Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Miga 1:1-7:20
  • Miga

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Miga
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Miga

MIGA

1 Dít is die woord van Jehovah aan Miga*+ van Moreʹset. Hy het dit in ’n visioen oor Samariʹa en Jerusalem ontvang in die dae van Jotam,+ Agas+ en Hiskiʹa,+ konings van Juda:+

 2 “Luister, alle volke!

Skenk aandag, o aarde en alles daarop.

Laat die Soewereine Heer Jehovah as ’n getuie teen julle dien+

– Jehovah uit sy heilige tempel.

 3 Want Jehovah verlaat sy woonplek.

Hy sal neerdaal en op die hoë plekke van die aarde loop.

 4 Die berge sal onder hom smelt,+

en die valleie sal oopskeur

soos was voor die vuur,

soos waters wat teen ’n steil helling afgegooi word.

 5 Dit alles gebeur weens die opstandigheid van Jakob,

weens die sondes van die huis van Israel.+

Wat is die opstandigheid van Jakob?

Is dit nie Samariʹa nie?+

En wat is die offerhoogtes van Juda?+

Is dit nie Jerusalem nie?

 6 Ek sal Samariʹa ’n verwoeste plek in die veld maak,

’n plek om wingerde te plant.

Ek sal haar klippe in die vallei afgooi,

en ek sal haar fondamente laat oop lê.

 7 Al haar beelde sal stukkend geslaan word,+

en al die geskenke wat sy as loon vir haar prostitusie ontvang het, sal met vuur verbrand word.+

Ek sal al haar afgode vernietig.

Want sy het dit bymekaargemaak uit wat sy weens haar prostitusie verdien het,

en dit sal weer die loon van prostitute word.”

 8 Daarom sal ek huil en treur.+

Ek sal kaalvoet en kaal loop.+

Ek sal huil soos ’n jakkals

en treur soos ’n volstruis.

 9 Want haar wond kan nie genees word nie,+

en dit het tot by Juda gekom.+

Die plaag het versprei tot by die poort van my volk, tot by Jerusalem.+

10 “Moet dit nie in Gat bekend maak nie.

Julle moet glad nie huil nie.

Rol in die stof in Bet-Afra.*

11 Trek weg in naaktheid en skande, o inwoners van Safir.

Die inwoners van Saänan het nie uitgekom nie.

Daar sal ’n gehuil in Bet-Esel wees, en hulle sal julle nie meer ondersteun nie.

12 Die inwoners van Marot het op iets goeds gewag,

maar iets slegs het van Jehovah neergedaal tot by die poort van Jerusalem.

13 Span die perde voor die wa, o inwoners van Lagis.+

Julle was die begin van sonde vir die dogter van Sion,

want die opstandige dade van Israel is in jou gevind.+

14 Daarom moet jy afskeidsgeskenke aan Moreʹset-Gat gee.

Die huise van Agsib+ was iets bedriegliks vir die konings van Israel.

15 Ek sal die veroweraar na julle toe bring,+ o inwoners van Mareʹsa.+

Die heerlikheid van Israel sal tot by Adulʹlam+ kom.

16 Sny julle hare en skeer julle koppe kaal vir julle geliefde kinders.

Skeer julle koppe so kaal soos dié van ’n arend,

want hulle is in ballingskap van julle weggeneem.”+

2 “Dit sal sleg gaan met dié wat skadelike dinge beplan,

dié wat op hulle beddens slegte planne beraam!

Wanneer die oggendlig kom, voer hulle dit uit

omdat hulle die mag het om dit te doen.+

 2 Hulle begeer die velde en huise van ander+

en vat dit af.

Deur bedrog beroof hulle ’n man van sy huis+

en sy erfdeel.

 3 Daarom sê Jehovah:

‘Ek beplan om rampspoed oor julle te bring+ waarvan julle nie sal ontsnap nie.+

Julle sal nie meer so hoogmoedig wees nie,+ want dit is ’n tyd van rampspoed.+

 4 In daardie dag sal mense oor julle praat,

en hulle sal bitterlik treur oor julle.+

Hulle sal sê: “Ons is heeltemal verpletter!+

Hy het ons erfdeel van ons af weggeneem en dit vir iemand anders gegee!+

Hy het ons grond vir die ontroue gegee.”

 5 Daarom sal daar niemand in die gemeente van Jehovah wees

om die land met ’n maatlyn uit te meet en dit toe te ken nie.

