HAGGAI
1 In die tweede jaar van koning Darius, in die sesde maand, op die eerste dag van die maand, het Jehovah deur middel van die profeet Haggai*+ ’n boodskap gestuur aan Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël, die goewerneur van Juda, en aan Josua, die seun van Joʹsadak, die hoëpriester, en dit het gesê:
2 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Hierdie volk sê: “Die tyd het nog nie gekom vir die huis* van Jehovah om gebou* te word nie.”’”+
3 En Jehovah het weer ’n boodskap deur middel van die profeet Haggai+ gestuur, en dit het gesê: 4 “Is dit die tyd vir julle om in julle huise met pragtige houtpanele te woon, terwyl hierdie huis afgebreek is?+ 5 Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Dink mooi na oor wat julle doen.* 6 Julle het baie saad gesaai, maar julle oes min.+ Julle eet, maar julle is nie versadig nie. Julle drink, maar julle drink nie genoeg nie. Julle trek klere aan, maar niemand word warm nie. Die persoon wat homself verhuur, sit sy betaling in ’n sak vol gate.’”
7 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Dink mooi na oor wat julle doen.’*
8 “‘Gaan op na die berg en bring timmerhout.+ En bou die huis,+ sodat dit vir my vreugde kan gee en ek verheerlik kan word,’+ sê Jehovah.”
9 “‘Julle het baie verwag en min ontvang, en toe julle dit in die huis ingebring het, het ek dit weggeblaas.+ Hoekom?’ vra Jehovah van die leërmagte. ‘Want my huis is afgebreek, terwyl julle almal rondhardloop en julle eie huise regmaak.+ 10 Daarom het die hemel daar bo sy dou teruggehou en het die aarde sy opbrengs teruggehou. 11 En ek het ’n droogte laat kom oor die aarde, oor die berge, oor die graan, oor die nuwe wyn, oor die olie, oor wat in die grond groei, oor mense en vee en oor al die werk van julle hande.’”
12 Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël,+ en Josua, die seun van Joʹsadak,+ die hoëpriester, en die res van die volk het na die stem van Jehovah hulle God en na die woorde van die profeet Haggai geluister omdat Jehovah hulle God hom gestuur het, en die volk het Jehovah begin vrees.
13 Toe het Haggai, die boodskapper van Jehovah, die volgende boodskap aan die volk oorgedra, in ooreenstemming met sy opdrag van Jehovah: “‘Ek is met julle,’+ sê Jehovah.”
14 Jehovah het Serubbaʹbel, die seun van Sealʹtiël, die goewerneur van Juda,+ en Josua,+ die seun van Joʹsadak, die hoëpriester, en die res van die volk toe beweeg+ om aan die huis van Jehovah van die leërmagte, hulle God, te begin werk.+ 15 Dit was op die 24ste dag van die sesde maand in die tweede jaar van koning Darius.+
2 In die sewende maand, op die 21ste dag van die maand, het Jehovah deur middel van die profeet Haggai+ ’n boodskap gestuur wat gesê het: 2 “Vra asseblief vir Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël, die goewerneur van Juda,+ en vir Josua,+ die seun van Joʹsadak,+ die hoëpriester, en vir die res van die volk: 3 ‘Wie van julle het hierdie tempel* nog in sy vorige heerlikheid gesien?+ Hoe lyk dit nou vir julle? Lyk dit nie soos niks in vergelyking met hoe dit voorheen gelyk het nie?’+
4 “‘Maar wees nou sterk, Serubbaʹbel,’ sê Jehovah, ‘en wees sterk, Josua, die seun van Joʹsadak, die hoëpriester.’
“‘En wees sterk, julle almal, die volk van die land,’+ sê Jehovah, ‘en werk.’
