Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • nwt Amos 1:1-9:15
  • Amos

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Amos
  • Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Amos

AMOS

1 Die woorde van Amos,* een van die skaapboere uit Tekoʹa.+ Hy het ’n visioen oor Israel ontvang in die dae van koning Ussiʹa+ van Juda en in die dae van Jeroʹbeam,+ die seun van Joas,+ die koning van Israel, twee jaar voor die aardbewing.+ 2 Hy het gesê:

“Jehovah sal uit Sion brul,

en hy sal sy stem uit Jerusalem laat hoor.

Die weivelde van die herders sal treur,

en die top van die berg Karmel sal verdroog.”+

 3 “Dít is wat Jehovah sê:

‘“Weens drie opstandige dade* van Damaskus, en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hulle het Giʹlead gedors met dorssleë van yster.+

 4 Daarom sal ek ’n vuur teen die huis van Haʹsael stuur,+

en dit sal die versterkte torings van Ben-Hadad verteer.+

 5 Ek sal die grendels van Damaskus breek.+

Ek sal die inwoners van Bikat-Awen vernietig,

en ook die heerser van Bet⁠-⁠Eden.

En die volk van Sirië sal as ballinge* na Kir gaan,”+ sê Jehovah.’

 6 Dít is wat Jehovah sê:

‘“Weens drie opstandige dade van Gasa,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hulle het ’n hele groep ballinge geneem+ en hulle aan Edom oorgelewer.

 7 Daarom sal ek ’n vuur teen die muur van Gasa stuur,+

en dit sal haar versterkte torings verteer.

 8 Ek sal die inwoners van Asdod vernietig,+

en ook die heerser van Askelon.+

Ek sal teen Ekron optree,+

en die oorblywende Filistyne sal sterf,”+ sê die Soewereine Heer Jehovah.’

 9 Dít is wat Jehovah sê:

‘Weens drie opstandige dade van Tirus,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hulle het ’n hele groep ballinge aan Edom oorgelewer

en hulle het nie aan die verbond van broers gedink nie.+

10 Daarom sal ek ’n vuur teen die muur van Tirus stuur,

en dit sal haar versterkte torings verteer.’+

11 Dít is wat Jehovah sê:

‘Weens drie opstandige dade van Edom,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hy het sy eie broer met die swaard agtervolg+

en hy het geweier om genade te betoon.

In sy woede hou hy aan om hulle te verskeur.

Hy bly heeltyd woedend vir hulle.+

12 Daarom sal ek ’n vuur teen Teman stuur,+

en dit sal die versterkte torings van Bosra verteer.’+

13 Dít is wat Jehovah sê:

‘“Weens drie opstandige dade van die Ammoniete,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hulle het die swanger vrouens van Giʹlead oopgesny om hulle eie gebied uit te brei.+

14 Daarom sal ek die muur van Rabba aan die brand steek,+

en die vuur sal haar versterkte torings verteer.

Daar sal ’n oorlogskreet gehoor word op hierdie dag van oorlog,

en op hierdie dag van stormwind sal daar ’n orkaan wees.

15 En hulle koning sal saam met sy hoë amptenare in ballingskap gaan,”+ sê Jehovah.’

2 “Dít is wat Jehovah sê:

‘“Weens drie opstandige dade* van Moab,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hy het die beendere van die koning van Edom verbrand om kalk daarvan te maak.

 2 Daarom sal ek ’n vuur teen Moab stuur,

en dit sal die versterkte torings van Keʹrijot verteer.+

Moab sal tydens die oorlogsgeraas sterf,

met ’n oorlogskreet, met die geluid van ’n horing.+

 3 Ek sal die heerser* uit haar verwyder

en al haar hoë amptenare saam met hom doodmaak,”+ sê Jehovah.’

 4 Dít is wat Jehovah sê:

‘Weens drie opstandige dade van Juda,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hulle het die wet* van Jehovah verwerp

en sy wetsvoorskrifte nie gehoorsaam nie.+

Maar dieselfde leuens wat hulle voorvaders gevolg het, het hulle laat afdwaal.+

 5 Daarom sal ek ’n vuur teen Juda stuur,

en dit sal die versterkte torings van Jerusalem verteer.’+

 6 Dít is wat Jehovah sê:

‘Weens drie opstandige dade van Israel,+ en weens vier, sal ek nie my besluit verander nie,

want hulle verkoop die regverdige vir silwer

en die arme vir ’n paar sandale.+

 7 Hulle vertrap die hulpeloses in die stof van die aarde,+

en hulle versper die weg van die nederiges.+

’n Man en sy pa slaap by dieselfde meisie

en ontheilig my heilige naam.

