelvideo’s kyk. Jeugdiges beskou die rolprente as goed óf baie goed.
AANDKLOKREËL STOP MISDAAD
’n Plattelandse dorp in Queensland, Australië, het ’n informele aandklokreël ingestel om jongmense snags na elfuur binne te hou. Die resultate was positief. Volgens die polisie en plaaslike raadslede was daar ’n besliste afname in misdaad in die gebied. Die regering van Queensland wil gevolglik nou kabinetsgoedkeuring hê vir proefklokreëls vir alle jongmense onder 15 jaar. Daar word beplan om twee proefklokreëls te monitor, een in ’n stedelike gebied en die ander in ’n plattelandse dorp. As die proefklokreëls misdaad laat afneem, sal die regering gevra word om wetgewing te oorweeg wat aandklokreëls vir alle jongmense in die staat instel.
RUGGRAATBESERING IN RUGBY
Een hospitaal in Suid-Afrika het in ’n onlangse periode van 23 jaar 88 gevalle gehad van jong mans wat ernstige ruggraatbeserings opgedoen het terwyl hulle rugby gespeel het. Spelers word soms beseer wanneer hulle geduik word, hoewel dit gewoonlik nie met so ’n geweldige slag gepaard gaan soos die doodvat in Amerikaanse voetbal nie. ’n Ander gevaar is die skrum, dit wil sê, wanneer spelers van die twee spanne in ’n digte massa saambeur en druk om besit van die bal. “Dit vind alte dikwels plaas”, berig die South African Medical Journal. “Die skrum gaan lê en wanneer die spelers van die grond opstaan, bly een speler bewegingloos lê. Eerstehulppersoneel kom op die veld gehardloop en plaas die beseerde speler versigtig op die draagbaar en neem hom na ’n hospitaal. Sy nek is gebreek, sy rugmurg beseer en hy bly vir altyd ’n kwadrupleeg.” In 1989 is drie Suid-Afrikaanse skoolseuns dood terwyl hulle rugby gespeel het.
DUUR VERTRAGINGS
In Europa kos vertragings in lugverkeer lugrederye en hulle passasiers na raming jaarliks ’n verstommende R10,5 miljard, volgens ’n verslag van die Duitse Vereniging van Lugruimtegebruikers. Volgens die verslag is die rede vir die probleme swak gebruik van lugruimte. Europa het 44 lugvaartbeheersentrums, vergeleke met 20 vir die hele Verenigde State. Dit sal tussen R13 miljard en R26 miljard kos om een geïntegreerde lugvaartbeheerstelsel vir die hele Europa te skep, maar so ’n belegging sal byna alle huidige vertragings in lugvaartbeheer uitskakel, sê die Financial Times van Londen. Die huidige gebrek aan koördinasie het tot gevolg dat vliegtuie onvoldoende vlughoogtes en roetes gegee word, wat die tipiese Europese vlug 10 persent langer maak as wat nodig is.
OM TE WEN EN TE VERLOOR
Die Brasiliaanse koerant O Estado de São Paulo het onder die opskrif “Geluk kan noodlottig wees” die tragiese ondervinding van ’n onlangse wenner van ’n lotery berig. As die enigste wenner van die lotery het hy ’n prys van 930 000 Novos Cruzados (sowat R1 000 000) ontvang. Maar die man het daarna ook die hartseernuus ontvang dat drie van sy familielede vermoor is deur diewe wat van die loteryprysgeld in die hande wou kry.
TROUES TE KOOP
Japannese toeriste wat na Europa reis, kan toere bespreek wat troues in die Katolieke Kerk insluit. Ondanks proteste van die Vatikaan teen “kommersialisering van die heilige huweliksritus” is daar ’n toenemende aantal nie-Katolieke Japannese paartjies “wat ’n huwelikseremonie in kerke in Italië en Frankryk ondergaan het”, berig The Daily Yomiuri. Die Vatikaan is ontsteld omdat hulle priesters net huwelike vir Rooms-Katolieke of diegene wat in die Katolieke geloof onderrig ontvang het, mag voltrek. Maar Japannese reisagentskappe kon kerkbeleid omseil deur “minder streng kerke” te kies “om sulke huwelike te voltrek”.
LANGAFSTANDSPRINKANE
Toe honderdmiljoen treksprinkane verlede jaar op Karibiese eilande, Guyana en Venezuela toegesak het, het dit ’n vraag onder deskundiges laat ontstaan: “Hoe kon sprinkane die Atlantiese Oseaan oorsteek?” Hierdie insekte was vroeër onbekend in daardie dele van die wêreld. Hierdie reis van vier tot ses dae oor ’n afstand van 4 000 tot 5 000 kilometer was ’n ware prestasie wanneer ’n mens in ag neem dat treksprinkane gewoonlik gedurende die dag vlieg omdat dit vir hulle in die warm lug makliker is. Hulle land wanneer die lug laatmiddag afkoel. Volgens die Franse koerant Le Monde lei navorsers af dat die sprinkane waarskynlik in die lug gebly het gedurende hulle transatlantiese vlug aangesien hulle niks gehad het waarop hulle kon land of wat hulle kon eet nie. Hulle is egter van een feit seker: meer insekte is in die see dood as wat die vlug oorleef het.
’N “GROTER DODER AS VIGS”
Nadat hy lewersiektes 15 jaar lank bestudeer het, het die direkteur van kliniese navorsing aan ’n groot hospitaal in Australië onlangs gewaarsku dat hepatitis “’n baie groter doder as Vigs is”. Hy het bygevoeg dat “ongeveer tweemiljoen mense jaarliks na raming aan hepatitis sterf, en na my wete het Vigs nog nie sulke afmetings aangeneem nie”. Hy waarsku mense teen die dodelike hepatitis C-virus, wat die lewer aanval en wat tot dusver nie deur toetse bespeur kon word nie. Navorsers meen dat 10 tot 15 mense jaarliks in Australië aan hepatitis C sterf, wat hulle deur oortappings van besmette bloed opgedoen het. The Australian, ’n Sydneyse koerant, berig dat een uit 400 sakkies bloed wat in Australiese oortappings gebruik word met die dodelike hepatitis C besmet is.
DESKUNDIGE WATERTOETSER
“Die beste manier om water te toets, is deur ’n deskundige in te roep”, lui ’n advertensie van die departement van waterwese in Wallis. Maar die betrokke deskundige is ’n vis—die nederige reënboogforel. Visse is van nature gevoelig vir waterbesoedeling. Terwyl hulle asemhaal, wek hulle kieue geringe elektriese strome op. Besoedeling steur die asemhaling, asook die strome. Hierdie stroomwisselings kan deur ’n rekenaar nagegaan en gekontroleer word. Volgens ’n amptenaar van Brittanje se Waternavorsingsentrum “bespeur en waarsku [die forel] jou ook teen sekere stowwe waaraan jy nooit gedink het nie, wat ’n groot voordeel is”. Volgens The Times van Londen wek hierdie kontroletegniek nou nie net nasionale nie maar internasionale belangstelling.