“‘Want ek is met julle,’+ sê Jehovah van die leërmagte. 5 ‘Onthou wat ek julle belowe het toe julle uit Egipte gekom het,+ en ek lei julle nog steeds met my gees.*+ Moenie bang wees nie.’”+
6 “Want dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Binnekort sal ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond nog ’n keer skud.’+
7 “‘En ek sal al die nasies skud, en die kosbare* dinge van al die nasies sal inkom,+ en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’+ sê Jehovah van die leërmagte.
8 “‘Die silwer is myne, en die goud is myne,’ sê Jehovah van die leërmagte.
9 “‘Die toekomstige heerlikheid van hierdie huis sal groter wees as die vorige,’+ sê Jehovah van die leërmagte.
“‘En in hierdie plek sal ek vrede gee,’+ sê Jehovah van die leërmagte.”
10 Op die 24ste dag van die negende maand, in die tweede jaar van Darius, het Jehovah ’n boodskap deur middel van die profeet Haggai+ gestuur wat gesê het: 11 “Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: ‘Vra asseblief die priesters oor die wet:+ 12 “As ’n man heilige vleis in die vou van sy klere dra en sy klere aan brood of ’n gereg of wyn of olie of enige soort kos raak, sal dit heilig word?”’”
Die priesters het geantwoord: “Nee!”
13 Haggai het toe gevra: “As iemand wat onrein is omdat hy aan ’n lyk geraak het,* aan enige van hierdie dinge raak, sal dit onrein word?”+
Die priesters het geantwoord: “Dit sal onrein word.”
14 Toe het Haggai gesê: “‘So is hierdie volk, en so is hierdie nasie voor my,’ sê Jehovah, ‘en so is al die werk van hulle hande. Wat hulle ook al daar aanbied, is onrein.’
15 “‘Maar dink nou asseblief mooi na oor wat julle doen* van vandag af: Hoe was dit in die tyd voordat daar begin is om die tempel van Jehovah te herbou?+ 16 As iemand by ’n hoop graan gekom het en 20 mate verwag het, was daar net 10. En as iemand by die parskuip gekom het om 50 mate uit die wyntrog te skep, was daar net 20.+ 17 Ek het julle – al die werk van julle hande – met verskroeiende hitte en swamsiektes+ en hael getref, maar nie een van julle het na my toe teruggekeer nie,’ sê Jehovah.
18 “‘Dink asseblief mooi na oor wat julle doen* van vandag af, van die 24ste dag van die negende maand, van die dag dat die fondament van die tempel van Jehovah gelê is.+ Dink mooi hieroor na: 19 Is daar nog saad in die voorraadskuur?*+ Die wingerdstok, die vyeboom, die granaatboom en die olyfboom – dit het nog nie vrug gedra nie, of hoe? Van vandag af sal ek ’n seëning stuur.’”+
20 Jehovah het op die 24ste dag van die maand+ ’n tweede boodskap aan Haggai gestuur, en dit het gesê: 21 “Sê vir Serubbaʹbel, die goewerneur van Juda: ‘Ek gaan die hemel en die aarde skud.+ 22 Ek sal die troon van koninkryke tot ’n val bring en die krag van die koninkryke van die nasies vernietig,+ en ek sal die strydwa en dié wat daarop ry, tot ’n val bring, en die perde en hulle ruiters sal val, elkeen deur die swaard van sy broer.’”+
23 “‘Op daardie dag,’ sê Jehovah van die leërmagte, ‘sal ek jou neem, my kneg Serubbaʹbel,+ die seun van Sealʹtiël,’+ sê Jehovah, ‘en ek sal jou soos ’n seëlring maak, want ek het jou gekies,’ sê Jehovah van die leërmagte.”
Beteken “gebore op ’n feesdag”.
Of “tempel”.
Of “herbou”.
Lett. “Rig julle hart op julle weë”.
Lett. “Rig julle hart op julle weë”.
Lett. “huis”.
Of moontlik “en toe my gees in julle midde gestaan het”.
Of “begeerlike”.
Of “onrein is deur ’n siel”.
Lett. “rig asseblief julle hart hierop”.
Lett. “rig asseblief julle hart hierop”.
Of “graanput”.