 8 Hulle strek hulle langs elke altaar uit+ op klere wat hulle as sekuriteit vir ’n lening geneem het.+

En in die tempel van hulle gode drink hulle wyn wat hulle gekry het by dié wat hulle beboet het.’

 9 ‘Maar dit was ek wat die Amoriete voor hulle vernietig het.+

Hulle was so lank soos die sederbome en so sterk soos die eikebome.

Ek het sy vrug bo en sy wortels onder vernietig.+

10 Ek het julle uit Egipte uitgelei,+

en ek het julle 40 jaar lank deur die wildernis laat trek,+

om die land van die Amoriete in besit te neem.

11 Ek het van julle seuns as profete aangestel,+

en van julle jong manne as Nasireʹërs.+

Is dit nie so nie, o Israel?’ sê Jehovah.

12 ‘Maar julle het vir die Nasireʹërs wyn bly gee om te drink,+

en julle het die profete beveel: “Julle mag nie profeteer nie.”+

13 Daarom sal ek jou in jou plek vergruis,

net soos ’n wa vol gesnyde graan vergruis wat onder hom is.

14 Die vinnige sal nêrens heen kan vlug nie,+

die sterke sal nie sy krag behou nie

en geen vegter sal sy eie lewe kan red nie.

15 Die boogskutter sal nie weerstand bied nie,

die hardloper sal nie wegkom nie

en geen perderuiter sal sy eie lewe kan red nie.

16 Selfs die dapperste vegter

sal op daardie dag kaal wegvlug,’+ sê Jehovah.”

3 “Luister na wat Jehovah oor julle sê, o Israel, oor die hele familie wat ek uit Egipte uitgelei het:

 2 ‘Uit al die families van die aarde het ek net julle geken.+

Daarom sal ek julle straf vir julle oortredings.+

 3 Sal twee saamloop tensy hulle ooreengekom het* om mekaar te ontmoet?

 4 Sal ’n leeu in die woud brul wanneer hy geen prooi het nie?

Sal ’n jong leeu* uit sy lêplek grom as hy niks gevang het nie?

 5 Sal ’n voël in ’n valstrik op die grond val as daar geen strik vir hom gestel is nie?*

Spring ’n valstrik van die grond af op as dit niks gevang het nie?

 6 As ’n horing in ’n stad geblaas word, bewe die volk dan nie?

As daar rampspoed in die stad is, is dit dan nie Jehovah wat opgetree het nie?

 7 Want die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen

tensy hy sy vertroulike saak* aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.+

 8 Die leeu het gebrul!+ Wie sal nie bang wees nie?

Die Soewereine Heer Jehovah het gepraat! Wie sal nie profeteer nie?’+

 9 ‘Verkondig dit op die versterkte torings in Asdod

en op die versterkte torings in Egipte.

Sê: “Kom bymekaar op die berge van Samariʹa.+

Kyk na die moeilikheid

en die verdrukking wat daar is.+

10 Want hulle het hulle versterkte torings met geweld en vernietiging gevul,” sê Jehovah,

“en hulle weet nie hoe om te doen wat reg is nie.”’

11 Daarom sê die Soewereine Heer Jehovah:

‘’n Vyand sal die land omsingel.+

Hy sal jou krag van jou wegneem,

en jou versterkte torings sal gestroop word.’+

12 Dít is wat Jehovah sê:

‘Net soos die herder twee pootjies of ’n stukkie oor uit die bek van die leeu wegruk,

so sal die Israeliete weggeruk word,

dié wat nou in Samariʹa op pragtige beddens en mooi banke sit.’+

13 ‘Luister en waarsku* die huis van Jakob,’ sê die Soewereine Heer Jehovah, die God van die leërmagte.

14 ‘Want die dag wanneer ek Israel straf vir al sy opstandige dade,*+

sal ek ook teen die altare van Bet-El optree.+

Die horings van die altaar sal afgekap word en op die grond val.+

15 Ek sal die winterhuis saam met die somerhuis platslaan.’

‘Die huise van ivoor sal vergaan,+

en die groot* huise sal verdwyn,’+ sê Jehovah.”

4 “Hoor hierdie woord, koeie van Basan,

wat op die berg van Samariʹa is,+

vrouens wat die hulpeloses uitbuit+ en die armes verdruk,

wat vir hulle mans* sê: ‘Bring tog vir ons iets om te drink!’

 2 Die Soewereine Heer Jehovah het by sy heiligheid gesweer:

‘“Kyk! Daar kom dae oor julle wanneer julle met die hake van ’n slagter opgetrek sal word,

en die res van julle met vishoeke.

 3 Elkeen van julle sal deur ’n gat in die muur uitgaan, wat reg voor julle sal wees.

En julle sal na Harmon uitgedryf word,” sê Jehovah.’

 4 ‘Kom na Bet-El en sondig,*+

kom na Gilgal en sondig nog meer!+

Bring julle offerandes+ in die oggend

en julle tiendes+ op die derde dag.

 5 Brand ’n dankoffer van gesuurde brood,+

en roep hardop uit dat julle vrywillige offers bring!

Want dit is wat julle so graag doen, o Israel,’ sê die Soewereine Heer Jehovah.

 6 ‘En ek het julle honger laat ly* in al julle stede

en gesorg dat daar nie kos in enige van julle huise is nie.+

En tog het julle nie na my teruggekeer nie,’+ sê Jehovah.

 7 ‘Ek het julle reën drie maande voor die oes laat ophou.+

Ek het dit op een stad laat reën, maar nie op ’n ander stad nie.

Op een stuk land het dit gereën,

maar ’n ander stuk land waarop dit nie gereën het nie, het verdroog.

 8 Mense van twee of drie stede het na een stad gestrompel om water te drink,+

maar hulle het nie genoeg gekry nie.

En tog het julle nie na my teruggekeer nie,’+ sê Jehovah.

 9 ‘Ek het julle oeste met verskroeiende hitte en ’n swamsiekte getref.+

Julle het julle tuine en wingerde vermeerder,

maar sprinkane het julle vyebome en julle olyfbome verslind.+

En julle het nog steeds nie na my teruggekeer nie,’+ sê Jehovah.

10 ‘Ek het ’n vreeslike siekte soos dié van Egipte onder julle gestuur.+

Met die swaard het ek julle jong manne doodgemaak+ en julle perde weggeneem.+

Ek het die stank van julle kampe in julle neusgate laat opstyg.+

En tog het julle nie na my teruggekeer nie,’ sê Jehovah.

11 ‘Ek het ’n verwoesting onder julle veroorsaak,

soos God se verwoesting van Sodom en Gomorʹra.+

En julle was soos ’n stomp wat uit die vuur geruk is.

En tog het julle nie na my teruggekeer nie,’+ sê Jehovah.

12 Daarom sal ek jou weer straf, o Israel.

Omdat ek dit sal doen, o Israel,

moet jy jou gereedmaak om jou God te ontmoet.

13 Hy het die berge gevorm+ en die wind geskep.+

Hy sê vir die mens wat Sy gedagtes is,

hy verander die dagbreek in donkerte+

en hy loop op die hoogtes van die aarde.+

Jehovah, die God van die leërmagte, is sy naam.”

5 “Hoor hierdie woord, my treurlied teen julle, o huis van Israel:

 2 ‘Die maagd, Israel, het geval.

Sy kan nie weer opstaan nie.

Sy is verlate in haar eie land.

Daar is niemand om haar op te help nie.’

3 “Want dít is wat die Soewereine Heer Jehovah sê:

‘Die stad wat met 1 000 gaan veg, sal 100 oorhê.

En die stad wat met 100 gaan veg, sal 10 oorhê. Dit sal met die huis van Israel gebeur.’+

4 “Want dít is wat Jehovah vir die huis van Israel sê:

‘Soek my, en bly lewe.+

 5 Moenie na Bet-El soek nie,+

en moenie na Gilgal+ of na Berseʹba gaan nie,+

want Gilgal sal vir seker in ballingskap gaan+

en van Bet-El sal niks oorbly nie.*

 6 Soek Jehovah, en bly lewe,+

sodat hy nie soos ’n vuur teen die huis van Josef losbars

en Bet-El verteer nie, en daar niemand is wat dit blus nie.

 7 Julle verander geregtigheid in als,*

en julle gooi regverdigheid teen die grond.+

 8 Die Een wat die Kima-sterrebeeld* en die Kesil-sterrebeeld* gemaak het,+

die Een wat diep skaduwee in oggend verander,

die Een wat die dag so donker soos die nag maak,+

die Een wat die waters van die see roep

en dit op die aarde uitstort+

– Jehovah is sy naam.

 9 Hy sal vernietiging teen die sterke laat losbars

en vernietiging oor versterkte stede bring.

10 Hulle haat dié wat teregwysing in die stadspoort gee,

en hulle kan dié wat die waarheid praat, nie verdra nie.+

11 Omdat julle landhuur* van die arme eis

en sy graan as skatting* neem,+

sal julle nie bly woon in die huise wat julle van gekapte klip gebou het nie+

en sal julle ook nie die wyn drink van die goeie wingerde wat julle geplant het nie.+

12 Want ek weet hoe baie julle opstandige dade* is

en hoe groot julle sondes is

– julle laat die regverdiges swaarkry,

julle aanvaar omkoopgeskenke

en julle behandel die armes onregverdig in die stadspoort.+

13 Daarom sal dié wat insig het, in daardie tyd stilbly,

want dit sal ’n tyd van rampspoed wees.+

14 Soek wat goed is, en nie wat sleg is nie,+

sodat julle kan bly lewe.+

Dan sal Jehovah, die God van die leërmagte, met julle wees,

net soos julle sê hy is.+

15 Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is.+

Laat daar geregtigheid in die stadspoort wees.+

Miskien sal Jehovah, die God van die leërmagte,

aan die oorblywendes van Josef genade betoon.’+

16 “Daarom sê Jehovah, die God van die leërmagte, ja, Jehovah sê:

‘Op al die openbare pleine sal daar ’n getreur wees,

en in al die strate sal mense sê: “Dit is verskriklik!”

En hulle sal die landbouers vra om te huil,

en hulle sal dié wat gehuur word om te treur, vra om te kom treur.’

17 ‘In elke wingerd sal daar getreur word,+

want ek sal tussen julle deur trek om julle te straf,’ sê Jehovah.

18 ‘Dit sal sleg gaan met dié wat verlang na die dag van Jehovah!+

Wat sal die dag van Jehovah dan vir julle beteken?+

Dit sal duisternis wees, en nie lig nie.+

19 Dit sal wees soos ’n man wat vir ’n leeu vlug, en ’n beer teëkom,

en wanneer hy in sy huis ingaan en met sy hand teen die muur leun, byt ’n slang hom.

20 Die dag van Jehovah sal duisternis wees, en nie lig nie.

Dit sal donker wees, sonder glans.

21 Ek haat, ek verag julle feeste,+

en die reuk van julle heilige vergaderinge is nie vir my aangenaam nie.

22 Selfs as julle heelbrandoffers en offergawes aan my bring,

sal ek dit nie goedkeur nie.+

En julle vrede-offers* van vetgemaakte diere sal ek nie aanvaar nie.+

23 Ek wil nie die geraas van julle liedere hoor nie,

en ek wil nie die klank van julle snaarinstrumente hoor nie.+

24 Laat geregtigheid soos waters vloei,+

en regverdigheid soos ’n rivier wat altyd vol is.

25 Het julle 40 jaar lank in die wildernis

offerandes en offergawes aan my gebring, o huis van Israel?+

26 Nou sal julle Sakkut, julle koning, en Kaiwan* moet wegdra,

die beelde wat julle vir julle gemaak het van die ster van julle god.

27 En ek sal julle anderkant Damaskus in ballingskap laat gaan,’+ sê hy wie se naam Jehovah, die God van die leërmagte, is.”+

6 “Dit sal sleg gaan met dié in Sion wat selfversekerd* is,

met dié wat veilig voel op die berg van Samariʹa,+

die belangrike manne van die vernaamste volk,

dié na wie die huis van Israel gaan!

 2 Trek oor na Kalne en kyk.

Gaan daarvandaan na Groot-Hamat,+

en gaan af na Gat van die Filistyne.

Is hulle beter as hierdie koninkryke,*

of is hulle gebied groter as julle s’n?

 3 Sit julle die rampspoedige dag uit julle gedagtes,+

en bevorder julle geweld in die land?+

 4 Julle lê op ivoorbeddens+ en strek julle op banke uit,+

julle eet die ramme van die kudde en die vetgemaakte kalwers.*+

 5 Julle maak liedjies om op die harp* te speel,+

en soos Dawid maak julle musiekinstrumente.+

 6 Julle drink bakke vol wyn,+

en julle salf julle met die beste olies.

Maar julle bekommer julle nie oor die ondergang van Josef nie.+

 7 Daarom sal julle eerste in ballingskap gaan.+

En die feeste van dié wat uitgestrek lê, sal tot ’n einde kom.

 8 ‘Die Soewereine Heer Jehovah het by homself gesweer,’+ sê Jehovah, die God van die leërmagte:

‘“Ek verag die trots van Jakob,+

ek haat sy versterkte torings,+

en ek sal die stad en alles daarin oorlewer.+

9 “‘“En as daar tien manne in een huis oorbly, sal hulle ook sterf. 10 ’n Familielid* sal kom om hulle een vir een uit te dra en te verbrand. Hy sal hulle liggame* uit die huis uitbring. Dan sal hy vir wie ook al in die binnekamers van die huis is, vra: ‘Is daar nog by jou?’ En hy sal sê: ‘Daar is niemand!’ Dan sal hy sê: ‘Bly stil! Want dit is nie die tyd om die naam van Jehovah te noem nie.’”

11 Want dit is Jehovah wat die bevel gee,+

en hy sal van die groot huis net rommel laat oorbly,

en van die klein huis net stukke.+

12 Hardloop perde op ’n krans

of sal iemand daar met beeste ploeg?

Want julle het geregtigheid in ’n gifplant verander,

en die vrug van regverdigheid in als.*+

13 Julle is bly oor iets wat waardeloos is,

en julle sê: “Het ons nie in ons eie krag sterk geword nie?”+

14 Daarom, o huis van Israel, sal ek ’n nasie teen jou laat kom,’+ sê Jehovah, die God van die leërmagte,

‘en hulle sal julle onderdruk van Lebo-Hamat*+ af tot by die Vallei* van die Aʹraba.’”

7 Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah my laat sien het: Hy het ’n sprinkaanswerm gevorm toe die oes wat in die winter gesaai is,* begin opkom het. Dit was die oes wat gesaai is nadat die koning se hooi gesny is. 2 Toe die swerm al die plante van die land opgeëet het, het ek gesê: “O Soewereine Heer Jehovah, vergewe u volk asseblief!+ Hoe kan Jakob oorleef? Want hy is swak!”+

3 Daarom het Jehovah sy besluit verander.*+ “Dit sal nie gebeur nie,” het Jehovah gesê.

4 Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah my laat sien het: Die Soewereine Heer Jehovah het beveel dat daar deur middel van vuur gestraf moet word. Dit het die groot diep waters verteer, en dit het ’n stuk van die land verteer. 5 Toe het ek gesê: “O Soewereine Heer Jehovah, hou dit asseblief terug.+ Hoe kan Jakob oorleef? Want hy is swak!”+

6 Daarom het Jehovah sy besluit verander.*+ “Dit sal ook nie gebeur nie,” het die Soewereine Heer Jehovah gesê.

7 Dít is wat hy my laat sien het: Jehovah het op ’n muur gestaan wat met ’n skietlood gemaak is, en daar was ’n skietlood in sy hand. 8 Toe het Jehovah vir my gevra: “Wat sien jy, Amos?” En ek het gesê: “’n Skietlood.” Jehovah het toe gesê: “Ek toets my volk Israel met ’n skietlood. Ek sal hulle nie meer verskoon nie.+ 9 Die offerhoogtes van Isak+ sal vernietig word, en die heiligdomme van Israel sal verwoes word.+ En ek sal met ’n swaard teen die huis van Jeroʹbeam kom.”+

10 Amaʹsia, die priester van Bet-El,+ het hierdie boodskap aan koning Jeroʹbeam+ van Israel gestuur: “Amos is besig met ’n sameswering teen u hier in die huis van Israel.+ Die land kan nie al sy woorde verdra nie.+ 11 Want dít is wat Amos sê: ‘Jeroʹbeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal vir seker uit sy land in ballingskap gaan.’”+

12 Amaʹsia het toe vir Amos gesê: “O siener, gaan, vlug na die land van Juda, verdien* jou brood daar, en jy kan daar profeteer.+ 13 Maar jy mag nie meer in Bet-El profeteer nie,+ want dit is die heiligdom van ’n koning+ en die huis van ’n koninkryk.”

14 Toe het Amos vir Amaʹsia gesê: “Ek was nie ’n profeet of die seun van ’n profeet nie, maar ek was ’n veewagter,+ en ek het wildevyebome versorg.* 15 Maar Jehovah het my van die kleinvee weggeneem, en Jehovah het vir my gesê: ‘Gaan na my volk Israel en profeteer.’+ 16 Hoor dan nou die woord van Jehovah: ‘Jy sê: “Moenie teen Israel profeteer nie,+ en moenie ’n oordeelsboodskap teen die huis van Isak verkondig nie.”+ 17 Daarom sê Jehovah: “Jou vrou sal ’n prostituut in die stad word. En jou seuns en jou dogters sal deur die swaard val. Jou land sal met ’n maatlyn verdeel word, en jy sal in ’n onrein land sterf. En Israel sal vir seker uit sy land in ballingskap gaan.”’”+

8 Dít is wat die Soewereine Heer Jehovah my laat sien het: Daar was ’n mandjie somervrugte. 2 Toe het hy gevra: “Wat sien jy, Amos?” Ek het geantwoord: “’n Mandjie somervrugte.” Toe het Jehovah vir my gesê: “Die einde het vir my volk Israel gekom. Ek sal hulle nie meer verskoon nie.+ 3 ‘Die tempelliedere sal in daardie dag in ’n getreur verander,’+ sê die Soewereine Heer Jehovah. ‘Daar sal oral lyke lê+ – wees stil!’

 4 Luister, julle wat die armes vertrap

en wat ’n einde maak aan die nederiges van die land,+

 5 wat sê: ‘Wanneer sal die fees van die nuwemaan verby wees,+ sodat ons ons graan kan verkoop?

En wanneer sal die Sabbat verby wees,+ sodat ons ons graan te koop kan aanbied?

Dan kan ons die efa* kleiner maak

en die gewig van die sikkel* groter

om te bedrieg met ’n valse weegskaal.+

 6 Dan kan ons die hulpeloses vir silwer koop,

en die armes vir ’n paar sandale,+

en ons kan die afval van die graan verkoop.’

 7 Jehovah het by die Trots van Jakob gesweer:+

‘Ek sal al hulle dade nooit vergeet nie.+

 8 Daarom sal die land* bewe,

en elke inwoner daarvan sal treur.+

Sal dit nie heeltemal opkom soos die Nylrivier

en onstuimig wees en wegsak soos die Nyl van Egipte nie?’+

 9 ‘In daardie dag,’ sê die Soewereine Heer Jehovah,

‘sal ek die son in die middel van die dag laat ondergaan,

en ek sal die land op ’n helder dag laat donker word.+

10 Ek sal julle feeste in rou verander,+

en al julle liedere in treurliedere.

Ek sal saklinne om al die heupe bind en elke kop kaal maak.

Ek sal julle laat rou soos oor ’n enigste kind,

en die dag sal bitter eindig.’

11 ‘Kyk! Daar kom dae,’ sê die Soewereine Heer Jehovah,

‘dat ek hongersnood in die land sal stuur,

nie ’n honger na brood of ’n dors na water nie,

maar om die woorde van Jehovah te hoor.+

12 Hulle sal van see tot see strompel,

en van die noorde tot by die ooste.*

Hulle sal oral soek na die woord van Jehovah, maar hulle sal dit nie vind nie.

13 In daardie dag sal pragtige maagde

en ook jong manne flou word van die dors.

14 Dié wat by die skuld van Samariʹa sweer+ en wat sê:

“So waar as wat jou god lewe, o Dan!”+

en: “So waar as wat die weg van Berseʹba+ lewe!”

– hulle sal val en nie weer opstaan nie.’”+

9 Ek het Jehovah+ bo die altaar sien staan, en hy het gesê: “Slaan die pilaarkop, en die drumpels sal bewe. Kap die pilaarkoppe af. En ek sal dié wat oorbly met die swaard doodmaak. Niemand wat vlug, sal wegkom nie, en niemand wat probeer ontsnap, sal dit regkry nie.+

 2 Al grawe hulle tot in die Graf,*

sal my hand hulle daar uithaal.

En al klim hulle op na die hemel,

sal ek hulle daarvandaan afbring.

 3 En al kruip hulle op die top van die berg Karmel weg,

sal ek hulle daar opspoor en hulle wegneem.+

Al kruip hulle op die bodem van die see vir my weg,

sal ek die slang daar beveel om hulle te byt.