 6 “Hou op profeteer!” sê hulle.

“Hulle moenie hierdie dinge profeteer nie.

Ons sal nie verneder word nie!”

 7 O huis van Jakob, daar word gesê:

“Het die gees van Jehovah ongeduldig geword?

Is dit sy dade?”

Bring my woorde nie goeie dinge vir dié wat bly by wat reg is nie?

 8 Maar onlangs het my volk soos ’n vyand teen my opgestaan.

Julle ruk die pragtige versiering saam met* die kledingstuk af

van dié wat vol vertroue verbygaan, soos dié wat van die oorlog af terugkeer.

 9 Julle jaag die vrouens van my volk uit hulle gerieflike huise.

Julle neem my seëninge vir ewig van hulle kinders af weg.

10 Staan op en gaan, want dit is nie ’n rusplek nie.

As gevolg van onreinheid+ is daar verwoesting, vreeslike verwoesting.+

11 As ’n man agter wind en leuens aanloop en hierdie leuen vertel:

“Ek sal vir jou oor wyn en drank profeteer,”

dan sal hy net die regte profeet vir hierdie volk wees!+

12 Ek sal julle almal beslis versamel, o Jakob.

Ek sal die oorblywendes van Israel vir seker bymekaarmaak.+

Ek sal hulle verenig soos skape in ’n kraal,

soos ’n kudde in die weiveld.+

Die land sal gons van mense.’+

13 Die een wat uitbreek, sal voor hulle uit gaan.

Hulle sal uitbreek en deur die poort na buite gaan.+

Hulle koning sal voor hulle uit gaan,

en Jehovah sal hulle almal lei.”+

3 Ek het gesê: “Luister asseblief, hoofde van Jakob

en leiers van die huis van Israel.+

Behoort julle nie te weet wat reg is nie?

 2 Maar julle haat wat goed is+ en is lief vir wat sleg is.+

Julle trek die velle van my volk af, en die vlees van hulle gebeente.+

 3 Julle eet ook die vlees van my volk+

en trek hulle velle af.

Julle breek hulle bene en slaan dit stukkend,+

soos vleis wat in ’n pot gekook gaan word.

 4 Dan sal hulle tot Jehovah om hulp roep,

maar hy sal hulle nie antwoord nie.

Hy sal in daardie tyd sy gesig van hulle af wegdraai+

as gevolg van hulle goddelose dade.+

 5 Dít is wat Jehovah sê teen die profete wat my volk mislei,+

wat vrede verkondig+ terwyl hulle iets het om te kou,*+

maar oorlog verklaar teen die een wat niks in hulle monde sit nie:

 6 ‘Daar sal vir julle nag wees.+ Daar sal geen visioene wees nie.+

Daar sal net duisternis vir julle wees, geen waarsêery nie.

Die son sal vir die profete ondergaan,

en die dag sal vir hulle donker word.+

 7 Die sieners sal verneder word,+

en die waarsêers sal teleurgesteld wees.

Hulle almal sal hulle gesigte in skaamte moet bedek,*

want daar kom geen antwoord van God af nie.’”

 8 Maar ek is deur die gees van Jehovah gevul met krag

en met geregtigheid en mag

om aan Jakob sy opstandige dade bekend te maak, en aan Israel sy sonde.

 9 Luister asseblief hierna, hoofde van die huis van Jakob

en leiers van die huis van Israel,+

wat geregtigheid haat en wat alles wat reguit is, krom maak,+

10 wat Sion op bloed bou, en Jerusalem op onregverdigheid.+

11 Haar leiers oordeel vir ’n omkoopgeskenk,+

haar priesters onderrig teen ’n prys+

en haar profete beoefen waarsêery vir geld.*+

En tog beweer hulle dat hulle op Jehovah vertrou, en sê:

“Is Jehovah nie met ons nie?+

Geen rampspoed sal oor ons kom nie.”+

12 Daarom sal Sion weens julle

soos ’n landery omgeploeg word,

Jerusalem sal verwoes* word+

en die Tempelberg sal soos die hoogtes in ’n woud* word.+

4 Aan die einde van die dae*

sal die berg van die huis van Jehovah+

stewig gevestig word bo die top van die berge,

en dit sal bo die heuwels verhewe wees,

en volke sal daarheen stroom.+

 2 En baie nasies sal gaan en sê:

“Kom, laat ons opgaan na die berg van Jehovah

en na die huis van die God van Jakob.+

Hy sal ons sy weë leer,

en ons sal dit volg.”

Want die wet* sal uit Sion kom,

en die woord van Jehovah uit Jerusalem.

 3 Hy sal oordeel tussen baie volke+

en sake regstel in verband met magtige nasies wat ver is.

Hulle sal ploegskare maak van hulle swaarde,

en snoeimesse van hulle spiese.+

Nasie sal nie teen nasie die swaard opneem nie,

en hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.+

 4 Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit,+

en niemand sal hulle bang maak nie,+

want Jehovah van die leërmagte het dit gesê.

 5 Want wat al die volke betref, elkeen sal in die naam van sy god wandel,

maar ons sal wandel in die naam van Jehovah ons God,+ vir ewig en altyd.

 6 “In daardie dag,” sê Jehovah,

“sal ek die een versamel wat mank was

en die een bymekaarmaak wat verstrooi is,+

saam met dié wat ek laat swaarkry het.

7 Ek sal van die een wat mank was, ’n oorblyfsel bewaar,+

en ek sal die een wat ver weg was, ’n magtige nasie maak.+

En Jehovah sal as koning oor hulle regeer op die berg Sion,

van nou af en tot in alle ewigheid.

 8 En wat jou betref, o toring van die kudde,

die heuwel van die dogter van Sion,+

die heerskappy van vroeër* sal weer joune word,+

die koninkryk wat aan die dogter van Jerusalem behoort.+

 9 Hoekom skree jy so hard?

Het jy nie ’n koning nie?

Of het jou raadgewer gesterf?

Is dit waarom pyn jou oorval het soos dié van ’n vrou wat geboorte gee?+

10 Krimp ineen van pyn en kreun, o dogter van Sion,

soos ’n vrou wat geboorte gee,

want nou sal jy uit die stad gaan en in die veld bly.

Jy sal tot by Babilon gaan,+

en daar sal jy gered word.+

Daar sal Jehovah jou uit die hand van jou vyande terugkoop.+

11 Nou sal baie nasies teen jou versamel word.

Hulle sal sê: ‘Laat Sion onteer word,

en laat ons sien dat dit met haar gebeur.’

12 Maar hulle ken nie Jehovah se gedagtes nie,

en hulle verstaan nie sy voorneme* nie.

Want hy sal hulle bymekaarmaak soos ’n ry pas gesnyde graan op die dorsvloer.

13 Staan op en dors graan, o dogter van Sion,+

want ek sal jou horings in yster verander,

en ek sal jou hoewe in koper verander,

en jy sal baie volke verpletter.+

Jy sal hulle oneerlike wins aan Jehovah wy,

en hulle rykdom aan die ware Heer van die hele aarde.”+

5 “Nou sny jy jou stukkend,

o dogter wat aangeval word.

Ons word beleër.+

Hulle slaan die regter van Israel met ’n stok op die wang.+

 2 En jy, o Betlehem Eʹfrata,+

wat te klein is om onder die duisende* van Juda genoem te word,

uit jou sal daar vir my die een kom wat heerser in Israel sal wees.+

Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van lank gelede.

 3 Daarom sal hy hulle verlaat

totdat sy wat geboorte moet gee, wel geboorte gee.

En die res van sy broers sal na die Israeliete terugkeer.

 4 Hy sal opstaan en as herder optree in die krag van Jehovah,+

in die magtige naam van Jehovah sy God.

En hulle sal in veiligheid woon,+

want dan sal sy grootheid tot aan die eindes van die aarde reik.+

 5 En hy sal vrede bring.+

As die Assiriër ons land binneval en ons versterkte torings vertrap,+

sal ons sewe herders teen hom laat opstaan, ja, agt prinse* uit die mensdom.

 6 Hulle sal met die swaard as herder optree teen die land Assiʹrië+

en teen die land van Nimrod+ by sy ingange.

En hy sal ons van die Assiriër red+

wanneer hy ons land binneval en in ons gebied kom.

 7 Die oorblywendes van Jakob sal tussen baie volke wees

soos dou van Jehovah

en soos reënbuie op die plante,

wat nie op die mens hoop

of op die mensekinders wag nie.

 8 Die oorblywendes van Jakob sal onder die nasies wees,

tussen baie volke,

soos ’n leeu onder die diere van ’n woud,

soos ’n jong leeu* onder troppe skape,

wat tussen hulle deurgaan en vertrap en verskeur,

en daar is niemand wat hulle kan red nie.

 9 Jy sal jou teenstanders oorwin,*

en al jou vyande sal vernietig word.”

10 “In daardie dag,” sê Jehovah,

“sal ek jou perde uitroei en jou strydwaens vernietig.

11 Ek sal die stede van jou land vernietig

en al jou versterkte plekke afbreek.

12 Ek sal ’n einde maak aan jou towery,

en niemand wat toorkuns beoefen, sal in jou oorbly nie.+

13 Ek sal jou beelde en jou pilare vernietig,

en jy sal nie meer voor die werk van jou hande neerbuig nie.+

14 Ek sal jou heilige pale* uitruk+

en jou stede vernietig.

15 In vurige woede sal ek wraak neem

op die nasies wat nie gehoorsaam was nie.”

6 Luister asseblief na wat Jehovah sê.

Staan op, stel jou saak voor die berge,

en laat die heuwels jou stem hoor.+

 2 Luister, o berge, na die regsaak van Jehovah,

luister, vaste fondamente van die aarde,+

want Jehovah het ’n regsaak met sy volk.

Hy sal in sy regsaak teen Israel sê:+

 3 “My volk, wat het ek aan jou gedoen?

Hoe het ek jou moeg gemaak?+

Getuig teen my.

 4 Want ek het jou uit Egipte uitgelei,+

ek het jou uit die huis van slawerny verlos.+

Ek het Moses, Aäron en Mirjam voor jou uit gestuur.+

 5 My volk, dink asseblief aan wat Balak, die koning van Moab, beplan het+

en wat Biʹleam, die seun van Beor, hom geantwoord het+

– wat van Sittim+ tot by Gilgal+ gebeur het –

sodat jy kan weet dat Jehovah doen wat regverdig is.”

 6 Waarmee sal ek voor Jehovah verskyn?

Waarmee sal ek neerbuig voor God wat in die hoogte woon?

Sal ek voor hom verskyn met heelbrandoffers,

met jaaroud kalwers?+

 7 Sal duisende ramme

of tienduisende strome olie Jehovah bly maak?+

Sal ek my eersgebore seun gee vir my opstandigheid,

die vrug van my liggaam vir my sonde?+

 8 Hy het jou vertel, o mens, wat goed is.

En wat verwag Jehovah van jou?

Net dat jy geregtigheid moet beoefen,*+ lojaliteit moet liefhê*+

en beskeie moet wandel+ met jou God!+

 9 Die stem van Jehovah roep na die stad.

Dié wat praktiese wysheid het, sal u naam vrees.

Skenk aandag aan dissipline en aan die Een van wie dit kom.+

10 Is daar nog steeds skatte van goddeloosheid in die huis van die goddelose,

en die onakkurate efa,* wat God haat?

11 Kan ek sedelik rein* wees met ’n valse weegskaal,

met ’n sak vol valse gewigte?+

12 Want die stad se rykes is vol geweld,

en haar inwoners vertel leuens.+

Hulle tong is bedrieglik.+

13 “Daarom sal ek jou wond deur jou te slaan,+

ek sal jou verwoes as gevolg van jou sondes.

14 Jy sal eet, maar nie versadig word nie.

Jou binneste sal leeg wees.+

Die dinge wat jy verwyder, sal jy nie veilig wegdra nie,

en wat jy wel wegdra, sal ek aan die swaard gee.

15 Jy sal saad saai, maar jy sal nie oes nie.

Jy sal olywe trap, maar jy sal nie die olie gebruik nie.

En jy sal nuwe wyn maak, maar jy sal geen wyn drink nie.+

16 Want julle volg die reëls van Omri en al die gebruike van die huis van Agab,+

en julle lewe volgens hulle raad.

Daarom sal ek julle straf,

en ek sal haar inwoners iets maak om oor te fluit.+

En die volke sal met julle spot.”+

7 Dit gaan sleg met my! Ek is soos iemand wat,

nadat die somervrugte ingesamel is

en die oesoorblyfsels ná ’n druiwe-oes afgepluk is,

geen druiwetros vind om te eet nie,

geen vroeë vy wat ek begeer nie.

 2 Die lojale het van die aarde af verdwyn,

daar is geen mens wat reg lewe nie.+

Hulle lê en wag om mense dood te maak.+

Elkeen maak met ’n sleepnet jag op sy broer.

 3 Hulle weet baie goed hoe om te doen wat sleg is.+

Die leier stel eise,

die regter vra vir ’n beloning,+

die belangrike man sê wat hy wil hê,+

en hulle beraam hulle planne saam.

 4 Die beste onder hulle is soos dorings,

die mees opregte is erger as ’n doringheining.

Die dag van jou wagte en van jou oordeel sal kom.+

Dan sal hulle paniekbevange wees.+

 5 Moenie geloof stel in jou vriend

of ’n goeie vriend vertrou nie.+

Pasop wat jy sê vir die een wat in jou arms lê.

 6 Want ’n seun haat sy pa,

’n dogter staan op teen haar ma+

en ’n skoondogter is teen haar skoonma.+

’n Mens se eie familielede* is sy vyande.+

 7 Maar ek sal op die uitkyk bly vir Jehovah.+

Ek sal geduldig wag op die God van my redding.+

My God sal my hoor.+

 8 Moenie oor my bly wees nie, o my vyand.*

Al het ek geval, sal ek opstaan.

Al woon ek in die duisternis, sal Jehovah my lig wees.

 9 Ek sal die woede van Jehovah verduur

– want ek het teen hom gesondig+ –

totdat hy my regsaak verdedig en vir my geregtigheid bring.

Hy sal my na die lig bring.

Ek sal sy regverdigheid sien.

10 My vyand sal dit ook sien,

en skaamte sal kom oor haar wat vir my gesê het:

“Waar is Jehovah jou God?”+

Ek sal na haar kyk

en sien hoe sy dan soos modder in die strate vertrap word.

11 Dit sal ’n dag wees om jou klipmure te bou.

In daardie dag sal jou grense uitgebrei word.*

12 In daardie dag sal hulle na jou toe kom

van Assiʹrië en die stede van Egipte,

van Egipte tot by die Rivier,*

van see tot see en van berg tot berg.+

13 En die land sal ’n verlate plek word weens sy inwoners,

as gevolg van wat hulle gedoen het.

14 Lei u volk as herder met u staf, die kudde van u erfdeel,+

wat alleen in ’n woud gewoon het – in ’n vrugteboord.

Laat hulle in Basan en Giʹlead+ wei soos in die dae van lank gelede.

15 “Soos in die dae toe julle uit Egipte gekom het,

sal ek julle wonderlike dinge laat sien.+

16 Nasies sal dit sien en skaam kry ten spyte van al hulle mag.+

Hulle sal hulle hand oor hulle mond sit.

Hulle ore sal doof word.

17 Hulle sal stof lek soos slange.+

Soos die reptiele van die aarde sal hulle bewend uit hulle vestings kom.

Hulle sal vol vrees na Jehovah ons God kom,

en hulle sal vir u bang wees.”+

18 Wie is ’n God soos u,

wat sondes vergewe en die oortredings+ van die oorblyfsel van sy erfdeel oorsien?+

Hy sal nie vir ewig kwaad bly nie,

want dit gee hom vreugde om lojale liefde te betoon.+

19 Hy sal weer genade aan ons betoon.+ Hy sal ons oortredings vertrap.*

U sal al hulle sondes in die dieptes van die see gooi.+

20 U sal u getrouheid aan Jakob toon,

u lojale liefde aan Abraham,

soos u lank gelede vir ons voorvaders gesweer het.+

’n Verkorte vorm van Migael (wat “wie is soos God?” beteken) of Migaja (wat “wie is soos Jehovah?” beteken).

Of “in die huis van Afra”.

Of moontlik “van”.

Of moontlik “terwyl hulle met hulle tande byt”.

Of “hulle snorre moet bedek”.

Of “silwer”.

Of “’n ruïne”.

Of “’n beboste heuwel”.

Of “In die laaste dae”.

Of “onderrigting”.

Of “eerste heerskappy”.

Of “raad”.

Of “familiegroepe”.

Of “hertoë; leiers”.

Of “jong maanhaarleeu”.

Lett. “Jou hand sal hoog oor jou teenstanders wees”.

Sien Woordelys.

Of “regverdig moet wees”.

Of “goedhartig en lojaal moet wees in jou liefde”. Lett. “lojale liefde moet liefhê”.

Sien Aanh. B14.

Of “onskuldig”.

Of “huismense”.

In Hebreeus is die woord vir “vyand” in die vroulike vorm.

Of moontlik “sal die bevel ver weg wees”.

Die Eufraatrivier.

Of “oorwin; onderwerp”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel