JONA
1 Dít is die woord van Jehovah aan Jona,*+ die seun van Amitʹtai: 2 “Staan op, gaan na Niʹneve+ die groot stad, en verkondig oordeel teen die stad, want ek weet van hulle slegtheid.”
3 Maar Jona het opgestaan om na Tarsis te vlug, weg van Jehovah af. Hy het na Joppe gegaan en ’n skip gevind wat na Tarsis gaan. Toe het hy vir die reis betaal en op die skip geklim om saam met hulle na Tarsis te gaan, weg van Jehovah af.
4 Toe het Jehovah ’n sterk wind oor die see laat opkom, en daar was so ’n groot storm op die see dat die skip op die punt was om te vergaan. 5 Die seemanne was so bang dat elkeen van hulle tot sy god om hulp begin roep het. En hulle het die goed wat in die skip was, in die see begin gooi om dit ligter te maak.+ Maar Jona het na die onderste deel van die skip gegaan, en hy het daar gaan lê en vas aan die slaap geraak. 6 Die skeepskaptein het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Hoekom slaap jy? Staan op, roep tot jou god! Miskien sal die ware God toon dat hy vir ons omgee en sal ons nie doodgaan nie.”+
7 Toe het hulle vir mekaar gesê: “Kom ons werp die lot+ om uit te vind wie vir hierdie ramp blameer moet word.” Hulle het toe die lot gewerp, en die lot het op Jona geval.+ 8 Hulle het vir hom gesê: “Sê asseblief vir ons of dit jou skuld is dat hierdie ramp ons getref het. Wat is jou werk, en waar kom jy vandaan? Uit watter land kom jy, en van watter volk is jy?”
9 Hy het geantwoord: “Ek is ’n Hebreër, en ek vrees* Jehovah, die God van die hemel, die Een wat die see en die droë grond gemaak het.”
10 Toe die manne dit hoor, het hulle nog banger geword, en hulle het vir hom gevra: “Wat het jy gedoen?” (Die manne het uitgevind dat hy van Jehovah af weggehardloop het, omdat hy hulle vertel het.) 11 Hulle het toe vir hom gevra: “Wat moet ons met jou doen om die see vir ons te laat bedaar?” Want die see het al hoe stormagtiger geword. 12 Hy het geantwoord: “Tel my op en gooi my in die see, en die see sal vir julle bedaar, want ek weet dat hierdie groot storm weens my oor julle gekom het.” 13 Maar die manne het hard geroei* om die skip na die droë grond terug te bring, maar hulle kon nie, want die see het al hoe stormagtiger om hulle geword.
14 Toe het hulle tot Jehovah geroep en gesê: “Ag, o Jehovah, moet ons asseblief nie weens hierdie man laat doodgaan nie! Moet ons nie verantwoordelik hou vir onskuldige bloed nie, want u het gedoen wat u gedink het goed is, o Jehovah!” 15 Toe het hulle Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die woede van die see het bedaar. 16 Die manne is toe met groot vrees vir Jehovah gevul,+ en hulle het ’n offerande aan Jehovah gebring en geloftes gemaak.
17 Jehovah het toe ’n groot vis gestuur om Jona in te sluk, en Jona was drie dae en drie nagte in die vis se maag.+
2 Toe het Jona uit die vis se maag tot Jehovah sy God gebid+ 2 en gesê:
“Toe ek in die nood was, het ek tot Jehovah geroep, en hy het my geantwoord.+
Uit die dieptes* van die Graf* het ek om hulp geroep.+
U het my stem gehoor.
Al u branders en golwe het oor my gespoel.+
4 En ek het gesê: ‘U het my voor u oë verdryf!
Hoe sal ek u heilige tempel weer sien?’
5 Waters het my ingesluk, en my lewe was in gevaar.+
Die waterdiepte het my toegevou.
Seegras was om my kop gedraai.
6 Na die voet van die berge het ek neergedaal.
Die deure van die aarde was besig om vir ewig bo my toe te maak.
Maar u het my lewe uit die graf opgetrek, o Jehovah my God.+
7 Toe ek besig was om te vergaan, het ek aan Jehovah gedink.+
Toe het my gebed u bereik in u heilige tempel.+
8 Dié wat aan die waardelose afgode toegewy is, verlaat hulle bron van lojale liefde.*
9 Maar ek sal offerandes aan u bring deur u te dank.
Ek sal doen wat ek belowe het.+
Redding kom van Jehovah.”+
10 Ná ’n ruk het Jehovah die vis ’n bevel gegee, en hy het Jona op die droë grond uitgebraak.
3 Toe het Jehovah ’n tweede boodskap aan Jona gestuur en gesê:+ 2 “Staan op, gaan na Niʹneve+ die groot stad, en verkondig die boodskap daar wat ek aan jou gee.”
3 Toe het Jona opgestaan en na Niʹneve+ gegaan uit gehoorsaamheid aan die woord van Jehovah.+ Niʹneve was ’n baie groot stad* – dit het drie dae geneem om van die een kant na die ander kant te stap. 4 Toe het Jona die stad binnegegaan, en terwyl hy ’n dag lank gestap het, het hy verkondig: “Binne net 40 dae sal Niʹneve vernietig word.”
5 En die manne van Niʹneve het geloof in God gestel,+ en hulle het afgekondig dat die mense moet vas, en almal het saklinne aangetrek, van die kleinste tot die grootste onder hulle. 6 Toe die boodskap die koning van Niʹneve bereik, het hy van sy troon af opgestaan en sy koninklike klere uitgetrek en saklinne aangetrek en in die as gaan sit. 7 Hy het ook die volgende aankondiging oral in Niʹneve laat maak:
“Op bevel van die koning en sy leiers: Geen mens of dier, beeste of kleinvee, mag enigiets eet nie. Hulle mag nie kos eet nie, en hulle mag glad nie water drink nie. 8 Laat die mense saklinne aantrek, en laat hulle ook die diere daarmee bedek, en laat hulle ernstig tot God roep en ophou om slegte dinge te doen en gewelddadig op te tree. 9 Wie weet of die ware God dalk van besluit sal verander* en nie meer woedend sal wees nie? Dan sal ons nie sterf nie.”
10 Toe die ware God sien wat hulle gedoen het, dat hulle nie meer slegte dinge doen nie,+ het hy van besluit verander* en nie meer die rampspoed gebring wat hy gesê het hy oor hulle sou bring nie.+
4 Maar dit het Jona baie ontstel, en hy het baie kwaad geword. 2 Toe het hy tot Jehovah gebid en gesê: “Ag, Jehovah, dit is presies waaroor ek bekommerd was toe ek in my eie land was. Dit is hoekom ek in die eerste plek na Tarsis+ probeer vlug het, want ek het geweet dat u ’n God is wat medelye* betoon en genadig is, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde+ is en wat sleg voel oor rampspoed. 3 O Jehovah, neem nou asseblief my lewe,* want dit is beter vir my om te sterf as om te lewe.”+
4 Jehovah het gevra: “Is dit reg dat jy so kwaad is?”
5 Jona het toe uit die stad gegaan en oos van die stad gaan sit. Hy het daar vir hom ’n skuiling gemaak en in die skaduwee daarvan gesit om te sien wat met die stad sou gebeur.+ 6 Jehovah God het toe ’n kalbasplant* oor Jona laat opkom om vir hom skaduwee oor sy kop te gee en hom beter te laat voel. En Jona was baie bly oor die kalbasplant.
7 Maar die ware God het met dagbreek die volgende dag ’n wurm gestuur, en dit het aan die kalbasplant gevreet, en dit het verlep. 8 Toe die son begin skyn het, het God ook ’n verskroeiende oostewind gestuur, en die son het op Jona se kop bly steek, en hy het amper flou geword. Hy het bly vra om te sterf,* en hy het oor en oor gesê: “Dit is beter vir my om te sterf as om te lewe.”+
9 God het vir Jona gevra: “Is dit reg dat jy so kwaad is oor die kalbasplant?”+
Toe het hy gesê: “Ek het die reg om kwaad te wees, so kwaad dat ek wil sterf.” 10 Maar Jehovah het gesê: “Jy het jammer gevoel vir die kalbasplant, waarvoor jy nie gewerk het nie en wat jy nie laat groei het nie. Dit het in een nag gegroei en in een nag doodgegaan. 11 In Niʹneve is daar meer as 120 000 mense wat nie eers die verskil tussen reg en verkeerd* ken nie, asook baie diere.+ Moet ek nie ook vir hierdie groot stad jammer voel nie?”+
Beteken “duif”.
Of “aanbid”.
Of “het daardeur probeer kom”.
Lett. “maag”.
Of “Sjeool”. Sien Woordelys.
Of moontlik “hulle lojaliteit”.
Lett. “’n stad wat groot was vir God”.
Of “spyt sal voel oor sy besluit”.
Of “het hy spyt gevoel oor sy besluit”.
Sien Woordelys.
Of “siel”.
Of moontlik “kasterolieplant”.
Of “dat sy siel mag sterf”.
Of “hulle regter- en hulle linkerhand”.