 4 Al word hulle deur hulle vyande as gevangenes weggeneem,

sal ek die swaard daar beveel om hulle dood te maak.+

Ek sal my aandag op hulle rig om slegte dinge oor hulle te bring, en nie goeie dinge nie.+

 5 Want die Soewereine Heer, Jehovah van die leërmagte, is die Een wat die land* aanraak

sodat dit smelt,+ en al die inwoners daarvan sal treur.+

En dit sal heeltemal opkom soos die Nylrivier

en wegsak soos die Nyl van Egipte.+

 6 ‘Die Een wat sy trap in die hemel bou

en sy gebou* oor die aarde oprig,

die Een wat die waters van die see roep

om dit oor die aarde uit te stort+

– Jehovah is sy naam.’+

 7 ‘Is julle nie vir my soos die Kussiete nie, o Israel?’ sê Jehovah.

‘Het ek Israel nie laat optrek uit Egipteland,+

die Filistyne uit Kreta+ en Sirië uit Kir nie?’+

 8 ‘Kyk! Die oë van die Soewereine Heer Jehovah is op die sondige koninkryk,

en hy sal dit van die aarde af wegvee.+

Maar ek sal die huis van Jakob nie heeltemal vernietig nie,’+ sê Jehovah.

 9 ‘Want ek gee die bevel,

en ek sal die huis van Israel onder al die nasies skud,+

soos ’n mens ’n sif skud

– nie ’n klippie val op die grond nie.

10 Hulle sal deur die swaard sterf, al die sondaars van my volk,

dié wat sê: “Die rampspoed sal nie naby ons kom of ons bereik nie.”’

11 ‘In daardie dag sal ek die hut* van Dawid, wat ineengestort het, oprig,+

en ek sal die gate in die muur herstel.

Ek sal die hut van Dawid herbou,

ek sal dit herstel soos in die dae van lank gelede.+

12 Dan sal hulle in besit kan neem wat oorgebly het van Edom+

en van al die nasies oor wie my naam uitgeroep is,’ sê Jehovah, wat hierdie dinge doen.

13 ‘Kyk! Daar kom dae,’ sê Jehovah,

‘dat die een wat oes, ingehaal sal word deur die een wat ploeg,

en die een wat saai, deur die een wat druiwe trap.+

En die berge sal van soet wyn drup,+

en dit sal van al die heuwels afvloei.+

14 Ek sal die gevangenes van my volk Israel terugbring,+

en hulle sal die verwoeste stede herbou en bewoon.+

Hulle sal wingerde plant en die wyn daarvan drink+

en tuine maak en die vrugte daarvan eet.’+

15 ‘Ek sal hulle in hulle land plant,

en hulle sal nie weer uitgeruk word

uit hulle land wat ek aan hulle gegee het nie,’+ sê Jehovah julle God.”

Beteken “’n las wees” of “’n las dra”.

Of “misdade”.

D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.

Of “misdade”.

Lett. “regter”.

Of “onderrigting”.

Of “’n afspraak gemaak het”.

Of “jong maanhaarleeu”.

Of moontlik “as daar geen lokaas daarin is nie”.

Of “geheim”.

Of “getuig teen”.

Of “misdade”.

Of moontlik “baie”.

Of “meesters”.

Of “en kom in opstand”.

Lett. “skoon tande gegee”.

Of moontlik “en Bet-El sal iets bonatuurliks word”.

’n Soort bitter plant.

Verwys moontlik na die Plejades-sterregroep in die Bul-sterrebeeld.

Verwys moontlik na die Orion-sterrebeeld.

Of “grondbelasting”.

Sien Woordelys.

Of “misdade”.

Of “gemeenskapsoffers”.

Hierdie gode verwys moontlik albei na die planeet Saturnus, wat as ’n god aanbid is.

Of “gerus”.

Verwys blykbaar na Juda en Israel.

Of “jong bulle”.

Of “snaarinstrument”.

Lett. “Sy pa se broer”.

Lett. “beendere”.

’n Soort bitter plant.

Of “die ingang van Hamat”.

Of “Wadi”. Sien Woordelys.

D.w.s. gedurende Januarie en Februarie.

Of “hieroor spyt gevoel”.

Of “hieroor spyt gevoel”.

Lett. “eet”.

Of “was ’n prikker van die vye van wildevyebome”.

Sien Aanh. B14.

Sien Aanh. B14.

Of “aarde”.

Of “sonsopkoms”.

Of “Sjeool”. Sien Woordelys.

Of “aarde”.

Of “koepel”.

Of “tent”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel